Wat sê Bettina? Misdaad kyk nie na kleur nie

  • 2

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

’n Week gelede is ’n man wat ek ken ’n entjie, seker so 200 meter, van my huis af vermoor. Helder oordag.

Sy moord het nie die koerant gehaal nie. Dit het nie eens ons straat se buurtwaggroepie gehaal nie. Ek het inderwaarheid eers uitgevind daarvan toe my broer dae later by iemand anders daarvan hoor en my bel om uit te vind hoekom ek niks gesê het nie. Moord is nie so algemeen in daai gebied dat dit net ongesiens verbygaan nie. Selfs in die haarsalon het niemand enigiets gesê nie.

Hoekom het Sakkie se moord so ongemerk verbygegaan? Dis ’n vraag wat my pla. Ek bly in ’n klein dorpie. Almal ken mekaar. Vir jare het Sakkie elke dag twee keer ’n dag verby my huis geloop. Ek weet wie sy familie is, maar tog was hy op ’n manier steeds ’n enigma vir my. Hy was ’n stil man. Ek kan nie onthou dat ek hom ooit met iemand anders sien loop of selfs gesels het nie. Hy sou altyd met die kop knik as ek buite is, maar nooit geselsies aanknoop nie. Hy het plastiek herwin en na die skrootwerf geneem. Dis hoe hy sy inkomste verdien het. Net plastiek, nooit metaal of enigiets anders nie. Ek het altyd my leë plastiekhouers vir hom gehou. Eendag het ek glashouers bygesit, en hy het dit dadelik teruggegee. Hy’t net plastiek herwin. Hy was baie beslis daaroor.

.........
Hy het nooit kos gevra nie. Ek het hom ook nooit in mense se dromme sien krap nie.
.........

Hy het nooit kos gevra nie. Ek het hom ook nooit in mense se dromme sien krap nie. Sy plastiek het hy langs die pad opgetel, of ander mense  het dit, soos ek,  vir hom gehou. Hy kon nie baie geld verdien het op daai manier nie. Hy het eendag gekla dat die skollies net gewag het tot hy sy geld kry by die skrootwerf, toe beroof hulle hom. Hulle het tien rand gevat.

Die skollies is ander mans wat skrootmetaal herwin, soms op onwettige maniere. Deur Sakkie het ek geleer dat daar ’n hiërargie is, met die skrootmetaalherwinnaars as die aggressiewe mense wie dit beter is om te vermy. Dis dalk hoekom hy so ferm was daaroor dat hy net plastiek herwin.

Ek weet hy was meer as een keer so beroof, tot sy diepste ongelukkigheid. Hy het nooit polisie toe gegaan nie, want wat baat dit? Wat gaan hulle doen oor tien rand of ’n sak plastiek?

Ek weet nie of hy dalk ’n staatstoelaag ontvang het nie, want met plastiek optel kon hy nie genoeg verdien het om ’n bestaan te maak nie. Ek het altyd gedink dat hy met een of ander geestestoestand gediagnoseer was. Ek het nooit gevra nie, en hy sou nooit gesê het nie. Tog weet ek hy het my vertrou. Hoe weet ek dit? As hy te veel sakke plastiek gehad het om op een slag skrootwerf toe te neem, sou hy sy vol sakke by my kom neersit totdat hy dit later die dag kon wegneem. Dit klink dalk laf, maar hy het sy kosbaarste besittings aan my toevertrou.

.........
Hy was nie haweloos nie, want hy het ’n dak oor sy kop gehad.
.........

Hy was een van soveel  onsigbares verby wie ons elke dag stap. Hy was nie haweloos nie, want hy het ’n dak oor sy kop gehad. Hy was nie ’n alkoholis of dwelmslaaf nie. Ek kan nie onthou dat ek hom selfs een keer onder die invloed van enigiets gesien het nie. Hy was of op pad skrootwerf toe, of op pad huis toe terug van die skrootwerf af toe hy aangeval en vermoor is. Die motief was waarskynlik roof. Dit sou nie veel geld gewees het nie.

Sy moordenaar is binne ure in hegtenis geneem.

Die narratief rondom misdaad wat ons alte gereeld hoor, en wat die afgelope tyd met die Afrikaner-eksodus na Trumpland weer opvlam, is dat die slagoffers van misdaad wit en welaf is. Die narratief is dat wit mense veral geteiken word oor hulle kleur en oor hulle ekonomiese status.

Die realiteit is dat niemand gevrywaar is van misdaad nie. Die realiteit is dat mense beroof word oor hul karigste besittings. Die realiteit is dat mense vermoor word oor sente. Die realiteit is dat arm mense, wat nie van privaat sekuriteit gebruik kan maak nie, die meeste onder misdaad deurloop, en die moeilikste hulle goedjies kan vervang.

