USAN 2022 – ’n onderhoud met Mart-Mari van der Merwe

  • 0

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers met vrae genader.

Hier is Mart-Mari van der Merwe se antwoorde.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Die USAN-kongres was die eerste régte-egte kongres waar ek self ’n spreker was voor ’n akademiese gehoor (in lewende lywe). My senuwees was omtrént gedaan. Gelukkig was die organiseerders só in beheer van sake dat hulle kalmte sommer na my toe oorgevloei het. Dit was lekker om oor my navorsing te kon gesels met ander nagraadse studente (wie so ore nog nie van hulle koppe af gepraat is oor my onderwerp nie, anders as my vriende tuis). Vir so lank was alle akademiese stimulasie maar eintlik jou eie verantwoordelikheid, en by die kongres kon jy net sit en luister – dit was besonders om aan soveel nuwe idees en belangstellings blootgestel te word.

Vanjaar, 2022, was ’n gans-ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

Ek was nog altyd ’n eenkantmens, en ek was dus heel verbaas hoe ’n impak isolasie op my gehad het. Vir die grootste deel van my navorsing was ek alleen in my woonstel, en dit was nie so wonderlik vir my produktiwiteit as wat ek gehoop het nie. Dit het my toe genoop om aansoek te doen vir ’n deeltydse pos, en ek het begin om kommunikasievaardighede (hoofsaaklik aanlyn) te doseer by TUT. Hierdie skuif het beslis ’n groot impak gehad op hoe ek my navorsing benader, want ek het gou besef ek sal dit ook as ’n “werk” moet sien (een wat nie betaal in rande nie, maar wat beslis bevredigend is).

..........
Ek doen navorsing oor die gebruik van taboewoorde, en dis nogal ’n onderwerp waarby konteks (soos ’n spesifieke spraakgemeenskap, wat ook ’n spesifieke omgewing kan betrek) ’n groot rol speel.
............

Op ’n heel ander wyse het die omgewing waar ek gesitueer is, ook tot ’n mate beïnvloed uit watter lens ek my navorsing beskou. Ek doen navorsing oor die gebruik van taboewoorde, en dis nogal ’n onderwerp waarby konteks (soos ’n spesifieke spraakgemeenskap, wat ook ’n spesifieke omgewing kan betrek) ’n groot rol speel. My eie ervaring speel dus natuurlik ’n rol in hoe ek taboewoorde beskou of verstaan – iets waaraan ek myself heeltyd moes herinner.

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Dis nou meer as ooit ’n voorreg om die geleentheid te hê om verder te kan studeer. Vir my beteken ’n benaming soos “jong navorser” dus dat ek ’n tipe verantwoordelikheid het – ’n verantwoordelikheid om aktief vernuwing en groei op my navorsingspaadjie te soek. In ’n praktiese opsig beteken dit dat ek vir ’n wyle darem nog ’n vangnet het in die vorm van ervare mentors soos my studieleiers.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei.

...........
Vir my meestersgraad in Afrikaanse taalkunde is ek besig om prototipiese Afrikaanse taboewoorde te ondersoek. Met ander woorde, ek soek die mees sentrale, mees gebruikte, “belangrikste” Afrikaanse taboewoorde. Die doel is om uiteindelik ’n ranglys op te stel wat bruikbaar kan wees vir verskeie mense (onder andere skrywers of filmmakers).
............

Vir my meestersgraad in Afrikaanse taalkunde is ek besig om prototipiese Afrikaanse taboewoorde te ondersoek. Met ander woorde, ek soek die mees sentrale, mees gebruikte, “belangrikste” Afrikaanse taboewoorde. Die doel is om uiteindelik ’n ranglys op te stel wat bruikbaar kan wees vir verskeie mense (onder andere skrywers of filmmakers). Een van my eksperimente is byvoorbeeld uitgevoer deur vir respondente te vra om in twee minute soveel taboewoorde as waaraan hulle kan dink, op te noem, aangesien prototipiese lede van ’n kategorie ook makliker opgeroep word. Ek het vroeër genoem dat daar nogal variasie tussen spraakgemeenskappe kan voorkom, maar dis baie interessant om te sien hoevéél variasie daar selfs tussen individue voorkom.

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

Ná my eerste vergadering met my studieleiers (Suléne Pilon en Gerhard van Huyssteen) het hulle my aangesê om op my bed te gaan lê en “wonder” (iets wat gelukkig glad nie vir my moeilik was nie). Ek het geweet hulle is albei betrokke by die vloekprojek, dus sou ek oneerlik wees as ek sê dit het nie ’n rol by my keuse gespeel nie. Tog is taboes nog altyd iets wat my fassineer. As kind was ek vreeslik voorbeeldig, en dit het my nogal gepla. Hoekom oortree sommige mense so maklik onsigbare “reëls” in die samelewing, maar vir my was dit amper soos ’n fisiese muur waaroor ek moes klouter? Ek was byvoorbeeld ook die een wat nie ’n grappie gesnap het as daar ’n vloekwoord in was nie – want ek het die woord bloot nie geken nie. Ten minste kan ek nou sê ek het regtig ’n onderwerp gekies waaroor ek beslis nog baie moes leer – iets wat vir ’n nuuskierige soos ek dadelik ’n trekpleister is.

