ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
SJ Naudé (1970–)

Sêgoed van SJ Naudé:

“Om in Engeland of New York te studeer en te werk, word ’n soort vertalingsproses. Jy vertaal wat jy beleef in jou eie emosionele en kulturele raamwerk. Jy bewoon ’n soort tussenwêreld, nie heeltemal van daar nie en geleidelik nie meer heeltemal van hier nie. Daar’s baie opwinding, maar ook ontreddering.”

“Skryf kan ’n poging wees om deur verlies te tas. Maar mens moet natuurlik ook nie die outobiografiese oorskat nie. Dit gaan oor verdraai en verraai van die werklikheid op elke denkbare manier; jy gebruik allerlei gegewens vir jou eie bose doelwitte.”

“As mens skryf – vir my in elk geval – ondersoek jy nuanses van menslikheid. Dis heeltemal ’n ander soort waardestelsel as dié waar dit gaan oor geld.”

“Ek skryf vir die mense wat na Die Antwoord luister. En ek protesteer teen die idee dat Afrikaans en skryf in Afrikaans ’n al hoe kleiner gehoor kry. Daar moet maniere wees om verby dit te beweeg.”

“Die aanpassing na sestien jaar weg was nie maklik nie. In ’n mate is ’n mens weer ’n immigrant in jou eie land. Jy kyk met vervreemding na die ommuurde bestaan, met afstand na jou moedertaal.”

Oor resensente se mening dat die Afrikaner-diaspora as “selde so onherbergsaam” in sy boek uitgebeeld word, en die verwysing na ’n byna apokaliptiese sfeer in een van die stories: “Dink jý ook so? Want dit was nie of ek dit vooraf beplan het nie. Jy skryf omdat jy wil uitvind wat jy wil sê.”

Gebore en getoë

SJ (Fanie) Naudé is in 1970 gebore, die derde van vier kinders, kleinseun en naamgenoot van Fanie Naudé, een van die stigtersdirekteure van Volkskas Bank. Hy het twee ouer susters en ’n jonger broer.

Hy word groot in Pretoria, in Lukasrand, wat eintlik ’n Joodse woonbuurt was. Hulle was die enigste Afrikaanse gesin in die buurt. “Dit was die spreekwoordelike groen voorstad: pragtige tuine, jakarandas langs die strate, rooi grond en rotse,” vertel Fanie aan Elmari Rautenbach.

Sy pa, Stef, was ’n bekende regsgeleerde wat vandag afgetree is en in Waterkloof woon. Sy ma, Santjie, was ’n wiskunde-onderwyseres en is in 2010 aan kanker dood. Fanie het taal se ryk, menslike nuanses in sy geborge ouerhuis geleer.

Toe hy agt jaar oud was, het Fanie voor ’n boekrak in sy ouerhuis gestaan en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins uitgetrek. “Ek het min daarvan verstaan, maar ek het die drang gevoel om dit te lees,” vertel hy in 2012. “En die boek het beslis op ’n manier sy merk gelaat.”

Die jong Fanie het die Sestigers een vir een in die boekrak ontdek. “Daar was iets opwindends aan hulle, Leroux en Barnard en Aucamp. Die Sestigers het ’n reuse-invloed op my gehad. Van: Dís hoe mens opwindend kan skrywe. Dis die eerste keer dat ek adrenalien ervaar het by die lees van boeke.”

Sy kinderjare was ’n lewe van min onmin. “Ek het goed met my ouers oor die weg gekom, was heel verbaal en het die swemspan gehaal. Nietemin het ek dit as ’n vreemde, afgeslote bestaan ervaar. As hoërskoolkind in die laat tagtigs het ek van die begin af aan my ontsnappingsprojek gewerk.”

Hy onthou wintersmiddae se witgerypte grasperke, Sondagmiddae se doodse stilte. En: patologiese verveling. Die wêreld van sy kinderdae was die “benouende sosiaal-kulturele een van die 70’s en 80’s”.

