Misfit
Chase Rhys
Kwela
ISBN: 9780795710520
............
In hulle jongste boek, Misfit (Kwela, 2022), bied Chase Rhys ’n stem aan menigte karakters wat hulleself op die kantlyne van die samelewing bevind. Rhys lewer ook kommentaar oor ’n magdom kwessies waaroor daar gerus meer gepraat kan word in Afrikaans: gentrifisering, kulturele toe-eiening, en halfhartige pogings om die media meer divers te maak. Dit is egter die tema van gender – oftewel die uitdaag van gendernorme – in hierdie versameling wat my die langste sal bybly.
.............
In hulle jongste boek, Misfit (Kwela, 2022), bied Chase Rhys ’n stem aan menigte karakters wat hulleself op die kantlyne van die samelewing bevind. Rhys lewer ook kommentaar oor ’n magdom kwessies waaroor daar gerus meer gepraat kan word in Afrikaans: gentrifisering, kulturele toe-eiening, en halfhartige pogings om die media meer divers te maak. Dit is egter die tema van gender – oftewel die uitdaag van gendernorme – in hierdie versameling wat my die langste sal bybly. Reeds voor die eerste verhaal stel die skrywer die leser bekend aan die rol wat vooropgestelde geslagsnorme in die boek speel. Die motto “A very strange, enchanted boy” is ’n aanhaling van Nat King Cole wat Rhys tipografies aangepas het as aanduiding van die verwerping van gendergebaseerde benamings.
Die stories is kort, maar elkeen tref soos ’n vuishou. Die meeste van die stories in Misfit is oorspronklik in Rapport se Suikewate-rubriek gepubliseer. Getroue lesers van Rhys se weeklikse rubriek sal dit geniet om die (dikwels verlengde) stories nou in ’n boekformaat te kan binge-lees. Diegene wat nog nie met Rhys se skryfwerk kennis gemaak het nie, sal vind dat hulle gemaklike, toeganklike skryfstyl jou aandag onmiddellik vasvang en jou iets gee om oor na te dink sonder om jou uit te put.
............
Diegene wat nog nie met Rhys se skryfwerk kennis gemaak het nie, sal vind dat hulle gemaklike, toeganklike skryfstyl jou aandag onmiddellik vasvang en jou iets gee om oor na te dink sonder om jou uit te put.
...........
Die bundel kortverhale is ’n dokumentasie van kollektiewe herinneringe aan die gemeenskap waarin Rhys grootgeword het. Noukeurige aandag word geskenk aan gedeelde ervaringe. Dominoes speel word as kulturele ritueel beskryf (bl 60), terwyl taxi ry vir die verteller ’n intieme ervaring is wat as mikrokosmos van die lewe in die gemeenskap dien (bl 87). Die stories is dikwels verteenwoordigend van probleme wat verder as die buiteblaaie van die bundel strek. Verskeie van die verhale word vanuit die “hiper-gesegregeerde” Deep South vertel waar mense min doen om met hulle “‘other’ menslike bure te integreer” (bl 9). In die verhaal “Menee G” spits ’n onderwyser hom toe op die aanvaarding van Kaaps in die klaskamer. Die taal word egter deur sy seniors as ’n “bendetaal” en “verkeerd” beskryf (bl 109). In “‘Hello operator, yes, I seem to have lost the connection’” word volgehoue verdeling, as ’n gevolg van die geweld van die verlede en hede wat nie sy houvas op Suid-Afrika wil laat gaan nie, geïllustreer. Die verteller is by ’n mediageleentheid en let op dat al die wit mense in die middel van die vertrek sit terwyl bruin mense op die “periferie” van die vertrek bly. Vir die verteller word daar gesê: “[O]ns het julle genooi en dit is nou julle taak om die ruimte op te eis,” waarop hulle bevraagteken of die mense in die middel nie meer moet doen om dié aan die buitewyke van die vertrek na binne te trek nie (bl 33). Hierdie metafoor is van toepassing op alle vorme van uitsluiting aan die hand van dualistiese sienings aangaande ras, klas en gender.
...........
Rhys skryf vir en namens die “misfit”; die Ander wat nie netjies in enige boksies pas soos bepaal word deur dualistiese denkwyses nie.
............
