Vrystaat Kunstefees: ’n kort oorsig

  • 0

Mercy Kannemeyer en die logo van die Vrystaat Kunstefees: https://www.vrystaatkunstefees.co.za/en/home/

Vanjaar was my eerste keer by die Vrystaat Kunstefees, en te oordeel aan die manier waarop die fees bemark is, het ek myself voorberei vir ’n inklusiewe en dinamiese fees wat ons Suid-Afrikaanse landskap in ’n behoorlike en opbouende lig sou weerspiëel.

’n Produksie wat my nog lank sal bybly, is Mount Maak se GodgOdgoD wat handel oor die skeppingsproses. In dié produksie word gevra waarvoor vat die mense verantwoordelikheid? Vat ons genoeg verantwoordelikheid vir dit wat ons in die wêreld inbring en kan die aarde alles hanteer wat geskep word? Die produksie, waarvan Wolf Britz en Ilana Cilliers die regie hanteer het, het ’n sterk ensemble wat bestaan uit Britz en Cilliers, Charlton George as God (wie beter om dié rol te vertolk?!), Tiisetso Mashifane en Aphiwe Livi. Saam bring hulle stories oor die skepping na vore en laat die gehoor toe om op ’n niekonfronterende maar tog weldeurdagte manier na die gegewe te kyk en daaroor te besin. Nog ’n pluimpie vir die produksiespan is dat hulle die stuk so universeel aanpak dat álmal daarby kan aanklank vind. Wetenskaplikes, kunstenaars, Jan Alleman sal die produksie geniet en vir seker iets daaruit kan leer.

Nog ’n hoogtepunt is Jefferson J Dirks-Korkee se eenmanproduksie, Rooilug. Hy het die produksie geskryf, die regie hanteer, en speel ook self daarin. Rooilug speel af in Willowmore, die klein dorpie in die Oos-Kaap, en handel oor geweld wat teen kinders gepleeg word. Die storie word vertel vanuit die perspektief van die kind en die klem val daarop dat kinders menslik hanteer moet word, ongeag hul ouderdom. Die akteur sê in ’n onderhoud dat grootmense aan kinders moet dink as “human beings”, en nie “human becomings” nie. Ervaringe van kleins af is onlosmaaklik deel van hoe ’n kind later gaan wees, en sommige kry dit reg om uit die hand van geweld te ontsnap, waar ander ongelukkig in die web vasgevang word en sukkel om daaruit te kom.

Dan was daar ook Kanya Viljoen, pas afgestudeerde dramastudent van die Universiteit van Kaapstad, se produksie Raak wat handel oor ’n getroude paartjie en dit wat agter toe deure gebeur. Die inspirasie kom uit NP Van Wyk Louw se Raka en vra verdere vrae oor die rol van patriargie in ’n verhouding sowel as die objektivering van die vrou. Jag is ook ’n groot tema in die stuk: wie is die jagter en wie is die prooi? En op watter maniere word die prooi lamgelê? Dit was een van daardie teaterervarings wat jou toelaat om op ’n vreemde manier die teater te verlaat deurdat die storie soveel hoogtepunte en laagtepunte het en jy later nie meer weet vir wie om nou eintlik jammer te kry nie. Viljoen is ’n opwindende nuwe stem in die bedryf en ek sien geweldig uit na dit wat nog uit haar pen en regisseurshand as jong teatermaker gaan kom.

En dan was daar ook die omstrede gesprek oor Afrikaans ... Simon Witbooi (HemelBesem) was die gespreksleier en die paneellede was Denver Breda, Theuns du Buisson, Tessa Muller en Theuns Eloff. Die gesprek het gehandel oor die toekoms van Afrikaans. Maar die toekoms van Afrikaans is nou al van soveel kante af geskets dat die gesprek al afgewater is. Alle Afrikaanssprekendes weet nou al dat die toekoms van Afrikaans duister lyk en dat daar talle agendas op die tafel is óf om Afrikaans heeltemal af te skaf óf om hard daarvoor te veg. Dis tyd om planne wat alreeds op die tafel is, uit te voer en die gebiede te prioritiseer waar dit die slegste gaan, en waar daar dalk nog iets te redde is. Onderwys is belangrik; kultuur en erfenis is net so belangrik.

Die Afrikaanse landskap is egter ongelukkig so verdeeld dat dit samewerking bemoeilik. Ek wil graag glo daar is meer mense wat wíl saamwerk om die taal te red en van hul eie agendas ontslae sal raak ten einde ’n taalharmonieuse omgewing te skep waarin verskeie mense kan leef. Benoude katte maak benoude spronge, maar nou is nie die tyd daarvoor nie. Dis tyd vir werk.

Die Vrystaat Kunstefees het ’n druk program gehad, veral die literatuurdeel daarvan, waar ek graag by meer sou wou uitgekom het, maar hopelik kan ek dit volgende jaar regkry. Die Vrynge-aanbod was ook nogals groot, en dit is ’n goeie platform vir jong kunstenaars om hul werk te toets. Ongelukkig kan ’n mens nie by alles uitkom nie en hoop jy maar dat ’n stuk by ’n ander fees weer lewe sal kry.

Ten slotte: ek het een middag by die fees per toeval by ’n gesprek ingeskakel met die titel “Multilingual arts practice in African theatre: negotiating difference”. En om die tafel sit teatermakers en skrywers van onder andere Brittanje, Australië, Nigerië en Amerika – uiteenlopende mense wat bymekaarkom om verskille en ooreenkomste in teater te bespreek. Die gesprek is afgeskop deur Suid-Afrika se komplekse verhouding met taal te skets, veral met Afrikaans. Die verhouding tussen Afrikaans en die ander ampstale is uitgelig, sowel as Afrikaans se verhouding met die Khoi-tale. En vanuit hierdie gesprek was dit duidelik dat dele van ons identiteit in Suid-Afrika aan ons tale geheg is. Dit was ook duidelik dat die gesprek kompleks is, want daar was ongeveer ses Suid-Afrikaners deel van die gesprek terwyl die ander deelnemers van regoor die wêreld gekom het, en ons ses het alreeds van mekaar verskil.

’n Paar deelnemers van ander wêrelddele het nie ten volle ons fassinasie met taal verstaan nie en vir ander het dit weer heeltemal sin gemaak. Om gestroop te word van jou moedertaal en om in Engels, wat ’n kolonialistiese taal is, te leef, is meer universeel as wat ons soms dalk mag dink. Dit maak dit nie reg nie, dit verbreed wel jou visie. Ek het van dié gesprek af weggestap met meer insig in ander se verhouding met taal en identiteit en ook met die wete dat daar nog baie werk voorlê vir taalstryders in ons land. As jy daadwerklik ’n verskil wil maak, gaan jy jou sewe sakke sout moet sleep en hard moet werk vir dit waarin jy glo.

Vrystaat Kunstefees 2018: Afrikaans nie op kunstefeeste gered nie

Vrystaat Kunstefees 2018: Gesprek oor Afrikaans

Vrystaat Kunstefees 2018: RAAK deur Kanya Viljoen, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Vrynge inspireer ontluikende kunste

Vrystaat Kunstefees 2018: Rooilug deur Jefferson J Dirks-Korkee, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Kawakawas, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: GodgOdgoD – ’n teaterresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top