Reza de Wet (1952–2012)

  • 0

Gebore en getoë

Reza de Wet is op 11 Mei 1952 in Senekal in die Oos-Vrystaat gebore, die enigste kind van regter HF de Wet en Elizabeth Mary (née Marais). Sy is die agterkleindogter van Charlie Marais, wat die ouer broer van Eugène Marais was. Generaal Christiaan de Wet was haar oupagrootjie se neef. Haar pa was later hoofregter van die Vrystaat.

Reza vertel vir Willemien Brümmer (Die Burger, 26 Maart 2011) van haar ouma en ma: “My ma het ’n wonderlike sin vir die bisarre en die makabere gehad – ’n gebore aktrise. My ouma was ’n begaafde mezzo-sopraan wat by La Scala in Italië ’n kontrak aangebied is. Maar toe gaan haar ouers in die Groot Griep dood en die ouma kry ’n helse nervous breakdownNervous breakdown was elke tweede woord in ons familie.”

Elke jaar het Reza en haar ma in die voorste ry by die sirkus gesit. “My ma wou hê ek moet skrik as die narre so vreeslik raas. En die sweefkunstenaars! Oeee, en die tente was so hoog!”

Reza was vroeg reeds verlore in haar eie wêreld, vertel sy aan Wilhelm du Plessis (De Kat, Julie 1997). "As enigste kind lees ek baie en tower ek maatjies op wat niemand kon sien nie. Ek begin skryf toe ek vyf jaar oud was. Toe ek in sub A (graad een) was, het ek reeds ’n bloemlesing van ongeveer twintig gedigte of versies gehad. Ek word ook groot op Eugène Marais se gedigte en die donker verbeeldingswêreld van sy kortverhale en spookstories."

In haar ouerhuis is Reza van jongs af aan die kunste blootgestel. In ’n onderhoud met Madeleen Welman in Rooi Rose van 30 Desember 1992 sê sy: “My ma het ’n intuïtiewe begrip en liefde gehad vir alle kunsvorme. Daar was altyd kuns- en musiekmense by ons. My pa weer, is ’n wetsmens, ’n logiese mens. Sy stille krag en bestendigheid het my ewewig gegee.” By haar ma het sy nie net liefde vir die kunste geleer nie, maar veral om ’n individu te wees. “Sy was ’n algehele non-konformis met ’n absolute afsku van enigiets wat bloot die norm was. Sy was so omdat my ouma so was.”

Reza vertel aan Una Nieuwoudt (Die Burger, 16 Maart 1994) dat sy maar drie was toe sy die eerste keer teater toe is om te gaan kyk hoe haar ma in ’n operette sing. “Kleintyd het die teater al vir my ’n soort feëverhaalelement gehad. Ek het gedink dis toordery wat my ma so klein laat word het en het haar gevra of dit seer was.” Op vyfjarige ouderdom woon Reza haar eerste toneelstuk by saam met haar ma in die saal van Oranje Meisieskool.

In sub A sou Reza in haar eerste toneelstuk speel. “Elke toneelstuk waarin ek ooit was, was vir my ontsettend belangrik. Ek onthou dit asof ek wérklik daar was. Ek moes as ’n muis op en af van ’n stoel klim en die kinderrympie ‘Hickory dickory dock’ sing. Ek het so ’n groen geruite rok gehad, en ’n dik stert. En toe word ek siek – ek was báie siek as kind. Ek kon nie meer in die konsert wees nie, en ek het so aan die stert vasgehou en gehúil. Dit is tóé dat ek aan myself belowe het dat as ek gesond word, ek áltyd in konserte gaan wees.”

Haar loopbaan as toneelspeler begin ook op skool, waar daar ’n baie goeie dramavereniging was en ook ’n baie goeie Engels-onderwyseres, Miss Ligget. Die produksie van Quality Street het alles begin. Reza vertel aan Andreij Horn in ’n onderhoud in Die Bult van September 1998 nadat sy in 1998 aangewys is as een van die Oud-Kovsies van die jaar, dat sy op skool die ster van die opvoerings was. “Dit het net so ’n belangrike invloed op my latere lewe gehad. As daar een mens op skool was wat my op ’n besondere manier geraak het, was dit Miss Ligget. [...] Al ons opvoerings was in Engels, omdat dit natuurlik die werke was waarin sy belang gestel het. Ons het dit saam met die seuns van St Andrew gedoen. Dit was nogal ’n snaakse kombinasie vir daardie jare. Oranje en die Engelse seunskool. Ek dink nie dit is ooit weer daarná gedoen nie. Die invloed van dié soort ervaring bly by ’n mens.” Hoër Meisieskool Oranje is ook waar Reza gematrikuleer het.

In De Kat van Junie 1988 verduidelik Reza aan Rachelle Greeff van haar gewaarwordinge oor haar eerste sestien lewensjare in Bloemfontein, die hartland van die Afrikanerdom, en watter rol dit later in haar werk speel. "Tydens my skooljare in Oranje Meisieskool is die Anglo-Boereoorlog deurentyd beklemtoon. Daar was ’n standbeeld van die vrou met die kappie en ’n heilige ontsag is daagliks vir dié beeld ingeprent. Ek het intens bewus geword van die atmosfeer van die oorlog, en in my stuk Nag, Generaal kom dit sterk na vore. “Gelukkig was daar die twee jaar in Kimberley. Dit was, dankie vader, ’n gemengde skool met ’n hoë persentasie minder gegoede kinders. Dis van hulle van wie ek gehou het. Mense met vitaliteit, in noue kontak met die lewe. (...) Die lewe hier was ryk aan tekstuur. Ek was agt en nege jaar oud, en die Kimberley-ervaring het my wesenlik verander.” Op Kimberley het Reza geskryf en opgevoer en die kindertjies van Du Toitspan gelok met koekies en koeldrank. Die aksie het hulle nie so geboei nie en elke nou en dan het ’n stemmetjie haar op die “verhoog” bereik: “Kan ek nog ’n koekie kry, asseblief?”

Sy het eintlik nie hiper-Afrikaans grootgeword nie, sê sy aan Barrie Hough (Rapport, 0 Augustus 1998). “My familie is nie hiper-Afrikaans nie. Ek het ’n eienaardige familie. Dit is meer die mense wat om ons gebly het en met wie ek in aanraking gekom het, wat my die Afrikaanse onderbou gegee het. Ek kom eintlik uit ’n effens vervalle, dekadente familie as ’n mens praat van Afrikanerdom. Ek is nooit kerk toe gesleep nie. Daar’s nooit met sulke dinge gedweep nie. Daar was eintlik baie vryheid en ek het ontsettend in aanraking gekom, vandat ek klein was, met Engelse en ander letterkundes. My ma-hulle se boeke was alles Engels. Ook wat ek gelees het toe ek klein was, was dikwels Engels. Ek dink dit vorm insig.” Reza lees Saarttjie en Trompie saam met William Brown en Enid Blyton. Sy kon ewe lief wees vir Saartjie en Little Women, maar lees die een met een deel van haar en die ander met ’n ander deel.

Sy erken teenoor Johann Botha (Die Burger, 13 Maart 1993) dat Senekal vir haar ook soos die hemel was. “Die dorp was ’n plek met kante. ’n Kind dink mos groter as die lewe. Op die dorp was sulke mense. En my ouma-hulle was glad nie eng nie. My ouma was nogal eksoties! Op Senekal was die mense eenvoudig nader aan jou, alles was soveel meer onmiddellik. Daar was mense op die platteland wat miskien glad nie in die stad sou kon oorleef nie. Soos die hoer van die dorp, wat deur die kerk versorg is. Haar uitstal van haar organe, haar uitdagende klap op haar buik en gespog: 'Kyk, ek is hol!' In vergelyking was die stad maar grys. Die bisarre, die makabere het deel geword van my ervaring.”

Op vyftienjarige ouderdom word sy die eerste keer aan die Russiese dramaturg Anton Tsjechof bekendgestel, en dit verander haar hele idee van drama en was vir haar tegelyk baie bekend, maar ook misterieus en betowerend. En die mistiek is vir haar baie belangrik. Die werk wat Sukovs in die laat jare sestig in Bloemfontein gedoen het, het vir soveel teateropwinding gesorg dat dit vir Reza beïnvloed het. Sy was nog op skool, maar kon na eksperimentele teateraanbiedings soos Becket se Waiting for Godot gaan kyk.

Verdere studie en werk

Na skool sit Reza haar studies voort aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy in 1973 haar BA-graad behaal met drama en Engels as hoofvakke. Sy verwerf ook haar BA Honneursgraad aan die UV. Gedurende haar studiejare speel sy gereeld toneel – in die Vrystaat, in Kaapstad en in die destydse Transvaal, onder meer vir Truk en die eksperimentele Arena-geselskap. Sy speel hier saam met Lindsay Reardon, haar toekomstige eggenoot.

Een van haar eerste hoofrolle was juis vir Truk se Arena-geselskap. Sy het die rol van die verlamde Lis in Arrabal se Fando en Lis gespeel. “Eers laat die sadistiese Fando my val van ’n hoogte,” vertel sy aan Willemien Brümmer, “soms pluk hy my aan my hare rond. Saans vee die verhoogbestuurder my heuplengte hare met ’n reusebesem van die verhoog af. Ek was in soveel pyn dat die dokter vir my vra of ek in ’n ‘major car accident’ was.”

Tien dae ná die openingsaand tref Reza ’n ontstelde verhoogbestuurder aan. Die vertoning moet gekanselleer word, want Fando het geval en twee ribbes gebreek. “Ek is jammer om te sê, maar ek was so ontséttend verlig!”

Sy vertrek daarna na die Universiteit van Kaapstad, waar sy ’n nagraadse diploma onder Robert Mohr behaal. Sy slaag later haar meestersgraad in Engels aan Unisa. Reza begin ook in 1985 met haar doktorale tesis oor Henry James. Sy is dosent aan Rhodes-universiteit in Grahamstad, waarheen sy en haar man en dogter, Nina, in 1982 verhuis het.

