Vrystaat Kunstefees 2018: RAAK deur Kanya Viljoen, ’n onderhoud

  • 0

RAAK
Met: Anoecha Kruger en David Viviers

Kanya Viljoen is ’n jong teatermaker wat verlede jaar haar studies aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het. Sy het in teatermaak gespesialiseer en het vanjaar ’n produksie met die titel RAAK wat op die Vrystaat Kunstefees Vrynge speel. Sy sê sy wou ongetwyfeld nog altyd in die teaterbedryf wees en mettertyd het haar liefde vir die bedryf gegroei.

Ek het bietjie met haar gesels oor RAAK.

Waaroor gaan RAAK?

Die produksie vertel die verhaal van ’n jong getroude paartjie en hoe hul lewens oormekaar gevou het. Van hul dae op hoërskool waar hul onskuldig verlief geword het, tot oomblikke waar geheime gehou moes word, hul getrou het en saam elemente van hulself verloor het. Dit word ’n intieme ondersoek na die geweld van verwagting, nie net die verwagtinge wat ons vir onsself skep nie, maar wat die samelewing skep. Of dalk net die geweld van liefhê. 

Dit is moeilik om in ’n paar sinne op te som. Ek wil nie werk skep wat ’n “eenvoudige” narratief op die verhoog neerlê nie, daar moet ook ruimte wees vir interpretasie, dialoog en gesprek.

Waar het die storie begin?

Die inspirasie kom deels uit my liefde vir NP van Wyk Louw se poësie, spesifiek Raka. Ek was nog altyd gefassineer deur hoeveel verskillende interpretasies daar oor ’n paar bladsye kon bestaan. Verder kom die inspirasie uit die Afrikaanse kultuur se verhouding met jag as sport en ritueel. As ’n mens eers daaroor begin dink, besef jy hoe kompleks iets soos jag is en die uitdaging om al die elemente van jag en poësie saam te weef op ’n verhoog is wat my werklik opgewonde gemaak het.

Hoekom juis die storie?

Ek dink nie ons praat genoeg oor wat agter toe deure gebeur nie, hoe die sisteme wat die samelewing vorm, wat om ons vorm, tog in ons alledaagse bestaan uitspeel. Waar sit iets soos die patriargie binne ’n verhouding? Hoe word iets soos die vrou se liggaam geobjektiveer? Waar lê ons tekortkoming? Ek weet dis groot temas, maar iewers hoop ek dat gehoorlede dele daarvan sal kan wegneem en kan raaksien waar dit dalk nog in hul eie lewens ook voorkom.

Hoekom het jy ingeskryf vir die Vrynge?

As ’n jong opkomende kunstenaar is dit soms moeilik om die regte “spasies” te vind waar die werk gesien kan word, of ’n kans gegun kan word. Dus, was Vrynge ’n platform wat vir my sin gemaak het, omdat dit die produksie ’n kans sou gee om binne ’n feeskonteks te speel en dus so gehore bereik, maar tog intiem kan bly. 

Waarheen gaan RAAK volgende?

In Augustus sal ons by The Drama Factory in Somerset-Wes te sien wees en in Desember sal ons by die Baxter se Masambe-teater speel. Hopelik is daar ’n fees of twee waarvoor ons volgende jaar ook kan voorlê.

Lees ook

Vrystaat Kunstefees 2018: Vrynge inspireer ontluikende kunste

Vrystaat Kunstefees 2018: Gesprek oor Afrikaans

Vrystaat Kunstefees: ’n kort oorsig

Vrystaat Kunstefees 2018: Afrikaans nie op kunstefeeste gered nie

Vrystaat Kunstefees 2018: Rooilug deur Jefferson J Dirks-Korkee, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: Kawakawas, ’n onderhoud

Vrystaat Kunstefees 2018: GodgOdgoD – ’n teaterresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top