Wat sê Bettina? Trump, Iran, Los Angeles en Adriana Smith

  • 1

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Dis soms so maklik om te vergeet dat daar agter elke politieke besluit menselewens is wat geraak en soms vernietig word.

So byvoorbeeld is die fokus van elke mediaberig vandag waarskynlik Trump se besluit om  Iran aan te val. En dit is Trump se besluit. Anders as wat grondwetlik van hom vereis word, het hy nie die inligting waarop hy reageer het, en die besluit oor wat gedoen moet word, na die Amerikaanse Kongres geneem nie. Ek is verstom dat hy nog nie in ’n staat van beskuldiging geplaas is nie. Dit is die beste bewys van hoe magteloos die sogenaamde grootste demokrasie in die wêreld is om fascisme te beveg.

Maar wat is die gevolge? Die New York Times berig dat daar nie betroubare inligting is oor presies waar die verrykte uraan wat in Iran se besit is, gehou word nie. Heel moontlik het Trump se aanval dan nie die uraan vernietig nie, en dan het hy konflik begin vir basies geen voordeel nie. Dis tipies van hoe Trump besluite neem. Indien dit wel so is dat Iran se verrykte uraan veilig is, het Trump net daarin geslaag om te verseker dat Iran, en elke ander land in die Midde-Ooste wat daartoe in staat is, nou in ’n wedloop is om so vinnig as moontlik kernwapens te ontwikkel. Terloops, Israel het beweer dat Iran alreeds kernwapens het. Chris Murphy, die Amerikaanse Demokratiese senator op die buitelandse-verhoudinge-komitee, het dit op Bluesky betwis en gesê Amerikaanse intelligensie het so laat as verlede week nog daarop gewys dat Iran nie kernwapens het nie. Trump het klaarblyklik besluit om sy eie intelligensienetwerk se inligting te verwerp en op sy Israeli-bondgenoot se woord staat te maak.

Iran kan besluit om die Straat van Hormuz te sluit, wat beteken dat tot soveel as ’n derde van die wêreld se olie en ander gas en energie dan nie vervoer sal kan word nie. Petrolpryse sal binne dae of weke die hoogte inskiet, met voedselpryse wat kort daarna sal volg. Nie net Amerika en Israel sal geraak word nie; ook ons hier in Suid-Afrika en mense in Europa sal die effek voel. Vir Amerika, waar mense se voertuie amper net so belangrik as hulle vuurwapens is, sal dit ’n energiekrisis veroorsaak. Dit beteken Trump sal dan moet reageer om die Straat oop te kry, deur diplomasie of meer waarskynlik deur verdere magsvertoon. Dit beteken oorlog met Iran, en grootskaalse destabilisasie in die Midde-Ooste. Soos met enige konflik is dit burgerlikes, en meer spesifiek vroue en kinders, wat aan die kortste end sal trek. Trump en sy gesante het waarskynlik alreeds aandele in die belangrikste wapenmaatskappye uitgeneem, so hulle sal net ryker word.

Vergelyk dit met die volksmoord in Gaza, waar vroue en kinders uitgemoor word terwyl hulle probeer om kos in die hande te kry. Hoekom verbind ek Trump spesifiek, en meer breedweg Amerika, hiermee? Israel sou nie kon volhou met hulle aanvalle as hulle nie militêre en finansiële steun van Amerika ontvang het nie, en as hulle nie doodseker was dat Amerika elke poging van die Verenigde Nasies om hulle te stop, sou veto nie.

Binne sy eie land gaan dit nie veel beter met Trump nie. Hy het die afgelope ruk te kampe gehad met heelwat protes teen sy hardhandige immigrasiebeleid – ICE wat mense links en regs arresteer sonder om behoorlik vas te stel of hulle wettige immigrante is. Politici wat hulle oorsigrol probeer uitoefen, word ook met geweld hanteer. Daar word verder wyd geglo dat die pastoor wat ’n hooggeplaaste politikus in Minnesota en haar man vermoor het en ’n ander politikus en sy vrou aangeval het, ’n politieke agenda uitgevoer het. Beide politici was lede van die Demokratiese Party, en die lys wat in sy voertuig gevind was, het die name van ander Demokrate, insluitend Tim Walz, bevat. Trump word dalk nie direk met hierdie moordenaar verbind nie, maar die vraag kan gevra word of die aanvaller sou opgetree het indien hy nie van Trump en sy genote die boodskap gekry het dat politieke geweld nou aanvaarbaar is nie.