Hy het die Afrikaanse skoolpad geloop van Pretoria se oostelike voorstede en was by Afrikaans Hoër “waarskynlik ’n redelike standaard-produk,” vertel hy aan Hanlie Retief. “Maar ek het nie heeltemal tuis gevoel nie, daar het altyd iets gehaper, van life is elsewhere.”

Verdere studies en werk

Ná skool is Fanie na die Universiteit van Pretoria, waar hy in die regte gestudeer het. Tuks was egter net sy “ontsnappingsprojek”, sy kaartjie wég. Ná sy regsgraad aan Tuks word die Prokureursorde se beurs aan hom toegeken om aan die Universiteit van Cambridge in Engeland sy LLM te doen. Met sy vertrek was hy vas van plan dat sy verblyf oorsee permanent sou wees.

By Cambridge was hy in St John’s College. “Dit was verstommend anders en enorm stimulerend. Cambridge was ’n miniatuurwêreld, die soort plek waar ’n mens ’n formele driegangete twee maal per week by jou kollege sou geniet, of op die ingewing van die oomblik vir ’n naweek na vriende se berghut in die Italiaanse berge gaan.

“Ek het soos ’n vis in water in die sosiale lewe ingeglip; my ingegrawe in die kulturele omgewing. As regstudent het ek deelgeneem aan die jaarlikse skynhofwedstryd. Ons het die Britse afdeling gewen en uiteindelik aan die eindronde in New York deelgeneem, wat in die Verenigde Nasies se gebou gehou is.”

’n Jaar by ’n regsfirma in Johannesburg het gevolg, waarna Fanie met ’n Fulbright-beurs vir ’n tweede meestersgraad in die regte na die Columbia-universiteit in New York is. “Daar is ’n rede hoekom mense vertel Columbia was oorspronklik ’n gebou wat sielsiekes gehuisves het. Ná die genteel afrondingskool van ’n Cambridge was hierdie ’n fabriek vir die korporatiewe regswêreld van Amerika – mededingend, hard. Geen kultuur van ’n medestudent help nie. Maar dit was ’n waardevolle jaar. Veral omdat die lewe op Columbia amper ’n oordrewe, ’n cartoon-weergawe van die regte wêreld is.

“Amerika maak jou oë oop. Dit is by tye oppervlakkig, ja, maar dit was eufories om deel te wees van wat toe die middelpunt van die wêreld was en ’n komplekse, aggressiewe en veral gedrewe sakewêreld. In vergelyking daarmee het Londen amper half stowwerig oorgekom.”

Fanie het ingeval by die internasionale regsfirma Shearman en Sterling, waar hy twee jaar gewerk het voordat hy na die firma se Londense kantoor is.

Sy spesialisgebied was die onderhandeling en boekstawing van multimiljardrand-transaksies. In die laat 1990’s het hy as jong regsgeleerde in New York aan die Daimler-Chrysler-samesmelting gewerk.

Voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy in Londen gewerk aan ’n transaksie wat sewe Deense openbare en private vervoerinstellings betrek het. Hy het gereeld tussen Londen en Kopenhagen gereis en het dae van 15 uur lange onderhandelings gelei met die bestuur van regslui op verskillende plekke. Van sy ander transaksies het komponente in tot 60 lande ingesluit.

Dit was ’n gedissiplineerde soort rol. “Jy moet geweldig baie inligting en mense bestuur; dit vra ’n mengsel van gestruktureerde sjarme en gestruktureerde konflik. Mensekennis. Intellektuele dissipline. En verál uithouvermoë.

“My werkdae het bestaan uit 15 uur per dag in konferensie-kamers in ’n staat van beheerste konflik. Ek was ’n huursoldaat.

