Vrystaat Kunstefees 2018: Vrynge inspireer ontluikende kunste

  • 0

’n Platform vir “jong, ontwikkelende en eksperimentele kunstenaars om hul werk ten toon te stel.”

Dít is die Vrynge-program, wat deel uitmaak van die groter Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. ’n Inisiatief wat nie net poog om die kunste te bevorder nie, maar ook om opkomende kunstenaars ’n geleentheid te gee om hul werk op die planke te bring.

Michael Garbett, Vrynge koördineerder, vertel meer oor dié inisiatief.

Michael Garbett (Foto: verskaf)

Op die Vrystaat Kunstefees se webtuiste staan daar die Vrynge-inisiatief “inspireer ontluikende kunste”. Wat presies behels die Vrynge-inisiatief en hoe het dit ontstaan?

’n Groep lukrake kunstenaars en kunsliefhebbers, een vertrek en lang middae van swoeg, sweet en konstruktiewe debattering. As deel van die destydse “rebranding” van die Vryfees, is verskeie dinkskrumme met plaaslike kuns-gemeenskappe geïnisieer om die stand van die kunste in Bloemfontein en die Vrystaat, te bedink. Een van die vatbare kwessies wat verskeie kere tydens hierdie sessies genoem is, was ’n behoefte aan ’n daadwerklike platform vir jong, ontwikkelende en eksperimentele kunstenaars om hul werk ten toon te stel. Daarvandaan is ’n geselekteerde fokusgroep byeen gebring, en in die verloop van een intensiewe middag is die basiese beginsels van die Vrynge uiteengesit. Die res is, cliché genoeg, geskiedenis.

Die Vrystaat Kunstefees is tans in volle swang

Vanwaar die naam “Vrynge”?

Die Vrynge is ons plaaslike antwoord op die meer bekende Fringe-feeste wat internasionaal bekend is as slypskole/afsetgebiede/kweekhuise vir die toekoms (die Avant-garde as jy wil) van die kunste. Maar ons rand-fees is uniek aan die Vrystaat en spesifiek ontwikkel vir die opwindende werk van opkomende kunstenaars vanuit die Vrystaat. Ons verwelkom graag kunstenaars van buite die Vrystaat, maar dan juis met die oog op kruisbestuiwing. Die naam “Vrynge”: op die oor bekend, maar op die oog, uniek!

Die fees-gees is volop in Bloemfontein

 Hoe word die Vrynge-program saamgestel?

Deur aansoeke, ontsag aanvaar alles, solank dit binne die riglyne van ’n menseregtelike raamwerk val – dit wil sê geen homofobie, seksisme, rassisme nie, tensy dit nie in die konteks is om hierdie kwessies uit te daag nie. As jy by Vrynge wil speel, sal ons vir jou ’n plek kry of bou.

Wat hou die Vrynge-program hierdie jaar vir feesgangers in en waarna kan feesgangers uitsien?

Die Vrystaat Kunstefees se Vrynge het hand oor hand gegroei en bied vanjaar ’n rekordgetal produksies en werkwinkels deur ontluikende kunstenaars en beroepspraktisyns wat werke in wording aanbied.

Die program spog met 50 produksies en op die openingsdag is al klaar 12 om van te kies – ’n waarborg dat jy vanuit die staanspoor ’n wye verskeidenheid het om van te proe.

Ons strategie om betrokkenheid deur die gemeenskap te versterk en Vrynge oor ’n wyer veld te versprei deur kunstenaars en deelnemers erkenning te gee, bly ons kernfokus en vanjaar se Vrynge-program bewys dit.

Alles is daar: internasionale, nasionale en plaaslike kunstenaars wat buitengewone werk aanbied. Imvuselelo the revival beloof om sienings van Afrikakultuur te verander. Babah is spesifiek vir die kleintjies van 4—12 maande geskep en sal hulle die wonder van teater laat ervaar. Vetkoekstories kom al die pad van Engeland om kos en goeie stories te geniet. ’n Interaktiewe aanbieding, Versnit/Vers nut, kombineer oorspronklike poësie en verskillende wynsoorte – ’n uitdaging om te proe.

