Trump se uitvoerende bevele: Ses areas waarvan lande in Afrika en die Globale Suide moet kennis neem

  • 0

1 Inleiding

Donald Trump se vlaag van uitvoerende bevele (UB’s) hou tweeledige gevolge vir Afrika in. Eerstens voorspel dit gevaar vir verhoudinge met die kontinent, en tweedens bied dit geleenthede vir nuwe uitdagings en verwikkelinge. Dit is van kritieke belang vir lande in die Globale Suide en Afrika om die nuwe Amerikaanse administrasie se beleidsomgewing te verstaan ten einde voordeel daaruit te trek.

Daar is ses sleutelkwessies wat deur Trump se UB’s aangespreek word. Lae- en middelinkomstelande (LMIL’e) sal hieraan moet aandag skenk om buitelandse hulp, energievoorsiening, globale belastingvrystelling, direkte buitelandse beleggings, handelsbetrekkinge en gesondheidsvoorsiening deur middel van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) te ontvang.

Terwyl die Trump-administrasie voortgaan om hierdie UB’s te implementeer, en die vooruitsigte bestaan dat van die UB’s in howe betwis gaan word, bied hierdie UB’s ’n idee van die Trump-administrasie se oorkoepelende beleidsrigting.

2 Die ses areas

a) ’n Hersiening van Amerikaanse buitelandse hulpverlening

Die bevel versoek alle staatsdepartemente en agentskappe wat verantwoordelik is vir buitelandse hulpverlening om hulle programme en uitbetalings op te skort. Die implementering van die programme sal voortgaan slegs nadat dit vir doeltreffendheid en konsekwentheid hersien is. Dit moet ook binne 90 dae met Amerikaanse buitelandse beleid belyn word. ’n Beduidende herstrukturering van Amerikaanse buitelandse hulp sal waarskynlik op hierdie hersieningsproses volg.

Amerika is die wêreld se grootste hulpverskaffer aan die wêreld en Afrika. Teen die einde van 2023 is 64,7 miljard dollar wêreldwyd en 14,9 miljard dollar aan Afrika uitbetaal. Hierdie hulpbronne word bilateraal deur Amerikaanse federale agentskappe, insluitend USAID, die Departement van Buitelandse Sake en die Millennium Challenge Corporation (MCC) betaal. Fondse word ook multilateraal deur die VN, ontwikkelingsbanke en ander transnasionale organisasies, soos die G7 en GAVI (Vaccine Alliance), oorgeplaas. Daar is ’n netwerk van honderde organisasies, konsultante, nieregeringsorganisasies, en navorsings- en beleidsinstellings wat die programme op voetsoolvlak implementeer.

Die bevel stel dit ook pertinent dat geen ontwikkelingshulp aan LMIL’e beskikbaar gestel sal word indien dit nie met Amerikaanse buitelandse beleid belyn is nie. Dit is in ooreenstemming met die Trump-administrasie se beleid om Amerika eerste te stel. Daar gaan verder ’n algehele hersiening van Amerikaanse gesondheidsorg aan die ontwikkelende wêreld wees. Opvallend van die bevel is ’n staking van reproduktiewe-gesondheid-sorg en gelykheid ten opsigte van geslag. Die fokus is nou op die beskerming van vroue, kinders en gesinne.

Hulpverlening gaan waarskynlik nou aangewend word om Amerikaanse tegnologie in die buiteland te bevorder. Dit gaan gebeur deur middel van die internasionale Ontwikkelings- en Finansiële Korporasie (DFC). Die staking van projekte vir klimaatsverandering, die vermindering van finansiële bydraes vir multilaterale organisasies, en onttrekking uit VN-agentskappe word ook in die vooruitsig gestel. Voedselvoorsiening deur middel van die Wêreldvoedselprogram gaan egter voort.

b) Die herformulering van energiediplomasie

Energiediplomasie beteken die bevordering van ekonomiese groei, prysverlaging in die plaaslike energiemark, laer inflasie en minder afhanklikheid van oorsese verskaffers. Dit geld veral vir skaars minerale. Die poging om energiediplomasie te herformuleer kan positiewe gevolge vir die Globale Suide inhou. Eerstens kan die herformulering van energietransformering na energiesekuriteitproduksie beperkinge wat in LMIL’e bestaan, verslap.

