Reza de Wet: Die dramaturg as dromer, Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris (redakteurs)

  • 3

Reza de Wet – Die dramaturg as dromer
Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris (redakteurs)
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485311034

Die dramaturg, Reza de Wet, is een van daardie enigmatiese individue wat die Suid-Afrikaanse teatergemeenskap vir dekades met haar unieke literêre stem as dramaturg, dramadosent en aktrise betower het. Dié doyenne van die Suid-Afrikaanse toneelgemeenskap is nie alleen verlangse familie van die digter Eugène Marais en generaal Christiaan de Wet nie, maar spog boonop met twee opeenvolgende Hertzogpryse vir drama (1993 & 1997). As jarelange inwoner van Makhanda (vóórheen Grahamstad) was De Wet ’n mistieke legende van waar sy in haar huis op die heuwel digby Hoërskool PJ Olivier die Oos-Kaapse landskap en argitektuur wat vanuit vervloë Britse koloniale dae dateer, tydens haar staptogte kon bespied. Talle skoliere en studente bestudeer steeds haar dramatekste en die meeste teatergangers kon moontlik al ’n toneelstuk van De Wet op die planke sien. Maar wie was hierdie misterieuse dromer wat, om die Nederlandse literator Mieke Bal aan te haal, lewe gegee het aan haar “mensen van papier”?

Reza de Wet – Die dramaturg as dromer maak deel uit van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks huldigingsbundels ter ere van Hertzogpryswenners. Hierdie bundel is die sesde in die reeks, met verdere bundels oor Elsa Joubert, Ingrid Winterbach, Anna M Louw, Etienne Leroux, Ina Rousseau, Marlene van Niekerk, Bartho Smit en Antjie Krog, waaraan reeds gewerk word. Opsigself is hierdie projek wat deur die SA Akademie befonds word prysenswaardig, aangesien hoofsaaklik akademiese artikels in Afrikaans selde in gedrukte boekformaat verskyn – die dae toe uitgewers amper jaarliks huldigingsbundels in hardeband uitgegee het, is stellig verby. In literêre kringe word onderlangs vrae geopper oor die kort tydsverloop tussen publikasies in dié reeks, sowel as die eentonigheid van die wyse waarop die huldigingsbundels tot dusver saamgestel is. Vanuit ’n estetiese oogpunt is eenvormigheid myns insiens belangrik wat die omslagontwerp betref, aangesien dit immers ’n huldigingsreeks is. Die redakteur(s) is egter verantwoordelik vir die samestelling van die inhoud en in dié opsig sal afwisseling verwelkom word – soos in die geval van Reza de Wet – Die dramaturg as dromer.

As redakteurs het Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris ’n “nuwe” roete ingeslaan met die samestelling van die huldigingsbundel oor die lewe en werk van Reza de Wet. Waar vorige bundels meerendeels akademiese artikels bevat het, is die bundel in twee afdelings verdeel, naamlik “Perspektiewe uit die teaterbedryf” en “Akademiese perspektiewe”. Meer as die helfte van die teks is dus nie suiwer akademies van aard nie, wat die bundel vir die belangstellende leser of teaterliefhebber meer toeganklik maak. Terselfdertyd bied die eerste afdeling ’n deeglike fondament waarop die akademiese perspektiewe op meer formele toon voortborduur. In die opsig slaag Hauptfleisch en Keuris daarin om die bundel (hopelik) vir ’n wyer lesersmark toeganklik te maak.

In die voorwoord word die dramaprofessor, Francois Swart, aangehaal wat De Wet as “een van die beste vrouedramaturge in die wêreld” beskou. Met die lees van die teks as geheel is die stelling nie sonder meriete nie. Die eerste afdeling van die huldigingsbundel fokus op die meer intieme aspekte van die dramaturg as mens en persoonlike vriendskaplike verhoudings wat verskeie rolspelers deur die loop van De Wet se loopbaan met haar aangeknoop het. Die literêre biograaf, Erika Terblanche, lewer ’n insiggewende oorsig van De Wet se lewe en werk wat vanaf haar geboortejaar in 1952 op Senekal in die Oos-Vrystaat tot en met haar afsterwe in Januarie 2012 in Makhanda strek. Die biografiese oorsig dien as vertrekpunt vir die res van die bydraes deur die konteks te skep waarbinne De Wet as aktrise en veral as dramaturg opgetree het.  

