Die dwaasheid van Israel se aanval op Iran se kernaanlegte

  • 2

 ...
Vandag, soos vantevore in hierdie eeu, berus Israeliese én Amerikaanse vrese oor ’n kerngewapende Iran op ’n stel foutiewe en anachronistiese aannames oor Iran en, belangriker, etlike misvattings oor kernafskrikking.
...

Vir meer as twee dekades reeds waarsku Israeliese regeringsamptenare dat ’n kerngewapende Iran ’n eksistensiële bedreiging vir Israel sal inhou. Beide Israel en opeenvolgende Amerikaanse administrasies, veral sedert dié van voormalige president George W Bush, het op allerlei wyses én telkemale te kenne gegee dat ’n Irannese kernwapen met hand en tand beveg sal word. Israel se aanval op 13 Junie 2025 (en verskeie ander kort daarna) op Iran se kernaanlegte (onder andere dié by Natanz, Isfahan en Fordow), met inbegrip van sy ballistiesemissielprogram en wetenskaplikes belas met kernwapenontwikkeling, volg in die spoor van ’n wye verskeidenheid aksies wat in onlangse tye deur Israel onderneem is om die ontwikkeling van ’n Irannese kernwapen te stuit. Dié aksies sluit in die ontwikkeling en ontplooiing van die Stuxnet-rekenaarvirus gedurende 2007 (wat ten doel gehad het om die Irannese uraanverrykingsprogram tot stilstand te knars) én die buitegeregtelike teiken van Irannese wetenskaplikes verbonde aan dié land se kernwapenprogram.

Jare lange Israeliese dreigemente om Irannese kern- en militêre teikens te tref, het dus nou ’n werklikheid geword, wat ’n beduidende eskalasie in betrekkinge tussen dié twee lande meebring. Ofskoon die VSA enige medepligtigheid aan die aanval ontken, sal Washington waarskynlik nie die toorn van Iran ontsien nie – “guilty by association”, soos die spreekwoord lui.

Israel se aanvalle op Iran, met inbegrip van sy breër aksies om ’n Irannese kernwapen te stuit, is ’n strategiese mistasting. Gelees deur die bril van Israeliese regeringsamptenare, hou ’n kerngewapende Iran ’n eksistensiële bedreiging vir Israel in, waarlangs dit haas onmoontlik sal wees vir Israel om sy voortbestaan te verseker. Luide krete van “dood aan Amerika” en “dood aan Israel”, wat weliswaar dikwels deur Irannese geestelikes geuiter word, sal vervolgens ’n werklikheid word ná die ontwikkeling van ’n Irannese kernwapen. Die skakel tussen die vurige retoriek van Irannese geestelikes en die algehele verwoesting van Israel aan die hand van Irannese kernwapens is dus, vanuit hierdie perspektief beskou, onbetwisbaar en vanselfsprekend.

Vandag, soos vantevore in hierdie eeu, berus Israeliese én Amerikaanse vrese oor ’n kerngewapende Iran op ’n stel foutiewe en anachronistiese aannames oor Iran en, belangriker, etlike misvattings oor kernafskrikking. Inderwaarheid kan Israel en die res van die internasionale gemeenskap met ’n kerngewapende Iran saamleef. 

Westerse persepsies van Iran

In die nadraai van die Islamitiese Revolusie van 1979 het Iran ’n muishondstaat in die oë van die internasionale gemeenskap geword. Vurige anti-Amerikaanse en anti-Westerse retoriek was kenmerkend van die onmiddellike postrevolusionêre konteks in Iran, ’n ervaring wat Westerse persepsies van Iran onherroeplik beïnvloed het. Hierlangs word Iran, in die strategiese gedagtegang van Westerse waarnemers en beleidsbepalers, hoofsaaklik uitgekryt as ’n revolusionêre beweging (en nie ’n rasionele en strategies ingestelde staat nie) wat uitsluitlik ten doel het om chaos in die Midde-Ooste aan te wakker en grootskaalse verwoesting te saai.

