Vrystaat Kunstefees 2018: GodgOdgoD – ’n teaterresensie

  • 0

GodgOdgoD, deur Mount Maak
Oorspronklike teks: Rob de Graaf
Verwerking: Ilana Cilliers
Regie: Wolf Britz en Ilana Cilliers
Met Charlton George, Tiisetso Mashifane, Ilana Cilliers, Wolf Britz en Aphiwe Livi

Hoe word dinge gemaak? Is ons verantwoordelik vir ons eie lot? Tot watter aksies gaan jy dan oor om seker te maak jy oorleef? Dit is sekere van die vrae wat die produksie, GodgOdgoD vra.  

GodgOdgoD is nie een van daardie teaterstukke waarvan iemand jou kan vertel nie. Jy moet dit eerstehands ervaar. Dié eksperimentele teaterstuk, geskep deur Mount Maak, is ’n verwerking van Rob de Graaf se teks en handel oor die skeppingsproses.  Ek het met die regisseurs en teatermakers Wolf Britz en Ilana Ciliers oor hul opwindende nuwe stuk gesels.

Die storie van God en hoe die wêreld en alles daarop geskape is, raak in die produksie ’n  metafoor vir kunstenaars wat werk skep, mense wat goed/dinge bou, tegnologiese vooruitgaan en mense wat ander mense en dinge in die wêreld bring. Die sentrale vraag is: Waarvoor neem jy verantwoordelikheid? Moet jy verantwoordelikheid vat vir dit wat jy skep? En op watter maniere neem jy daarvoor verantwoordelikheid?

Wolf vertel ook dat hulle die produksie binne ’n kontemporêre milieu plaas en hulle maak gebruik van sommige van die skeppingstories wat al eeue oud is. Hulle gaan ook op ’n interessante manier om met taal en maak sodoende gebruik van Afrikaans, Engels, Sipedi en Xhosa. Die tale en skeppingsverhale tree in gesprek met mekaar sowel as met die westerse geloof oor wat die skeppingsproses en in effek ook geestelikheid, behels.  Die produksiespan glo ook dat die produksie gaan oor ’n waardesisteem en die manier waarop lewende wesens dit wat vir hulle iets beteken, sal beskerm.

Die wonder van die natuur is nog iets wat hulle probeer uitbeeld, vertel Ilana. Die natuur, saam met wetenskap en kuns. "Hoe minder jy van wetenskap weet, hoe meer magies raak jou realiteit."  Wolf stem saam en sê die produksie is ’n gesprek tussen kuns, wetenskap en godsdiens.

In die proses het die produksie ook so ver as moontlik probeer om nie enige nuwe dékor en rekwisiete te bou of te maak nie, maar om eerder die ekonomiese en ekologiese roete te volg deur van bestaande items gebruik te maak. Volgens Wolf en Ilana is dit juis so besluit omdat teater dikwels as elitisities en duur beskou word, daarom mik hulle daarna om ekonomies te werk te gaan.

Op die vraag oor vir wie die produksie gemaak is, antwoord Ilana "Ons het die stuk vir mense gemaak. Ons sou graag wou hê diere moet ook kom kyk, maar hulle het ongelukkig nie geld nie, en ons moet kaartjies verkoop."

Wolf voeg by en sê hulle wil graag hê kinders en ouer mense moet kom. Almal moet herontdek en weer opgewonde raak en sien hoe mooi die dinge is waarvan hulle reeds weet.  Daar is iets vir almal in die stuk – die akademikus, en die een wat nie enige iets weet van wetenskap nie.

Die span van Mount Maak stem ten volle saam dat die Suid-Afrikaanse, en veral die Afrikaanse, mark gereed is vir eksperimentele werk, want dis vir hulle belangrik om nie hul gehoor te onderskat nie. Mense sal eet wat jy vir hulle voer, mits hulle nuuskierig genoeg is. Wolf put inspirasie uit die werk van Philippe Quesne en Ilana uit dié van Jori Snell. Verder kry hulle ook inspirasie van dit wat hulle rondom hulle sien en dinge wat hulle van vriende in die kunstebedryf leer.

Die produksie raak ’n ontmoetingsplek vir verskillende mense. Oud en jonk. Jy hoef nie van alles te hou nie. En jy hoef nie alles te verstaan nie. Nes die lewe. GodgOdgoD is vir seker ’n hoogtepunt op die Vrystaat Kunstefees se program.

GodgOdgoD speel nog tot 14 Julie in die Pacofs-ondergrondse parkeerterrein (Pacofs Basement Parking).

Volg hulle op sosiale media: Instagram: mt_maak

Facebook: Mount Maak

Lees ook

Vrystaat Kunstefees: ’n kort oorsig

Vrystaat Kunstefees 2018: Gesprek oor Afrikaans

Vrystaat Kunstefees 2018: Vrynge inspireer ontluikende kunste

Vrystaat Kunstefees 2018: RAAK deur Kanya Viljoen, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Rooilug deur Jefferson J Dirks-Korkee, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Kawakawas, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Afrikaans nie op kunstefeeste gered nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top