Nina se geboorte het ’n oorgangsfase in haar lewe ingelui. Vir haar was haar kind ’n band tussen haar en die wêreld. “Sy het my binnewêreld gedwing om te skakel met die wêreld daar buite, die werklikheid. En uiteindelik was daar iemand wat nie aan die einde van die dag moes huis toe gaan nie.” Die trek na Grahamstad was die gevolg van die onpersoonlike bestaan en gejaagdheid van Johannesburg. “In ’n betonoerwoud verloor jy kontak met jou wortels, jou kern. En Grahamstad (waar Casspir en donkiekar saamry) het na die ideale plek gelyk. Dis so half nêrens: ’n plek van vier winde,” het sy aan Brümmer verduidelik.

In 2007 tree Reza uit as professor van die Dramadepartement van Rhodes-universiteit.

Die eerste stuk skryfwerk wat Reza geskryf het, was ’n Engelse toneelstuk getiteld Heathcliff and the dancing bear, oor Heathcliff se jeug voordat hy op Wuthering Heights aangekom het. Uys Krige se Die goue kring was die eerste toneelstuk wat sy ooit gesien het. Haar ma was die toneelbestuurder en dit het ’n baie groot indruk op die jong Reza gemaak – die eenvoud en die betowerende kwaliteit daarvan.

Haar wortels lê in die eerste vyftig jaar van die twintigste eeu. Sy het nooit regtig ’n aanvoeling gehad vir die moderne Afrikaanse letterkunde nie. Sy vertel aan Anja Huismans en Juanita Finestone: "Ek is dol oor Totius en Boerneef en hulle werk is vir my pragtig. Ek is ook beïnvloed deur ander literêre tradisies en lees baie, maar meestal Engels. Ek het geweldige ontsag vir Henry James en die manier waarop hy met menseverhoudings en die ongesegde tussen mense omgaan. En dan is daar ook Becket en Arabel en natuurlik Strindberg, Ibsen en Tsjechof."

In 1984 begin Reza skryf aan Diepe grond. In 1985 moes ’n vriend van haar by die Dramadepartement by Rhodes na die ATKV Kampustoneelfees gaan en hy het toe nie ’n stuk nie. Hy vra Reza se hulp. Aan Riaan de Villiers (Die Suid-Afrikaan, 31 Mei 1987) vertel sy dat sy baie “disgusted” met die stuk was en lanklaas daaraan gewerk het. Maar die belangstelling herlewe en sy skryf goed by. “En toe ons begin werk daaraan het ek eers baie entoesiasties geraak. Want ek kon elke dag gaan, self speel en die ding in die praktyk sien. Só het ek hom eindelik klaar geskryf, in die loop van hierdie proses.”

Met die skryf van Diepe grond gebruik Reza Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas as literêre verwysingspunt. Die name stem ooreen met dié in Rivierplaas, maar daar is ’n hemelsbreë verskil tussen haar en Alba Bouwer se werk. Sy gesels met Barrie Hough (Rapport, 19 Augustus 1998): “Alba Bouwer het ’n mitiese en idilliese Suid-Afrikaanse kleintyd geskep. [...] In Diepe grond beeld ek die vernietiging van ’n dergelike paradys uit. Veral die rol van die swart vrou, Melitie, is vir my baie belangrik. Ek sien haar as ’n soort beginpunt vir die ‘kinders’ in Diepe grond. [...] Melitie ... is vir my ’n karakter wat diep in Afrika gewortel is, ’n soort Moeder Afrika.” Diepe grond is ’n swart komedie oor ’n broer en suster wat vasgevang is in ’n ewige kinderlewe deur hulle oorlede ouers se streng waardes. Hulle swart kinderoppasser gee vir hulle die onbevange liefde wat hulle ouers nooit aan hulle kon gee nie. Hulle deel dieselfde bed en herspeel klein traumatiese tonele uit hulle verlede waarin hulle soms die persona van hulle ouers aanneem.

Die wye reaksie op hierdie stuk ná die Kampustoneelfees was vir Reza ’n skok. Sy het nooit verwag dat wat “vir my ’n private spel was, ooit so ’n reaksie sou ontlok en wyer implikasies kon hê nie”. Mense het na haar toe gekom met trane in hulle oë en het gesê dat sy die Afrikaner se psige blootgelê het en dit met deernis gedoen het.

Na die opvoering by die Kampustoneel koop die Markteater die stuk, maar kon vir ’n jaar en ’n half niks daarmee doen nie, omdat Tafelberg Uitgewers met ’n hofsaak begin het omdat die karakters na Alba Bouwer se karakters vernoem is. Die uiteinde was dat Reza die name van die karakters verander het, en die stuk is in 1986 in die Markteater opgevoer.

Reza het feitlik oornag ’n dramaturg van statuur geword, en die Markteater-produksie van Diepe grond met Lucille Gillwald as regisseur wen sewe Vita-toekennings. “Dit was net vir my ’n ontstellende ervaring om niks met die produksie te doen te hê nie. Ek onthou, ek het by iemand gebly met ’n houttrap waar ek so gesit en huil het. Dis son was nog nie op nie en ek het gesit en wag dat ek vir Lucille kon bel, want sy wou die helfte van die hoenderhok-toneel uitsny. Sy het dit toe nie gedoen nie, maar dit was nogtans ’n traumatiese gesprek,” vertel Reza aan Brümmer.

Diepe grond is in 1986 gepubliseer en in 1991 saam met Op dees aarde en Nag, Generaal onder die titel Vrystaat-trilogie uitgegee. Helize van Vuuren skryf dat daar ’n onbeholpenheid in die hantering van tegniek en ’n oordadigheid in Diepe grond is. Tog toon die jong dramaturg belofte – al het hierdie debuutdrama nog nie behoorlik vorm gekry nie. Die drama word met die AA Mutual-prys bekroon.

Op dees aarde is ook op die ATKV Kampustoneelfees opgevoer (in 1986), en ná die opvoering, waarin Reza die hoofrol speel, skryf Adrienne Sichel in The Star (15 April 1986): “Preconceptions had to be discarded to appreciate this exquisite flight of fantasy which dabbles thought-provokingly in the supernatural. De Wet ... proves once again that she is a writer and actress of international stature.”

In 1990 word Reza deur Robert Shore van die Dramadepartement van die Universiteit van Suid-Kalifornië in Amerika genader vir ’n vertaling van Diepe grond, wat hy bestempel as "a play of remarkable substance and power”. Hierdie vertaling is in Los Angeles as Deep ground deur beide die Universiteit van Suid-Kalifornië en die professionele teater opgevoer en is besonder positief ontvang.

Vrystaat-trilogie word in 1991 met die Rapport-prys vir drama bekroon en in 1992 met die CNA-prys. In 1994 ontvang Reza die Hertzogprys vir Vrystaat-trilogie, sowel as vir die trilogie Trits (waaroor verderaan meer). Sowel Diepe grond as Op dees aarde is vir Vita- en Dalrotoekennings benoem en in 1986 ontvang Diepe grond sewe Vita-toekennings. In 1987 ontvang Op dees aarde ook ’n Vita-toekenning, en drie Vita-toekennings volg in 1989 vir Nag, Generaal. Hierdie drie tekste vul mekaar goed aan en is ingebed in die geskiedenis van die Afrikaner. Dit dui op die enigheid van Calvinistiese leerstellinge soos baie Afrikaners dit vertolk.

In 1988 bring die Markteater vir die eerste keer ’n Afrikaanse stuk na die Grahamstadse Kunstefees in die vorm van Reza se Nag, Generaal. In hierdie stuk streef sy daarna dat Afrikaners met Afrika versoen moet word. Die drama se aanvanklike titel was Paljasdraer.

In 1989 word Reza se Engelse stuk In a different light in die Markteater in Johannesburg opgevoer, en tien jaar ná haar eerste groot rol in dieselfde teater speel sy weer self in haar stuk. Hierdie stuk is ’n weerspieëling van Reza se persoonlikheid sonder die reaksie op sosiale druk. In ’n onderhoud met Chris du Plessis in Vrye Weekblad (14 Julie 1989) sê Reza meer oor hierdie stuk: "Hierdie Tsjechofagtige stuk behandel die intense perspektiefverskuiwings wat in menslike kommunikasie plaasvind, behandel; die chaotiese verstrengeling in mekaar se psiges; hoe mense se persoonlikheidstrukture verander afhangende van die mense met wie hulle te doen kry. Dis ook in ’n ander sin kommentaar op die deurmekaar verlede."

In 1991 word A worm in the bud by die Grahamstadse Kunstefees se randfees opgevoer en besorg dit aan Reza ’n Vita-nominasie as dramaturg van die jaar. Dit is in 2011 weer op die planke gebring met Karolien van Zyl en Stephanie Hough in die rolle van die twee susters Emma en Katy Bennett. Die een is in ’n Victoriaanse “parlour” en die ander in ’n opstal in die Karoo. In die briefwisseling van 1904 tussen die susters kom ’n aangrypende portret te voorskyn. Dit ís ’n teaterproduksie wat goed werk – klassieke Reza de Wet.

Reza se volgende gepubliseerde Afrikaanse dramateks is die trilogie Mis, Mirakel en Drif, wat onder die titel Trits gepubliseer word. Mis word in 1993 deur Kruik in die Arena-teater opgevoer met Marthinus Basson as die regisseur. Die stuk speel hom af op ’n dorpie ná die Depressie, en gaan oor ’n ma en ’n dogter wat oorleef deur op die plase in die omgewing mis te verpak. Dan besoek ’n sirkus die dorp en die spanning loop hoog, want die vorige twee jaar het ’n jong meisie elke keer onverklaarbaar verdwyn. Mis vorm saam met Mirakel en Drif ’n siklus van drie. “Soos in die mirakelspel van die Middeleeue is drie elemente verweef, naamlik die naïewe, die groteske en die wonderbaarlike." Mis ontvang in 1994 ’n Fleur du Cap-toekenning vir die beste nuwe inheemse drama.

In 2009 is Mis vir matriek voorgeskryf en is dit deur die regisseur André Stolz afgestof sodat daarmee na skole getoer kon word. Dit is aangepak met Bettie Kemp, Isadora Verwey, Morné Visser en Lelia Etsebeth in die rolle.

Marthinus Basson (Beeld, 18 Mei 2009) het die volgende oor Mis te sê gehad: “In Mis vertel die blinde polisieman wat gestuur is om drie weerlose vroue te beskerm teen die moontlike teenwoordigheid van ’n jongmeisiedief in die dorp, ’n aangrypende verhaal oor hoe hy as kind sy sig verloor het deur na ’n sonsverduistering te staar.

