Toe ek opdaag by die vertoning van Moya, waar die Zip Zap-sirkus se professionele kunstenaars die gehoor sou laat snak na hul asems, val ’n bekende figuur my op: Daar, ’n paar stoele van my af, sit Tim Huisamen, ’n oud-dosent aan die Rhodes Universiteit en ’n semiotikus extraordinaire. Ek het hom gaan groet en ná die tyd weer gesien.
Dit was ’n opmerking wat hy ná die vertoning gemaak het, wat my sou bybly: “Dít,” het hy oor Moya gesê, “is die begin van kuns en teater; die mens wat vermaak en oorbluf wil word deur skouspel.”
Sela.
Twee ander stukke wat ek die afgelope paar dae gesien het, sou in my kop met hierdie woorde van Huisamen speel, al is dit om verskillende redes.
Maar eers meer oor Moya.
Moya deur die Zip Zap-sirkus
Skouspel. Vermaak. Verbluffende toertjies. Dit was alles daar.
Die Zip Zap-sirkus is in Kaapstad gebaseer en doen baie moeite om kinders uit ons armste townships te werf en op te lei. Nie almal word artieste nie, maar sommige word opgeneem in die formele sirkusskool en uit daardie groepie is daar enkelinge wat uitstyg.
Sommige graduandi gaan oorsee, ander word plaaslik ingespan. Sommige gaan kry ondervinding op die wêreldverhoog, net om weer na Suid-Afrika terug te keer.
Die kunstenaars is verstommend.
Die roetines is daar om te vermaak. Daar word gedans, partykeer is daar slapstick-humor, maar elke paar minute is daar ’n vertoning wat byna onwerklik voorkom.
My geliefde maak geen geheim daarvan dat sy die mooi lywe geniet wat so soepel is nie.
Akrobatiese toertjies, sweefwerk, balle wat heen en weer vlieg, eenwielfietse wat dans en oor mense spring, dis als daar.
Uiteindelik, ná ’n hartlike en welverdiende applous, het die kunstenaars, ná ’n uur op die verhoog, uitgestorm en met die kinders en die res van die gehoor kom gesels. Geen sekuriteit of afstand nie, slegs warm glimlagte en vele foto’s met die jongspan.
Sonderling.
Bloke & his American Bantu, deur Siphiwo Mahala
Dit is min dat ’n teaterstuk my nog kan verras, maar hierdie een het.
Bloke & his American Bantu speel in die 1960’s af. Dit is gebaseer op die ware vriendskap van twee uiteenlopende mense wat albei lief was vir die letterkunde.
Bloke Modisane het in Sophiatown, Suid-Afrika, grootgeword en het ’n ruk lank vir Drum gewerk. Hy moes egter later vlug en het in Engeland allerlei werkies gedoen om aan die lewe te bly.
In hierdie tyd het hy begin korrespondeer met Langston Hughes, ’n digter en intellektueel wat in Harlem, VSA, gebly het.
Meer as 50 briewe is glo aan mekaar gestuur en hulle het ook geskenke uitgeruil. Hughes, wat aanvanklik meer vermoënd was Modisane, het praktiese goed soos jasse en pakke na Brittanje gestuur.
Uiteindelik het Hughes ook gereël dat Modisane ’n lesingtoer deur die VSA sou kon onderneem.
Dié lesingtoer het gesorg vir ’n interessante verhoogtruk, want toe hoor ons die twee akteurs as orators. Hulle het die podium betree en het die gehoor, as ’n gehoor, toegespreek.
Tydens ’n lesing oor Afrikaritmes moes ons saam klap en die ritme hou.
Ander lesings het oor politiek en die Suid-Afrikaanse kortverhaal gegaan. (Op dié punt moet ek noem Modisane was ’n goeie kortverhaalskrywer, Hughes was ook, én die skrywer van die stuk, Siphiwo Mahala, is tans een van ons bekende kortverhaalskrywers in Suid-Afrika.)
Hughes het enorm baie gedoen om ’n swartbewussyn in die VSA te skep. Modisane het uiteindelik ’n uiters suksesvolle roman, Blame me on history, geskryf wat in 1963 gepubliseer is. Dit is in Suid-Afrika verbied, maar het baie goed verkoop in Brittanje en in die VSA. Modisane sou nooit na Suid-Afrika kon terugkeer nie, en hy is na ’n suksesvolle loopbaan as akteur in Duitsland oorlede.
