Die komplekse konflik tussen Israel en Iran (17 Junie 2025)

  • 1

Die wêreld van geopolitiek om ons is ’n uiters komplekse spel met politieke akteurs wat elkeen oortuig is van die geregverdigheid van hulle optrede. Dan is daar hoofakteurs wat die spel fyn dophou, en natuurlik die spelers met mindere rolle en die gehoor ,of toeskouers, wat op verskillende maniere deur die spel beïnvloed word. En in 2025, sou ’n mens kon byvoeg, is daar ook nog Donald Trump om mee rekening te hou!

Israel en Iran is reeds vir jare in ’n stryd gewikkel, om verskillende redes, en elkeen van die twee lande het komplekse, maar ook strategiese, politieke, ekonomiese en militêre posisies in die Midde-Ooste. Dit is nie alleen lande wat vyandig teenoor mekaar staan nie, maar elkeen van die lande is eintlik ’n matriks van komplekse belange. Die moderne Israel beleef ’n bestaanskrisis sedert die totstandkoming daarvan na die Tweede Wêreldoorlog op 14 Mei 1947. Die moderne Iran kom op 1 April 1979 tot stand as die Islamitiese Republiek van Iran, ’n teokrasie onder die leiding van ajatolla Ruhollah Khomeini, na die val van die Sjah van Iran in 1978. Beide lande het natuurlik ’n geskiedenis wat oor minstens 4 000 jaar strek, maar hier bepaal ek my by die onlangse gebeure die afgelope week.

Die Israeli-aanval op Iran op 13 Junie 2025 was gemik op kernaanlegte, militêre installasies en sleutelpersoneel wat ’n duidelike streeks- en globale impak gehad het. Die aanval is uitgevoer met vliegtuie, hommeltuie en missiele. Dit was fyn beplande aanvalle op sleutel- militêre bevelvoerders en kernwetenskaplikes, wat tot hulle dood gelei het. Alhoewel die aanval self nie kenners verras het nie, was die tydsberekening baie betekenisvol. Donald Trump het die moontlikheid van so ’n aanval gesuggereer in die laaste twee weke voor die gebeure, maar was negatief daaroor, aangesien dit die onderhandelinge tussen Iran en die VSA in Oman in die wiele sou ry. Die Israeli’s sou nie die aanvalle kon loods sonder Amerikaanse militêre infrastruktuur, wapens en intelligensie nie. Ek twyfel of Donald Trump toestemming vir so aanval sou gegee het, maar hy was beslis op die hoogte gehou van die gebeure. Daar is wel sprake van spanning tussen Trump en Netanyahu, maar in dié geval is ek van mening dat Netanyahu die sterkste persoonlikheid in die verhouding het en dat Trump ’n tipe wisselvalligheid openbaar met betrekking tot konflik. Dit het hom reeds die bynaam Taco besorg oor sy wispelturigheid rakende tariewe – dit staan vir “Trump always chickens out”. Dit natuurlik tot Trump se groot misnoeë!

Iran bevind hom tans in ’n verswakte militêre posisie met omvangryke sanksies teen hom op grond van sy inisiatiewe om ’n kernmoondheid te word, asook weens die feit dat Sirië se vorige leier, Bashar al-Assad, uit die kussings gelig is en Sirië tans groot onstabiliteit beleef. Die gevoelige knou wat die Israeli’s aan Hezbollah en Hamas toegedien het in die omvangryke militêre weerwraakinisiatiewe in Gaza en Libanon na aanleiding van die 7 Oktober 2023-terreuroptrede deur Hamas, het Iran se invloed in die streek verder verminder. In die verlede kon Sirië en Iran wel op Russiese steun peil trek, maar die konflik in Oekraïne en onstabiliteit in Sirië het Iran van dié steun ontneem. Met verswakte lugbeheer oor Iran en geen lugbeheer oor Sirië nie, kon 200 Israeli-vliegtuie met min risiko hulle sendings voltooi.

