
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Brazen. Daar is geen ander woord vir die skaamtelose oop en bloot poging om ’n joernalis om te koop wat ’n week of wat gelede op kamera vasgevang is nie.
Ek probeer nog steeds, soos sekerlik die meeste ander Daily Maverick-lesers, die denke agter Tebogo Malaka se optrede verstaan. Was sy so desperaat omdat sy alreeds geskors was dat sy gedink het dit maak nie saak wat sy doen nie? Maar dit kan nie wees nie, want die aanloop en toenadering het begin voor sy geskors was, toe sy nog onder die indruk was haar posisie is veilig en sy kan die beloftes uitvoer wat sy maak. Of is omkopery al so deel van besigheid doen dat die idee van ’n onkreukbare karakter nie eens deel van die sommetjie was wat sy gemaak het nie?
Ek weet nie hoe R60 000 in gebruikte R200-note lyk nie, so ek sal maar Malaka en haar bondgenoot se woord aanvaar dat dit wel die korrekte bedrag was. Maar, soos Pieter-Louis Myburgh self noem, die kontantbedrag is maar net die seekoei se oortjie. Die groot geld sou hy potensieel kon maak deur kontrakte vir ander mense te bekom en dan ‘n gedeelte van die tenders vir homself toe-eien. Dit kan miljoene beloop.
Waarvan praat ek?
Tebogo Malaka, die geskorste hoof van die IDT (Independent Development Trust), het deur middel van haar segsman, Phasha Makgolane, kontak gemaak met die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh nadat hulle agtergekom het hy is besig met ’n ondersoek oor bedrywighede by die IDT. Myburgh se aanvanklike ondersoek, soos wat hy in die Daily Maverick van Sondag 10 Augustus 2025 verduidelik, het gegaan oor suurstoftoerusting wat IDT en die Departement van Gesondheid gesamentlik bedryf het. Tydens hierdie ondersoek het Myburgh vrae begin vra oor ’n eiendom wat Malaka besig was om te bekom. Hy het agtergekom dat daar mooontlike onreëlmatighede rondom die koop van die eiendom en die bou van die luukse huis daarop was. Malaka wou verdere vrae en ondersoek oor die eiendom ten alle koste probeer stop. Haar aanbod aan Myburgh? Staak die ondersoek, begin positief berig lewer oor die IDT, en in ruil sou sy verseker dat sekere kontrakte van die IDT, waaroor sy finale besluit lewer, toegeken sal word aan mense wat hy sal voorstel.
Hierdie voorstel is bespreek by ’n restaurant in die Stellenbosse wynland en is, sonder dat Malaka daarvan bewus was, op kamera vasgevang is. Op een stadium in die video haal Makgolane ’n wit of roomkleurige sak uit ’n ander sak en gee dit aan Myburgh. Dis volgestop met R200-note. Op ’n vraag van Myburgh sê hy dat dit R60 000 is. Dit moet seker dien as ’n lusmaker. Myburgh neem ’n foto van die geld, en sê dan dat hy dit nie gaan aanvaar nie. Kort daarna loop hy. Hulle bly sit nog ’n paar oomblikke, blykbaar geskok, en loop dan ook haastig weg.
Op Maandag 11 Augustus 2025 publiseer die Daily Maverick die eerste gedeelte van die ondersoek in die Waterfall-eiendom. Hierdie ondersoek impliseer Gauteng-besigheidsman Collen Mashawana in ’n transaksie waar sy stigting ’n kontrak vir R60 miljoen van die IDT kry in omstandighede waar die toekenning onreelmatig blyk en hy dan deur verskeie van sy ander besighede geld in Malaka se eiendom stort. Boonop blyk dit dat die stigting nie hul kontraktuele verbintenisse ingevolge die IDT-kontrak nagekom het nie.
Dis net die eerste deel van die exposé, maar ek verwag dat nog koppe gaan rol.
........
Hierdie is waarskynlik een van die grootste toetse waarvoor pres Ramaphosa te staan kom. Hier is nou bewyse op video van korrupsie. Wat gaan hy doen?
........
Hierdie is waarskynlik een van die grootste toetse waarvoor pres Ramaphosa te staan kom. Hier is nou bewyse op video van korrupsie. Wat gaan hy doen? Hierdie keer gaan dit nie genoeg wees om te sê dat hy geskok is, of dat daar ’n kommissie is wat die saak ondersoek nie. Hy sal daadwerklik moet optree.
En Myburgh? Ek hoop dat sy werkgewers sy veiligheid opskerp en dat hulle regsverteenwoordigers gereed is om hom by te staan met die onvermydelike regstwiste wat gaan kom. Meer as dit hoop ek dat gewone mense sal wys dat hulle ten gunste van deeglike ondersoekende joernalistiek is wat onreg en korrupsie oopvlek, en wat bewys dat die pers nog vry en regverdig is. Dis wat ons demokrasie so kosbaar maak.
........
Meer as dit hoop ek dat gewone mense sal wys dat hulle ten gunste van deeglike ondersoekende joernalistiek is wat onreg en korrupsie oopvlek, en wat bewys dat die pers nog vry en regverdig is. Dis wat ons demokrasie so kosbaar maak.
........
Lees ook:
Wat sê Bettina? Is een tree vorentoe en twee treë terug ’n cha-cha, Uncle Cyril?

