Suid-Afrika: ’n Vergrootglas op die land se misdaad

  • 1

Vir ’n lang tyd al het Suid-Afrika die reputasie as een van die gevaarlikste lande in die wêreld. Misdaad was een van die grootste redes hoekom baie Suid-Afrikaners in die 1990’s en vroeër 2000’s geëmigreer het. Nou dryf ons sukkelende ekonomie mense uit die land.

Wat baie Suid-Afrikaners wel dalk nie weet nie, is dat in terme van ’n wye reeks misdaadkategorieë, ons land nou baie veiliger is as 20 jaar gelede. Die volgende statistieke, geneem uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se nuutste misdaadverslag vir 2018/19, bewys die punt. 

Foto: Pixabay.com

In die tydperk 1995/96 is 26 877 moorde gepleeg. In 2018/19 het daardie syfer gedaal na 21 022. Die moordsyfer tussen 1995/96 en 2018/19 is basies gehalveer vanaf 68 per 100 000 na 36. Gevalle van poging tot moord het tussen 1994/95 en 2018/19 gedaal vanaf 26 806 na 18 980.

Aanranding met die doel om ernstig te beseer het geval vanaf 215 671 na 170 979 in dieselfde tydperk. Gevalle van huisbraak het effens gedaal vanaf 231 355 na 220 865.

Diefstal van voertuie het gehalveer vanaf 105 867 gevalle na 48 324. Diefstal uit voertuie het verder gedaal van 183 367 na 125 076.

Brandstigting het geval vanaf 10 948 tot 4 083 gevalle. Kwaadwillige beskadiging van eiendom het gedaal vanaf 123 305 na 113 089. In geheel het die totale aantal misdaad-insidente gedaal vanaf 2 018 890 in 1994/95 tot en met 2 013 271 in 2018/19. 

Tog, wanneer jy na sekere misdaadkategorieë kyk, is daar gevaarligte wat flikker. Ernstige roof (roof wat gewoonlik ’n gevaarlike wapen soos ’n vuurwapen insluit) het drasties vermeerder vanaf 84 785 gevalle in 1994/95 tot 140 032 in 2018/19.

...........

“Wat baie Suid-Afrikaners wel dalk nie weet nie, is dat in terme van ’n wye reeks misdaadkategorieë, ons land nou baie veiliger is as 20 jaar gelede.”

...........

Algemene roof (roof wat nie gewoonlik met ’n gevaarlike wapen gepleeg word nie) het gestyg vanaf 32 659 na 51 765 gevalle in dieselfde tydperk. Seksuele aanranding (wat verkragting insluit) het gestyg vanaf 44 751 tot 52 420.

Dwelmmisbruik het drasties toegeneem met 400% sedert 1994/95. Dronkbestuur en bestuur onder die invloed van dwelms het ook heelwat vermeerder – ’n styging van 223%.

Die onwettige besit van vuurwapens het gestyg met 43%. Kommersiële misdaad (wat bedrog insluit) het met 33% toegeneem. 

Verder lyk korttermyntendense nie goed nie. Meeste van die bogenoemde kategorieë het in die laaste vyf jaar drasties toegeneem. In dié tyd (sedert die 2014/15-periode) is moord op met 18% asook poging tot moord (8%); ernstige roof (9%); bestuur onder die invloed van drank of dwelms (21%); die onwettige besit van vuurwapens (4%); en kommersiële misdaad (24%).

Gevalle van seksuele aanranding het afgeneem met 2%. Maar algemene aanranding (misdaad waarvan die slagoffers oneweredig vrouens is) het wel toegeneem sedert 2014/15.

Beide brandstigting en die kwaadwillige vernietiging van eiendom is ook minder as vyf jaar gelede. Maar die xenofobiese geweld wat in die laaste paar maande deur Gauteng en ander dele van die land gespoel het, is nie in ag geneem nie. En soos die ekonomie knak en verder onder druk kom, kan ons meer optogte en die beskadiging van infrastruktuur verwag.

