Wat sê Bettina? Regse op regse geweld in Charlie Kirk se sluipmoord

  • 0

Foto: Pexels

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Charlie, wie? was my eerste vraag toe ek ’n paar dae gelede die eerste keer bewus word van die aanval op Charlie Kirk se lewe. Dit was toe nog onseker hoe ernstig sy beserings was.

Dit het my verstom hoeveel Afrikaanse mense skynbaar op hoogte met sy politieke aktiwiteite was, en wat blykbaar sy podsendings getrou geluister het. Ek het nog probeer uitwerk of ek weet wie hy is, maar met een oog op die nuus en intussen besig met ander dinge. Na ’n ruk het ek besef dat hy die persoon is wat verklaar het vroue behoort net universiteit toe te gaan om ’n Mrs-graad te kry – in my studentedae donkiejare gelede het ons dit BA Mansoek genoem. Nie juis die kommentaar van ’n verligte man in die een-en-twintigste eeu nie.

Sedertdien het ek agtergekom dat Kirk sy konserwatiewe en hatige sieninge netjies verpak in ’n redelike stemtoon, kalm uiterlike, gerugsteun deur Bybelse aanhalings en die skynbare bereidheid om in gesprek te gaan met dié wat anders as hy dink. So het hy byvoorbeeld gesê dat swart vroue soos Michelle Obama en Ketanji Brown moes staat maak op regstellende aksie om êrens te kom, want hulle het nie die nodige breinkrag om op meriete te vorder nie. Sy mees ontstellende, en waarskynlik mees ironiese stelling, was dat ’n sekere aantal sterftes aan vuurwapengeweld aanvaarbaar is om Amerikaners se burgerregte te beskerm. In ’n land waar massaskietvoorvalle in skole en op kampusse feitlik daagliks plaasvind, is dit ’n aanvegbare standpunt wat geen Christen behoort in te neem nie.

Ironies genoeg, was hy juis besig om oor vuurwapengeweld te praat toe hy geskiet is.

.......
Die aanname, ontdaan van enige feitelike bewyse, was dat die skieter linkse politieke sieninge handhaaf.
.......

Donald Trump, wat nie homself sover kon bring om kommentaar te lewer toe verkose amptenaar Melissa Hortman en haar man enkele maande gelede in hulle huis doodgeskiet is, het dadelik beveel dat die Amerikaanse vlag dwarsoor die land halfmas gevlieg moes word. Verskeie konserwatiewe kommentators het dadelik begin haat blaas en burgeroorlog teen die “leftist radicals” belowe. Die aanname, ontdaan van enige feitelike bewyse, was dat die skieter linkse politieke sieninge handhaaf.

Hulle moes hulle woorde sluk toe die skieter homself uiteindelik aan die owerhede oorhandig het, nadat sy pa hulle gekontak het. Terwyl hyself nie as Republikein of Demokraat geregistreer is nie, het hy grootgeword in ’n Republikeinse huishouding wat Trump ondersteun. Van veel groter relevansie: Hy het hom skynbaar vereenselwig met Nick Fuentes se Groyper-beweging. Fuentes is selfs verder regs as Kirk, en het op meer as een geleentheid sy volgelinge aangehits om Kirk se openbare geleenthede te ontwrig. Fuentes beweer natuurlik dat sy volgers verkeerdelik as sondebok vir hierdie misdaad voorgehou word.

Ek let twee kommerwekkende tendense op. Die eerste is dat almal, links en regs op die politieke spektrum, hande wring en die geweld veroordeel, wat natuurlik korrek is. Maar in die proses begin hulle Kirk se sieninge legitimeer en sy redelikheid ophemel asof dit sy sieninge minder haatlik maak. Maak nie saak hoe redelik en hoe “Bybels” Kirk se sieninge verpak is nie, dit bly steeds onderdrukkend en vervreemdend teenoor swart mense, LGBTQ indiwidue, vlugtelinge, transgender indiwidue en vroue. Kirk se vooroordele word nou witgewas asof dit nie so erg is nie.

........
Daar is geen leierskap in die konserwatiewe gemeenskap wat geweld beslissend veroordeel en wat die steun van die grootste aantal konserwatiewes wegdra nie.
........

Die tweede tendens is dat politieke leiers, veral die konserwatiewe leiers met Trump voor in die koor, hulle hande was aan die feit dat politieke geweld al meer genormaliseer word. Nancy Pelosi se man word met ’n hamer aangeval en dit word spottenderwys afgemaak. Melissa Hortman word vermoor en die president vind dit nie noemenswaardig nie. Hoeveel mense onthou nog dat iemand gesterf het die dag toe Trump se oor geskiet is? Ek dink nie Trump self het eens verwys na die afgestorwene nie.

Daar is geen leierskap in die konserwatiewe gemeenskap wat geweld beslissend veroordeel en wat die steun van die grootste aantal konserwatiewes wegdra nie. Dalk daarom dat regses mekaar nou begin vermoor? Maar waar laat dit die gewone Amerikaner? En waar laat dit die kommerwekkend groot aantal Suid-Afrikaners wat gebeure in Amerika met skynbare goedkeuring dophou?

Lees ook:

Sluipmoord

Wat sê Bettina? Om te skiet of nie te skiet nie?

Wat sê Bettina? Trump, Iran, Los Angeles en Adriana Smith

Die einde van die Amerikaanse republiek?

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?

Nag van die Zombies

Die rede waarom Donald J Trump ’n beter keuse vir die VSA en die wêreld is

LitNet Akademies Weerdink: Die ontwrigting en radikalisering van die Amerikaanse demokratiese politieke proses deur Donald Trump

Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top