
Foto: Pexels
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Vrydagnag vanaf middernag tot halfdrie het my dorp hul eerste smakie van beurtkrag in tien maande gehad.
Binne oomblikke nadat die elektrisiteit af was, het die gefluit begin. Toe die voetval soos die skelms begin hardloop het nadat hulle die sein gekry het dat alles af is.
Vreemd? Nie regtig nie. Nog elke keer wanneer ons beurtkrag in die vroeë ure van die nag gehad het, is daai tyd gebruik om substasies te plunder, of om die straatligte se kabels af te kap, of om by besighede in te breek. Die pompstasies waar waterpompe gehuisves word, is ook gewilde teikens. Die alarms werk mos nie wanneer die krag af is nie. En wee die arme siel wat onkant betrap is en in die donker op straat is. Verkragtings, aanrandings, moorde gebeur alles onder die beskerming van beurtkragdonkerte.
Boonop word ons gewaarsku om nie water te gebruik wanneer die krag af is nie, want die pompe kan nie die druk hanteer nie.
Word dit in berekening gebring wanneer die ekonomiese koste van kragonderbrekings bereken word? Word die verliese wat gewone verbruikers ly wanneer hulle elektriese toerusting blaas nadat die kragtoevoer herstel is en ’n te groot stroom elektrisiteit deurgelaat word? Word die verliese wat onversekerde verbruikers ly wanneer hulle in die donkerte besteel word, in berekening gebring?
Natuurlik nie.
Die ware koste van kragonderbrekings is nooit regtig bekend nie. Boonop, hoe meet mens die stres en vrees terwyl jy in die donkerte sit en luister of iemand nie dalk by jou huis probeer inbreek nie? Dit word nooit op ’n balansstaat aangebring nie.
........
Is dit blote toeval dat ons die eerste beurtkrag in tien maande ervaar het die dag nadat Nersa Eskom ’n bloedneus gegee het in hul aansoek om ’n tariefverhoging?
........
Sommiges sê dis ’n goeie ding dat die beurtkrag oor ’n naweek was, sodat die skade aan die ekonomie nie so erg was soos wat dit gedurende die week sou wees nie. Maar wat was die naweek se beurtkrag? Is dit blote toeval dat ons die eerste beurtkrag in tien maande ervaar het die dag nadat Nersa Eskom ’n bloedneus gegee het in hul aansoek om ’n tariefverhoging? In plaas van 36,15% is ’n tariefverhoging van 12,74% toegestaan vir 2025.
Toe ek ’n baba was, het ek blykbaar my bottel in frustrasie op die grond gegooi elke keer as ek nie iets kon bykom wat ek wou nadertrek nie. Dis ‘n bietjie hoe dit gevoel het toe Eskom kort op die hakke van Nersa se besluit aankondig dat daar weer beurtkrag gaan wees, soos ’n baba of ’n stout kind wat nie hulle sin kry nie en nou hulle speelgoed rondgooi.
Die verskil is net dat mense se veiligheid en hulle swaarverdiende geld en goed in die gerdang kom wanneer Eskom hulle speelgoed rondgooi. Mense is alreeds onder finansiële druk, en selfs ’n 12%-verhoging vergroot die druk. Tydens die vergaderings waar Nersa vertoë aangehoor het van mense wat insette wou gee voordat die besluit oor ’n tariefverhoging geneem word, was daar mense wat vertel hoedat hulle alreeds, selfs voor die verhoging, soms moet kies tussen elektrisiteit koop en kos koop. Dis nie ’n keuse waarvoor enigeen te staan behoort te kom nie.
En waarvoor presies sou die tariefverhoging gebruik word? Moneyweb berig dat Eskom vir die afgelope 10 tot 15 jaar onderbestee aan kapitaalprojekte. Enigeen wat al met begrotings te doen gehad het, weet dat onderbesteding soms net so erg soos oorbesteding of wanbesteding kan wees.
En wat van Eskom-personeel? ’n Vriendin wat ’n aantal jare by Eskom gewerk het, vertel dat sy bedank het omdat daar nie genoeg werk was vir almal nie. Sy kon dit nie hanteer dat daar drie mense in haar afdeling aangestel is om een persoon se werk te verrig nie. Sy wou werk en haar geld verdien, nie heeldag sit en probeer besig lyk nie. Natuurlik is daar ander wat glad nie omgee om betaal te word om niks te doen nie.
Wat van die instandhoudingspersoneel, dié in die wit bakkies wat rondry en regmaak waar goed gebreek het? ’n Ruk gelede was die hele buurt waar ek bly se elektrisiteit af, vir ’n paar dae. Natuurlik was die vreugde groot toe twee bakkies en ’n minibus kom stop by die substasie, wat soos die noodlot dit wou hê reg voor my huis geleë is. Vyf mans in die drie voertuie het uitgeklim, die substasie oopgesluit, kop gekrap, rondgestaan en gesels sonder om enigiets uitgerig te kry. Die een bakkie het gery en na ’n ruk teruggekom, nie met materiaal soos ek verwag het nie, maar met koeldrank en eetgoed. Toe eet hulle eers, en staan nog rond. Ek skat dit was seker so drie ure later dat ’n nuwe bakkie kom stop het om te kyk hoe hulle vorder.
........
Waarom moet ons as verbruikers dan swaar dra aan die koste van kragvoorsiening? Waarom moet ons gestraf word as Nersa, korrek, besluit dat die verbruikers nie nog verder belas moet word nie?
........
Die nuwe persoon, duidelik iemand wat sy werk ken, het twee skakelaars gedruk, iets op ’n apparaat getoets, en voilà, die krag was aan. Dit het minder as vyf minute geneem.
Die vraag wat ek my sedertdien afvra, is hoekom mense soms vir weke sonder elektrisiteit moet klaarkom omdat daar soveel foute aangemeld is? As daar in hierdie een geval waarvan ek persoonlik kennis dra, ure vermors is met vyf tegnici wat basies onder die boom kom sit en eet het, hoeveel ander mense se tyd en elektrisiteit word vermors? Hulle gee nie om dat mense se yskaste afloop, hulle kos vrot raak, en hulle snags beroof word nie.
Waarom moet ons as verbruikers dan swaar dra aan die koste van kragvoorsiening? Waarom moet ons gestraf word as Nersa, korrek, besluit dat die verbruikers nie nog verder belas moet word nie? Ek vra dit, want ongeag watter verduideliking Eskom ook al mag gee, glo ek nie vir een oomblik dat daar geen verband tussen Nersa se besluit en die skielike beurtkrag is nie.
Soos die oumense altyd sê: Ek mag groen lyk, maar ’n bok vreet nie aan my nie.
Lees ook:
Uncle Cyril se government van national unity: ’n huis met baie wonings?