Die teaterregisseur, Marthinus Basson, oud-uitgewer, Marietjie Coetzee en resensent, Paul Boekkooi se bydraes sluit onderskeidelik by Terblanche aan deur ’n dieper blik op die persoon agter die dramateks en aktrise te ontbloot. Beide Basson sowel as Coetzee se huldeblyke dui daarop dat De Wet ’n unieke kreatiewe dog sensitiewe gees was wat deur ’n alternatiewe lens na die wêreld waarin ons leef gekyk het. Basson verplaas hul vriendskaplike verhouding binne die sosio-politieke konteks van ’n Suid-Afrika wat op talle vlakke diep verdeeld was. Laasgenoemde sorg vir boeiende leesmateriaal vir diegene wat ’n meer intiemer blik op die teaterwêreld voor en na 1994 verlang. Coetzee se bydrae bestaan  uit ’n samevoeging van ’n onderhoud, korrespondensie en ’n huldeblyk. Alhoewel die inhoud insiggewend van aard is, kon Coetzee die drie dele beter by mekaar integreer deur skakels tussen die afdelings te skep om sodoende die bydrae as eenheid netjies bymekaar te bring. ’n Aantal feite word ook in sommige dele herhaal. Ongeag die eenheidsgebrek, bied die inhoud aan die leser toegang tot De Wet se gedagtes wat andersins vir lesers (asook navorsers) verlore sou gaan.  

Die ses akademiese bydraes bied ’n wye oorsig oor De Wet se oeuvre. Juanita Finestone-Praeg se artikel “Drifting: Reminiscing. Remembering. Reinventing. Reza” fokus op die huldeblyk wat die dramadepartement van Rhodes Universiteit in 2013 opgevoer het. Finestone-Praeg se vertaalde artikel fokus op De Wet se bydrae wat sy tot die First Physical Theatre Company gelewer het – ’n onderwerp waaroor daar tot op hede nog geen navorsing gepubliseer is nie. Hierdie bydrae dien as gepaste skakel tussen die twee afdelings wat vanaf ’n meer biografies en persoonlike tot akademiese toon oorskakel.

Die literator, Mariëtte van Graan, fokus haar aandag in “Trits as tematiese liminale ritueel” op ’n tematiese ondersoek na ’n verskeidenheid liminale aspekte in De Wet se Trits, wat bestaan uit drie dramas naamlik Mis, Mirakel en Drif. Van Graan plaas veral klem op die Afrikanervrou se “dikwels versmorende plek in die ou Afrikanerkultuur” wat vir interessante gesprekke in die klaskamer en lesingsaal sal sorg. Dit is verblydend dat Trits steeds voorgeskryf en deur jong Afrikaanssprekende lesers gelees word. Onderwysers en matrikulante kan gerus Van Graan se artikel lees om hul kennis van Mis as voorgeskrewe dramateks uit te brei.   

Soos reeds in talle bydraes in die eerste afdeling genoem is, het De Wet ’n intense belangstelling in die magiese en bonatuurlike gehad. Verder het sy ook verkies om die literêre werke van ouer Afrikaanse skrywers voor die 1960’s te lees. In “Ouer spore in Drif” ondersoek Marisa Keuris die invloed van ander skrywers soos Eugène Marais, HA Fagan en Uys Krige op dié dramateks, maar fokus veral op Drif wat intertekstueel met Henry Allen Fagan se Opdrifsels (1947) in gesprek tree.

Verdere bydraes sluit in Lida Krüger se artikel wat fokus op Marthinus Basson se produksie in 2008 van De Wet se Blou uur asook Danie Stander se “’n Biokritiese analise van Verleiding” – een van De Wet se ongepubliseerde dramatekste. Die huldigingsbundel word op gepaste wyse afgesluit met ’n bydrae deur die teaternavorser en dramaturg Temple Hauptfleisch wat in “Wêreld sonder einde …” De Wet se laaste toneelwerk, Die see (2011), bespreek. In sy bespreking vergelyk Hauptfleisch De Wet se Die see met John Millington Synge se Riders to the sea (1904) en wys gevolglik op interessante ooreenkomste en verskille tussen die twee dramatekste. Met Die see maak De Wet ook haar laaste verskyning op die verhoog en word die doyenne van die Afrikaanse drama se loopbaan as aktrise, dramaturg en dramadosent afgesluit.  