“Die verhaal is deurdrenk van sensuele detail wat ander vorme van sensoriese ervaring as sig belig. Dit dui ook die gevare van die oortreding van taboes aan en die vernietigende gevolge daarvan.

“Die polisieman is natuurlik nie blind nie, maar die verlosser van ’n jong meisie wat deur haar ma onderdruk word en vir ’n lewe mis verpak in streepsakke wat sy maak. Hy is ’n narre-Christus as teenvoeter vir die vreesaanjaende God van ’n afwesige pa, wat, nadat hy deur die Depressie geknak is en sy plaas verloor het, reeds vir sewe maer jare bo in die solder bly. ‘Wat is ’n boer sonder ’n plaas?’ sou ’n borduurlappie teen die muur kon sê.”

In Stolz se produksie vertolk Visser die rol van die polisieman, terwyl Kemp vir hope aardse humor sorg as die dorp se LO-onderwyseres, Miss Gertie.

“Dikwels is daar nie eens beligting in van die skoolsale waar ons optree nie, maar dit bly baie bevredigend om te sien hoe die betowering van teater die kinders aanraak,” vertel Stoltz (Beeld, 18 Mei 2009). “Ek kyk dikwels nie wat op die verhoog aangaan nie, maar eerder vir die leerlinge. Dan sien jy hoe hulle in die eerste 15 minute totaal meegevoer word deur wat op die verhoog gebeur.”

Stolz sê hy hoor gereeld van leerlinge wat op die plek besluit hulle wil gaan drama studeer. “Ek kan nie dink dat ’n mens ’n dramateks kan bestudeer sonder om dit lewendig opgevoer te sien nie.” Hy word ook dikwels verstom deur van die insig wat in die vraag-en-antwoord-sessie ná ’n opvoering na vore kom.

Stolz het Reza tydens die produksie van Nag, Generaal in 1988 ontmoet toe hy daarin gespeel het en ook assistentregisseur vir wyle Lucille Gillwald was. “Ek het gedink sy is ’n vreemde, wonderlike, beeldskone kreatuur. Daar’s ’n verfyndheid aan Reza wat die palet waarmee sy werk, verklap. Haar verbeelding is eindeloos.”

Dit was ook in die repetisietyd van Nag, Generaal dat hy sy “begeerte vir regie” kry het. “Die eerlikheid wat ’n regisseur moet hê ... met akteurs én dramaturg het ’n groot indruk op my gemaak. Ek wou nog altyd ’n stuk van Reza regisseer,” sê hy.

“Elke dramaturg het mos sy eie stories wat hy wil vertel. Baie van De Wet se dramas is in die verlede geplaas. Haar oeuvre lê in die eerste 50 jaar van die 20ste eeu, en in ons eie geskiedenis, maar dit gaan nie oor politiek nie. Dit gaan oor die politiek tussen mense. Haar werk vat ’n mens, veral met die eerste ses dramas in Afrikaans, van Diepe grond tot Drif, in ’n landskap in soos dié van Gabriel Garçia Marquez se romans. Dis nie realiteit nie, maar dis baie, baie real. Magiese realisme. En al lê die stories in die verlede, is die karakters só rond geskep ... hulle is totaal werklik. Kyk maar na die karakters in Mis, wat in 1936 afspeel.

“Elke mens in die gehoor kan op sy eie manier met een van die karakters identifiseer – veral met die drie vrouekarakters.”

Stolz sê hy en Reza deel ’n “obsessie” met Anton Tsjechof se werk, “die toneelstukke en die kortverhale”. En hy meen wat die resensent Paul Boekkooi in 1988 die Tsjechof/De Wet-idioom genoem het, is ’n fassinerende aspek van haar werk.

“As akteurs gesels en hoor dat iemand in ’n Tsjechof speel is daar dikwels ’n beroering,” sê hy. “‘O! Tsjechof!’ sê hulle. Dieselfde met Reza. Dis omdat dit so ’n uitdaging is om haar karakters te speel. Haar karakters, die vroue ook, het balls.

“Daar is ook dikwels ’n wêreld buite wat ons nie sien nie. Die sirkus. Die moordenaar. Wat mense intrek in haar dramas lê tussen daardie twee elemente, dit wat jy sien op die verhoog en dit wat onsigbaar daarbuite lê ... Daar is ook die kollektiewe onbewuste waarmee sy werk, die argetipes waarmee sy omgaan,” sê Stoltz. “Haar werk is rou in die sin dat sy die wortels uitruk – kyk maar na die idilliese, kinderlike, Vrystaatse plaaswêreld wat sy omdolwe inDiepe grond.

“In Mis gaan sy op gestroopte manier om met die Calvinisme. Dan is daar ook Reza se teater-magic. In Misbyvoorbeeld, wat ons by die skole aanbied in skoolsale, is daar net ’n tafel, vier stoele en ’n stofie.” 

Vir Mirakel is in Grahamstad in ’n skuur in Stephan Bouwer se agterplaas gerepeteer met akteurs soos Annalisa Weiland en Patrick Mynhardt. “Juis ’n stuk met die swaarkry en saamstaan van ’n groep akteurs as tema, en hier doen ons ons ding in die blyplek van omtrent veertig katte en honde, met die reuk van katpie wat alles omhul!” vertel sy aan Johann Botha.

Mirakel is in 2010 in Engels (Miracle) in die Leicester Square-teater in Londen opgevoer met die Britse ster Susannah York in die hoofrol. Dit is baie goed ontvang met die London Evening Standard wat De Wet se “stunningly adept” manipulasie van bekende dramatiese elemente “to chill the heart” geprys het.

Drif is in 1994 by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer. Hierdie stuk is later in Engels vertaal as Drift en is in 1996 deur Kruik opgevoer met Marthinus Basson as regisseur. Spelers in dié Gotiese storie van mislukte liefde en dwase passie was Mary Dreyer en Diane Wilson as twee plattelandse susters met donker geheime en André Roothman en Jana van Niekerk as die geheimsinnige towenaar en sy pragtige assistent wat ’n nag onder die susters se dak deurbring. Drif is in 1995 benoem vir ’n Vita-toekenning as toneelstuk van die jaar en beste produksie van ’n nuwe stuk. Reza is ook benoem as Suid-Afrikaanse dramaturg van die jaar.

Reza was baie lief vir regissering. Die eerste stuk waarvan sy die regisseur was, was The crucible, waarvan sy in 1989 by Rhodes gevra is om die regie waar te neem. Sy het daarna August Strindberg se Ghost Sinata ook geregisseer. Oor die verskil tussen die verskillende aspekte van die drama het sy haar soos volg teenoor Kate Dyall (Eastern Province Herald, 29 Junie 1994) uitgelaat: “Wanneer jy ’n akteur is, leer jy die karakter ken. Om te skryf, is ’n eienaardige, subjektiewe ervaring wat baie privaat is – dit is ’n realiteit waarmee jy die hele tyd saamleef. Om ’n toneelstuk te regisseer, moet jy binne-in elke oomblik ingaan – die mense, wat hulle dra, wat jy hoor en sien en watter atmosfeer geskep is.”

In 1995 pak Reza ’n nuwe genre aan en word haar roman Stil Mathilda gepubliseer. Sy het ses maande met die storie in haar kop rondgeloop voor sy so tussen die klasgee deur daaraan begin skryf het. Dit het haar byna twee jaar geneem om te voltooi. “Die res van my wêreld het niks hiervan geweet nie. Maar ek het aanhoudend gevoel dat ek die skryfproses geniet – elke dag was ’n ervaring. Ek het besef dat as dit vir my lekker was, dit lekker kan wees vir elkeen wat dit lees,” het Reza oor haar roman vertel (Rooi Rose, 1 November 1995). Die hoofkarakter is Mathilda, wat amper nooit praat nie; en die verhaal speel, soos haar dramas, in die verlede op die platteland af.

Reza se volgende drama, Drie susters twee, word gepubliseer nog voordat dit vir die eerste keer opgevoer is, en die uitgewers se vertroue in haar word beloon toe dit in 1997 met die Hertzogprys bekroon word. Robert Mohr was van mening dat Reza gebore was om Tsjechof te speel. Sy vertel aan Wilhelm du Plessis in De Kat van Julie 1997 dat sy later een van Tsjechof se tekste gedoseer het, maar eers nadat sy besluit het om Drie susters twee te skryf. Sy het ook die regie van Tsjechof se Die kersieboord behartig.

Marthinus Basson het die gedagte teenoor haar uitgespreek dat daar ’n opvolg van Tsjechof se Drie susters moet wees. In teenstelling met die trae ontkiemingsproses van haar vorige dramas het die prikkeling wat sy uit navorsing opgedoen het, onmiddellik deel van haar geword tydens die wordingsproses van Drie susters twee. Vir die storie van Drie susters twee het sy meer as twee jaar gewag. Vir haar was die navorsingsproses ’n sonderlinge reis: “Op een manier het ek hier in Grahamstad gebly, en op ’n ander manier was ek in Rusland van voor die revolusie.” Om die reis volmaak te maak, het sy na simfonieë geluister, omdat Tsjechof se stukke ’n simfoniese komposisie het. Sy is ook terdeë daarvan bewus dat sy nie vir Tsjechof kan namaak nie. “Niemand kan hom namaak nie. Dis die uniekheid van Tsjechof.” Die doel van die drama was eerder om ’n interteks met Tsjechof se stuk te skep, sodat sy op hierdie wyse haar eie musiek kon hoor en aspekte van haar eie kreatiwiteit so kon ontdek.

In ’n onderhoud met Gabriël Botma (Die Burger, 10 April 1997) nadat sy gehoor het dat sy die Hertzogprys gekry het, sê Reza: “Ek het drie jaar daaraan gewerk, en gewag om te sien wat gebeur met die karakters. Dit is iets wat ek moes doen en het my nie angstig gemaak nie. Dit het natuurlik tot my deurgedring. Soos die tyd verloop het, het dit duidelik by my opgekom. Ek het dit geniet, en daar was geen wroeging soos met ander dramas nie. [...] Dit is seker omdat Tsjechof se werk so goed aan my bekend is. Dit het my onderskraag. Ek het baie geleer van hom.”

