Vrystaat Kunstefees 2018: Afrikaans nie op kunstefeeste gered nie

  • 6

Marnus Kok

Afrikaans se voortbestaan as hoëfunksietaal gaan nie in ’n gesprek op ’n kunstefees met ’n glas wyn in die hand verseker word nie.

Dit het ek die afgelope week besef ná ek ’n gesprek oor Afrikaans se toekoms by die Vrystaat Kunstefees bygewoon het. Die gesprek is deur HemelBesem gelei, met Theuns Eloff, Theuns du Buisson, Denver Breda (skrywer en kultuuraktivis) en Tessa Muller (skrywer) as sprekers.

Na ’n bietjie meer as ’n uur het ek daar uitgestap met amper geen nuwe insig nie. Eloff se projeksies van waar Afrikaans teen 2030 as onderrigmedium aan hoërskole en universiteite, is niks nuut nie.

Dit was wel interessant om te hoor wat Muller en Breda se siening van Afrikaans in hul onderskeie gemeenskappe is. Ja, dit is belangrik om mense se stories te hoor en gesprekke te voer, maar êrens moet tot aksie oorgegaan word.

In die gesprek is daar gesê dat mense in hul gemeenskappe die belangrikheid van moedertaalonderrig moet gaan beklemtoon. In my eie vriendekring, met meer as ’n handvol ouers wie se kinders in Engelse kleuter- of laerskole is, word daar gelag as jy van Afrikaanse onderrig praat.

Is dit nie nou tyd om met die regering en universiteitsowerhede indringend te praat oor die toekoms van Afrikaanse onderwys nie? Dalk is daar reeds sulke gesprekke, maar word die stem van Jan Alleman, soos die skolier uit Waterkloof, Pretoria se Moot, Elsiesrivier, Kuruman of Bloemfontein, wat hoop om eendag in Afrikaans te studeer, gehoor?

Wat mense nodig het, is om te weet dat daar ’n platform is waar hul stemme gehoor kan word om steeds onderrig in Afrikaans in die staatskole en -universiteite in die land te kry. Want elke keer as Afrikaans as taal van onderrig sneuwel aan ’n universiteit soos Tukkies of Kovsies, lyk dit asof AfriForum die enigste verteenwoordiger van Afrikaans is.

Marnus Kok

  • Marnus Kok is ’n sportskrywer by Netwerk24 in Bloemfontein. Hy skryf hier in sy eie hoedanigheid.

Lees ook:

Vrystaat Kunstefees: ’n kort oorsig

Vrystaat Kunstefees 2018: Gesprek oor Afrikaans

Vrystaat Kunstefees 2018: Vrynge inspireer ontluikende kunste

Vrystaat Kunstefees 2018: RAAK deur Kanya Viljoen, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Rooilug deur Jefferson J Dirks-Korkee, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Kawakawas, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: GodgOdgoD – ’n teaterresensie

 

 

  • 6

Kommentaar

  • Matthys Strydom

    Ek stem saam dat Afrikaans nie by kunstefeeste gered kan word nie – ook nie by enige Staatsopvoedingsinrigting nie. As daar nie privaatskole en universiteite kom wat Afrikaans as noodsaaklik beskou nie, sal ons taal 'n argieftaal word.
    En wat moedertaalonderrig betref – luister bietjie na die taal van ons huidige jong- en toekomstige "Afrikaanse" moeders en word saam met my ernstig besorg.

  • Johnnes Comestor

    Marnus, dit is ironies om te spesifiseer waar begin moet word om mense ten bate van Afrikaans te aktiveer. Eerstens, Afrikaansinstansies soos die ATKV, ATM, ATR, FAK, LitNet en die SA Akademie vir Wetenskap behoort byeen te kom en gesamentlik op 'n plan van aksie te besluit en dit toe te pas. Tweedens, Afrikaansdosente moet as deel van hierdie plan individueel genader word en versoek word om aktief aan die stryd om die behoud van Afrikaans, insluitende hierdie gesamentlike aksie, deel te neem. Wanneer ek op LitNet en elders 'n beroep op die genoemde instansies en persone doen om hulle vir Afrikaans en daarby suiwer(der) Afrikaans te beywer, is daar geen reaksie nie. Erger, daar is Afrikaansdosente wat openlik daarop roem dat hulle nie deel van die taalstryd wil wees nie. Met so 'n gesindheid word Afrikaans kwalik redbaar. Wanneer ek pro-Afrikaans op Netwerk24 reageer, val dit op dat daar meesal geen ondersteunende reaksie is nie. Die apatie/onverskilligheid by Afrikaansinstansies en -dosente het na die Afrikaanssprekende publiek deurgesuur. Eens Afrikaanse universiteite moet geteiken word om tot inkeer te kom wat Afrikaans betref eerder as om hoop op private universiteite met beperkte finansiële middele te vestig.

  • Pro-Afrikaans

    By geen staatsuniversiteit kan en sal Afrikaans meer gered kan word nie. Dis te laat. Heeltemal te laat. Die idee van veel- en meertaligheid het tot algehele verengelsing gelei.

    Ondersteun Akademia, ons nuwe Afrikaanse privaatuniversiteit. Vir verskeie redes gaan Akademia 'n reuse-sukses wees.

  • Philippus P Janse van Rensburg.

    Daar is net een plek waar Afrikaans kan oorleef: Jý! Solank een enkele mens Afrikaans bly praat én leef, is die taal lewendig. As ons elkeen, wat Afrikaans as ons kommunikasiemedium gebruik, weier om by sy begrafnis te huil, leef hy!
    Daar was in ons geskiedenis 'n werklike aanslag op die taal, maar, deur volhardende weiering is dit afgeweer.
    Opoffering deur die skepping van eie fasiliteite omseil die probleem en skep sodoende 'n nuwe vibrante gemeenskap, saamgesnoer deur die verwerkliking van 'n ideaal.

  • Philippus, volgens jou: 'Solank een enkele mens Afrikaans bly praat én leef, is die taal lewendig.'

    Hoe word so 'n soort taal en lewe genoem?

  • Johnnes, jy noem: 'Eerstens, Afrikaansinstansies soos die ATKV, ATM, ATR, FAK, LitNet en die SA Akademie vir Wetenskap behoort byeen te kom en gesamentlik op 'n plan van aksie te besluit en dit toe te pas.'

    Het jy één voorstel vir hierdie 'plan van aksie' en hoe dit toegepas kan word?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top