“Die frekwensie van ’n werkdag was van so ’n aard dat dit vir my amper onmoontlik was om te skryf; om ’n wêreld te betree wat vereis dat ek my moet oopstel. Londen die afgelope twee, drie jaar was ’n slagveld. Kataklisme in die lug; ’n gevoel van groot angs. Dit was ’n druk wat in my begin opbou het; ’n begeerte om uit te breek.”

In Londen het Fanie eers in Soho gewoon en toe ’n plekkie gekoop in SE1, of Bankside. “Dit is suid van die Teemsrivier en oorkant die City of London, naby die Tate Modern-kunsmuseum. Die gebou is deels deur bomme verwoes en eers in die vroeë 2000’s, tydens die eiendoms-boom, deur eiendomsontwikkelaars beetgekry. Aan die een herstelde muur van die gebou is ’n kunsinstallasie aangebring. Dit behels ’n mooi en geheimsinnige aanhaling in letters van staal uit Charles Dickens se The Pickwick Papers. Ek het dit lank daagliks gelees: ‘There are dark shadows on the earth but its lights are stronger in the contrast. Some men, like bats or owls, have better eyes for the darkness than for the light. We, who have no such optical powers, are better pleased to take our last parting look at the visionary companions of many solitary hours, when the brief sunshine of the world is blazing full upon them.’

“Europa is ’n wêreld waar die siklusse van veroudering, verwoesting en herstel en die spore daarvan maar heeltyd rondom ’n mens is.”

Met sy terugkeer na Londen was dit die tyd van die internet-oplewing en Londen het geblom. “Toe ek in SE1 koop, het heelparty yuppies daar begin intrek, maar die ou leerlooiery het steeds daar bestaan, die prostitute en asynfabriek tussen die nuwerwetse kroegies en eetplekke, die ou Shakespeare-teater langs die sjiek solderwoonstelle. Ek het baie gereis. Wat ’n groot indruk op my gemaak het, was hoe opvallend die letsels van die verlede steeds in ’n post-Tweede Wêreldoorlog Europa is. Die fisieke landskap is ’n laslapwerk van littekens – Italië, Berlyn, waar ek ook baie tyd spandeer het. Dis in die weefsel van die geboue om jou en jy voel dit.”

En toe, einde 2009, na dertien jaar in Londen, het Fanie sy beroep as internasionale regspraktisyn by Hewlett-Packard in Londen gelos en teruggekom na Suid-Afrika. Hy het hom ingeskryf vir ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns by Marlene van Niekerk aan die Universiteit Stellenbosch. “Ek wou nog altyd skryf. Het toe ek jonger was selfs gepubliseer in Tukkies se studentetydskrif en De Kat. Toe ek in Londen gewoon en dikwels tussen lande gereis het vir werk, het ek soms wel gevind die afgeslotenheid en anonimiteit van hotelkamers is om die een of ander rede bevorderlik vir die kreatiwiteit.

“Ek het begin dink aan terugkeer, met Marlene van Niekerk se meestersgraad in kreatiewe skryfwerk as my doel. Die stuk skryfwerk wat ek moes ingee om gekeur te word – die eerste 40 bladsye van ’n roman – het my ook oortuig ek kan onmoontlik skryf met Engeland as die agtergrond.

“In Amerika en Engeland is daar mos ’n hele industrie van dié soort skryf-meestersgrade. En by heelparty word dit uitgespel: Hierdie is nié psigoterapie-sessies nie ...”

Hy verduidelik sy besluit aan Hanlie Retief: “Ek het my oor ’n lang tyd ingeburger in ’n ander leefwêreld. Mens het gedink daardie tekstuur gaan jou eie word, jy gaan dit internaliseer. Maar saans as jy in die Londense winter sit, dan was die fragmente wat spook in jou kop eintlik maar fragmente van stories en skryfwerk.”

En dan was die behoefte aan skryf soos iets wat plek gesoek het om uit te bars, “soos ’n verstopte pyp wat mens oopmaak”.

