
Prent: Dock8 op Pixabay
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Die ministers van buitelandse sake van die G20-nasies het skaars Suid-Afrika se stof van hulle voete afgeskud, of ons hoor dat ons weer kragonderbrekings gaan hê.
Die dae toe ek gedink het sulke goed gebeur toevallig, is ook al verby. Soos die gesegde lui: Ek is oud waar die hond my gebyt het. 300 dae sonder enige kragonderbrekings, en die dag nadat Eskom nie sy sin kry met tariefverhogings nie, is daar skielik weer kragonderbrekings. Dit sal die land sleg laat lyk as daar kragonderbrekings is terwyl daar hoëvlak-vergaderings gebeur, maar die dag nadat al die buitelandse hoëkoppe die land uit is en daarmee saam al die buitelandse joernaliste wat hier was om berig te lewer, is daar skielik weer kragonderbrekings. Boonop meen ek dis darem te toevallig dat fase 6-kragonderbrekings gestaak is net toe die werksweek moet begin en die grootste ekonomiese verliese potensieel gely kan word.
Is ek onnodig sinies as ek dink dit sal so aanhou totdat die begroting op 13 Maart voorgelê word, en dat kragonderbrekings met die gepaardgaande bedreiging vir die ekonomie gebruik sal word om die minister van finansies se arm te probeer draai? Ek dink nie so nie.
...........
Is ek onnodig sinies as ek dink dit sal so aanhou totdat die begroting op 13 Maart voorgelê word, en dat kragonderbrekings met die gepaardgaande bedreiging vir die ekonomie gebruik sal word om die minister van finansies se arm te probeer draai? Ek dink nie so nie.
............
Die minister van elektrisiteit verseker ons dat die kragonderbrekings nie as gevolg van sabotasie is nie. Wat hy skynbaar nie verstaan nie, of anders nie wil erken nie, is dat dit in die breedste sin van die woord sabotasie van ons ekonomie en ons werksmag is wanneer die kragtoevoer ons faal. Daar mag dalk nie iemand wees wat doelbewus drade knip en pale opblaas nie, maar die effek is dieselfde wanneer die ekonomie nie groei nie.
Die interafhanklikheid van sisteme word nie genoegsaam erken nie. Kom ek haal aan uit ’n WhatsApp wat Theewaterskloof Munisipaliteit aan alle inwoners uitgestuur het. “Additionally, we remind residents that our water supply systems are often affected by loadshedding, as pumps and reservoirs rely on electricity. Please continue to use water responsibly to ensure sustained supply for all.”
Elke keer nadat daar ’n kragonderbreking was, is daar probleme met geen watertoevoer, of beperkte watertoevoer, of dat die water onbruikbaar vuil is wanneer dit uiteindelik weer vloei. Middernagtelike kragonderbrekings gee diewe carte blanche om te steel, nie net by privaatwonings nie, maar veral ook by daai selfde pompe en reservoirs wat water moet voorsien aan gemeenskappe.
Boonop word daar verwag dat ons meer moet betaal terwyl dienste agteruitgaan.
.........
Boonop word daar verwag dat ons meer moet betaal terwyl dienste agteruitgaan.
............
Elke kabinetsminister is aan ’n prestasiegebonde kontrak onderhewig. Die kontrakte is beskikbaar op die regering se webblad, maar toe ek gaan soek vir die minister van elektrisiteit se kontrak, is daar niks beskikbaar nie. Hy is nou al lank genoeg aan die stuur, sedert Maart 2023, dat enige oorsigte in daai verband al reggestel moes word. Ek sou inderwaarheid verwag dat ’n prestasiegebonde kontrak heel eerste opgestel sou word, selfs nog voordat die pos na behore geskep is. Dalk is dit gedoen en dis net nie in die openbare domein nie. Maar vir so ’n belangrike posisie sou ek verwag dat sy kontrak aan die groot klok gehang sou word.
Elke prestasiekontrak waarvan ek nog ooit gehoor het, het ’n reusagtige wortel in die vorm van ’n prestasiebonus om die persoon te motiveer om te presteer. Anders is dit mos net ’n gewone pligstaat, dan nie? Daarom wonder ek, wil die minister van elektrisiteit ’n prestasiebonus hê? Hy het ’n baie goeie 300 dae gehad, maar die laaste paar dae het enige goeie werk in die wiele gery.
Dalk moet elke Eskom-bestuurder ook ’n prestasiegebonde kontrak teken, as hulle nie reeds het nie. En as hulle wel sulke kontrakte teken, dan behoort dit ’n uitdruklike bepaling van die kontrak te wees dat hulle net geregtig is op prestasiebonusse nadat hulle die ligte vir 365 dae ononderbroke aan kan hou.
As ons duurder vir dienste moet betaal, dan verwag ons dat daai dienste aan ons beskikbaar moet wees. En as dit nie aan ons beskikbaar is nie, behoort ons die keuse te hê om elders te gaan soek vir dieselfde diens wat goedkoper en betroubaarder is, en waar die diensverskaffer nie probeer om hulle kliënt af te pers nie.
Dis waar Eskom en die minister van elektrisiteit die pot mis sit. Hulle beskou Suid-Afrika se burgery as gyselaars of as pionne in driedimensionele skaak wat net rondgeskuif kan word soos hulle wil. Intussen is ons kliënte wat keelvol raak daarvoor om soos koeie gekoppel aan melkmasjiene te staan en gemelk te word.
Betalende kliënte in my munisipale distrik is keelvol daarvoor dat ons in die donker moet sit wanneer daar kragonderbrekings is, terwyl nie-betalende verbruikers in die plakkerskampe nooit kragonderbrekings ervaar nie en hulle plekke te alle tye helder verlig is. Ons vra nie eens dat hulle elektrisiteit afgesit word nie, al wat ons vra is dat betalende verbruikers dieselfde regte moet hê as dié wat nie betaal nie.
Van die minister spesifiek, as die persoon wat die politieke verantwoordelikheid dra vir die voorsiening van elektrisiteit, verwag ek ’n erkenning van die ernstige implikasies wat die interafhanklikheid van verskeie sektore speel wanneer elektrisiteit nie voorsien word nie. Veiligheid en sekuriteit, watervoorsiening, gesondheidsorg, landbou, mynbou, arbeid, dit alles word geaffekteer wanneer die ligte nie aangehou word nie.
Dalk sou ons meer geduldig kon wees en simpatie kon hê wanneer dinge verkeerd gaan, as die tydsberekening dit nie so baie na manipulasie laat lyk het nie.
Nou eis ons: "Minister, kry Eskom onder beheer." Elektrisiteitsvoorsiening 24/7/365 is nie te veel gevra nie. Ons dring aan daarop.
Lees ook:
Kommentaar
Eskom, netsoos ander staats- en semi-staatsinstellings, net soos ministers, se prestasieooreenkomste is nie die papier werd waarop dit staan nie. Nie net bepaal hulle hul eie prestasieteikens nie, hul doen hul assesserings self en hul eie supervisors teken dit gedwee af om probleme te vermy. Dis proses is 'n absolute klug. Derhalwe oorskry almal altyd teikens en kry bonusse. Die staatsdiens noem dit PEP (Performanc Enhancement Process) - dis 'n klug en ondoeltreffend.