Phil du Plessis (Die Burger, 9 April 1997) skryf dat De Wet die atmosfeer van Tsjechof se styl meesterlik behou: "’n effe verloopte elegansie getemper met absurditeite, en oppervlakke wat soms net rimpelings wys van die menslike struweling wat daaragter woed."

Die rede waarom sy soveel meer betrokke gevoel het by die karakters van Drie susters twee as by haar ander dramas, is dat sy glo dat sy in ’n familie grootgeword het wat eerder soos Tsjechof se karakters tekere gaan as dié wat sy in haar Afrikaanse stukke gebruik, vertel sy aan Paul Boekkooi (Beeld, 29 Augustus 1998). “Ek het altyd gedink dat as ek my familietipes in my Afrikaanse stukke sou sit, sal niemand dit glo nie, hul temperament sou nie geloofwaardig wees binne ’n Afrikaanse milieu nie.”

Tydens die Nasionale Kunstefees in Grahamstad in 1998 span Reza en Marthinus Basson vir die sewende keer saam met die opvoering van Yelena, wat deur die Staatsteater aangebied word. Dit was Reza se eerste Engelse stuk sedert 1990. Dit kan beskou word as ’n opvolg op Tsjechof se Oom Wanja, maar dit is ook geheel en al selfstandig en berus nie op kennis van Tsjechof se stuk nie. Dit fokus op die tussenpersoonlike dramas van ’n klein groepie mense wat aan mekaar verbind is deur daardie mees verbysterende menslike emosie, die liefde.

Oor hoekom sy Yelena in Engels geskryf het, vertel Reza openhartig aan Paul Boekkooi: “Jy sou kon dink dat ek dit in die taal wou skryf wat vir die meeste Suid-Afrikaners toeganklik sou wees. Dit sou natuurlik ’n goeie rede wees, maar ongelukkig is dit nou nie waar nie. Ek werk te subjektief en ek is te selfsugtig om my oor sulke dinge te bekommer.

“Dis eintlik ’n baie eenvoudige storie: ek het onder prof Robert Mohr aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Hy het Tsjechof in Afrikaans vertaal en was baie bekend met die dramaturg. Onder hom het ek aan die Yelena-karakter in Uncle Vania (in Engels) gewerk. Hy was toe baie gelukkig met my en het aan my gesê ek’s ’n gebore Tsjechofiaanse aktrise. Toe’t hy gesê ek moet ook aan Sonia werk... en ek het begin verstaan hoe hard sy vroeg-oggend dra aan die emmers, hoe haar hande voel.

“Toe ek later ’n oudisie vir Truk doen, het ek besef dat dié twee karakters heeltyd en volledig by my gebly het. Toe ek aan hulle dink, het hulle Engels gepraat en dis hoekom ek dié stuk in Engels wou skryf, al besit dié taal nogal radikaal ’n ander musikaliteit, ander ritmes.”

Yelena speel agt jaar later as Uncle Vania af, en Boekkooi het begin wonder of die karakter Yelena intussen ’n vrolike weduwee geword het, want sy was immers met die afgetrede prof Serebriakof getroud ... Reza het lag-lag geantwoord: “Sy is ’n weduwee, maar vrolik is sy nie. Sonia en Astrof is intussen getroud, maar die ander karakters se agtergronde het min verander en daar word eintlik nie juis na hulle verwys nie.”

Een van Reza se sterkste invloede by die skryf van Yelena was die diepere studie wat sy van Tsjechof se kortverhale gemaak het – "stukke wat haar aan haar keel gegryp het weens die donkerheid wat Tsjechof skep en die intense ervarings wat jou by die lees daarvan aangryp. Om dié rede veral speel die vier bedrywe van Yelena feitlik almal laat in die aand of nag af. Elkeen beeld ook ’n krisis van een of ander aard uit, en is meer alleenstaande. Sy beken dat sy haar in Yelena effens meer losgemaak het van Tsjechof as dramaturg as met Drie susters 2. Yelena as persoon het ook nou meer iets van ’n vampier in haar, is eksoties, gevaarlik en verleidelik.

"Sy’s dus heeltemal anders as die beskermde, stil, op-haar-plek vrou wat Tsjechof self in Uncle Vania uitgebeeld het.”

In 2003 word die Engelse vertaling van Drif, getiteld Drift, by Grahamstad opgevoer met regie deur Caroline Benamza van die Amandla-teatermaatskappy.

Reza se drama On the lake wat in 2001 by Grahamstad opgevoer is, sluit aan by van haar vorige belangstellings, naamlik ’n bemoeienis met die teatermedium en in die besonder ’n gesprek met Tsjechof. Herman Wasserman berig dat die Tsjechof-tema van haar Drie susters twee en Yelena in On the lake voortgesit word deur die karakters van Tsjechof se Die seemeeu in te span. Die stuk bespiegel verder oor die karakters en die gebeure in Tsjechof se verhaal en weef ’n digte teks wat meer vrae as antwoorde bied. Net soos Mirakel ontgin On the lake ook die krag van verbeelding en die toweragtigheid van die verhoogspel.

In 2004 skryf Reza Breathing in in opdrag van Rhodes vir die universiteit se eeufees. Dit is opgevoer met die samewerking van die Grahamstad-stigting en het tydens die Kunstefees op Grahamstad gedebuteer. Daarna is dit na die Baxter in Kaapstad, en word sodoende die eerste stuk van Reza wat in die Baxter opgevoer is.

Die stuk het ’n nou verband met Nag, Generaal en Reza sê aan Dorothea van Zyl (Beeld, 6 Julie 2004) dat die ooreenkomste tussen die stukke haar amuseer. “Dit is dieselfde generaal met dieselfde wond in dieselfde stal. Daar is ook ’n adjudant, maar hy het ’n ander naam. Daar eindig die ooreenkomste, maar dit is wel plesierig om ’n eie teks as interteks te gebruik. [...] Die oorlog word egter in Breathing in meer as tevore ’n raamwerk. Eintlik kan die gebeure hulle enige tyd op enige plek afspeel. Dit gaan nie om die realiteit nie, maar om die botsing tussen die twee wêrelde.” Die opdrag was vir ’n Engelse stuk, omdat dit bedoel was vir ’n internasionale gehoor en Engelstalige alumni. “Die hele stuk bly egter vir my Afrikaans en is eintlik in twee tale geskryf – ek hoor die generaal steeds Afrikaans praat. Die feit dat die stuk in Engels is, beklemtoon vir my wel die onwêreldse en metaforiese, die feit dat dit nie letterlik vertolk moet word nie, maar eerder universeel wil spreek.”

By die Woordfees op Stellenbosch in 2005 word Reza se drama Verleiding opgevoer met Antoinette Kellerman en Heike Gehring, en Marthinus Basson as regisseur. Hierdie stuk gaan oor Eugène Marais en veral oor sy onpeilbaarheid. Reza vertel aan Gerrit Brand (Die Burger, 3 Maart 2005) dat die konstruksie in konsentriese sirkels is om sy geheimsinnigheid oor te bring. “Dis deels openbaring, maar ook versluiering, ’n grensverlegging van feite en fiksie, en dit skep ’n ongemaklike spanning.”

In 2005 is Reza verantwoordelik vir die teks van Gary Gordon se dansdrama The unspeakable story en skryf Thys Odendaal in Beeld die volgende: “Reza de Wet se teks is ekonomies en prontuit, ontdaan van die opgeblase, niksseggende clichés wat ons eietydse danswerke so treiter.”

Tydens 2006 se Aardklop Kunstefees in Potchefstroom debuteer Reza se stuk Broers. Die drama is in 2006 deur Oberon in Engeland uitgegee onder die titel The brothers en handel oor ’n nag in die lewe van Tsjechof en sy broer Alexander. Hulle stry ná die dood van hul middelste broer, Kolja. Reza wou nooit gehad het dat dit opgevoer moes word nie, maar Marthinus Basson het volgehou en sy het toe die stuk heeltemal in Afrikaans herskryf. Sy vertel aan Kobus Burger (Beeld, 14 September 2006): “Die oomblik toe ek dit oorskryf, het dit gevoel of die karakters gelukkiger is in Afrikaans. Ek het gevoel asof die Tsejchof-familie gelukkig voel.”

Anna-Retha Bouwer (Beeld, 28 September 2006) skryf in haar resensie van die opvoering: "Dit word ’n universele ontleding van familieverhoudings, veral tussen broers. En ondanks al die donker elemente en temas is daar ook baie ligter oomblikke wanneer die ironie van die situasie jou in jou vuis laat giggel."

Op ’n vraag oor watter persoon sy die graagste sou wou ontmoet, antwoord Reza: “Ek sou graag die skrywer Anton Tsjechof wou ontmoet. Hy is ongelukkig jonk dood, maar ek was nog altyd verlief op hom. Op dertig was hy die mooiste man op aarde. Sy tekste het ’n betowerende aantrekkingskrag – ’n mens kan sy teenwoordigheid daarin voel. Dis hoekom ek so lief is vir sy werk. (...) Tsjechof het ’n fyn humorsin gehad, maar sy werk is nooit sinies nie. Hy sien die donker kant van die lewe, maar daar is altyd ’n mate van stralende vreugde.”

In 2008 is Reza terug by Aardklop met haar drama Blou uur, waarin sy weer eens sterk vrouekarakters uitbeeld. Die regie word deur Marthinus Basson gedoen. Die Verteller (Aletta Bezuidenhout) het haar hare laat perm en word opeens besoek deur herinneringe of drome van haar Aunt Celeste. Of is dit maar net die spook van Aunt Celeste wat weer begin loop het?

Volgens Kobus Burger (Beeld, 4 Oktober 2008) skets Blou uur ’n idilliese verlede; ’n tyd toe ’n hoofpyn gemaak het dat jy die gordyne dig toetrek en vir die res van die dag in die kamer lê. “Blou uur is soos fyn porselein. Dit is ’n meesterlik geskrewe teks waarvan elke woord en handeling akkuraat en met gevoel geweeg is. Dit sleur ’n mens mee in die fynste nuanses, sonder om te ‘blou’ of swaar te wees. In der waarheid is Blou uur eintlik ’n komedie van formaat. Oorspronklik en sekuur. [...] As daar ooit iets soos ’n perfekte Afrikaanse drama in teks én opvoering sou kon wees, staan Blou uur voor in die ry.”