Die ekonomiese ineenstorting in Europa was ’n verdere oorweging en die ontnugtering met sy leef- en werkwêreld het gegroei. “Toe besef ek: Daar is nog ’n plek om heen te gaan en daar ís iets anders wat ek lankal wou doen.”

Sy vriende en kollegas was stomgeslaan, want hier gaan doen hy iets wat reëlreg teenoor sy vroeëre lewe en werk gestaan het. “En jy gaan doen dit op ’n marginale plek, in ’n gemarginaliseerde taal. En selfs binne daardie raamwerk skryf ek toe boonop iets marginaals: ’n kortverhaalboek eerder as ’n roman.”

Aanvanklik was sy twee grootste probleme nadat hy hom by Marlene van Nierkerk se kursus ingeskryf het, om hom eerstens oor te gee aan die vertrouensverhouding wat so ’n graad vereis, en tweedens, om op ’n struktuur, of genre, vir sy skryfwerk te besluit.

Hy het amper koorsagtig begin skryf. “Tientalle idees het opgeborrel, te veel en te uiteenlopend vir ’n roman. Ek is waarskynlik te onvolwasse om veeltakig te wees, want ek het aanhou dink te veel sal verlore gaan as ek ’n roman sou skryf. My skryfwerk was eerder van ’n aard waar my energie en tema hulle oor ’n sekere lengte uitwoed. Vandaar die langer-as-gewone kortverhale.”

Marlene het op ’n stadium aan Fanie gesê dat hy moet dink wat hy wil skryf. Hy het oor die kortverhaal gelees en verhale van Edgar Allan Poe en ander Amerikaanse meesters van die kortverhaal, soos Raymond Carver en Tobias Wolff, gelees, asook van die jonger generasie Amerikaanse kortverhaalskrywers, soos Dave Eggers en ZZ Packer, Tsjechof, ook Hennie Aucamp en Koos Prinsloo. “Ek het die premoderne kortverhale gelees, die miniromans van DH Lawrence en begin wonder is dit wat ek is? ’n Miniaturis?”

Sy ervaring van die meestersklas was “ekstaties”. “Om ná soveel jaar die vryheid te kon hê om ernstig oor skryf te praat, om met ander krities oor jou eie skryfwerk te praat ... dis ’n voorreg. Marlene en Willem Anker, haar assistent in die kursus, het ’n manier om wat jy doen, waar jou instinkte lê, as ’t ware uit jou te terg. En as jy hulle eers vertrou, hulle outentisiteit en oordeel, leer jy in die proses jou eie moontlikheidsgrense versit. Ek struwel om dit onder woorde te bring ...”

Fanie het die oorgang tussen steriele regstaal en literatuur “so natuurlik soos die gly in ’n bad vol warm water” gevind. Maar omtrent al die verhale van sy eerste bundel, Alfabet van die voëls, is in die onderste laai gegooi voordat hy eers daaraan gedink het om dit vir iemand te wys. “Jou posisie wanneer jy skryf, is heeltemal ongedetermineer, twyfel lê aan die kern daarvan.”

Maar mettertyd ontwikkel jy wel ’n gevoel vir iets wat werk, wanneer jy jou verras. Dit is ’n proses van vals beginne en valse leidrade en uitvee en oorbegin en dan kom jy op ’n plek waar dit self gebeur, vertel Fanie.

En toe Alfabet van die voëls eindelik in 2011 gepubliseer is, was dit alles die moeite werd, want die resensies was deurgaans oorweldigend positief en André P Brink het dit beskryf as “onder die bestes in Afrikaans ... onmisbaar”. Die Jan Rabie-Rapportprys vir vernuwende literatuur vir 2012 is ook aan Alfabet toegeken. Die toekenning en al die lofpryse het Fanie verras, maar dit is ’n groot blydskap.

