Elodi Troskie is een van ses skrywers wat tans vir ’n maand lank in Paulet Huis te Somerset-Oos skryf. Die residensie word moontlik gemaak deur ’n ruim borg van die Jakes Gerwel Stigting. Elodi is deur PEN Afrikaans vir die verblyf genomineer.
Izak de Vries het met haar gesels.
Elodi, waar kom jy vandaan?
Ek is in die Weskus gebore. Daarna het ek in die Sederberg en later in die Witzenbergomgewing grootgeword. Ek woon op die oomblik in Kaapstad.
Wanneer in jou lewe het jy besluit: “Ek is ’n skrywer”?
Ek dink nie daar was ’n bepaalde oomblik nie. Ek onthou ek het in graad 2 vir almal begin vertel ek gaan eendag ’n joernalis wees. Ek het nog altyd gelees en geskryf en gelees en geskryf. Maar wanneer ander (minder kreatiewe, minder stimulerende) vorme van skryfwerk jou inkomste raak, is jou kreatiewe skryfwerk die eerste ding wat afgeskeep word. Dit raak ook al hoe moeiliker om ’n lewe uit die kunste te maak. Dit is hoekom ons nie vir enige werk nee sê nie, en ook hoekom kreatiewe uitdrukking – soos skryf – byna ’n guilty pleasure is. ’n Luuksheid! Om jou vraag te beantwoord: Ek het wel oor die afgelope jaar of twee besluit om my skryfwerk ernstig te begin opneem. Hierdie residensie was dus ’n groot stap.
Die verblyf word moontlik gemaak danksy ’n ruim borgskap van die Jakes Gerwel Stigting, maar jy het aansoek gedoen vir hierdie residensie via ’n PEN-sentrum. Hoe het jy van PEN en die residensie gehoor?
Ek is al ’n geruime tyd van die skrywersresidensie bewus en wou al voorheen vir een van die programme aansoek doen, maar vanjaar was die eerste keer dat ek tyd gehad het om so iets aan te pak. Sulke projekte is altyd op my radar. Organisasies soos die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans doen wonderlike en belangrike werk om skrywers te ondersteun en nuwe letterkunde te bevorder.
Wat hoop jy om te bereik tydens die residensie?
Ek wou probeer om ’n eerste manuskrip vir ’n digbundel te voltooi. Ek het dit (min of meer) reggekry. Buiten skryf wou ek ook die dorp en omgewing leer ken. Hoewel een kant van my familie van hierdie area af kom, ken ek Somerset-Oos glad nie. Ek wou my dus inleef in die plek waar my pa grootgeword het – in Pauletstraat, ’n klipgooi van die skrywershuis af. Van die bome in die straat staan al hier vandat hy ’n kind was. Ek is gelukkig met die werk wat ek hier gedoen het. Beide skryfwerk en ruswerk.
Hoe vind jy die saamwees met ander skrywers?
Leersaam! En intellektueel stimulerend. Ek moet bieg – ek was bang dat dit gaan voel of ek terug is in die skoolkoshuis wanneer ek hier kom bly. Inteendeel. Die afgelope maand saam met Emma, Loit, Mpush, Mia en Naomi was ’n onvergeetlike ervaring. Daar is báie gepraat. En báie gelag. Ons is ’n diverse groep skrywers wat gedurende ons tyd hier aan totaal uiteenlopende projekte gewerk het. Met soveel verskillende tale en stories wat saans om die etenstafel ontmoet het, dink ek het ons almal baie by mekaar geleer. Ons was ook gelukkig om die Karoo Writers’ Festival in Cradock en die Nasionale Kunstefees in Makhanda by te woon en ook daar deur kreatiewe energie omring te word.
Somerset-Oos is ’n klein dorpie. Is die stilte goed vir jou skrywerskap?
Beslis. Die dorp hier onder die Bosberg tussen die aalwyne en geelhoutbome is verskriklik mooi. Dit was ’n hoogtepunt om elke dag te gaan stap en om die plantegroei in die omgewing te leer ken. Gedurende die dag was die enigste geluide wat ek vanuit my kamer gehoor het, die bure se honde wat af en toe blaf wanneer ’n koei, bok of perd in die straat afstap. (Saans was daar egter minder stilte wanneer Loit begin sing het 😂.) Buiten die dorpsomgewing skep Paulet Huis ook die ideale omstandighede vir ons om te kan skryf. Gilbert, Nissa en Gogo het ons op die hande gedra en ons tyd hier baie spesiaal gemaak. Ek gaan Paulet Huis met sy kruietuin en krakerige vloerplanke mis.
- Foto's: Izak de Vries
Gesprek oor die skrywersresidensie in Paulet Huis, Junie 2022