Reza het hierdie drama in vier maande voltooi. Sy vertel dat dit alles met verlange begin het – verlange na haar ouma se huis in die Oos-Vrystaat wat sy moes verkoop, en verlange na haar kinderdae. “Ek het oor bekende dinge geskryf. Ek het nog nooit voorheen oor so ’n wêreld wat só bekend aan my is, geskryf nie. En tog was dit vir my baie moeilik. Ek het so vervleg geraak in die saak; so verdiep. Dit het pynlik geraak om daar uit te kom.”

Blou uur is, volgens Mary Dreyer, een van die aktrises daarin, “pure Reza: ’n bietjie eksentriek, ’n bietjie mal, maar op ’n goeie manier; en die mans in haar stukke is mos altyd onvoldoende.”

Blou uur is met die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys vir die beste nuwe oorspronklike verhoogteks bekroon en Marthinus Basson met die Beeld-Plus-Aardvark-prys vir grensverskuiwende werk vir die stelontwerp van Blou uur.

Blou uur is ook by die KKNK van 2009 op die planke gebring. Hier is dit aangewys as die beste produksie op die fees en is Reza vereer met ’n Spesiale Kanna vir Vernuwende Denke.

Reza se samewerking met Marthinus Basson kom ’n lang pad. Van hom sê Reza dat geen regisseur so ’n gevoel vir vorm het nie. “Hy hou ’n wonderlike balans tussen die skeppende moontlikhede van ’n stuk en die dissipline van struktuur.” In ’n tydskrifonderhoud sê sy verder: “Ek vind baie diep aanklank by hom, want op ’n manier verstaan hy my werk beter as ekself. Dit wat hy met die stukke doen, is soos ’n tweede skeppingsproses. Wanneer sy visie en my visie bymekaar uitkom, word iets heeltemal afsonderliks gevorm.” Verder sê sy dat sy rolbesetting iets is om van te droom. “Hy het ’n fyn gevoel vir styl. Ons verstaan mekaar op ’n komplekse vlak.”

Marthinus Basson beskryf Reza as ’n verkleurmannetjie van ’n dramaturg. “Sy kyk na die wêreld met die helderheid van ’n vergrootglas, en die groteske poëtiese verbuiging van ’n pretparkspieël. Sy sien humor in tragedie en verdorwenheid in ’n gelag.”

In 1996 was Reza een van drie Suid-Afrikaanse dramaturge wat na ’n internasionale dramakongres genooi is om van hulle werk voor te lees. Sy vertel aan Marietjie Coetzee dat sy uit al haar dramas voorgelees het, maar veral uit Nag, Generaal. Daar was besonder baie belangstelling in haar werk en sy kry aanhoudend briewe van toneelgroepe uit Engeland om haar werk op te voer.

Maar dit is eers vanaf 2000 dat Reza regtig haar stempel ook internasionaal afdruk. Die Britse uitgewer Oberon het aangekondig dat ’n Engelse vertaling van haar trilogie Trits: Mis, Mirakel, Drif uitgegee gaan word as Missing, Miracle en Crossing. ’n Verhoogproduksie van Drif (Crossing) het in 2001 in Hammersmith, Engeland op die planke verskyn en afsonderlike produksies van Missing en Miracle is vir April en Mei 2001 in Engeland beplan. Three sisters 2 is op BBC Radio uitgesaai en in Maart 2001 op BBC World Service. Vertalings van haar werk word in België, Frankryk, Italië, Hongarye, Spanje en Japan beplan. The brothers, A Russian anthology: Three Sisters two, Yelena and On the lake, Plays Two (African Gothic, Good heavens, Breathing) en Plays One (Missing, Crossing, Miracle) is almal alreeds deur Oberon in Londen gepubliseer. In Februarie 2009 is Reza se stuk Three Sisters deur die Koreaanse teatergroep Changpa in die Arko Arts Theater in Seoel op die planke gebring.

Reza is baie lief vir tuinmaak en haar tuin verskaf haar groot genot. Sy moet net sorg dat sy haar groot strooihoed opsit. En omdat sy met die hand skryf, kan sy enige plek skryf, selfs in die tuin. Aan Madeleine van Biljon (Die Burger, 18 Mei 1994) vertel sy dat sy veral daarvan hou as iemand anders die blomme plant waarvan sy hou. Sy is ook ’n vergaarder. Sy besit haar ouma se dagboeke van 1930 tot 1979, terwyl sy baie van haar ma se versameling oudhede geërf het. “Ek gebruik alles wat ek het. Ek is nie ’n glaskas-persoonlikheid nie.” En sy mis haar ma baie. Sy het Mis en die res tydens haar moeder se siekte en dood geskryf. “I used it to transform and transcend death. Al die opvoerings was wonderlik. Marthinus Basson het ’n nuwe betekenis aan my lewe gegee; ’n nuwe verhouding gesien en verstaan op ’n volkome ander manier.”

Reza erken dat sy iets het oor huise. Sy het in ou huise grootgeword en hulle huis op Grahamstad was vroeër deel van ’n isolasiehospitaal. “Ek het al baie gewonder oor ons huis, waar daar baie siekte, dood en smart moes gewees het. ’n Mens sou dit nie vandag agterkom nie, want die plek het ’n lekker gevoel. Ek is lief vir my huis en my goed. Iets met ’n geskiedenis trek my altyd aan, want jy ken nie sy hele storie nie,” vertel sy aan Ina Duvenage in Sarie.

In 2007 het Reza se alma mater, die Hoër Meisieskool Oranje, die Reza de Wet-tienertoneelfees ingestel. Die skool het daarmee begin om aan tieners die geleentheid te bied om die professionele verhoog te beleef. Sedert 2009 vorm dit deel van die Volksblad-Kunstefees, of Vryfees, soos dit tans bekend staan.

2011 was die 25ste herdenking van Reza se loopbaan as dramaturg. En in daardie jaar verskyn Reza vir die eerste keer in twintig jaar op die verhoog. Haar nuwe drama, Die see, met haar man Lindsay Reardon as regisseur, het tydens daardie jaar se KKNK gedebuteer. Ná die vertoning was Reza se reaksie: “Ek het van voor af eindelose respek vir die kuns van toneelspel – dit verg intense konsentrasie en energie. Dit is ontsettende harde werk. Eenvoudige dinge, soos om woorde te memoriseer, was vir my moeilik omdat ek so lank gelede in ’n stuk gespeel het.” (Volksblad, 26 Maart 2011)

Voor hierdie optrede was haar laaste optrede by die Markteater in Johannesburg, waar sy ook in een van haar eie toneelstukke, A different light, gespeel het. Sy en Lindsay het daarna besluit om die teater opsy te skuif nadat hulle in 1982 na Grahamstad verhuis het en vir Nina gehad het. “Dit was moeilik om betrokke by die toneelwêreld te bly in ’n klein dorpie soos Grahamstad.”

Reza en Lindsay het egter saam besluit dat Die see hul projek sou wees. “Ons wou een van Reza se toneelstukke vir onsself hê,” verduidelik Lindsay, “en het besluit dat ek die regie sou behartig en sy daarin sou speel.”

Annelisa Weiland het ook ’n hoofrol in Die see gespeel. Hieroor het Lindsay opgemerk dat dit baie interessant was om saam met Annelisa te werk, aangesien sy sóveel ervaring het. Oor Reza het Annelisa gesê dat dit wonderlik was om saam met Reza te werk, aangesien sy ’n wonderlike aktrise is en presies weet wat sy wil hê.

Oor die ontstaan van Die see vertel Reza aan Willemien Brümmer: “Aanvanklik wou ek hê Die See moes meer swaarwigtig wees as my vorige stukke. Ek onthou toe ek as kind saam met my ma en ouma in die kasteel was en hulle gepraat het oor die slawe. In die Donker Gat onder in die Kasteel het ek begin skree.”

Sy vertel hoe die drie slawekarakters in Die See hulle aan haar “verklaar” het. “Ek was ontsteld omdat hulle so swaarkry en hulle in hierdie omstandighede bevind, en omdat ek dan nou sáám met hulle moet gaan bly.

“Eers wou ek ’n sosiaal-historiese politiese element inbring. Ek het gevoel die onderwerp verdien baie ernstige aandag, maar hoe meer ek dit gedoen het, hoe meer het die karakters heeltemal belang verloor in my.”

Ná ’n lang stryd moes sy besef sy was “te heilig oor die onderwerp”. Dat sy maar net kan skryf soos sy kan skryf. “Eers toe ek dit self begin geniet, het die karakters sommer land en sand begin praat. Ek het besef hulle vertrou my net omdat ek nie probeer wees wat ek nie is nie.”

Tog, met al hulle geween en gekerm, het die drie slawevroue haar siek gemaak. “Met dié een was ek maande lank in die ontsettendste pyn, ek dog ek word mal, en die dokter en die mense sê daar’s niks met my rug verkeerd nie. Ek moes hier op die vloer slaap, en toe kom daar wragtig ’n rot verby my gehardloop een nag. Donker tye.”

Donker tye, en dis winter en sy gooi die stuk in die vuurherd en pak hom met kole toe. “Gaan weg!” Mirakelagtig maak niemand vuur nie. Die stuk lê twee maande lank onder die steenkool, en Reza lê in die bed. Uiteindelik gaan sy na ’n chiropraktisyn. “Sy’t gesê die werwel tussen my bekken en my ruggraat is heeltemal uit. Dis asof die skryf my fisiek aantas, my verwring.”

Kort hierna sien Reza ’n grys oor van ’n oefeningboek wat by die kole in die herd uitloer. “Ek trek hom aan sy oor uit en ek lees hom ’n bietjie, maar ek voel sommer my rug word seer en ek gooi hom in die snippermandjie. Mina, wat een keer per week kom, het hom drie keer uit die snippermandjie gehaal en dan sien ek hom daar op die bank lê. Toe ek hom die derde keer sien, dink ek wragtig, ek moet nou maar kyk wat daar aangaan.”