Daar is sewe verhale in die bundel en vier daarvan handel oor konfrontasie met siekte en dood, met verlies. Aangesien sy ma kort na sy terugkoms met kanker gediagnoseer is en oorlede is, kom die vraag van hoe outobiografies sy verhale is, by ’n mens op. “Mens kom terug na die moederland en saam daarmee is ’n verlies van ’n moeder,” sê hy. “Dan projekteer jy die een op die ander. Dit was ’n komplekse soort ervaring.”

Ná sestien jaar se langafstandverhouding met sy ouers was sy terugkeer ook om nader aan hulle te wees en dit was uit daardie perspektief swaar dat sy ma weg is, aangesien hulle verhouding ’n nabye een was.

André P Brink het as volg oor Alfabet van die voëls geskryf: “Die verbysterende verskeidenheid verhale in SJ Naudé se merkwaardige bundel Alfabet van die voëls tel onder die bestes in Afrikaans, gebou op terugkerende motiewe en gegewens soos musiek; vertrek en reis; sprokies en mites; siekte, aftakeling, sterwe en dood; stede; ’n soek na herkomste en oorspronge; vergeet en onthou; instink en rede; dit wat beskryf of gesê is teenoor dit wat vir altyd onuitgespreek of onbeskryfbaar bly; of die plek en gedaantes van die liefde in menslike verhoudings ... dit alles vorm op ’n manier ’n herbesoek aan Willem van der Berg se Reisigers na nêrens (1946) in die post-apokaliptiese toonaard van die 21ste eeu. Vir enige leser wat wil bybly by wat op die voorpunt van die Afrikaanse literatuur gebeur, is hierdie bundel werklik onmisbaar.”

Dit is ’n boek oor ontheemding, terugkeer, die saamleef met verlies. In “Die mobile” raak ’n vrou, self sterwend aan kanker, obsessief betrokke by die lot van vigslyers, verwaarloos alle verhoudings met geliefdes, en skaar haar, in haar verbete stryd teen korrupte en ellendige amptenare, by die geledere van die dooies.

“Die lawaaimasjien” en “VNLS” is albei verhale oor die saamleef met die verlies aan bande met ’n kultuur en ’n kinderverlede. Dikwels word daar in hierdie verhale ’n spanningsveld geskep tussen die bevryding van die verlede en die terughunkering daarna. Die verhale is wyd leesbaar met prikkelende stories, ideeryk met nuwe ruimtes, gebeure en karakters.

In Rapport skryf Louise Viljoen dat die sewe verhale in Alfabet van die voëls langer is as gewone kortverhale, soos die onlangse verhale van Marlene van Niekerk (’n mentor aan wie Naudé erkenning gee deur enkele kopknikke in die rigting van Agaat en Die sneeuslaper) en internasionale skrywers soos Alice Munro en WG Sebald.

“Naudé se verhale is liries, maar onsentimenteel en presies gefokus op die tersaaklike, dig gelaai met detail en verwysings, maar gestroop van enigiets wat oortollig is. Die verhale word ligweg met mekaar geskakel deur die wyse waarop bepaalde temas en karakters hulle in die bundel herhaal.

“Die bundel gee ’n indringende beeld van die opwinding én ontreddering wat die kontemporêre mens se beweeglikheid binne ’n globale omgewing veroorsaak. Maar nog selde het die Afrikaner-diaspora so onherbergsaam gelyk soos in die twee verhale waarin Ondien die hooffiguur is.

“‘VNLS’ vertel van haar mislukte pogings om saam met die Zoeloe-meisies Beauty en Nungi ’n soort musiek te maak wat op ironiese wyse (hul naam is immers die Victorian Native Ladies’ Society) musikale elemente uit Afrika en Europa vervleg.