Leiers van LMIL’e kan kies om hulle eie konteksspesifieke definisies van energiesekuriteit te bepaal. Dit sal hulle toelaat om plaaslike energiehulpbronne strenger te beheer. Dit is veral van toepassing op die vrystelling van koolwaterstowwe. Die benadering sal in ooreenstemming met die energiebeleid van die Trump-administrasie wees.

Tweedens is die Amerikaanse regering geïnteresseerd in die verkryging van skaars minerale. Afrika en verskeie lande in die Globale Suide beskik oor groot afsettings van hierdie hulpbronne. Die geleentheid bestaan vir die lande om met die Trump-administrasie te onderhandel vir die verkoop van die hulpbronne en om in ruil daarvoor ander voordelige handelstransaksies te ontvang, byvoorbeeld herbemagtiging van Agoa en die Algemene Sisteem van Voordele (GSP).

c) Die herroeping van die toepasbaarheid van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO; Engels OECD) se belastingooreenkoms kan die vloei van Amerikaanse direkte beleggings beïnvloed.

Trump het Amerika vrygestel van enige verpligtinge om die OESO se belastingooreenkoms te handhaaf. Lande wat Amerikaanse belastingooreenkomste nie nakom nie en diskriminerende belasting op Amerikaanse multinasionale organisasies hef, gaan ondersoek en gestraf word.

Dit het twee negatiewe gevolge vir LMIL’e. Eerstens: Indien ander lande Trump se voorbeeld volg, gaan dit moeilik vir LMIL’e wees om gunstige belastingaansporings aan buitelandse beleggers aan te bied. Dit mag buitelandse beleggings op kort termyn verhoog, maar op lang termyn gaan dit inkomste wat uit plaaslike belasting gehef word, nadelig beïnvloed. LMIL’e gaan ontneem word van noodsaaklike fondse vir openbare dienste soos onderwys, gesondheidsorg en infrastruktuur. Die armste lande gaan meer afhanklik van buitelandse hulpverlening raak.

Tweedens kan groot middelinkomstelande soos Brasilië, Indonesië en Suid-Afrika, wat aantreklik vir beleggers uit verskeie lande is, nou skepties staan teenoor die OESO se belastingooreenkoms. Die lande mag versigtig wees vir strafmaatreëls van die Trump-administrasie en besluit om nie Amerikaanse digitale tegnologie te gebruik nie. China mag munt hieruit slaan en alternatiewe tegnologie aan die lande verkoop.

d) Globale handelsbetrekkinge

Die Amerika Eerste-handelsbeleid bevorder een van Trump se sentrale verkiesingsbeloftes, naamlik om die Amerikaanse handelsbeleid in sy geheel te hersien. Daar is twee aspekte hiervan wat van belang vir LMIL’e mag wees. Eerstens het Trump opdrag aan die Amerikaanse handelsverteenwoordiger gegee om alle Amerikaanse handelsooreenkomste te hersien. Die doel is om wederkerigheid en konsessies van handelsvennote te ontvang. Tweedens is die handelsverteenwoordiger opdrag gegee om bilaterale of sektorspesifieke handelsooreenkomste met vennote te onderhandel ten einde toegang tot buitelandse markte te verkry.

Daar is groot onsekerheid oor wat Trump met die hersiening beoog. Die vraag is hoe LMIL’e geraak gaan word deur ’n hersiening van Amerikaanse handelsbeleid. Een moontlikheid is dat ’n element van wederkerigheid in voorkeurhandelsooreenkomste invoeg mag word. In effek beteken dit dat LMIL’e niewederkerige toegang tot die Amerikaanse mark ontvang. As voorbeeld: Colombia se koffie mag dalk ’n voorkeursmaak onder Amerikaners wees, maar Colombia gaan nie kan onderhandel vir voorkeurbehandeling ten opsigte van Amerikaanse digitale produkte soos slimfone en rekenaartoebehore nie. Dit is dus ’n eensydige handelsooreenkoms wat die Amerikaanse verbruiker gaan bevoordeel.