...
Boonop was daar heelparty videografiese bewyse hoedat joernaliste  geteiken was en geskiet is om hulle te intimideer.
...

In Los Angeles het protesoptogte teen ICE se beleid om enigeen wat hulle verdink daarvan dat hulle onwettige immigrante is, te arresteer, Trump laat besluit dat dit nodig is om militêr in te gryp. Dit ten spyte van die feit dat die optogte grootliks vreedsaam was, en die polisie van mening was dat hulle die situasie onder beheer het. Die goewerneur, Gavin Newsom, ’n Demokraat, was heeltemal geïgnoreer en glad nie in ag geneem toe Trump hierdie besluit geneem het nie. Boonop was daar heelparty videografiese bewyse hoedat joernaliste  geteiken was en geskiet is om hulle te intimideer. Nog bewys dat Trump van sy Israeli-bondgenoot geleer het om nie joernalistieke vryheid te respekteer nie?  

In ICE se hardvogtigste arrestasies is kinders van hulle ouers geskei, siek mense medikasie geweier, en na bewering mense ingeprop in selle waar hulle nie eens genoeg ruimte gehad het om te lê wanneer hulle slaap nie en regop moes sit en slaap.

Dis alles bewyse van hoe ontneem van menslikheid Trump se onderdane optree, met sy goedkeuring.

...
Die familie is nou opgesaal met ’n hospitaalrekening wat hulle bankrot kan maak, vir mediese ingrypings wat hulle nie wou hê nie en wat waarskynlik uit ’n regsoogpunt onnodig was.
...

Die een wat egter grootliks onder die radar geskied het, is die geval van die 31-jarige verpleegster Adriana Smith, ’n Georgia-bewoner. In Februarie vanjaar is Smith breindood verklaar. Sy was toe agt weke swanger. Plaaslike wetgewing maak enige aborsie na ses weke onwettig. Dokters het toe besluit om haar kunsmatig aan die lewe te hou totdat die baba gebore kan word, teen die familie se uitdruklike wense in. Ook die prokureur-generaal vir Georgia het in ’n verklaring gesê dat hulle dit nie as aborsie beskou wanneer iemand van lewensondersteuning verwyder word nadat hulle breindood verklaar is nie. Die dokters het nogtans voortgegaan. Die babatjie is op 13 Junie deur noodkeisersnee verwyder, op ses maande. Alhoewel die hospitaal weier om mediese inligting bekend te maak, word daar gespekuleer dat Smith se liggaam begin nekrotiseer het en dat dit daarom nie moontlik was om die baba verder te laat ontwikkel nie. Die heel ergste? Die familie is nou opgesaal met ’n hospitaalrekening wat hulle bankrot kan maak, vir mediese ingrypings wat hulle nie wou hê nie en wat waarskynlik uit ’n regsoogpunt onnodig was. Dis behalwe die voortgesette mediese ingrypings om die baba aan die lewe te probeer hou, en sonder inagneming van enige toekomstige mediese sorg wat hy mag benodig.

Van swangerskap tot geopolitiese ingrypings het die ses maande van Trump se regering nog net gif tot gevolg gehad. Dis te veel gevra om te hoop dat die Amerikaanse Kongres hom in ’n staat van beskuldiging sal plaas en hom uit die kussings lig. Maar die vraag bly staan: As hy in ses maande soveel vernietiging kon aanrig, wat gebeur met die oorblywende drie jaar en ses maande van sy bewind, met die aanname dat hy vreedsaam sal afstand doen van mag? Kan die wêreld sy chaos vir so lank nog bekostig?

Lees ook:

Seen elsewhere: Domestic aggression turning international

Trump se uitvoerende bevele: Ses areas waarvan lande in Afrika en die Globale Suide moet kennis neem

Die dwaasheid van Israel se aanval op Iran se kernaanlegte

  • 1

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Het iemand hoor sê dat die Amerikaners baie belangstel in die antimoon wat onlangs in Iran ontdek was. Dat dit dalk 'n groot rol speel in die gebeure wat ons nou sien afspeel. Hoe waar dit is, die weet ek egter nie. China produseer egter die meeste antimoon, wat 'n kopseer vir die VSA is. Die militere industriële komlpleks se mag en onvloed is welbekend...Politieke prosesse is wereldwyd ondergeskik aan die belange van rykes en magtiges. Indien waar, sal dit mens geensins verbaas. Daar is 'n ou gesegde in die politiek daar: Right wing, left wing, same bird.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top