“In ‘Die moederskwartet’ besoek Ondien, ná die mislukking van haar band, haar broer en twee susters wat onderskeidelik in Londen, Phoenix en Dubai woon. Elkeen van hulle hunker na die moeder by wie se begrafnis hulle nie kon wees nie. Maar Ondien se lot wanneer sy terugkeer na Johannesburg wys dat die moederland ook geen veilige heenkome bied nie.

“Verwysings na taal, musiek, geluide en geraas stroom in ’n ryk aar deur die bundel. Die taal van voëls word in verskillende mitologieë en kulture beskou as ’n geheimtaal wat die sleutel tot kennis en insig inhou. Om die ‘alfabet van voëls’ te beheers, sou dus ’n teken van groot wysheid wees en ook insae kon gee in die toekoms (soos wat die hooffiguur in ’n Meester uit Duitsland’ momenteel ervaar).

“In ’n sekere sin vorm die verhale ’n geheime alfabet wat die leser moet ontsyfer. Die verhale vertel ook van die momente waarin taal ophou om te funksioneer, soos wanneer die seun moet luister na die ‘geluidlose taal’ van sy moeder se pyn.

“Die sterk fokus op die diaspora en kulturele vermenging suggereer ook dat tale hulle in ’n smeltkroes bevind. Dit het besondere implikasies vir die moedertaal wat in dié bundel so vlot hanteer word. Waar lê die grens tussen die moedertaal en ander tale, tussen moederland en aangenome land, tussen verlede en hede? Dit is die soort vrae wat hier ondersoek word.”

Viljoen meen dat dit selde is dat ’n mens ’n debuut met hierdie graad van rypheid en afronding te lese kry.

Vir Ronel Scheffer het die mooi titel van dié bundel kortverhale haar geprikkel en verwagtinge geskep, maar sy was nie regtig voorbereid op hoe goed haar verwagtinge vervul gaan word nie. 

Soos jy in die eerste storie begin lees van Mrs Edith Nyathi, afgetrede matrone en gastehuiseienaar van Vloedspruit, word dit gou duidelik hier is iets vernuwends en opwindends aan die gang.

“Van ’n terminale kanker- en vigssituasie op dié fiktiewe Vrystaatse dorpie verskuif ons in die daaropvolgende verhale na Berlyn, Pretoria, Japan, Londen en Parys, Dubai, terug na die Vrystaat en uiteindelik na Milaan. Die hoofkarakters is Afrikaners, party met uitsonderlike name soos Sandrien en Ondien.

“Hulle is onpretensieuse wêreldburgers, onsentimenteel, onbeskaamd homoseksueel en onbehep seksueel. Hulle is op die voorpunt van musiek, dans, die argitektuur, die sakewêreld, maar kwesbaar en gekonfronteer met verganklikheid. Dis nie lekkerlees-stories nie, maar ook nie ontoeganklik en humorloos nie. ’n Baie relevante boek. Die bundel is tot dusver uit alle oorde oorweldigend positief ontvang, en as mens na die groot opkoms by die geleentheid kyk, lyk dit of lesers en resensente ewe positief oor die boek voel.”

Tydens die bekendstelling van die boek het Louise Viljoen met Fanie gesels en is hy, volgens Scheffer, tot verskeie kostelike aanhaalbare uitlatings gedryf, soos dat sy Afrikaans (wat in die buiteland in onbruik verval het) “soos ’n oermuskiet in die barnsteen” was. Naudé het die oermuskiet nou, tot ons almal se wins, in hierdie bundel op die Suid-Afrikaanse literêre landskap losgelaat.

Wat vir Cilliers van den Berg in die stories van Alfabet van die voëls die duidelikste na vore kom en wat waarskynlik ook die belangrikste samebindende aspek is, die wyse is waarop die nadenkende en soms byna poëtiese atmosfeer wat die beskrywings kenmerk, onderling met mekaar resoneer.

