Wat sê Bettina? Om te skiet of nie te skiet nie?

  • 0

Prent van koeëldoppies: Canva

  • Bettina Wyngaard skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
........
Op 29 Augustus het Ian Cameron, LP, saam met twee van sy kollegas ’n oorsigbesoek aan die Philippi-polisiestasie gebring. Soos met die beste oorsigbesoeke was dit onaangekondig, wat beteken niemand kon voorberei vir hulle besoek en ’n netjies gesaniteerde polisiestasie voorhou nie.
........

Op 29 Augustus het Ian Cameron, LP, saam met twee van sy kollegas ’n oorsigbesoek aan die Philippi-polisiestasie gebring. Soos met die beste oorsigbesoeke was dit onaangekondig, wat beteken niemand kon voorberei vir hulle besoek en ’n netjies gesaniteerde polisiestasie voorhou nie.

Dis soos dit hoort. LP’s kan ’n ware idee kry van wat in hul oorsiggebied aan die gang is net as hulle nie verwag word nie. Dis natuurlik vir enigeen in beheer van ’n program om ’n bietjie huis skoon te maak as hulle vooraf kennis het dat iemand van die parlement daar ’n draai gaan maak, maar dit gee nie ’n ware beeld van wat aan die gang is in die kantoor nie. Ek onthou dat Johnny de Lange destyds by die Grahamstadse Justice Centre, soos dit toe geheet het, aangekom het om ’n bietjie te kyk wat ons doen. Ook onaangekondig. Ons almal het dit oorleef.

Wat Ian Cameron se besoek anders maak, is nie net die dramatiese manier waarop dit ten einde geloop het nie, maar die politieke stof wat net nie wil gaan lê nie. Cameron en sy twee kollegas is met bakstene aangeval terwyl hulle op pad terug was. Nie net is bakstene volgens Cameron na die voertuig gegooi nie, maar die drie aanvallers het boonop met bakstene deur die vensters na hulle geslaan. Sy manlike kollega het na beweer word sy bewussyn verloor nadat hy herhaaldelik teen die kop geslaan is met ’n baksteen. Dis nie seker watse beserings sy vroulike kollega opgedoen het nie, maar dit verg nie veel verbeelding om te dink wat met haar kon gebeur as haar twee manlike kollegas buite aksie gestel was nie..

Cameron het sy privaat vuurwapen gebruik en die een aanvaller geskiet en gewond. Dis hier waar die politieke vingerwysery begin. Politici is nie veronderstel om vuurwapens te dra nie, is die een argument. Natuurlik is die persone wat dit die hardste sê, dié wat in blouligbrigades, met polisiewagte en dies meer, ry. Natuurlik hoef hulle nie vuurwapens te dra nie – hulle is omring deur lyfwagte wat dit namens hulle kan doen. Maar wat van die arme LP wat nie een enkele lyfwag het nie? Moet hy nou maar aan die genade oorgelaat word omdat hy hom in die politiek begewe het? Natuurlik nie. Enige privaatburger is daarop geregtig om homself te beskerm wanneer hy in gevaar verkeer, veral in omstandighede waar daar nie naastenby genoeg polisiebeamptes is om die burgery te beskerm nie.

Die ander argument is dat hy eers ’n waarskuwingskoot moes afgevuur het voordat hy die aanvaller gewond het. Daardie vereiste maak sin wanneer die aanvaller op ’n afstand van jou is en daar nog hoop is om die aanval af te weer. Maar as die bloed reeds spat? Wie dink dan aan die reëls wat om ’n vergadertafel opgelê was? En is daar dan tyd vir waarskuwingskote? Soos Mike Tyson blykbaar by geleentheid gesê het: “Everybody’s got a plan till they punch you in the mouth.”

Die mees siniese argument is dat Cameron nie gewapen na ander gebiede gaan nie. Hoe weet hulle dit? En in elk geval beteken die feit dat hulle aangeval is, dat sy gevoel rondom die gevaar waarin hulle sou verkeer, korrek was.

Natuurlik is daar nou heelwat vingerwysery en politieke grandstanding, maar die een feit wat niemand kan betwis nie, is dat ons in ’n gewelddadige land bly, en dat die storie baie anders kon geëindig het indien Cameron nie gewapen was nie.

Daai outjie sou nie geskiet gewees het as hy sy hande en sy bakstene tuisgehou het nie.

Dit het tyd geword dat meer burgers hulle teen kriminele elemente verset.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Oor nasionale dialoog

Wat sê Bettina? Hoe werk groepsbetalings in restaurante nou eintlik?

Wat sê Bettina? Myburgh, Malaka en die Dior-sak met R60 000 kontant

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top