
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
...
Maar wat van dié wat nie die geld het om daai aanpassings te maak nie? Hulle is maar oorgelewer aan Eskom se genade, of hulle moet buite op ’n oop vuur aansukkel, en wee hulle wanneer dit reën.
...
Aan die begin van Julie het die 12,74%-verhoging in elektrisiteit se prys vir munisipaliteite ingeskop, en die effek was dadelik merkbaar in gewone mense se beursies.
Die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het met die aankondiging van die tariefverhoging reeds gewaarsku dat dit tot elektrisiteitsarmoede gaan aanleiding gee. Nersa se antwoord kan seker ten beste geparafraseer word met die woorde “Spot the worry in our eye.” Hulle is ontevrede omdat hulle nie die volle verhoging gekry het wat hulle wou hê nie. Oor een ding moet ons Ramokgopa krediet gee: Daar was hierdie winter nog nie enige beurtkrag nie. Dit kan beteken dat Eskom, en die Minister iets reg doen. Of dit kan beteken dat mense minder elektrisiteit gebruik omdat hulle dit nie meer kan bekostig nie. Ek begin al meer vermoed dis laasgenoemde.
Natuurlik is daar huishoudings wat ligskakelaars kan aansit en aan los in leë vertrekke. Daar is huisgesinne wat ondervloerse verhitting het en verhitte handdoekrelings, wat hulle warmwatersilinder permanent aan los en nie die verskil in hul elektrisiteitsrekening voel nie. Die meeste mense begin egter aanpassings maak. Gasverwarmers in plaas van elektriese verwarmers, warmwatersakke in plaas van elektriese komberse, gasstowe in plaas van elektriese stowe, Wonderbags en Wondercookers in plaas van hul kos volledig gaarmaak op die stoof.
Maar wat van dié wat nie die geld het om daai aanpassings te maak nie? Hulle is maar oorgelewer aan Eskom se genade, of hulle moet buite op ’n oop vuur aansukkel, en wee hulle wanneer dit reën. Dan is daar natuurlik die gellieblik wat steeds elke jaar lewens eis. Dis nou ’n staaldrom, gewoonlik ’n gebruikte paraffiendrom waarin gate in die kante gemaak word, wat dan met hout gevul word wat aan die brand gesteek word. Dit maak ’n klein vertrekkie vinnig warm, maar die toksiese gasdampe kan mense doodmaak. Ek onthou dat ek op laerskool was toe een van ons klasmaats en van sy gesinslede in so ’n gellieblikvoorval gesterf het.
...
Hulle sal daadwerklik moet plan maak om elektrisiteit meer bekostigbaar te maak, of daar gaan een of ander tyd weer geweld uitbreek. Mense is moeg daarvan om gemelk te word vir elke laaste sent wat hulle nie het nie.
...
Nou, in 2025, is ons in ’n situasie waar baie mense weer eens voor die keuse gestel word van verkluim van die koue of versmoor in gellieblikdampe. Of, soos die minister ook by geleentheid gesê het, arm mense word forseer om te kies tussen kos en krag wanneer hulle hul inkopies doen. In my eie gemeenskap is daar al meer gevalle waar daar konflik ontstaan tussen die klein huiswinkels (meesal deur buitelanders bedryf) en die klante wat hulle bedien, wanneer hulle ’n administrasiefooi hef op die koopkrag wat hulle verkoop. Die marge vir die koper is papierdun. Soms het hulle letterlik net R10 om elektrisiteit mee te koop, en dan word tot soveel as R1 daarvan afgetrek vir administrasie.
Maar wat beteken die prysverhoging in reële terme?
Die meeste huishoudings in my gemeenskap koop voorafbetaalde krag. Die munisipaliteit het ’n paar jaar gelede in al die huise in my buurt koopkragboksies geïnstalleer. Gratis. Nou kos dit derduisende rande om op eie koste een te installeer. Terwyl ek twee weke gelede deur ou kwitansies en ander papierwerk kyk, kom ek af op ’n kragstrokie gedateer 5 Januarie 2021. Toe het ek R200 se elektrisiteit gekoop, en 126,30 eenhede ontvang. In 2021 was dit voldoende om ’n maand se kragvoorsiening te verseker. Boonop was dit somer, en mens gebruik darem minder elektrisiteit in die somer. As ’n toets gaan koop ek toe weer R200 se elektrisiteit, want ek wou sien hoeveel eenhede dieselfde geld my nou gaan gee. Ek kry 63,4 eenhede. Dis feitlik die helfte minder as vier jaar gelede. Natuurlik gaan daai paar eenhede my nie baie lank hou nie. Om die waarheid te sê, ek kan nie onthou wanneer laas ek minder as amper R1 000 aan elektrisiteit bestee het in ’n maand nie. Dit is hoe vinnig dinge in ’n skamele vier jaar verander het.
Hoeveel eenhede kry die persoon wat R10 se elektrisiteit koop? Hoe maak hulle, veral in die winter wanneer hout nat en groen is, en hulle nie vuur kan maak nie? Hoe oorleef mense? Hoe bly hulle warm en droog en kry warm kos in hul maag?
Die grootste vraag bly: Wat maak Eskom? Dis nie net genoeg om te sorg dat die ligte aan bly nie. Hulle sal daadwerklik moet plan maak om elektrisiteit meer bekostigbaar te maak, of daar gaan een of ander tyd weer geweld uitbreek. Mense is moeg daarvan om gemelk te word vir elke laaste sent wat hulle nie het nie.
My enigste hoop is dat hulle nie hul woede sal uithaal op die winkeleienaars nie, maar daar waar die regte probleem lê: by die kragvoorsiener en by die regering. Dis tyd dat die reg op waardigheid wat ons in die Grondwet belowe word, realiteit word in gewone mense se lewens, en deel daarvan is om bekostigbare elektriese voorsiening te verkry.
Enigiets anders is net uitbuiting, en soos gewoonlik is dit die armste mense wat die swaarste ly, terwyl die ministers voorsien word van gratis elektrisiteit, kragopwekkers en al die ander geriewe.
Laat hulle voel wat ons voel, en daar sal blitsvinnig verandering kom.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Kry die minister van elektrisiteit performance bonus?


Kommentaar
Hoera vir jou, Bettina! Mag jou uitroep en pleidooi nie op dowe ore val nie…
Solank die regering vet tjeks elke maand trek uit die belastingkas, is kragpryse mos nie 'n issue nie. Ons betaal sommer hulle rekenings ook wat. En stem dan weer vir hulle.