Op LitNet skryf Sandra Troskie dat Die see op die oog af ’n geskiedkundige drama is wat in die tyd van die laaste jare van die Nederlandse bewind aan die Kaap afspeel. “Drie slawevroue word saam in een van die kelderkamers van die Kasteel opgesluit. Al drie is opgeleide courtisanes van dieselfde man (die goewerneur van die Kaap?). Daar is die Ou Vrou wat sy eerste was, die Vrou wat in die proses is om vervang te word en die Meisie wat as sy jongste beoogde speelding die Vrou gaan vervang. (Die oudste vrou (gespeel deur Annelisa Weiland) was een van sy eerste speeldinge. Reza het die een gespeel met wie hy pas klaar was en Chiminae Bell was die jongste appel. Hulle praat oor vergange skoonheid, die ou dae en hoe hulle lewe was voordat hulle ontvoer is vir die kaptein se ‘harem’.

“Die Britse inval van die Kaap in 1795 veroorsaak egter dat ’n dag verloop tussen die eenkant smyt van wat afgeleef en uitgedien geraak het en die toe-eiening van wat nog jonk en maagdelik is.

“Soos wat die drama in die skemerige kelder ontvou, is dit egter gou duidelik dat hierdie verhaal meer is as slegs ’n historiese verhaal oor die gedeelde lot van drie slawevroue aan die Kaap. Op ’n dieper vlak transendeer hulle gesamentlike ervarings hul individualiteit, sodat hulle uiteindelik drie verskillende fases van dieselfde wese, die slaaf-courtisane, verteenwoordig.

"In hulle hoedanigheid as Ou Vrou, Vrou en Meisie herinner hulle sterk aan die konsep van die goddelike essensie van vrouwees in haar manifestasies as Meisie/Moeder/Wyse Ou Vrou (Maiden/Mother/Crone). Binne dié Neopaganistiese konsep verteenwoordig die Meisie die sluimerende maagd, simbolies van die betowering van dít wat nog onaangeraak is. Die Vrou, die volgende groeifase in ’n vrou se lewe, simboliseer groei, vrugbaarheid en vervulling. Ten laaste is daar die fase van Ou Vrou, simbolies van kennis, wysheid en, onafwendbaar, die dood. (...)

“Maar indien die doel van hierdie drama (alleen) ’n blik is op die verontmensliking en ontgoddeliking van veral die slaaf-courtisane, verklaar dit nie heeltemal waarom De Wet in haar titel so ’n sterk prominensie gee aan ’n fenomeen wat deur die loop van die hele drama slegs op die agtergrond funksioneer nie. Trouens, die invloed van die see op die drie vroue is deurgaans eerder indirek as direk te bemerk: wanneer die Ou Vrou droom van ’n skip wat oor sy waters vaar of van seesand wat deur haar kinderhuis waai; wanneer die Vrou met nostalgie dink aan die beperkte uitsig wat sy deur die venster van haar vorige kamer daarop gehad het; wanneer die Meisie na haar begeerte verwys om deur die tuin tot by die seemuur te loop, daarop te klim en dan af te spring (die see in). Benewens hierdie enkele verwysings weet ons van die nabyheid van die see slegs vanweë die aanhoudende slaan van sy branders teen die mure van die kelder.

“Dit is dié onsigbare (en effens misterieuse) teenwoordigheid van die see wat ’n mens laat vermoed dat die betekenis wat De Wet met haar keuse van ’n titel aan die see toeken, dalk vanuit ’n ander perspektief verstaan moet word. Dat die see binne hierdie drama waarskynlik verteenwoordigend is van wat Jung die kollektiewe onderbewussyn genoem het; daardie plek waar ons ewig aan ons voorgeslagte verbind is. ’n Plek van waar die vroue letterlik weggeruk word wanneer hulle vir hulle meester se harem kom haal word. So afgesny is sy van hierdie goddelike oorsprong dat die Vrou verklaar dat sy niks onthou ‘van die armsalige plek waar ek eers was nie. My regte lewe het eers hier begin. Hier in die Kasteel.’

“Interpreteer ’n mens die teks vanuit Jung se perspektief, is die drie vroue dus aspekte of argetipes wat saam die self vorm. Die self, so het Jung geglo, is daardie goddelike aspek wat ons met die kollektiewe onderbewussyn – die groter geheel – verbind. Die drie vroue se stryd in die kelder (’n vertrek wat tradisioneel die argetipe is van die persoonlike onderbewuste) raak die worsteling van die self om al hierdie aspekte weer in haarself verenig te kry en so, deur middel van ’n wedergeboorte, uiteindelik te kan terugkeer tot die geheel, iets wat aan die einde wel gebeur wanneer die Ou Vrou oënskynlik sterf en dan weer in die arms van die Meisie (die argetipiese simbool van wedergeboorte) haar bewussyn herwin.

“Die feit dat De Wet feitlik al haar karakters naamloos hou, versterk die gevoel dat hulle eerder argetipiese fasette van ’n enkele wese is as aparte karakters. Slegs die Meisie kry ’n naam. Trouens, De Wet laat die drama met dié naam begin en verleen só definitiewe betekenis daaraan: ‘Marie! Marie! Ek wag al lank vir jou. Waar bly jy?’ Wanneer Marie die Ou Vrou letterlik uit die lappe bevry, skep dit ’n beeld van ’n gemummifiseerde kadawer wat bevry word.

“Deur die naam Marie aan haar kollektiewe karakter te gee, het De Wet die essensie van hierdie ‘self’ dalk ook gekoppel aan die karakter van Maria Magdalena. In Joan Norton en Margaret Starbird se boek The Mary Magdalene Within word daar onder meer betoog dat die verwondheid van ons moderne samelewing die gevolg is van ’n sisteem van patriargale denke en handeling en dat ons ons samelewing en onsself daarom sal kan genees slegs indien ons – vroue sowel as mans – weer met ons ‘heilige vroulikheid’ (sacred feminine) in aanraking kom.

“Wanneer die Ou Vrou dus aan die einde van die toneelstuk waarskynlik ’n hartaanval kry (dalk selfs ’n naby-dood-ervaring het) en uiteindelik weer haar oë in die arms van die Meisie oopmaak, vra dié haar betekenisvol: ‘Dit is ek, Marie. Ken jy my?’

“Deur haar keuse van ’n titel vir hierdie drama het De Wet dus op vernuftige wyse ’n vraag geskep wat haar leser/gehoor dwing om na ’n antwoord te soek; ’n soektog wat ons uiteindelik die slaaf-courtisane in elkeen van ons laat ontdek: daardie geneigdheid om helde en gode te maak van mense en dinge; valse gode wie se asems, as ons na die kind in onsself luister, stink na vrot en dood,” volgens Troskie.

Reza het gesukkel met Die see: “As jy nie absoluut deur ’n stuk werk nie, is daar oorgange waarmee jy sukkel, en jy moet baie fyn op die spoor bly van almal se emosionele reise. En ja, hoe meer ek geskryf het, hoe meer het ek besef hoe moeilik die verhoog as medium is. Dit dryf my soms tot raserny!”

Sy wou graag hê dat die stukke soos die feëverhale moet wees wat haar ma as kind vir haar gelees het. “Ek wil iets deel met ’n gehoor wat hulle gaan laat voel soos ek destyds gevoel het ... bang of miskien effens betower. Ek wil hê hulle moet vorentoe sit en mooi luister, en dan sou my ma skielik iets hards sê. Dis steeds asof my ma vir die gehoor sprokies vertel.

“En as ’n mens nou speel in jou eie stuk, en dit gaan goed – veral as daar nou ’n groteske komiese element in is – dan praat jy so direk met die gehoor. Jy’s déél van die verhaal, en jy kan sommer besluit hóé bang jy hulle wil maak.”

Nadat sy Die see klaar geskryf het, het Reza besef hierdie is haar laaste stuk, sy is klaar geskryf. “Dit is heeltemal onverklaarbaar. Ek kán nog skryf en ek wíl nog skryf; daar is dinge wat my interesseer. Daar’s ’n stuk waarmee ek môre kan begin – maar jy weet, daar’s ’n diep intuïtiewe deel van my, en dit het al ’n hele paar keer met my gebeur, wat vir my sê iets is klaar, ek moet dit los.”

Daar was nog ander teatervorme waarmee sy wou eksperimenteer, maar baie vlugtig. Soos sy vir Willemien Brümmer gesê het: “Want as jy nou hard perd gery het – en vir my voel dit of ek hard toneel geskryf het – dan stop jy nie sommer skielik nie. Jy moet jou perd koudlei en afborsel en so aan.”
Reza de Wet se Breathing In is deur Marthinus Basson vertaal as Asem en debuteer by die KKNK in 2017.

Op 27 Januarie 2012 is Reza in haar slaap in haar huis op Grahamstad aan leukemie oorlede nadat sy in Oktober 2011 daarmee gediagnoseer is. Die laaste paar maande het sy nie meer haar telefoon beantwoord nie. Twee niggies het haar help versorg. Haar man, Lindsay Reardon, en haar dogter, Nina van Schoor, en twee kleinkinders het haar oorleef.

Huldeblyke

• Pieter Fourie: "Reza de Wet was vir die Afrikaanse drama wat Elisabeth Eybers vir die Afrikaanse poësie was – iemand met ’n ongelooflike talent, maar beskeie en stil daaroor. Sy was die volmaakte teaterwerker – van aktrise tot lektrise, regisseur en dramaturg. Reza de Wet was die Suid-Afrikaanse literêre wêreld se mistieke figuur. Haar een bruin en een groen oog was van die elemente wat aan haar ’n beeldskone, geheimsinnige voorkoms gegee het. Dié voorkoms kon in ’n sin verder gevoer word na elemente in haar werk, soos die dualisme daarin." (Die Burger, 28 Januarie 2012)

• Nico Luwes: "Reza kon met die magiese realisme omgaan soos geen ander dramaturg nie. Ek het drie van haar dramas opgevoer, en wat uitstaan – behalwe die uitsonderlike gehalte van die teks – is haar perfekte teateraanwysings. Jy hoef niks by te voeg nie. Ek kon in haar werk die ritme aanvoel waarteen ’n drama gespeel moet word. Sy was vriendelik, deur die blare, en iemand wat ure na iets soos ’n hoender se oog kon sit en kyk." (Beeld, 28 Januarie 2012)

• Marthinus Basson: "Hoewel die dood die een ding is waar almal moet deur, bly dit, met goeie rede, die een ding wat onwerklik voel, ’n skim wat ons op ’n afstand hou deur ons daaglikse omgang met beuselagtighede. En in my geval, die heerlike skanse van die verbeelde wêreld wat ons teater noem. Die klein wêreld wat ons kan beheer en boetseer na verlange. Die wêreld wat Reza de Wet so ryk gemaak het vir my in omvang en betekenis. Altyd met humor en musikaliteit, met die terugroep van karakters-nou-vergete uit ’n verlore wêreld wat jongmense deesdae, ironies genoeg, as volksvreemd sou ervaar.