Waarna hier verwys word, is ’n gevoel vir die onpeilbaarheid van die menslike bestaan, wat soos die baslyn van ’n musiekstuk in die verhale teenwoordig is. Dit bring ooglopende winste, maar ook gevare mee: soos genoem, dra dit by tot die eenheid van die bundel. Maar dit beteken ook dat die trefkrag van die verhale eerder lê in die saamlees daarvan, en nie in die lees daarvan as afsonderlike stories nie. Dit hoef natuurlik nie noodwendig as ’n leemte gesien te word nie, ’n mens wonder net by een of twee van die verhale wat die impak daarvan sou wees as dit in isolasie gelees word.
Dit is egter ’n bundel van oop eindes en oop betekenisse hierdie en daarom ’n werk wat nie net een keer gelees kan word nie. Dit vra ’n lees, ’n herlees en die trek van onderlinge verbande.

As daar in die teks ’n appèl aan die leser gerig word, is dit om ontvanklik te wees vir die onverstaanbare, want daardeur kom nie sekerheid nie, maar wel begrip. Soos wat van een van die karakters geskryf word: “Alle weë word oopgelaat, alle onsekerhede in ewewig gehou … Alles wat onberymbaar is, mag vir eers maar bymekaar. Sy kan so lank wag as wat dit neem vir die verbindinge om hulself bloot te lê.” Alfabet van die voëls word sterk aanbeveel vir die ern­stige leser van die kortverhaalgenre.

Jeanette Ferreira voel Alfabet van die voëls stel hoë eise aan die leser, maar beloon eweneens daardie leser met ’n voorkeur vir verhale wat minder antwoorde as vrae bied: hoogstens ’n spoor, ’n bekoorlike moontlikheid van wat alles in hierdie digverweefde teks opgesluit lê.

Naudé se sosiale kommentaar op die vergrype in ons huidige samelewing word kragtiger as enige vorm van niefiksie. Hy bekoor en fassineer en ontstel tegelyk sy leser. Daarom bly dit mens so helder by. Nie net omdat stories harder as feite praat nie, maar veral omdat Naudé reeds in sy debuut so geslyp kommunikeer. Diegene wat moet toesien dat die mediawet-in-wording behoorlik nagekom word, sal beslis ’n streng oog op hierdie talentvolle skrywer moet hou. ’n Buitengewone debuut, wat beskryf kan word met ’n passasie uit die bundel: “Dit bevat ’n ganse tuin, dink hy, hierdie nat blom.”

Vir Fanie is daar sekere skrywers wie se werk inderdaad ’n mens se adrenalien laat vloei en die onstuitbare drang ontketen om self te skep:

  • The Master of Petersburg – JM Coetzee: Hier kom mens naby aan die kernaard van kreatiewe instink – skryf as oopstelling vir die onverwagse, as ’n epileptiese val. Jy begryp ook: die teks en skeppingsproses herberg altyd hardnekkige restante van misterie.
  • Extinction – Thomas Bernhard: Hier leer mens hoe die woordritme van diep woede klink, en leer jy weiering ken – die onwrikbare weiering om selfs ’n enkele bourgeois leuen te internaliseer. Skryf is weerstand.
  • Rings of Saturn – WG Sebald: Die skrywer kan uiteenlopende dinge hipnoties vir lesers inmekaar laat vloei bloot omdat dit in sy eie gedagtes saamhoort.
  • Embers – Sandor Marai: Alles in die teks is relatief; geen punt van sekerheid bestaan nie.
  • Last Evenings on Earth – Roberto Bolaño: Só maak jy elke paragraaf – elke woord – ’n verrassing vir die leser. En by terugskoue lyk die verrassings onafwendbaar!
  • Die boek van toeval en toeverlaat – Ingrid Winterbach: Wanneer verlies deur ’n verwoording van onverwoordbaarhede gedeel word, wyk ontroosbaarheid.
  • Agaat – Marlene van Niekerk: Oopstelling vir eie broosheid kan genialiteit kataliseer.