Rhys skryf vir en namens die “misfit”; die Ander wat nie netjies in enige boksies pas soos bepaal word deur dualistiese denkwyses nie. Die verteller in die boek praat uit ondervinding: as die “enigste seun oppie sportveld met ’n Spice Girls-waterbottel” (bl 26) staan hulle uit. Wanneer mense hulle vir die eerste keer sien, merk die verteller op, word hulle gewoonlik as ’n “bruin queer misfit” gesien en word daarom onmiddellik as die “ander” gebrandmerk (bl 30). Vir die verteller is dit ongewoon om welkom te voel in die openbaar. Van jongs af is die verteller ongemaklik in tradisioneel manlike ruimtes, want as “post-binary persoon daag [hulle] identiteit alle idees yt oo gender en hoe ’n man of vrou moet wies” (bl 141). Rhys skets ’n treffende beeld van die barbershop, wat histories en kultureel ’n belangrike ruimte van broederskap is, om ’n kontras te skep tussen performatiewe manlikheid en die verteller se transendering van die verwagtinge van hoe ’n persoon moet optree gebaseer op die geslag wat by geboorte aan hulle toegeskryf is.
............
Reeds as kind besef die verteller dat hulle in twee verskillende wêrelde leef en dat hulle van kodewisseling gebruik sal moet maak om hulle stem aan te pas vir die lewe wat hulle buite hulle huislike ruimte ervaar.
...........
Reeds as kind besef die verteller dat hulle in twee verskillende wêrelde leef en dat hulle van kodewisseling gebruik sal moet maak om hulle stem aan te pas vir die lewe wat hulle buite hulle huislike ruimte ervaar. Die stelling “Ek was vyf jaa oud die dag toe ek myself in twie split” (bl 153) getuig van die verteller se verstaan van die verskillende lewenservaringe waaraan hulle onderskeidelik by die huis en by die skool (en elders) blootgestel word. Die indirekte kondisionering wat by die verteller as kind plaasvind in ’n poging om minder uit te staan in ’n antagonistiese omgewing volg hulle tot in hulle volwasse jare. Daar kan opgemerk word dat die verteller as volwassene bewustelik daaraan werk om hierdie kondisionering af te leer as deel van die groter doelwit om beide kulturele en geslagstereotipes teen te gaan.
Deur die verwerping van tradisionele geslagsrolle is die verteller suksesvol daarin om patrone van aangeleerde geslagsgeassosieerde gedrag stop te sit; so ook geslagsgebaseerde geweld wat in hulle huis by hulle eindig (bl 118). Die verteller ervaar verder dat om hulleself te wees eerder as “Chase die seun/broer/neef” ook die mense rondom hulle aanmoedig om die druk van tradisie te ontvlug (bl 119). Menigte van die stories in die bundel is ’n terugreis in tyd wanneer iets in die volwasse verteller se huidige omgewing hulle herinner aan ’n sleutelgebeurtenis wat tydens hulle kinderjare plaasgevind het. Tydens hierdie terugblikke is dit merkwaardig om te sien hoe die verteller deurlopend meer doelgerig raak in die teengaan van gendernorme. Hoe dieper jy jou as leser in die bundel inleef, hoe trotser voel jy op die ruimte wat die verteller vir hulle geskep het ter ere van hulleself as jong kind wat enorme vrae rondom identiteit moes trotseer sonder om die taal ten volle magtig te wees om antwoorde daarop te kan artikuleer. Dit is dan juis spesiaal dat Rhys die boek aan die “babies” opdra: dié wat nog ontuis voel in hulle liggame of nog daaraan werk om hulleself vry te maak van ’n wye spektrum samelewingsnorme.
Die sterkmoedige vroue deur wie die verteller as kind omring word, het ’n bepalende invloed op die ontdekking en aanvaarding van hulleself in ’n samelewing wat met geweld reageer op enige afwyking van heteronormatiwiteit. Die storie “Issie ekkie, is my body” stel lesers bekend aan Nana, ’n herhalende en sentrale karakter in die bundel. Nana speel ’n belangrike rol in die verligting wat die verteller ervaar; ’n tuiskoms in hulle eie liggaam. Vir die verteller dien Nana se “issie ekkie, is my body”-mantra as herinnering daaraan dat identiteit meer is as die liggaam; meer as gender. Dit moedig die verteller aan om die “divine” van die Self raak te sien en om heteronormatiewe standaarde te verwerp waarvolgens slegs liggame en ervaringe wat aan bepaalde vereistes voldoen, vereer word (bl 12).