"’n Wêreld so ryk aan besonderhede en tekstuur, ’n legkaart van klein menslike interaksie wat deur elke kennismaking my ryker agtergelaat het. Sy het só baie aan my toevertrou. My so baie geleer oor menslikheid, medemenslikheid, oor obsessie en onderdrukking, oor vryheid en waar om daarvoor te soek. En oor bloot die wonderlike kompleksiteit, sowel as absurditeit, van mense en die lewe.

"Dankie vir ryk speelgeleenthede vir akteurs. Dankie vir wonderlike vrouerolle. Dankie vir regie-uitdagings. Dankie vir die tekstuur wat jy aan ons klein Afrikaanse dramaliteratuur verleen het. Dankie vir ’n ongelooflike bydrae tot toneel. Dankie dat jy jou hartsgoed aan ons toevertrou het. Dankie dat jy ons ’n geleentheid gebied het om ons kuns deur jou werk te kon beoefen en bearbei. Dankie dat ons kon groei deur die omgang met jou werk. Dankie vir die uitdagings en dankie vir die plesier." (Die Burger, 3 Februarie 2012)

• Wilma Snyman: "Sy het ’n besonder sensitiewe aanvoeling vir die menslike psige en vir mense se omstandighede gehad. Sy het ook die mistieke dinge van die lewe verstaan en het dit so fyn hanteer en met groot insig daaroor geskryf. Sy het ’n ongelooflike bydrae gemaak, sy was so talentvol en spesiaal." (Beeld, 28 Januarie 2012)

• Annelisa Weiland: "Sy was ’n unieke en besonderse mens en stem en ons gaan haar baie mis." (Beeld, 28 Januarie 2012)

• Marietjie Coetzee-Malan: Dit was van die begin af duidelik: hier is skitterende skryf- en toneeltalent, ’n vermenging van die sprokiesagtige en die makabere wat toneelganger en leser begogel. Ek kon tóé al die uitkoms van die vele bekronings voorsien. Dit was hierdie magiese en dikwels bykans groteske kwaliteit van haar werk wat my as uitgewer en mens van die begin af gegryp het. En ek kon nooit weer loskom nie. Keer op keer het sy die stryd van die menslike gees om bevryding op ’n ander, donker manier uitgebeeld.

"De Wet het haar karakters liefgehad en hulle begin mis nog voordat sy hulle klaar geskryf het. Sy was bang hulle kom iets oor. Sy het hulle as snaaks, amusant, treurig, skrikwekkend, pateties, tragies en eienaardig beleef; hierdie mense wat deur die kamers, gange en deure van haar werk beweeg.

"Sy het met alles in ’n boek inbeweeg. Haar werk het ’n eie musiek gehad – variasies op temas – soms eenvoudig, soms kompleks, altyd meesleurend. Haar toneelaanwysings had feitlik ’n lewe van hul eie. Dit verdien op sigself navorsing. Sy het my baie laat lag en dikwels geskok met haar pikswart humor. Maar soms het sy gesê: 'Wees my oë. Ek is asof ek blind is'.

"Ek onthou dat ons een laatnag ná een van haar bekronings verdwaal en naby die Kaapse hawe beland het. Ons het na ’n eetplek gesoek, want ons was te senuagtig om voor die tyd te eet. Sy het ’n lang purper fluweelgewaad aangehad en sy het in die halflig soos een van haar sprokiesagtige karakters gegloei. Ek was betower en het gewonder of sy dalk soos ’n Chagall-wese op die punt was om in die lugruim in te sweef, toe sy sê: 'Ja, ou Marietjie, en hier staan ons op die hawe op-gedress soos twee high class-hoere en vrek van die honger'.” (Die Burger, 3 Februarie 2012)

• Roux Engelbrecht: "Sy het ’n sonnige karakter gehad, asook lojaliteit met veral ’n fynbesnaardheid. Sy hét ook ’n donker kant gehad, maar dit het sy vir haar skryfwerk gelos." (Beeld, 28 Januarie 2012)

• Chris Barron: "Most of her plays had sombre, sinister, gothic undertones with touches of magical realism or, as the British actress, Susannah York, an admirer of her work, put it, the 'mysterious and strange'. In Missing the only evidence of a character is a disembodied voice coming from a loft from which a bucket of excrement is lowered. This undoubtedly dark side of De Wet’s nature may or may not have had something to do with the fact that she was related, on her mother’s side, to the tortured poet, naturalist and morphine addict Eugène Marais, who wrote The Soul of the White Ant and The Soul of the Ape before committing suicide.

"It was a side that found expression in her writing, not her everyday life. To those who knew her she displayed an unfailingly sunny disposition and a capacity to see humour in most things. She was always seeing stories in ordinary events and the lives of ordinary people. Like her favourite playwright, Anton Chekhov, she felt a compulsion to explore these supposedly ordinary events and lives in her work, always probing for hidden undercurrents where she felt the truth usually lay." (Timeslive, 15 Februarie 2012)

• Johann de Lange:

Na ’n idee van Charlotte Mew
(vir Reza de Wet)

Ek onthou vele vertrekke,
& elkeen speel sy part
in die stadige verstilling
van die sigsag van die hart. (Johann de Lange se blogspot)

• Leon Rousseau: "Ek was baie verlangs deur ’n huwelik aan Reza verwant. In haar 59 jaar het ek haar seker minder as 10 keer in lewende lywe gesien. Tog voel dit asof ek ’n ou vriendin verloor het. Sy was ’n liewe mensie met ’n wonderbaarlike humorsin. Ons verwantskap loop via Eugène Marais, met wie ons albei ’n besonderse band gehad het. Marais se vaderfiguur, senator Charles Marais, het op Boshof in die Vrystaat gewoon. Ná die dood van sy seun, ’n bekende Vrystaatse dokter, is dié se weduwee, Freddie, met my broer Pierre getroud. Freddie het toe reeds ’n enigste kind gehad. Sy was Tawtie en is later getroud met regter Gannie de Wet van Bloemfontein. Reza was hul dogter.

"Toe ek ongeveer ’n halfeeu gelede begin navorsing doen vir Die groot verlange, my boek oor die lewe van Eugène Marais, het sowel Freddie as Tawtie my baie gehelp. Pas nadat ek die manuskrip in 1974 voltooi het, het Reza, destyds ’n 20-jarige student, by ons in Kampsbaai kom oorbly terwyl ek oorsee was. Terwyl sy daar was, het my oudste seun, Chris, destyds 15, my studeerkamer vir haar gewys.

'Onmiddellik was ek woedend,' sou sy 24 jaar later vertel. 'Kwater as nog ooit in my lewe. Daar’t papiere op die lessenaar gelê. Ek wou alles opskeur, alles vernietig. Toe vra ek vir Chris: ‘Wat doen jou pa hier?’ en hy antwoord ‘Hy’t ’n boek oor Eugène Marais geskryf.’

"'En net toe ek oor die drumpel stap en by die kamer uitgaan, was ek nie meer kwaad nie. Dit was vir my so vreemd, ek meen gewoonlik bly ’n mens mos darem ’n rukkie kwaad. My woede is net so afgesny.'

"Hierdie storie veronderstel blykbaar dat sy onbewus as medium of kanaal gebruik is vir oorlede Eugène Marais se (hipotetiese) wrewel oor my boek. (Veral weens my onthullings van sy verslawing aan morfien.)

"In Augustus 1998 was ek besig om te werk aan Die dowwe spoor van Eugène Marais, ’n poging om feite in Die groot verlange te ondersoek waaroor daar onsekerheid was. Ek besluit toe om Eugène Marais se Bybel weer op te spoor ingeval dit leidrade bevat wat ek vroeër misgekyk het. Op Sondagoggend 30 Augustus praat ek onder andere met Gannie (regter HS) de Wet in Bloemfontein. Die Eugène Marais-Bybel het weggeraak, sê Gannie. Reza het ’n Bybel, maar dis die familiebybel, nie Marais se Bybel nie.

"In haar huis in Grahamstad voel Reza de Wet olik. Teen dié tyd was sy reeds ’n beroemde dramaturg. Skielik, om 12:20, terwyl ek met haar pa praat, hoor sy ’n stem in haar kop. Dit is een van my kinders, wat vir haar sê: 'My pa sê altyd dit doen hom goed om ’n bietjie in die son te sit.' Sy hoor nie net die stem nie. Sy sien die huis in Kampsbaai, waar sy 24 jaar tevore was. Sy volg die stem se raad en gaan sit in die volle lenteson. Toe, 10 minute later, bel ek haar.

"Reza het dikwels gesê sy is heldersiende, maar sy probeer dié vermoë nie bevorder nie, want dis ’n ongemaklike gawe om te hê. Nadat sy my vertel het van haar woede in Kampsbaai soveel jare gelede, neem ek my kans waar en vra haar wat sy dink van die hipotese dat Eugène Marais op bonatuurlike wyse verantwoordelik was vir my byna noodlottige motorongeluk in 1963, toe die vernaamste navorsing agter die rug was en ek net aan die boek wou begin skryf.

"'Dis seker moontlik,' sê Reza. 'Ek sal daaroor moet dink.' Sowat ’n maand later bel sy. Sy sê sy het die vorige dag met ’n Jungiaanse psigiater gesels oor die medium-moontlikheid. Dié sê dit is natuurlik moontlik. Mense wat selfmoord pleeg (veral só) en hul woede teen die skepping teen hulself laat draai, dwaal dikwels nog hier op die aardse vlak rond en kan dan nog intens in die lewendes belang stel. Mens hoef nie sélf heldersiende te wees om te vermoed dat daar donker dieptes in Reza was nie. Sy was egter te bedagsaam om ander daarmee op te saal.