Versnit/Vers nut

’n Wêrelddebuut is die lees van die toneelstuk Orphans – the spaghetti house three deur die Britse dramaturg Hassan Mahamdallie. As jy ’n dag vir die hele gesin soek, mik vir die laaste sprokie, Slightly nutty en Werner creates storiesmakers. Dié wat van musiek hou, sal beslis Bring’it & sing’it kies.

Bring’it & Sing’it

The story of Adam & If en What a difference jazz makes sal jou op ’n ritmiese avontuur wegvoer. En dis maar die tippie van die ysberg, hope verrassings wag. Vrynge-deelnemers gaan 2018 onthou as ’n mengelmoes van werkwinkels en besprekings wat die nodige gereedskap in kunstenaars se hande plaas.

Ons is baie opgewonde om weer toere na kunstenaars se ateljees aan te bied (VROST), asook Vlieks wat ’n toonvenster bied vir nuwe kortfilms deur jong, innoverende filmmakers.

What a difference jazz makes

Michael, watter rol voel jy speel kunstefeeste in die bevordering van die kunste?

In die afwesigheid van doeltreffende afsetgebiede vir die kunste – veral in gemeenskappe wat migreer het tot meer geïsoleerde vorme van vermaak – het die feeste hulself geposisioneer as die vernaamste rolspelers vir die viering en voortsetting van Suid Afrikaanse kuns. Verder het die kunstefeeste ook ’n bepalende rol begin speel in die ontwikkeling van jong kunstenaars.

Veral in non-metropoolse areas, met ’n laer per capita inkomstevlak, waar die elitisme van kunsgedrewe aktiwiteite weinige openbare ondersteuning geniet, het die jaarlikse instelling van ’n kunstefees die persepsie van ’n konsentrasie van bekostigbare, moeite-werd kuns-aktiwiteite aangevuur. Oor die afgelope kwart eeu (of meer in geval van die National Arts Festival) het die feeste hulself bevestig as die vernaamste rolspeler in die behoud van, veral die Afrikaanse kunste. Met die finansiële impetus wat die konsolidasie van die feeste bied en hul gepaardgaande korporatiewe borgskappe, is groter mobilisering van gehore moontlik – in so ’n mate dat die getal ondersteuners tydens feestyd onoortrefbaar is buite feestyd.

Ons strategie is om betrokkenheid deur die gemeenskap te versterk en Vrynge oor ’n wyer veld te versprei deur kunstenaars en deelnemers erkenning te gee. Dit is ons kernfokus vanjaar.

Singing anthems for rain

Wat is jou mening oor die toekoms van die kunste in Suid-Afrika?

Die kunste kort gehore en die gehore kort kuns. Daar is nog ’n lang pad wat die kunste en die publiek saam moet stap om ’n simbiotiese interafhanklikheid tot stand te bring.

Wat sou jy sê om mense aan te moedig om die kunste te ondersteun?

Enige myner weet dat jy deur baie rots moet kap om diamante te ontgin. Maar die glans van die ontginde edelgesteente maak al die mynwerk oor en oor die moeite werd! Vergesel ons op hierdie reis na die toekoms en kom myn saam aan die diamante van môre.


 

Michael het sy BA Drama en Teaterkuns-graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal, en daarna sy BA Hons Drama en Teaterkuns-graad (Cum Laude). Hy werk sedert 2015 by die Vrystaat Kunstefees.

Die fees hou aan tot môre. Vir meer inligting besoek hulle webtuiste by www.volksbladfees.co.za.

  • Foto’s: Vrystaat Kunstefees

Lees ook

Vrystaat Kunstefees: ’n kort oorsig

Vrystaat Kunstefees 2018: Gesprek oor Afrikaans

Vrystaat Kunstefees 2018: Afrikaans nie op kunstefeeste gered nie

Vrystaat Kunstefees 2018: RAAK deur Kanya Viljoen, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Rooilug deur Jefferson J Dirks-Korkee, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Kawakawas, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: GodgOdgoD – ’n teaterresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top