Watter lande en sektore gaan vir bilaterale handelsooreenkomste geprioritiseer word? Kenia is ’n sterk kandidaat om in aanmerking vir ’n vryehandelsooreenkoms te kom. Tydens Trump se eerste termyn is die moontlikheid reeds geopper om daardie land in te sluit. Daar is ook sprake om Afrikalande wat oor groot mineraalafsettings beskik, vir kritieke-minerale-ooreenkomste te nader.

e) Onttrekking uit die WGO om Amerikaanse betrokkenheid in globale gesondheidsorg te verander

Die onttrekking beëindig die oordrag van toekomstige Amerikaanse fondse, ondersteuning en hulpbronne na die WGO. Alle personeel wat by die WGO werk, gaan oor ’n tydperk van maande herroep en hertoegewys word na gesondheidsorganisasies en mediese instellings in Amerika. Die land dra ongeveer 15% van die WGO se totale begroting by en ’n onttrekking gaan die organisasie in sy fondamente skud. Trump se onttrekking uit die WGO kan die rigting van globale gesondheidsprogramme bepaal en LMIL’e in swakker gesondheidsorg laat. Die gaping kan China ook toelaat om groter invloed in globale gesondheidsorg te verkry.

f) Gevolge van vyandige verhoudinge met China

’n Hoofkomponent van die Amerika Eerste-handelsbeleid is ’n hersiening van die handelsbeleid met China. Dit kan gevolge inhou vir LMIL’e wat met beide Amerika en China handel dryf. Daar is groot onsekerheid oor hoe die beleid gaan afspeel. Dit kan voordelig vir LMIL’e wees indien Amerikaanse handel weg van China na die lande beweeg. Hulle kan egter ook ekonomies swaarkry indien ’n handelsoorlog besigheidsvertroue in die globale ekonomie ondermyn.

Daar is minstens twee maniere waarop ’n handelsoorlog kan oorspoel na LMIL’e in Afrika en die Globale Suide.

Eerstens gaan ’n Chinese ekonomiese krisis wat deur eksterne magte (soos Amerika) veroorsaak word, uitvoere van LMIL’e benadeel. Indien ’n hersiening van die handelsbeleid tot strafmaatreëls en sanksies gaan lei, kan China se ekonomie verder verlangsaam. Dit kan die vraag na Chinese goedere en dienste verminder en handel met China ernstig knou. Dit geld veral vir kommoditeite van LMIL’e na China.

Tweedens kan die Trump-administrasie sekondêre sanksies teen LMIL’e instel indien strafmaatreëls teen China nie die gewenste resultate lewer nie. Die doel van die sanksies sou wees om derde partye in Afrika en die Globale Suide te dwing om Amerika te kies en China te isoleer.

3 Samevatting

Een lyn wat regdeur die internasionale dimensie van Trump se Amerika Eerste-agenda loop, is die eksplisiete deprioritisering van multilaterale inisiatiewe ten gunste van bilaterale en eensydige inisiatiewe deur Amerika. Die VN word spesifiek met groot skeptisisme deur die nuwe administrasie bejeën. Dit is veral van toepassing op beleid ten opsigte van internasionale energie, klimaat, handel en gesondheidsorg. Dit is nog nie duidelik wat die administrasie se houding met betrekking tot multilaterale ontwikkelingsbanke soos die Wêreldbankgroep en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) is nie. Amerika is ’n hoofrolspeler in dié finansiële instellings, asook in streeksbanke soos die Afrika-Ontwikkelingsbank en die Asiatiese Ontwikkelingsbank. Amerika het beduidende finansiële en politieke invloed in al hierdie instellings.

Die UB’s verteenwoordig die beginfase van Trump se beleidsagendas en bied ’n voorsmaak van wat om verder te verwag. Dit is van kritieke belang vir LMIL’e om die beleid en veranderinge te verstaan ten einde die nuwe administrasie konstruktief en sinvol te benader.

Bibliografie

aljazeera.com. 2025. Trump’s 100-day scorecard: Executive orders, tariffs and foreign policy. https://www.aljazeera.com/news/2025/4/29/trumps-100-day-scorecard-executive-orders-tariffs-and-foreign-policy (22 Mei 2025 geraadpleeg).

bbc.com. 2025. Six Trump executive orders to watch. https://www.bbc.com/news/articles/cqld6wnv1rgo (25 Mei 2025 geraadpleeg).

federalregister.gov. 2025. 2025 Donald J Trump Executive Orders. https://www.federalregister.gov/presidential-documents/executive-orders/donald-trump/2025 (23 Mei 2025 geraadpleeg).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top