Die algehele prentjie lyk droewig. ’n Halfmiljoen Suid-Afrikaners is al sedert 1994/95 vermoor. Verder was omtrent een miljoen mense al slagoffers van verkragting in dieselfde tydperk.

Die prentjie lyk nog slegter as jy ons misdaadsyfer met sommige ander lande vergelyk. Soos voorheen genoem, het Suid-Afrika tans ’n moordsyfer van 36 per 100 000 mense. Die moordsyfers van Rwanda, Botswana en Zimbabwe is 23, 18 en 11. Dit beteken dat jou risiko om in Suid-Afrika vermoor te word twee keer hoër is as in Botswana, en drie keer meer as in Zimbabwe.

Australië en Duitsland het beide ’n moordsyfer van 1 per 100 000. Dus is iemand 36 keer meer geneig om in ons land vermoor te word as in Australië of Duitsland. 

...........

“’n Halfmiljoen Suid-Afrikaners is al sedert 1994/95 vermoor. Verder was omtrent een miljoen mense al slagoffers van verkragting in dieselfde tydperk.”

...........

Met die bogenoemde tendense is dit duidelik dat baie mense die slagoffers is van moord, roof en geweld in Suid-Afrika. Maar ons hoë misdaadsyfers het ook ’n baie negatiewe impak op ons ekonomie.

Volgens die Instituut vir Ekonomie en Vrede (Vision of Humanity) in Brittanje, het die land honderde miljoene Rande spandeer in 2016 om misdaad te bekamp. Volgens Agri SA, het misdaad die landbousektor omtrent R8 miljard gekos in 2017.

Toerisme is een van Suid-Afrika se grootste en mees suksesvolle sektore wat 1,5 miljoen mense werk gegee het in 2018. Maar ’n mens lees al hoe meer van buitelandse toeriste wat aangeval word op Tafelberg of KwaZulu-Natal se strande. Baie potensiële toeriste lees van hierdie gebeurtenisse in Suid-Afrika en besluit dan om eerder hul geld in Mauritius, Kenya of Ethiopië te spandeer.

Verder het ’n HSBC (Hongkong and Shanghai Banking Corporation) “Expat Survey” getoon dat van 31 lande, Suid-Afrika die swakste gevaar het in terme van vrede en sekuriteit vir buitelanders wat in die land werk. Dit is ’n groot problem want dit skrik hoogs geskoolde buitelanders met skaars kwalifikasies af.

Laastens moet medium- en kleinbesighede asook middel- en werkersklas Suid Afrikaners meer opdok vir privaat- en/of ander sekuriteit om hulself te beveilig. Dit is geld wat besighede en burgers meer produktief kon gebruik het in ander sektore van die ekonomie. 

Maar hoe het ons in hierdie situasie beland? Daar is ’n hele paar faktore wat bydra tot ons hoë misdaadsyfer. Eerstens, ongelykheid in ons samelewing is geneig om hand-aan-hand te loop met ’n hoë moordsyfer.

Hierdie stelling is beslis waar vir lande soos Botswana, Namibië, Lesotho, Honduras en Belize waar ’n hoë ongelykheidskoers en moordsyfer te vinde is. Suid-Afrika is een van die mees ongelyke lande in die wêreld met geleenthede vir die rykes en middelklas burgers en amper geen vir die res van die mense nie.

...........

“Dit beteken dat jou risiko om in Suid-Afrika vermoor te word twee keer hoër is as in Botswana, en drie keer meer as in Zimbabwe.”

...........

Tweedens, ons werkloosheidsyfer styg die afgelope paar jaar en is nou amper 40% as jy die uitgebreide definisie gebruik. Daardie figuur styg na amper 50% vir jong mense tussen die ouderdomme van 25 en 34 jaar. Jongmense in ander Afrikalande het meer geleenthede in terme van ’n goeie onderwysstelsel en ’n florerende klein besigheidsektor – twee aspekte waarin Suid-Afrika misluk.