Dit lei geen twyfel nie dat eerste minister Netayahu die strategiese gaping benut het wat ontstaan het met ’n Trump-administrasie wat Israel se vrees vir ’n Iran met ’n kernvermoë deel. Verder het die VSA ook probleme met Iran wat die Houthi-rebelle ondersteun en wat skeepvaart in die Rooi See uit die berge in Jemen ontwrig het met hommeltuie en missiele, wat waarskynlik deur Iran voorsien is. Iran voorsien ook hommeltuie aan Rusland in sy konflik met Oekraïne. Nou, met die huidige missiele en hommeltuigaanvalle teen Israel, kry Rusland waarskynlik nie die voorraad uit Iran nie.

Iran het ook nie op hom laat wag nie en het dadelik met teenaanvalle op Israel begin deur meer as 100 hommeltuie en missiele op Israel te lanseer. Sedert 13 Junie is hierdie heen-en-weer-lugaanvalle aan die gang tussen Tel Aviv en Tehran met baie skade aan geboue en infrastruktuur en natuurlik lewensverlies aan beide kante. Aangesien die konflik feitlik regstreek oor televisie wêreldwyd gebeeldsend word, was daar op 16 Junie 2025 ’n surrealistiese geval waar ’n Irannese nuusuitsending deur ’n bomaanval ontwrig is. Israel het veral gefokus op drie kernaanlegte, naamlik dié by Natanz, Isfahan en Fordow. Dit wil voorkom asof die skade by die Natanz-kernverrykingsaanleg omvangryk was. Baie van die fasiliteite in Iran is egter ondergronds, en slegs die VSA beskik oor bomtegnologie om deur sulke bunkers te dring. Die risiko vir kernkragbesoedeling en omvangryke bestraling is egter baie groot indien so ’n fasiliteit vernietig word en dit kan die konflik ernstig laat eskaleer.

Wat is die implikasies van die Israeli-aanval op Iran en Iran se militêre reaksie daarop? Die eerste implikasie is natuurlik groter onsekerheid in die geopolitieke omgewing in die Midde-Ooste, en dit het aanleiding gegee tot ’n 8%-styging in die olieprys. In die tweede plek het die G7-beraad wat tans in Alberta, Kanada, plaasvind, se agenda verander en die konflik in die Midde-Ooste staan tans bo-aan die lys. ’n Groot aantal lande het Israel wyd gekritiseer oor die aanval en die saak is geëskaleer na die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies, maar soos verwag, kon geen besluit geneem word nie, vanweë die Amerikaanse veto op die Veiligheidsraad. Is ’n eskalasie van die konflik moontlik? Dit is te betwyfel of die konflik verder sal eskaleer as tussen Israel en Iran, met ’n klein moontlikheid dat van die ander niestaatlike akteurs, soos die Houthi’s in Jemen of die Sjia Moslem paramilitêre groepe in Irak, op klein skaal kwelwaarde of asimmetriese mag kan toevoeg. Rusland het geen kapasiteit om die konflik te beïnvloed nie, en ook nie Europa nie. Soos in Oekraïne, sal dit die VSA en China wees wat die konflik tussen Israel en Iran sal beperk. Iran gaan swakker uit die stryd tree, maar gaan nie sy ambisie om ’n kenvermoë te ontwikkel laat vaar nie. Soos Nood-Korea tans en Suid-Afrika voor 1994 glo Iran dat sy politieke staanplek in die wêreld erken sal word net as hy oor ’n kenvermoë beskik wat vergelykbaar is met dié van Pakistan en sy buurland Indië. Israel sal met groter beheer uit die stryd tree, maar nog dieper in die skuld by die VSA wees, en die wrewel in die Arabiese wêreld sal weer eens op baie hoë vlakke wees.

Was die aanval genoeg om Benjamin Netanyahu se baie prekêre politieke posisie te stabiliseer noudat Hezbollah en Hamas verswak het en Iran tegnologies afgetakel is? Donald Trump het hier seker ’n groter uitdaging om die eskalering van die konflik te probeer beperk sonder om te diep betrokke te raak op militêre gebied.

  • 1

Kommentaar

  • Marietjie Human

    Dit verg 'n goed oorlegte wetenskaplike om 'n komplekse situasie so goed in eenvoudige taal te beskryf. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top