Nog ’n inspirasie het eintlik met ’n literêre draai gekom – in my honneursjaar het ek navorsing oor filmverwerkings gedoen en uiteindelik ’n klein deeltjie van ’n artikel saam met Jacomien van Niekerk geskryf oor Christiaan Olwagen se filmverwerking van Anton Tsjechof se Die seemeeu (2019). Een van die dinge wat my bygebly het, is hoe effektief die taalgebruik, en spesifiek die vloekwoorde, in die film was. Van films en vloekwoorde af is dit nie ver om te kom tot by die Film- en Publikasieraad nie. Hulle is onder andere verantwoordelik daarvoor om die taalgebruik in ’n film te takseer sodat die voorkoms van sterk taalgebruik daarin aangedui kan woord. Ek kon egter nie ’n lysie woorde kry wat hulle as ’n riglyn gebruik nie, en ek besluit toe dis ’n goeie invalshoek om prototipiese taboewoorde mee te ondersoek. Ek kan wel sê ek verstaan nogal hoekom hulle nog nie ’n lys het nie – ek dink die enigste konstante van só ’n lys sou wees dat dit amper konstant aangepas sal moet word.

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien? As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

(Sommer die antwoord vir al die vrae hierbo.) Ek dink nie Afrikaans (en die vakgebied) is ’n kosbare skatkis wat ten alle koste bewaar moet word nie. Miskien is ’n beter metafoor ’n gereedskapkis. Dinge gaan breek of wegraak, daar gaan nuwerwetse dinge bykom.

..........
Ek dink nie Afrikaans (en die vakgebied) is ’n kosbare skatkis wat ten alle koste bewaar moet word nie. Miskien is ’n beter metafoor ’n gereedskapkis. Dinge gaan breek of wegraak, daar gaan nuwerwetse dinge bykom.
..........

Op die ou einde gaan dit oor die bruikbaarheid van die gereedskapkis. En dis wat ek so geniet het van die ander navorsers se aanbiedings – hoe hulle verslag doen oor die bruikbaarheid van Afrikaans. Hoe hulle self Afrikaans gebruik om iets mee te sê. Ook hoe die vakgebied verbreed, soos om beter strategieë vir taalaanleer te soek. Of hoe nuwe maniere gesoek word om sake mee te bewoord sodat ons genuanseerd daaroor kan gesels. Die navorsers by die kongres het gewys dat die vakgebied beslis nie besig is om te stagneer nie.

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

Ek wonder of eienaarskap werklik ’n nuttige begrip is om in verband te bring met ’n taal. Wanneer ek sê Afrikaans is “my” taal, bedoel ek dit in dieselfde sin as wat ek sê Suid-Afrika is “my” land: Ek is besig om meer oor myself (en my komvandaan) te sê as oor Afrikaans (of Suid-Afrika). Wat ek eintlik sê, is ek maak my koffie soggens in Afrikaans. As ek lief is, is ek lief in Afrikaans, en as ek kwaad is, is ek kwaad in Afrikaans. Omdat ek nie anders kan nie, omdat die taal so tuis is in my mond. Vir my lê die waarde van gesprekke oor Afrikaans en wie se eiendom dit is juis daarin om idees oor eienaarskap af te breek sodat dit vir almal ewe maklik is om na “my” Afrikaans te verwys.

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

..........
My studie is deel van ’n groter projek met die naam “Wat de Vloekwoord! Multidissiplinêre navorsing en wetenskapskommunikasie oor vloek”, en iets wat spesifiek opwindend daarvan is, is dat die projek ’n navorsingstuiste het op vloek.co.za.
...........

My studie is deel van ’n groter projek met die naam “Wat de Vloekwoord! Multidissiplinêre navorsing en wetenskapskommunikasie oor vloek”, en iets wat spesifiek opwindend daarvan is, is dat die projek ’n navorsingstuiste het op vloek.co.za. Die navorsingsveld het dus beslis die potensiaal om van krag tot krag te gaan, veral omdat nuwe maniere ondersoek word om navorsing mee te doen (byvoorbeeld digitale ruimtes ens). Ek self sal graag verder studeer as ek die geleentheid het, maar vir nou is dit ek en my rekenaarskerm en ’n stapel woordeboeke wat daarop fokus om my verhandeling af te handel.

Hoe sien jy Afrikaans (in die algemeen) in die toekoms? Sien jy ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans?

Daar is ’n lieflike oorvloed van Instagram-digters wat Afrikaans gebruik om hulleself mee uit te druk. Daar is wonderlike skrywers en digters wat in Afrikaans publiseer – in so ‘n mate dat ek elke maand my boekbegroting oorskry. Daar is feeste en films en televisiereekse vir almal se smaak. Jy kan jou nuus in Afrikaans kyk en lees en luister. Jy kan jou siel versondig deur Facebook-tirades te lees. Solank as wat Afrikaans gebruik word, sal daar iets wees om oor navorsing te doen. Ek bedoel nie daarmee dat ek dink Afrikaans-departemente en die vakgebied gaan oor ’n paar jaar nog dieselfde lyk of funksioneer nie, maar dit is in elk geval onvermydelik dat akademiese ruimtes voortdurend opnuut bedink moet word.

Lees ook:

USAN 2022 – ’n onderhoud met Samantha Miller

USAN 2022 – ’n onderhoud met Danie Stander

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marthie de Waal

USAN 2022 – ’n onderhoud met Ancheri Götze

USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

USAN 2022 – ’n terugblik met Aletta Simpson

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top