Derdens, armoede het in Suid-Afrika weer begin toeneem sedert 2011. Volgens Statistiek Suid-Afrika (SSA) se data, het die land daarin geslaag om armoede te verminder tussen 2006 en 2011. Maar sedert 2011, het die regering se mislukte beleide, korrupsie onder die Zuma-administrasie en die vlug van beleggings die ekonomie erg seergemaak, met ’n gevolglike styging in armoede.

Vierdens, werkloosheid en armoede lei tot die aftakeling van die gesinstruktuur en huishouding. Drank- en dwelmmisbruik is volop in areas waar vlakke van werkloosheid, armoede en desperaatheid hoog is. Sulke situasies kan maklik oorloop tot geweld in die huishouding. 

Laastens, politieke aanstellings het gelei tot ’n drastiese styging in vlakke van korrupsie en onbekwaamheid in die SAPD. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het in drie verslae al getoon dat ’n groot hoeveelheid polisielede skuldig is aan sekere tipes misdaad soos moord, aanranding, verkragting en omkopery.

As gevolg hiervan, het die helfte van Suid-Afrikaners vertroue in die polisie verloor. SSA het bepaal dat 64% mense in 2011 tevrede was met die polisie. Daardie syfer het nou gedaal na 54% in die 2017/18-periode. Verder sien net ’n derde van Suid-Afrikaners ’n polisievoertuig in hul area elke week terwyl amper ’n kwart van die bevolking nooit polisielede in hul areas sien nie. 

Daar is wel ’n paar oplossings vir die situasie in Suid-Afrika. Publieke verhore en ondersoeke moet meer gereeld gedoen word om kriminele in die polisiediens aanspreeklik te hou vir hul dade. Aanstellings in die polisiediens moet verder gebaseer word op meriete.

Die polisiediens moet ook meer saamwerk met die suksesvolle privaat-sekuriteitsektor. Stasiebevelvoerders moet ook verkies word deur die publiek. Dit sal verseker dat die bevelvoerders direk verantwoordelik is aan die mense. Die versterking van die SAPD kan wel net sover gaan.

Om misdaad doeltreffend te bekamp, moet die versterking van die SAPD gepaard gaan met langtermynoplossings soos ekonomiese groei, die ophef van onnodige regulasies op klein besighede, en die skepping van ’n beleggersvriendlike omgewing wat baie werksgeleenthede sal meebring 

Net met sulke verandering staan Suid-Afrika ’n kans om ’n land te word waar vrouens byvoorbeeld nie gedurig oor hul skouer hoef te loer nie, en huishoudings nie meer 4-meter hoë mure met elektriese heinings hoef te bou nie.

Suid-Afrika het dit voorheen reggekry om misdaad effektief te beveg. Ons kan dit weer doen, maar net as almal (die regering, die privaatsektor en gewone Suid-Afrikaners) saamwerk. 

Lees ook 

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

Lees op Voertaal

Misdaadoorlog woed in Suid-Afrika

Where Ubuntu has gone to die

  • 1

Kommentaar

  • Aan die skrywer. Jou aannames is absoluut gegrond daarop dat die misdaadstatistiewke vd SAPD akkuraat is. Ek kan vir jou 'n aantal bewyse stuur wat die teendeel bewys. Watter sensus syfers het jy gebruik om die 1995/6 moordsyfer per 100 000 te bereken teenoor die 2018/9 syfer? En jy neem dus ook aan dat die sensus syfers akkuraat en betroubaar is. Uit 'n wetenskaplik-akademiese navorsings-oogpunt is jou aannames nie bewys nie, nie naastenby nie. Gaan lees bietjie die Victims of Crime Surveys. Wat van misdaad wat 'n ernstige impak op die ekonomie het, individue en besighede soos bedrog en ander. Volgens VOCS is dit geweldig onder-gerapporteer. Lees asb PwC se Economic Crime Surveys. Ek dink nie enige iemand kan rerig beter voel na jou meningstuk nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top