Vrystaat Kunstefees 2018: Gesprek oor Afrikaans

  • 2

Hoe lyk die toekoms van Afrikaans?

Dit is ’n gesprek wat ons Afrikaanssprekendes seker nou al tot vervelens toe gevoer het, en ons is nog ver van klaar gepraat. Afrikaans is op ’n mespunt en wie moet praat en wie moet luister?

By die Vrystaat Kunstefees was daar ook die afgelope week ’n gesprek oor Afrikaans en Theuns Eloff, Denver Breda, Theuns du Buisson en Tessa Muller was die paneellede terwyl Simon Witbooi (Hemelbesem) as die gespreksleier opgetree het.

Die gesprek het afgeskop met die vraag hoe Afrikaans in die media lyk en wat Afrikaans vir die paneellede beteken. En die vraag is tegemoetgekom met die feit dat Afrikaans die taal is waarin daar gewerk, geleef, gekommunikeer en gedroom word. Die belangrikheid van moedertaalonderrig is uitgelig, asook die manier waarop Afrikaanssprekendes moet hande vat met ander moedertale sodat ons in ’n taalvriendelike omgewing kan woon.  

Breda, Khoe-aktivis, het gesels oor die belangrikheid van die herstrukturering van Afrikaans en Afrikaans se pynvolle verlede. Hy sê ook dis belangrik vir ons om terug te kyk na ons verlede, sodat dieselfde foute nie weer gemaak word nie. Hy meen ook die toekoms van Afrikaans lê in bruin hande en bruin mense kort meer geleenthede en platforms om vir hul taal te veg.

Op die vraag oor die toekoms van Afrikaans, meen Eloff dat daar oor ’n paar jaar aansienlik minder Afrikaanse skole gaan wees, en dat daar vir oorlewingsdoeleindes sal gekyk moet word na private opleiding en instansies wat Afrikaans aan die lewe kan hou.

Vanuit talle oorde word die toekoms van Afrikaans geweldig duister geskep, met goeie rede natuurlik. Die gesprek val net bietjie plat wanneer daar te sentimenteel oor die taal gepraat word, maar ek verstaan dit. Afrikaans is deel van mense se identiteit en talle voel dat as hulle Afrikaans verloor, hulle ’n deel van hulself gaan verloor. Soetsappigheid lei myns insiens nie tot rasionele en konstruktiewe denke nie. En Afrikaans het konstruktiewe gesprekke op hierdie oomblik geweldig nodig. Dis nodig om planne te maak en oop gesprekke te voer sodat ons werklik die taal op ’n plek kan kry waar ons vrees ons nie inperk nie.

As jong Afrikaanse mens, wat trots is om Afrikaans te wees en die belangrikheid van moedertaalonderrig besef, glo ek die Afrikaanse gesprek kort ’n vars invalshoek. Bestaansangs en vrees oor Afrikaans gaan ons nêrens bring nie. Ons moet fokus op die dele van die taal wat goed doen en wat kultuur en erfenis bevorder – soos letterkunde, teater, flieks, ens. Daar word ook tans goeie planne gemaak vir Afrikaanse onderwys wat sal verseker dat die taal nog akademiese groei gaan toon. Ons moet mekaar as Afrikaanssprekendes ook aanspreeklik hou vir die bevordering van die taal en versigtig wees om nie in ’n gat te trap waar ons dink ons taal is belangriker as ander tale nie, want dit is nie.

Afrikaans is op ’n mespunt, nes talle ander tale, en vir die pad vorentoe kort ons beter invalshoeke. Ek sal bietjie dink en hopelik binnekort weer iets hieroor kan skryf … as mense nog wil luister en saam gesels.

Lees ook

Vrystaat Kunstefees 2018: Vrynge inspireer ontluikende kunste

Vrystaat Kunstefees 2018: RAAK deur Kanya Viljoen, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Rooilug deur Jefferson J Dirks-Korkee, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Kawakawas, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: GodgOdgoD – ’n teaterresensie

Vrystaat Kunstefees 2018: Afrikaans nie op kunstefeeste gered nie

Vrystaat Kunstefees: ’n kort oorsig

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johnnes Comestor

    'n Beter invalshoek is dat almal wat Afrikaanssprekend is hulle beywer vir 'n Afrikaans wat so vry moontlik van onnodige Engelse woorde is.

  • Dankie Mercy, ek is verskriklik dankbaar om 'n medestryder vir ONS pragtige taal in jou te hê. Ons as Afrikaanses en broeders en susters met 'n gemeenskaplike erfenis, geskiedenis en natuurlik taal, MOET verenig en ons magte konsolideer sodat ons die toekoms van ons en ons taal met positiwiteit en selfvertroue kan ingaan!

    Ek hoop van harte dat bruin en wit Afrikaanssprekendes kan besef dat ons NIKS is sonder mekaar nie, en dat ons deur te veg vir ons taal mekaar ook op 'n dieper vlak sal vind; die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) is 'n bitter goeie begin, en ek kan reeds sien hoe leergierige en ywerige wit en bruin kindertjies een van die dae (sommer gou hopelik!) SAAM in klaskamers sit en leer en ontwikkel in hul moedertaal.
    Weereens dankie vir jou veglus, ywer en hierdie artikel. 🙂

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top