USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Danie Stander

  • 0

Die USAN-kongres vir jong navorsers het van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Danie Stander praat met Naomi Meyer oor sy navorsing en sy aanbieding by die kongres.

Wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?

Ek is ’n nadoktorale navorsingsgenoot in die Departement Engels, Stellenbosch. My navorsing handel oor Reza de Wet.

Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?

Sedert my eerste blootstelling aan De Wet se skryfwerk as 11-jarige kind was ek nooit weer dieselfde mense nie. Die volgende mense was my grootste aanspoorders en ondersteuners in hierdie verband: Marthinus Basson (wat soveel van haar dramas geregisseer het), Jeanne Ellis (my M-studieleier en huidige “host” as navorsingsgenoot), Shaun Viljoen en Riaan Oppelt (my PhD-studieleiers), en Marisa Keuris en Temple Hauptfleisch (beide De Wet-kenners onder wie se redaksie ek al oor haar gepubliseer het).

Hoekom navorsing in Afrikaans doen?

Interessant genoeg was my referaat vanjaar in Engels omdat ek die Departement Engels verteenwoordig het. Hoewel De Wet bekender is vir haar Afrikaanse skryfwerk, het ek hier ook gefokus op een van haar Engelse dramas. De Wet se Engelse dramas en Engelse vertalings van haar Afrikaanse werk het egter baie gedoen om ’n belangstelling in veral Engeland in Afrikaanse vrouedramaturge aan te wakker. 

Is daar werk en toekomsmoontlikhede in ’n Afrikaanse omgewing?

Ek hoop so! Ek ervaar tog ’n geweldige intellektuele gasvryheid teenoor my "Engelse" navorsing uit Afrikaanse oorde. USAN is ’n sprekende voorbeeld.

Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy ’n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?

Seker nou nie álle variëteite nie, maar daar was referate wat Kaapse Afrikaans asook Proto-Afrikaans onder die loep geneem het en dit met sensitiwiteit en erns gedoen het.

Aan wie voel jy behoort Afrikaans, indien enigiemand?

Ek self is nie besitlik oor Afrikaans soos ek dit leer ken het nie. Omdat ’n sekere gestalte van Afrikaans my moedertaal is, het dit ongetwyfeld my psige, my uitkyk op myself en die res van die wêreld gevorm en my gevoelslewe getoonset. Waarom sal ek daardie gegewe wil ontneem van iemand vir wie Afrikaans ’n ander gestalte aanneem?

Wat het jou opgeval van die ander navorsingsreferate by die kongres?

Ek was veral beïndruk met argiefgebaseerde navorsing en met die algehele opregte geesdrif wat die referate deurstraal het. Dit is vir my bevestigend en inspirerend.

Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?

Ek was gaande daaroor dat studentedigters genooi is om hul werk tydens ’n skemerkelkie voor te dra. Die organiseerders was so deeglik en hul teenwoordigheid so sjarmant. Die personeel van die Departement Afrikaans en Nederlands het dit met soveel gulheid van gees bygewoon. Ek hoop ek mag in 2026 nog ’n "jong navorser" wees om weer by USAN te wees!

Lees ook:

Reza de Wet (1952–2012)

Reza de Wet: Die dramaturg as dromer, Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris (redakteurs)

USAN-kongres 2024: ’n oorsig

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Nicolette Steyn

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Anke van der Merwe

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Susann Louw

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top