Die bundel is oudergewoonte keurig deur Protea versorg en uitgegee. Die fotoseksie bevat hoofsaaklik foto’s wat op De Wet se verhoogproduksies fokus. Persoonlik sou ek graag meer foto’s van die dramaturg self wou sien. Die bundel bevat ook ’n uitgebreide bibliografie van bronne vir navorsingsdoeleindes sowel as ’n volledige opsomming van De Wet se gepubliseerde en ongepubliseerde teatertekste.

Met die sesde publikasie in die huldigingsreeks kan ek opreg sê dat hierdie projek van onskatbare waarde vir toekomstige navorsers en belangstellendes in die Afrikaanse letterkunde gaan wees. Met die afsterwe van JC Kannemeyer het Afrikaans ’n groot verlies gely. Hierdie huldigingsreeks sluit aan by die belangrike navorsingswerk wat Kannemeyer oor Afrikaanse skrywers gelewer het en sal sodoende vir talle nuwe Afrikaanse lesers en navorsers insig gee tot van Afrikaans se grootste skrywers, digters en dramaturge.

  • 3

Kommentaar

  • Dewald ek sal bly wees as jy op hierdie stelling van jou kan uitbrei: "In literêre kringe word onderlangs vrae geopper oor die kort tydsverloop tussen publikasies in dié reeks, sowel as die eentonigheid van die wyse waarop die huldigingsbundels tot dusver saamgestel is."

  • Ek reageer graag: Ek het verneem dat daar vrae geopper is oor die feit dat daar binne 'n kort bestek (hoofsaaklik aan die begin van 2020) 'n hele aantal huldigingsbundels in die reeks kort na mekaar verskyn het. Wat ek daaruit kon aflei was dat daar gesuggereer word dat die publikasiedatums versprei moet word om elke huldigingsbundel die kans te gun om die nodige publisiteit te verkry wat dit tereg verdien. Ter illustrasie kan ek hier byvoorbeeld noem dat huldigingsbundels wat voor die van Reza de Wet verskyn het nog nie geresenseer is nie. (Dit mag moontlik ook verkope op die korttermyn beïnvloed.) ‘n Kort wagperiode tussen die verskyning van die publikasies kan moontlik ‘n wyse besluit wees om elke Hertzogpryswenner wat gehuldig word (asook die redakteur en bydraers tot die publikasie) sy/haar kortstondige oomblik van glorie te gun. Wat die uitleg van die inhoud betref kan toekomstige publikasies oorweeg om – soos in die De Wet-huldigingsbundel - sommige dele of ‘n afdeling meer op die nie-literêre leser te rig. Laasgenoemde is egter my persoonlike mening.

  • Jacques van der Elst, Koördinerende redakteur Hertzogpublikasies, SA Akademie

    In opvolging van Daniel se vraag vind ek die opmerking oor “eentonigheid” en die vinnige opvolging van publikasies ook ietwat vreemd. Oor die eentonigheid: Van die SA Akademie se kant af het ons gedink om sekere standaardvereistes te stel: ’n Biografiese skets, ’n bibliografie, ’n fotogalery en ’n indeks. Dis basiese komponente vir ’n akademiese werk van die aard en waar dit oor ’n persoon gaan. Verder het die aangewese redakteurs die vryheid om 6 of meer geakkrediteerde artikels aan te vra, gebaseer op die oeuvre van die betrokke Hertzog-wenner. Dit het tot dusver ’n baie interessante en gevarieerde aanbod per publikasie opgelewer. As die voorgaande eentonigheid bewerkstellig, weet ek nie wat eentonigheid is nie! Die aanmerking oor die kort tydsverloop tussen publikasies is ongemotiveerd. Waarom sou daar ’n groter tydsverloop tussen die verskillende publikasies MOET wees? Elke aangewese redakteur werk volgens eie tempo. My ervaring is dat daar ’n tydsverloop van sowat een en ’n half tot selfs twee jaar verloop tussen die opdrag aan ’n redakteur en die lewering van ’n manuskrip. ’n Paar opdragte is gelyktydig gegee en ’n paar manuskripte is gelyktydig gelewer. Tot tevredenheid van die skrywer sal daar waarskynlik vanjaar verder (na Reza de Wet) net EEN Hertzogboek (NP van Wyk Louw) verskyn, maar in 2021 moontlik drie vinnig opeenvolgend. Dankie vir ’n goeie resensie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top