“Ek gaan slaap. Laat weet my wie die deputy president is, wie justice, polisie en buitelandse sake kry, toe?” Dis die boodskap wat ek gisteraand aan ’n vriendin stuur. Twee goed was ek doodseker van: Uncle Cyril sal nie betyds wees nie, en finansies en minerale sake sal uit die ANC se stywe, koue, dooie hande gegryp moet word.
Ek was feitlik seker die ANC sou ook beheer oor justisie, polisie en buitelandse sake wil hou, maar mens weet nooit. Al die ander portefeuljes, nou ja, dit kon as scraps vir die ander partye in die RNE gegooi word.
Ek was reg, maar steeds het sommige van die aanstellings my verstom. Ander het my laat glimlag. John Steenhuisen in landbou? Dit maak dit effens moeiliker vir hom om oorsee te gaan kla oor plaasmoorde as dit nou onder sy portefeulje val, of hoe? Natuurlik is daar altyd die hoop dat landbou nou groter ondersteuning gaan kry as voorheen, maar het Steenhuisen wat nodig is om veral swart opkomende boere te ondersteun? Net die tyd sal leer. Vir hom voel dit seker soos ’n klap in die gesig: Het hy nie homself as adjunkpresident gesien nie? Boonop voorsien ek vuurwerke vir hom en die PAC se Mzwanele Nyhontso, wat grondhervorming en landelike ontwikkeling se minister word. Is daar enige ooreenkomste in die DA en PAC se politieke beleid oor grondhervorming? Gaan ons dalk nou in die grondkwessie dieselfde dinamika sien uitspeel wat elektristeit vir jare verlam het omdat die onderskeie ministers nie langs een vuur sit nie?
Het ons regtig ’n minister van petroleum nodig? Ja, ek weet dis minerale sake en petroleum, maar ek wonder of “petroleum” al ooit in die naam van enige kabinetspos enige plek in die wêreld verskyn het. Ten minste is elektrisiteit en energie nou saam in een portefeulje, en kan al die verskonings oor hoekom ons beurtkragprobleme nie opgelos word nie, nou in die Zibiblik gegooi word.
Tradisionele leierskap en plaaslike regering was nog atyd ’n portefeulje wat onder die radar loop, maar wat groot politieke kopsere kan veroorsaak. Dit gaan interessant wees om te sien wat die IVP se Velenkosini Hlabisa gaan uitrig. Dat Ramaphosa hom in hierdie pos plaas, is tekenend van ’n groot mate van vertroue.
My vreugde om te sien Bheki Cele is met langverlof gestuur, is mateloos. Feitlik enigeen anders in die polisieportefeulje is ’n beter aanstelling.
Pemmy Majodina in water en sanitasie is ’n belangrike aanstelling, maar ek het geen idee hoe sy dit gaan hanteer nie. Waterkenner Carin Bosman se enigste reaksie op die voormalige Twitter was die hand-oor-die-gesig-loer-deur-die-vingers-emoji. O ja, en sy’t gereken Senzo Mchunu was net besig om die portefeulje reg te ruk. Hopelik ruk hy nou die polisie reg. En hopelik verras Majodina ons almal.
Die twee portefeuljes wat elke keer aan die agterste speen suig, en keer op keer die kleinste begroting, die minste mag en die minste hulp kry, is sport, kuns en kultuur, en vroue, jeugdiges en persone met gestremdhede. Dis ook die portefeuljes met die langste name.
Ek is regtig nie seker wat ek gedink het waar Uncle Cyril vir Gayton McKenzie sou sit nie, maar ek was nog steeds verbaas om hom by sport, kuns en kultuur te sien. My hoop vir hom in hierdie portefeulje is dat hy uiteindelik sal besef dat rugby en krieket nie die enigste sportsoorte is waarin ons uitblink nie, en dat ander sportsoorte ook verdien om ondersteun te word. Tweedens, en veel belangriker: Ek hoop dat hy die kuns-en-kultuur-deel van sy portefeulje ernstig sal opneem. Dit beteken onder andere dat hy musiek, dans en drama in al hul onderskeie vorme sal ondersteun. En waar Afrikaanse skrywers, en veral bruin en swart Afrikaanse skrywers, nog altyd aan die agterste speen gesuig het, wanneer hulle wel naby ’n speen gekom het, hoop ek dat hy sal begin om ons te ondersteun.
Ek stel nie in politiek belang nie, maar as McKenzie my sou vra om op sy adviserende raad te dien, dan sou ek nie nee sê nie. Dit het tyd geword dat ons kuns en kultuur meer ernstig bejeën. Ons het met die pandemie gesien dat dít is wat ons staande gehou het.
Die meeste van die adjunkministers is algeheel onbekend. Kom ons hoop dat dit beteken hulle bring vars energie en insigte na hulle portefeuljes.