Dié persepsie van Iran, een wat klaarblyklik permanent ingeëts is in Westerse opvattings, is geheel en al verwyderd van ’n begrip van die kompleksiteit van die politieke orde in Iran én die pragmatiese en veiligheidsoekende beweeggronde van Irannese optrede in sy eksterne omgewing. Ofskoon Westerse waarnemers dit dikwels buite rekening laat of bloot misken, wys verskeie studies daarop dat Irannese optrede die uitkoms van diepgaande gesprekke en meningsverskille (dus, dialoog) tussen verskeie rolspelers is. Vervolgens is Iran nie ’n monolitiese entiteit nie – verskeie magsgroeperinge oefen ’n invloed op dié land se interne en eksterne beleide uit. In ’n uiters noukeurige ondersoek na die beweeggronde van Irannese buitelandse beleid wys Vali Nasr in Iran’s grand strategy: a political history (2025) dat Westerse persepsies van Iran as ’n teokratiese muishondstaat geheel en al misplaas is en dat twee oorwegings, te wete eksterne aggressie en interne ineenstorting, dié land se optrede in sy eksterne omgewing rig.

Nasr is nie alleen in hierdie gevolgtrekking nie – etlike Iran-kenners en kenners van die internasionale politiek wys daarop dat Irannese buitelandse beleid deur pragmatisme en veiligheidsoekende gedrag gekenmerk word. Dina Esfandiary en Ariane Tabatabai noem in hul boek Triple axis: Iran’s relations with Russia and China (2021) dat kontemporêre Iran nie ten doel het om sy buurlande omver te werp of om die saak van ’n (Sjia) Islamitiese revolusie in ander dele van die Moslemwêreld te bevorder nie. Inteendeel, Iran het veel eerder ten doel om streekshegemonie na te streef, met as vertrekpunt dat Irannese hegemonie in sy omgewing – en nie dié van enige ander land nie – ononderhandelbaar is. Westerse waarnemers vertolk dikwels Iran se optrede in sy streekgebied as “ekspansionisties”. Hierteenoor verklaar Teheran dié optrede deur ’n veiligheids- en verdedigingslens. Die goue draad wat die pre- en postrevolusionêre Irannese buitelandsebeleidslandskap saambind, voer Ariane Tabatabai in No conquest, no defeat: Iran’s national security strategy (2020) aan, is die diepe drang na streekshegemonie.

Eindelik wys dié en ander waarnemers dat Westerse persepsies van Iran as ’n vurige ideologies gedrewe beweging hoegenaamd nie tred gehou het met ontwikkeling en uitvoering van Iran se buitelandse beleid nie, wat ’n miskenning van Irannese pragmatisme in sy eksterne omgewing meebring. Soortgelyk aan ander lande in die internasionale politiek is Iran se buitelandse beleid nie minder veiligheidsgesentreerd, rasioneel en strategies nie.

Misvattings oor ’n kerngewapende Iran

Vrese oor ’n kerngewapende Iran spruit gewoonlik voort uit drie argumente: Allereers sal ’n Irannese kernwapen of kernwapens Iran van ’n kernwapenskild voorsien wat dan gebruik kan word om meer en dieper steun aan handlangeroorloë (“proxy wars”) en terreur in die streek te verleen; tweedens sal Iran kernwapens aan terreurgroepe oordra, wat die skrikbeeld van kernterreur met rasse skrede verhoog en voorts nie voldoende beheer oor sy kernarsenaal uitoefen nie; en derdens sal ’n direkte kernaanval op Israel uitgevoer word.

Dié argumente tas mis. Op die keper beskou is die argumente óf uiters oordrewe óf geheel en al ongegrond. Argumente dat ’n Irannese kernwapenskild dié land sal besiel om skanddade uit te voer, strook hoegenaamd nie met die geskiedrol van kernwapenstate nie. Wanneer state tot die kernwapenklub toetree, gaan dié stap gepaard met ’n diepe besef dat hulle met ’n valkoog deur grootmoondhede en ander vername lande in die internasionale politiek dopgehou sal word, dermate dat hulle ’n teiken in die oë van die grootmoondhede en ander lande word. Eerder as dapper en aggressiewe optrede, bevorder kernwapens matigheid en omsigtigheid, soos die geskiedenis van Indië en Pakistan (met die onlangse konflik in Mei 2025 as bloot nog ’n voorbeeld van die beteuelende uitwerking van kernwapens), Maoïs-China en Noord-Korea duidelik wys. Vroeër eerder as later leer elke kernstaat die les dat kernwapens slegs een doel dien: kernafskrikking. Kortom, buiten nasionale oorlewing dien kernwapens weinig ander strategiese nut. ’n Kerngewapende Iran sal hierdie les met min moeite leer. In elk geval sou enige aggressiewe optrede van Iran die primêre beweeggronde van Irannese optrede in sy eksterne omgewing, naamlik veiligheid en oorlewing, teenwerk.