Die realiteit waaroor niemand praat nie, is dat bendegeweld nie lewens in wit wooonbuurte eis nie. Dis die bruin en swart woonbuurte waar die geweld die ergste is. Dis bruin en swart woonbuurte waar inbrake en verkragtings en roof en aanrandings die meeste plaasvind. Die realiteit is dat ons minder geneig is om die stories van bruin en swart slagoffers te vertel, om hulle te vermenslik, veral as hulle op die randjie van die samelewing lewe.

.........
Dalk, in plaas van vals narratiewe skep oor wit slagofferskap, moet ons begin om die werklike wortel van die kwaad aan te spreek.
.........

Dalk, in plaas van vals narratiewe skep oor wit slagofferskap, moet ons begin om die werklike wortel van die kwaad aan te spreek. Swart slagoffers van misdaad verloor meer, en vervang moeiliker wat hulle verloor, as wit slagoffers. Swart slagoffers se verhale word selde vertel, hulle verliese selde gekwantifiseer. Hulle kry selde die publieke simpatie wat hulle verdien.

Die narratief dat arm mense se lewens en besittings minder werd is, is die groot rede hoekom niemand oor Sakkie se moord praat nie.

Hy verdien beter. Elke arm persoon wat gebuk gaan onder misdaad, verdien beter.

Misdaad gee nie om oor kleur nie.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Die "sonde" van empatie

Wat het die waarheid met die prys van eiers te doen?  

Suid-Afrika: ’n Vergrootglas op die land se misdaad

Woke me up before you go-go

  • 2

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Aangrypende artikel, wel gedaan. Dit is my ervaring ook. Ek onthou nog baie jare gelede, het ek elke dag die Burger sowel as Die Son gekoop. Hoe dikwels was daar nie kinders wat gedood is op Die Son se voorblad, wat nie eens die Burger gehaal het nie. Bendegeweld. Die realiteit is egter ook, mense is opportuniste. Trump skyn besig te wees met 'n geopolitieke speletjie. Hy probeer inmeng in Suid-Afrika se sake. Mens kan maar raai, daar is dinge wat Trump en sy regime wil verander in Suid-Afrika. Waarskynlik, en bepaald, Suid-Afrika se buitelandse beleid. Moontlik ook die regime. En hierdie sogenaamde 'vlugtelinge' slaan die gaping wat die situasie vir hulle skep voluit. Relatief tot baie ander Suid-Afrikaners, gaan dit waarskynlik beter met baie, dalk selfs meeste van hierdie 'vlugtelinge'. Maar die realiteit is, dit gaan nie goed met Suid-Afrika nie. Werkloosheid in die VSA is 4 %, teenoor Suid-Afrika se 31 %. Selfs onder wit Suid-Afrikaners is die werkloosheidskoers 8 %. Dit beteken as jy werkloos is hier, dan is jou kanse ten minste dubbel so goed om werk te vind in die VSA. Suid-Afrika het probleme wat onoplosbaar is. Die politici gaan dit nie oplos nie. Trouens, die regering se enigste oplossing vir die ekonomiese situasie in die land, is nog meer beperkende wette, wat nog meer besighede gaan ondergrawe, wat die belastingsbasis gaan laat bly krimp. Die politici verheug hulle boonop in die feit dat die 49 mense weg is. Die president het daardie mense lafaards genoem. Wie soek lafaards in hulle land? So dis 'n wen-wen situasie. Die klomp setlaars wil graag wegkom uit Suid-Afrika en die politici wil hulle graag ook weg hê uit die land. The math is mathing. In die geval. Die werkloosheid onder jongmense is nog veel meer, nader aan 50 % van alle jongmense. In ten minste twee provinsies is meer mense werkloos as wat daar mense is met werk. Sommige ministers vertel selfs openlik vir die land se jong werklose gekwalifiseerde dokters om maar oorsee te gaan werk soek, want in Suid-Afrika is daar nie geld om vir hulle werk te gee nie. Die Amerikaners moet eintlik nou net hulle aanbod na alle Suid-Afrikaners toe verleng. Maar nou weet ons mos hulle sal nie, want hulle het hulle eie bepaalde agenda.

  • Ek assosieer 98% met wat Bettina sê. Misdaad word nie primêr of per definisie deur velkleur aangedryf nie. Net soos wat daar nie per definisie armoede of psigologiese toestande agter sit nie. Maar dit is soms deel van die pakket. Veral waar geweld betrokke is, word die mate van geweld en die tipe geweld soms daardeur bepaal. Let wel soms. En ek praat nie bloot van swart op wit misdaad nie. Veral vroeër, het kleur 'n groot rol gespeel in die aanranding van swart mense deur wit mense.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top