Vrystaat Kunstefees 2018: Kawakawas, ’n onderhoud

  • 0

Hier is nog besonderhede van die produksie en wanneer dit plaasvind.

Kawakawas is ’n nuwe teaterproduksie deur Denver Breda wat op die Vrystaat Kunstefees Vrynge debuteer. Denver het ook die stuk Rokkie vroëer vanjaar by die Suidoosterfees gedoen. Hy is ’n opwindende nuwe stem in die teater en hy doen gereeld ook aktivistiese werk binne taalverband, veral KhoeKhoe. Mercy Kannemeyer het by die Vrystaat Kunstefees met hom gesels.

Denver Breda (foto: Naomi Bruwer)

Denver, wat beteken Kawakawas?

Kawakawas beteken restorasie.

Waaroor gaan die stuk?

Die stuk handel oor die kerk en die manier waarop mense in magsposisies binne die kerk vroue seksueel mishandel. Dit gebeur nie net met vroue nie, maar met mans ook. Dit het destyds gebeur en dit gebeur vandag nog. So die stuk probeer geloof en veral Christenskap onder die kollig plaas deur die vraag te vra oor hoekom mense so stilbly oor gruweldade wat onder andere deur predikante gepleeg word. En dis goed waaroor ons moet begin praat. Daar was so ’n paar maande gelede ’n stuk in die koerant oor ’n predikant wat vir ’n jong vrou gesê het as sy met hom seksueel verkeer, die Heilige Gees só binne in haar sal kom. Dis belaglik. En met Kawakawas probeer ek en die aktrise, Deidré Jantjies, dit binne ons gegewe, Khoekultuur, aan te spreek.

Hoekom is die storie belangrik?

Die storie is belangrik omdat mense nie regtig daaroor wil praat nie. En hoe gaan ons die problem oplos as ons nie daaroor praat nie? Alle kerke is nie besig om die mense te beskerm nie. En kerk is so integraal deel van talle mense se bestaan. So die ongeregtighede moet aangespreek word.

Is daar genoeg verteenwoordiging van Khoestories op kunstefeeste?

Ek dink daar is nog nie genoeg verteenwoordiging nie, en kunstefeeste kan meer doen in die verband. Dit is wel nou besig om te gebeur – daar is ’n oplewing van Khoestories en dit is opwindend en nodig. Ons kan wel nie die feeste blameer nie, want ons is die mense wat die stories moet skryf en sekermaak die werk kry aandag.

Lees ook

Vrystaat Kunstefees 2018: Vrynge inspireer ontluikende kunste

Vrystaat Kunstefees 2018: RAAK deur Kanya Viljoen, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Rooilug deur Jefferson J Dirks-Korkee, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Gesprek oor Afrikaans

Vrystaat Kunstefees 2018: GodgOdgoD – ’n teaterresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top