Insgelyks is vrese oor die oordrag van kernwapens aan terreurgroepe of die gebrek aan beheer oor Iran se kernarsenaal nie nuut nie; dis ’n vrees wat hoofsaaklik spruit uit die onweerlegbare feit dat Iran die wêreld se voorste staatsondersteuner van terreur is. Vrese oor kernterreur, en die moontlikheid van staatsoordrag van kernwapens, is uiters oordrewe en meer tekenend van die ryke verbeelding van Hollywood-draaiboekskrywers as die werklikheid. Waar state kernwapens aan terreurgroepe oordra, kan dié state maklik uitgewys word, ’n werklikheid wat kernwapenoordrag in die eerste plek sal ontmoedig. Voorts sal kernstate uiters versigtig wees om hul uiters duur belegging in kernwapens aan groepe oor te dra wat nóg vertrou nóg beheer kan word. ’n Bykomende afskrikkingswaarborg teen staatsoordrag van kernwapens is die snelle ontwikkeling van ’n wetenskap en kuns bekend as kern- forensiese wetenskap (“nuclear forensics”) met as uitgangspunt die forensiese ondersoek van die gebruik van kernwapens. Dit is vandag moontlik om die oorsprong van kernmateriaal byna moeiteloos met die bron daarvan te verbind, selfs nadat ’n kernbom ontplof het.

Terselfdertyd is daar voldoende gronde vir optimisme dat Iran doeltreffende beheer oor dié land se kernarsenaal sal uitoefen. Die vrees wat dikwels geopper word, is dat die Irannese Revolusionêre Korps (IRK) die “bewaarders” van enige Irannese kernwapens sal wees en dat dié groep, wat op sigself as ’n terreurgroep gebrandmerk word, kernwapens aan terreurgroepe sal oordra. Kernstate het egter elke moontlike aansporing om hul kernarsenaal met omsigtigheid te bestuur. Trouens (soos die ontslape Amerikaanse politieke wetenskaplike Kenneth Waltz tereg uitgewys het), ’n enkele militêre faksie (soos in die geval van die IRK) is in ’n soortgelyke posisie as enige ander kernstaat wat as ’n eenheidstaatrolspeler (“unitary state actor”) uitgebeeld word: Wat kan sodanige faksie met kernwapens doen en wat kan dit nie doen nie? Dit is noemenswaardig dat selfs niestaatlike rolspelers dit haas onmoontlik vind om aan enige ander rede – buiten kernafskrikking – vir die gebruik van kernwapens te dink. Dit is verregaande om te dink dat militêre faksies binne Iran aan gebruike vir kernwapens buiten kernafskrikking kan dink. Tot op hede het kernstate hulself daarvan weerhou om kernwapens aan ander partye oor te dra, en indien die IRK sy posisie in die Irannese politiek op die prys stel en Irannese oorlewing vooropstel, sal dié faksie elke moontlike aansporing hê om nie kernwapens aan ander partye oor te dra nie.