"In 2006 het ons in Grahamstad saam geëet. Sy was vrolik en onderhoudend, met heelwat ligte selfspot. Ek onthou haar lag as 'rinkelend'. Ná die ete neem sy my in ’n vreeslike ou skedonk na my blyplek. 'Dis mos nie reg dat Lady Godiva op ’n afgeleefde ou donkie ry nie,' merk ek op. Enkele dae later bel sy om te sê die diep gekrenkte skedonk het twee dae ná die ete selfmoord gepleeg deur te ontplof.

"Dit was die laaste keer dat ek haar gesien het. Ek mis haar. Slaap gerus, liewe Reza." (Rapport, 5 Februarie 2012)

• Betta van Huyssteen, oudredaksielid van Volksblad in Bloemfontein: "Ek en Reza is albei op Senekal gebore. Ek onthou goed die mooie kind wat by haar oupa en ouma op die dorp kom kuier het. Ek was op universiteit, oud genoeg om die Engelse se woord fey met die betekenis van 'feeagtig' aan haar te koppel. Een aand, ná ’n optrede van dramastudente, vergaap ek my weer aan die driemanskap van ouma, ma en dogter – tannie Freddy Europees chic, tannie Toti met ’n sigeuneragtige skoonheid en die fyne Reza.

"’n Klasmaat van Reza, Reynette Brink, beskryf haar as enigmaties, maar ongelooflik talentvol. Hulle moes in die sweet van hul aanskyn hul punte verdien, maar Reza was meer afwesig as teenwoordig. Kom die eksamen het Reza se ma net notas van haar klasmaats gefotostateer en dan doen sy beter as hulle. Soos Brink sê, sy het net 'haar eie tromspeler se ritme gevolg'. Iewers het almal geweet nog ’n betekenis van fey, naamlik gesigte-siende, is dalk van toepassing.
Reza kon dalk altyd iets anderkant ons werklikheid sien en dit het in haar werk gestalte gekry. Sy is in 1998 as die Oud-Kovsie van die jaar bekroon en in Die Bult van September sê sy self: 'Soms praat ek hardop. Soms weet ek nie of ek dit in my kop hoor nie. Ek hoor altyd my dialoog hardop. Ek hoor dit in karakter. Ek skryf soos hulle praat ...' en 'Dit voel vir my soos ’n soort magiese proses. ’n Effense alternate state'.

"Nog ’n betekenis van fey het waar geword, naamlik bestem om gou te sterf. Dit maak egter nie meer saak nie, want die ander werklikheid, die alternate state, het haar en haar ouers omvou." (Volksblad, 3 Februarie 2012)

• Temple Hauptfleisch: "Among the very best playwrights to emerge in South Africa over the past century or more, and certainly one of the foremost of her generation, Reza de Wet had an extraordinary record as a creative artist over the past 25 years, and contributed immensely to the stabilisation and enrichment of South African theatre in its passage from a theatre of protest and propaganda to one of contemplation and healing. Not only did she provide the South African canon (and the Afrikaans literary canon in particular) with some of its best plays, but her impact on theatrical form and style has been equally significant – for her role in re-establishing the formally written and serious playtext as a central element in both the theatrical process and the literary canon can hardly be overestimated.

"De Wet – soft-spoken, enigmatic – was never a public figure, but an artist who required of her work to speak for itself, which it did and still does, most eloquently and convincingly. A quiet belief in the power of her ideas and words permeates and enriches all her work and the result has been more than a dozen plays of complex subtlety, which challenge directors and audiences alike while exploring the vagaries of being human and of being South African. They are unique, individualistic works which make no concessions to the demand for declamatory directness and simplicity that characterised the more politicised and improvisational work of the 1980s. They catered even less to the demand for formula-driven escapist entertainment which arose after the political changes in the 1990s, and then spilled over into the kind of “instant culture” which to a large extent dominated the festival-driven theatre world in the first decade of the new millennium. It is a legacy we can and must treasure, particularly now that the prime mover is no longer with us." (South African Theatre Journal, 2012)

• Saartjie Botha: "Playwright Reza de Wet was publicity shy. And because she was so comfortable in life with the paranormal, I suspect she is still shy now that she has to listen to eulogies. Words thus must be chosen wisely. For me as a young playwright, she was the ultimate, not only in terms of the standard of her work, but also in the way she handled her artistry. (...) I asked her once about the most important quality a young playwright should have. Her response was simple and clear: understand the space on stage. Before she started writing, she said, she thought for weeks about the space on stage. About the magical. And don’t ever write if you don’t have an idea, she added archly.

"A shy flower (skugter skaam-blom), Basson once called her. Reza had an old world charm, a vulnerability, and an untouchable magical quality. She was cheerful and laughed often, usually at herself." (Cape Times, 3 Februarie, 2012)


 

Ná haar heeltemal te vroeë afsterwe het Reza en haar werk nie in die vergetelheid verval nie. Daar gaan bykans nie ’n jaar verby wat daar nie een van haar dramas in een of ander vorm op die planke gebring word nie – hier en oorsee.

In 2002 is Reza se Drie susters twee in Richmond in Engeland se Orange Tree Teater opgevoer saam met Tsjekov se Drie susters. Dit was die première van Reza se stuk in Engeland.

Charles Spencer, die resensent van The Telegraph, het as volg oor die produksie en oor Reza geskryf: "De Wet is South African (her play was originally written in Afrikaans), and she identifies with the Chekhovian theme of loss and dispossession 'as a privileged Afrikaaner standing on the threshold of far-reaching socio-political reform'. But her greatest gift is fully to inhabit Chekhov's characters and to create a play that combines wit with deep feeling."

Reeds in 2009 het die Reza de Wet Tienertoneelfees sy debuut by die Vrystaatse Kunstefees in Bloemfontein gemaak en gaan dit van krag tot krag. Skole van oor die hele land word elke jaar genooi om aan die fees deel te neem.

In 2013 het die dramadepartement aan Rhodes Universiteit Drifting aangebied as die department se gradedag-produksie. Dit het ’n intieme blik gegee op die lewe en werke van Reza de Wet. Die direkteur Rob Murray het gesê dat hulle gekies het om te fokus op die eteriese en misterieuse kwaliteit van haar werk.

Murray was ’n student in Reza se Kreatiewe Skryfwerkklas en beskou haar as iemand wat sy eie skryfwerk skerper gemaak het. Die studente het in beide die geskrewe en verbale vorm bydraes gelewer tot die huldiging.

Dit het begin met ’n lektor wat Reza de Wet met haar swakhede aan die gehoor bekendstel. Hy ontdek dan dat sy weg is en dan begin die soektog na haar gees met behulp van choreografie, poppekas en kunsstukke wat almal tematies aanmekaar skakel. In essensie dryf dit alles deur haar werk. Met hierdie kontemporêre raamwerk maak die spelers gebruik van magiese realisme wat so ’n sentrale deel van De Wet se werk gevorm het.

"We didn’t want to make a variety show that amalgamated her works,” het Murray verduidelik, “but rather to create a dream world that she would approve of and into which the audience can escape. It’s our way of giving tribute and saying goodbye to her memory.”

Ook in 2013 het die filmweergawe van Diepe grond met die titel African Gothic by die Durban Internasionale Filmfees gepremière en in 2015 is Missing in die Baxter op die planke gebring. Vir hierdie verwerking het Mdu Kweyama die drama uit sy Afrikaanse idioom en agtergrond geneem en dit geplaas in ’n universele milieu. “The young director brings more physicality to De Wet’s poetic writing. The magical-realist play about a young daughter’s escape from her dysfunctional rural family brings women who are trapped and scared into the spotlight. How far will their fear take them?

“I was looking for the ‘right’ text that would also allow me the scope to combine text and dance or physical movement. Added to that it was important to consider something that was relevant in contemporary South Africa,” verduidelik Kweyama aan The next 48 Hours.

“Reza de Wet’s script grabbed me from the outset; the images she conjures with the words and subtexts. Women who are trapped, scared or missing, do not only apply to one particular community. It is relevant to most communities in this country and many other countries in the world, for that matter. So I could make it universal and that is very exciting for me."

By die US Woordfees van 2017 is Drif in die Fismersaal opgevoer met Mari Borstlap as die regisseur. André Roothman, Ira Blanckenberg, Cintaine Schutte en Jane de Wet was die akteurs in die stuk. Borstlap het op LitNet aan Naomi Meyer vertel dat sy van skool af ’n bewonderaar van Reza de Wet en haar dramas was: "Ek dink dit is die magiese realisme en die wonderlike sterk vroue karakters in so te sê al haar werk wat my besonder aantrek. Ek het Drif vir die eerste maal iewers in my vroeë twintigs gelees en ek het onmiddellik gewéét as die tyd reg is sal ek graag die ikoniese werk wil opvoer. Dis ’n donker drama met soveel lae. Ek vind die teks baie sensueel, dalk selfs eroties by tye, en dit het my ook gelok om aan die woorde lewe te gee."

In 2018 was die vertonings van Reza se Crossing in die Crave Theatre in Portland in Oregon, Amerika teen die einde van die speelvak uitverkoop.

Publikasies

Publikasie

Diepe grond

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1990

ISBN

  • 0798622229 (hb)
  • 0798630515 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

AA Mutual-prys 1985/1986

Vertalings

In Engels vertaal as African Gothic

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vrystaat-trilogie

Publikasiedatum

1991

ISBN

079863071X (sb)

Uitgewers

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • Rapport-prys 1991
  • CNA-debuutprys 1992
  • Hertzogprys (saam met Trits) 1994
  • Vita-toekennings vir al drie tekste

Vertalings

Engels deur Steven Steadman

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Trits: Mis, Mirakel, Drif

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798634375 (sb)

Uitgewers

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • Hertzogprys (saam met Vrystaat-trilogie) 1994
  • Fleur du Cap-toekenning 1994
  • Vita-toekennings 1994/1995

Vertalings

Missing, Crossing en Miracle deur Steven Steadman vir Oberon

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stil Mathilda

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798135115 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drie susters twee

Publikasiedatum

1996

ISBN

079813657X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • Hertzogprys 1997
  • Vita-toekenning 1998/1999

Vertalings

Three sisters two

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die see

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869195205 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Reza de Wet en haar toneelstukke beskikbaar op die internet

 Biografiese artikels

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top