Hughes is, skynbaar incognito, in ’n kliniek in New York oorlede, maar sy as is begrawe in die Schomburg Centre for Research in Black Culture in Harlem.
Die stuk was eintlik baie eenvoudig, daarom dalk so treffend: Twee vriende skryf vir mekaar ...
’n Slim verhoog, keurige beligting en skyfies wat agter die spelers op ’n doek gegooi is, het gemaak dat die kyker die hele tyd geweet het waar die spel gesitueer is.
Dit is werklik ’n eenvoudige storie, maar so goed gedoen dat die gehoor en masse opgestaan het ná die tyd.
Anele Nene, as Bloke, het die angs en depressie van banneling wees baie goed uitgebeeld, maar kon dan ook later die intellektuele reus word wat stelselmatig aandag begin trek.
Josias Dos Moleele, as Hughes, het heerlik “gestruikel” oor Afrikavanne in sy Amerikaanse rol. Hy het die ouer, vaderlike figuur baie goed vertolk, en later ook die sieklike Hughes wat stelselmatig agteruitgegaan het.
Beide die skrywer, Siphiwo Mahala (voor links), en die regisseur, Sello Maake kaNcube (voor regs), is uiteindelik tydens die staande applous deur die twee akteurs na vore geroep, waarna nog meer luide applous gevolg het.
Mahala het in Grahamstad (nou Makhanda) grootgeword. Dit moes ’n lekker gevoel gewees het om so warm ontvang te word in sy eie geboorteland – iets wat Bloke Modisane nooit sou ervaar nie.
ZemQadini
Hierdie stuk, wat hoegenaamd nie so goed bygewoon is as Bloke & his American Bantu nie, neem ook uit geskiedenis.
In 1998 het daar in KwaZulu-Natal ’n burgeroorlog uitgebreek tussen twee gemeenskappe, dié van eZembeni en van emaQadini. Waaroor? ’n Absurde rede: Hulle kon nie besluit waar die hoofman die meeste van sy tyd moes deurbring nie.
Talle mense is dood en jong kinders is ingespan as soldate in hierdie bloedige oorlog.
ZemQadini, deur Sboniso Msimango en onder regie van Philisiwe Twijnstra, open met twee mans wat in limbo vasgevang is: Die een is blind en die ander is stom. Albei ly duidelik aan posttraumatiese skok.
Die blinde is die mees funksionele van die twee en poog om ook die ander te help.
Die eerste deel het sterk herinner aan Samuel Beckett se Endgame en ek is seker die interteks is bewustelik. Ons sien voor ons oë, reg aan die begin van die stuk, hoe die verhaal vir hierdie twee mense eindig.
En dan vind ons uit ons hoe hulle hier gekom het: Twee seuns wat altyd lief was vir sang en dans, sagte kinders wat mekaar se vriendskap geniet het, is van mekaar verwyder deur hul ouers se oorlog en is albei ingespan as kindersoldate.
Die stuk wissel tussen die hede en die verlede. Die akteurs speel dus verskillende rolle in verskillende tydvakke. Eenvoudige kostumering en slim beligting help die gehoor om te weet waar en wanneer die gebeure afspeel
Wat gebeur met sulke kinders?
ZemQadini bou voort op ou, bekende storielyne. Shakespeare se Romeo en Juliet begin daar. Maar wat as die “endgame” oorlewing met posttraumatiese stres is en nie die dood nie? Wat as jy oorleef terwyl jou vriende om jou geval het? Wat as jy bly leef met die wete dat jy die sneller getrek het wat ander se onskuldige lewens geneem het weens ’n absurde geveg?
ZemQadini gebruik Engels as die voertaal, maar groot dele van die frenetiese gevegsituasies gebeur in Zoeloe – ook van die veel vroeër verhaalgegewens, toe die karakters nog redelik onskuldige kinders was, gebruik Zoeloe vir die dialoog.
Die stuk is so geskryf en geredigeer dat selfs iemand wat nie Zoeloe verstaan nie steeds deel sal kan voel van die gebeure en dit alles sal kan volg.
Ek moes toe ook dink aan Tim Huisamen se woorde – hierdie stuk het weer gewys dat daar niks nuuts onder die son is nie. Dit hang net af hoe dit aangebied word.
ZemQadini is ’n moedige stuk – nie maklik nie – en verdien om raakgesien te word.