Dan is daar die derde argument, te wete ’n direkte Irannese kernaanval op Israel. Van alle moontlike scenario’s is dié een die onwaarskynlikste. Soortgelyk aan alle ander kernstate sal die Irannese leierskap ’n premie op oorlewing plaas. ’n Irannese kernaanval op Israel sou waansinnig wees. Die pessimis sal hiér waarskynlik sterk terugstoot en noem dat Iran nie vanuit ’n Westerse begrip van rasionaliteit en wêreldbeskouing benader moet word nie. Nie net bied só ’n waarneming (met as uitgangspunt dat Iran uniek irrasioneel, vurig ideologies en strategies onbeholpe is) ’n geykte blik op die Irannese politiek nie, maar gelukkig berus die werking en doeltreffendheid van kernafskrikking nie op rasionaliteit nie, maar op vrees. Voorts voer sommige waarnemers ook aan dat die kernafskrikkingsverhouding tussen Israel en Iran nie met dié van die VSA en eertydse Sowjetunie vergelyk kan en moet word nie. In die geval van laasgenoemde verhouding het die veiligheid wat die skeiding van kontinente en oseane bring, dié verhouding gekenmerk. Hierteenoor sal die kernafskrikkingsverhouding tussen Israel en Iran deur nabyheid gekenmerk word, wat oënskynlik twee gevaarlike gevolge meebring: Een, dit kweek kwesbaarheid; en twee, dit verhoog die waarskynlikheid van misrekening met rasse skrede. Kernafskrikking tussen dié twee lande kan egter werk. Beide lande sal terdeë daarvan bewus wees dat die gebruik van slegs ’n paar kernwapens tot wedersydse verwoesting kan lei. Terselfdertyd kan ek noem dat kwesbaarheid en die moontlikheid van misrekening tot matige optrede – en nie dapper en aggressiewe optrede nie – in ’n wêreld met kernwapens lei; in ’n konvensionele wêreld, een sonder kernwapens, lei kwesbaarheid en misrekening tot oorlog.

Israel kán met ’n kerngewapende Iran saamleef

Daar is voldoende redes om te glo dat Israel en die internasionale gemeenskap wel met ’n kerngewapende Iran kan saamleef. Nie net is Israeliese en Amerikaanse persepsies van die Irannese interne en eksterne politiek anachronisties nie, maar ’n kerngewapende Iran bied nié ’n eksistensiële bedreig vir Israel, die VSA of die wêreld nie. Dat Iran se optrede in sy buitelandse omgewing soms ’n weerbarstige probleem vir Israel en die VSA is, is wel die geval, maar “weerbarstigheid” moet nie aan “eksistensiële bedreiging” gelykgestel word nie. Dat daar groeperinge in die Irannese politieke bestel bestaan wat weliswaar Israel geheel en al uit die Midde-Ooste wil verdryf, is onbetwisbaar. Dít is egter nie die volle verhaal nie.

Wanneer daar dieper na die geskiedenis van Iran se buitelandse beleid gekyk word, sien ons dat Iran – nes ander lande in die internasionale politiek – sensitief is vir die koste van hul optrede in hul eksterne omgewing, ’n werklikheid wat soveel te meer sal geld in ’n wêreld waarin kernwapens die kostes verbonde aan avontuurlustige optrede met rasse skrede verhoog. Stabiliteit, en nié ’n toename in oorlog nie, sal in alle waarskynlikheid die uitkoms wees van ’n Midde-Ooste waarin beide Israel en Iran oor kernwapens beskik. Dié gevolgtrekking spruit nie voort uit die rasionaliteit en ideologiese uitgangspunte van dié twee lande nie, maar uit die omsigtigheid wat kernwapens bring. Israeliese aksies om ’n Irannese kernwapen te stuit, soos gesien op 13 Junie en daarna, gaan in elk geval nie die Irannese drang na kernwapens omkeer nie. ’n Gevoel van onveiligheid dryf die Irannese kernwapenprogram – en enige staat wat onveilig voel, gaan nie gekeer word om waarskynlik die enigste waarborg teen ’n vernietigende inval – te wete kernwapens – te ontwikkel nie. Trouens, Israel se aanval gaan in alle waarskynlikheid Irannese besieling om tot die kernwapenklub toe te tree, versterk.

Lees ook:

Die komplekse konflik tussen Israel en Iran (17 Junie 2025)

  • 2

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Daar is niks kompleks nie. Dit gaan blatant oor hulpbronne en die feit dat daar 'n spoorlyn vanaf China deur Russiese federasie tot in Iran is. Die week wat die eerste goederetrein uit China in Teheran aankom, val Israel en VSA aan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top