Vrystaat Kunstefees 2018: Rooilug deur Jefferson J Dirks-Korkee, ’n onderhoud

  • 0

Jefferson J Dirks-Korkee (foto verskaf)

Jefferson J Dirks-Korkee (29) is ’n jong teatermaker oorspronklik van Willowmore in die Oos-Kaap. Hy het sy skoolloopbaan in Willowmore voltooi en daarna Bloemfontein toe getrek om by die Universiteit van die Vrystaat (UV) Drama en Teaterkuns te studeer. Hy woon sedertdien in Bloemfontein en is al vir die afgelope nege jaar lank professioneel in die teaterwêreld betrokke. Hy sê hy is baie gelukkig om vroeg in sy loopbaan al sy eerste professionele werk te kon kry.

Buiten die feit dat hy ’n teatermaker is, is hy ook ad hoc-dosent aan die UV se Opvoedkunde Fakulteit en werk in die skeppende kunste. Hy is ook ’n fasiliteerder by Pacofs en werk gereeld met jong teatermakers, sowel as ouer teatermakers wat nie noodwendig aan ’n universiteit of college studeer het nie. Verder werk hy ook aan die kreatiewe kunste-kurrikulum en is gereeld in werksessies saam met onderwysers in die veld.

Jefferson het ’n produksie, Rooilug, op die Vrystaat Kunstefees Vrynge, en Mercy Kannemeyer het so bietjie met hom daaroor gesels.

Waaroor handel Rooilug?

Rooilug handel oor huislike en gemeenskaplike geweld. Dit vertel die storie vanaf die perspektief van die kind. Meeste van die tyd dink ons kinders is nog mense in wording en nie dat hulle tans in hulle lewe kinders is nie. “Human becomings instead of human beings.” So ek probeer beklemtoon dat kinders reeds mense is en nie besig is om nog mense te word nie. In die stuk wat ek vertel, sien die kind die geweld in sy huis en ervaar ook self van daardie geweld. Vir my is dit belangrik dat ouers die stuk kyk en besef dat kinders weet wat besig is om rondom hulle te gebeur en dat gewelddadige gebeure grootskaalse skade, skade wat nie maklik reggestel kan word nie, aandoen.

Hoekom het jy besluit om die storie aan te pak?

Ek probeer altyd stukke skryf vanuit ’n plek waar ek die gebeure self ervaar het, of self gehoor het, of waar ek dit self gesien het. Ek probeer om nie as 'n buitestaander te skryf nie. Nie dat daar iets verkeerd is daarmee nie, ek wil net graag stories vertel waarvan ek ervaring het. Die storie is belangrik omdat kinders te dikwels silent victims is. En die ervaringe as kind het langtermyngevolge op ’n kind se ontwikkeling. Ons moet nie geweld normaliseer nie, so ek wil graag daardie kwessie aanspreek en bewusmaking skep daarvoor dat kinders se ontwikkeling ’n groot knou kan kry weens ervaringe wat hulle nie kon keer toe hulle nog jonger was nie.

Wat beteken dit vir jou as kunstenaar om op die Vrynge te speel?

Die Vrynge bied ’n platform om te eksperimenteer. Daar is talle geleenthede om verder te ontwikkel as jy as jong kunstenaar op die Vrynge speel. My doel as kunstenaar is om ’n verskil te maak en gehore se denke te verskuif. Ons werk as teatermakers is om ten volle verantwoordelikheid te neem vir ons stories en om ons gehore op te pas. Dis ook goed wanneer gehore die kans vat om na jong kunstenaars se werk te kyk en so leer ons ook.

Ter afsluiting sê Jefferson dat gehore nog meer stories van hom kan verwag  en hopelik nog stories wat mense se lewens op ’n positiewe manier kan verander. Hy wil nog meer skryf, regie doen, toneelspeel en sy stories op geloofwaardige maniere vertel.

Lees ook

Vrystaat Kunstefees 2018: Vrynge inspireer ontluikende kunste

Vrystaat Kunstefees 2018: Afrikaans nie op kunstefeeste gered nie

Vrystaat Kunstefees: ’n kort oorsig

Vrystaat Kunstefees 2018: Gesprek oor Afrikaans

Vrystaat Kunstefees 2018: RAAK deur Kanya Viljoen, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Kawakawas, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: GodgOdgoD – ’n teaterresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top