Die verteller se Madonna-ma se klere en unieke modestyl is vir hulle ’n ligbaken in ’n andersins donker wêreld (bl 16). Die verteller se selfuitdrukking deur klere en ander voorkomsvoorkeure word egter verwerp wanneer hulle buite hulle aanvaardende huislike ruimte beweeg. Wanneer hulle met ’n sequins-hemp van hulle ma skool toe gaan, word hulle beskryf as ’n “spectacle”. Vir hulle ma is hulle egter “spectacular” (bl 16). (Hierdie storie eindig tog op ’n hoopvolle noot waar die verteller besef dat die jongste generasie potensieel ’n meer aanvaardende, vrydenkende samelewing kan skep.) Die verteller se ma bring dit by hulle tuis dat klere nie ’n gender het nie. Die ma aanvaar nie bloot haar kind se eensoortige vorme van uitdrukking nie, maar moedig dit as’t ware aan – ’n gebaar wat noemenswaardig is in ’n wêreld wat dit op elke denkbare manier moeilik maak vir queer persone om gemaklik en veilig hulleself te kan wees sonder om voortdurend aan hulle sogenaamde andersheid herinner te word.
Die verteller beskryf die Kaapse Vlakte as ’n matriargale gemeenskap (bl 93) waar die vroue die opvoeders en versorgers is. Ek dink hier veral aan Nana, wat nie net na die verteller omsien nie, maar ook na ander kinders in die gemeenskap, en die ma-karakter, wat haar kind met ’n saggeaarde dog ferm hand aanmoedig om hulle ruimte in die samelewing vol te staan. Die oorheersende vroulike ingesteldheid van aanvaarding en kreatiewe uitdrukking van identiteit in die bundel staan in kontras met manlike uitlatings soos “[b]oys dra nie earrings nie!” (bl 166) en “[b]oys don’t cry” (bl 178). Daar is ook ’n merkbare onderskeid tussen die verteller se ma wat selfs by haar werk afvat om vir haar kind ’n sequins-rugbytrui te stik – ’n uitstekende beeld van die wegdoen van die heteronormatiewe manlikheid wat tipies met rugby geassosieer word – (bl 18) en die pa wat hulle pienk klere met ’n mes opsny (bl 166) en die foto verbrand waarop hulle hulle ouma se oorbelle dra (bl 168). As kind weet die verteller dat om vroueklere en -juwele te dra mense sal kwaad maak, hoewel hulle nie verstaan hoekom nie: “Ek wiet, maa ek verstaanie hoekô ek daavoo gestraf sal wôdie” (bl 167). Hierdie eenvoudige, onskuldige gedagte dien as bewys dat gendernorme bloot performatief is; dat die normatiewe uitbeelding van manlikheid en vroulikheid aangeleer word en nie instinktief aangevoel word nie.
............
Die verteller verstaan wel dat gender performatief is. Hulle beskryf hulle pa se ekstreme reaksie op hulle pienk klere en juwele as ’n “theatrical ritueel” en “act” wat waarskynlik veronderstel is om hulle te laat verstaan dat enige uitdrukking van vroulikheid verkeerd is (bl 169). Dit is opmerkings soos hier bo aangehaal wat die stories in Misfit so uitsonderlik maak. Die idee van manlikheid teenoor vroulikheid is ’n konsep wat geheel en al uitgedink is.
..............
Die verteller verstaan wel dat gender performatief is. Hulle beskryf hulle pa se ekstreme reaksie op hulle pienk klere en juwele as ’n “theatrical ritueel” en “act” wat waarskynlik veronderstel is om hulle te laat verstaan dat enige uitdrukking van vroulikheid verkeerd is (bl 169). Dit is opmerkings soos hier bo aangehaal wat die stories in Misfit so uitsonderlik maak. Die idee van manlikheid teenoor vroulikheid is ’n konsep wat geheel en al uitgedink is. Deur nie aan die vooropgestelde idees te voldoen van hoe manlikheid en vroulikheid onderskeidelik vertoon nie, of deur nie inherent met enige van die twee binêre klassifikasies van gender te identifiseer nie, behoort iemand daarom nie as Ander geëtiketteer te word nie. Tog is dit steeds die geval in menigte sosiale en kulturele ruimtes, en daarom is dit dikwels so te sê onmoontlik om die vooropgestelde gendernorme te ontsnap wat aan geslag verbind word.
Die boek sluit die voordeur oop en nooi jou in die verteller se lewe in, laat jou lag, en laat jou dikwels stilstaan om ’n paragraaf oor en oor te lees omdat jy nie heeltemal kan uitpluis waar dit jou so diep tref nie. Misfit, en Rhys as skrywer, lewer ’n onvervangbare bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Een ding is seker: Jy het nog nie voorheen só iets gelees nie.
- Elodi Troskie is ’n skrywer, nagraadse letterkundestudent, en die inhoudsredakteur van die onafhanklike Afrikaanse webjoernaal Klyntji.com.