“Lees oor die tradisionele sieninge van die moderne kortverhaal,” is Fanie se raad aan voornemende kortverhaalskrywers. “Die idee dat dit ’n ‘slice of life’ verteenwoordig – iets wat uit die hoek van die oog gesien word, in die verbygaan; die gedagte van ’n enkele of unieke effek; ’n vertelling wat die eienskappe van ’n sprokie of allegorie aanneem; ensovoorts. Wanneer jy genoeg geoefen het met die tradisionele vorme van ’n kortverhaal, oorweeg hoe mens daarmee kan eksperimenteer.”

Tweedens voel hy dat reg in die verhaal ingeval moet word, dat die handeling dadelik laat loop moet word. Die eerste sin moet reeds die spanningsopset daarstel en die leser intrek. Spanning word dikwels geskep deur wat weggelaat word, eerder as deur wat gesê word. Oorweeg onheil. Onheil werk goed in die kortverhaal.

Derdens moet jy jou karakters by die deur inkry. Jou karakters se definiërende eienskappe moet heel gou wys. Daar is min ruimte vir karakterontwikkeling in die kortverhaal. Karakters kan wel ’n epifaniese insig of lewensveranderende oomblik ervaar.

Die vierde vereiste wat vanselfsprekend belangrik vir die kortverhaalskrywer is, is ekonomie en konsentrasie. Algemene stylreëls, soos stroping van onnodige adjektiewe en beskrywing, geld des te meer.

Vyfdens moet, terwyl daar geskryf word, aan eenheid gedink word, wat betref die storie en die tema. Probeer onder andere die titel, openingsin en slotsin aan mekaar koppel. Laat die verhaal oor ’n redelik kort tydperk afspeel.

Skryf die soort verhaal wat jy graag self sou wou lees, is Fanie se sesde vereiste. Jy hoef nie noodwendig te skryf oor wat jy ken nie, maar skryf oor iets wat jy kan verbeel aan die hand van wat jy ken.

En in die sewende plek hoef jy nie presies te weet waarheen die verhaal gaan wanneer jy begin nie. Moenie ná die tyd wegskram daarvan om te slyp en (soms diep) te sny aan die verhaal nie.

Laastens is dit belangrik om na jou eie stem te luister. Moenie wegskram van jou weerloosheid nie. Moet egter nooit sentimenteel raak nie – ’n kortverhaal is nie ’n opgaarbak vir eie emosies nie.

Fanie het intussen Kaapstad toe getrek, waar hy as redakteur by sy uitgewery, Umuzi, werk, en het vir hom ’n woonstel in Tamboerskloof gekoop. Sy plan was om aanvanklik net vir twee jaar in Suid-Afrika te bly en dan na Londen terug te keer, maar nou het hy besluit om te bly, want hier het hy ruimte kom kry vir sy skryfwerk “en baie menslike warmte en gulhartigheid en goeie nuwe vriendskappe”.

“Vir die eerste keer vandat ek hier is, voel ek ... mens moet nooit sê gevéstig nie – jy moet maar jou wortels vlak hou en jou voete fiks – maar dit maak my gelukkig om hier te wees.”

Sentraal-Kaapstad het iéts van Londen se hip ’n’ happening Bankside, waar hy gebly het. “Maar in Kaapstad, as jy jou gesig boontoe draai, is daar ten minste son op jou wange. Kaapstad is ’n baie leefbare plek. Dis natuurlik ’n illusie, daardie klein enklave, met die see van armoede buite.”

Hy hoop om teen die einde van 2012 skryfkans te kry vir sy tweede boek. Daar is hier en daar ’n “fragment in die agterkop drywend”.

Publikasies:

Publikasie

Alfabet van die voëls

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781415201459 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Jan Rabie-Rapportprys 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Artikels oor SJ Naudé beskikbaar op die internet:

Artikels deur SJ Naudé beskikbaar op die internet:

Bygewerk: 2012-06-28
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address