Tuin van Digters 2024: ’n onderhoud met Francois Lötter

  • 0

Foto van Francois Lötter: verskaf

Naomi Meyer gesels met Francois Lötter, wat vanjaar vir die agtste jaar die hooforganiseerder is van die Tuin van Digters-digfees. Die fees word vir die 13de agtereenvolgende jaar by die Breytenbach Kultuursentrum in Wellington aangebied.

Francois, dis amper weer lente en tyd vir die Tuin van Digters. Vanjaar se feestema is saamsaam. Wil jy vertel waarom dit die feestema is? En wat dit beteken?

Louise Viljoen het by Tuin van Digters 2023 met Klara du Plessis, wat in Kanada woon, gesels oor Klara se derde digbundel met die naam G, wat sy in samewerking met die Irannees-gebore digter Khashayar “Kess” Mohammadi die lig laat sien het.

Sy het ook onder meer in ’n resensie geskryf die bundel is inhoudelik en klankmatig gebou rondom die g-klank (wat in Afrikaans en Persies voorkom). Louise sluit die resensie as volg af: “Dit is die soort bundel wat hopelik ook digters in die Suid-Afrikaanse taalomgewing tot soortgelyke samewerkings en interaksies sal inspireer.”

 Breyten Breytenbach het by verlede jaar se Tuin van Digters die volgende gesê: “Ons is ’n weerspieëling van wat die geskiedenis van ons gemaak het … en hoe ons mekaar mismaak het met die geskiedenis as verskoning. Punt is egter: Ons gee wragtag nie toe dat ons so gemaak en laat staan is nie. Want hierdie is ’n ruimte vir hibridisering en méér: vir saam-mekaarandersmaak.”

Na aanleiding hiervan fokus 2024 se Tuin van Digters op Afrikaanse digters wat met mekaar en met ander innoverende skeppers saamwerk, en dalk moet leer om saam te skep ondanks uiteenlopende denkprosesse. Dalk is dit tyd vir digters, musikante/musici, kunstenaars, oud en jonk, en verskillende taalgroepe en kulture om meer saam te span om mekaar en die gehoor bloot te stel aan mekaar se kunsvorme en verskillende skeppende denkprosesse.

Ingrid Jonker sou nou 90 jaar oud gewees het en word by hierdie fees vereer. Dis in ’n sekere sin verstommend dat, in ’n weggooi-samelewing waar alles so vinnig soos inskrywings op die sosiale media bygewerk en verander word, sy steeds so bekend as digter is. Wil jy iets aangaande Ingrid Jonker se geleenthede by vanjaar se fees sê?

Die digter Tom Gouws het geskryf: “’n Geslag kan nie verbygaan sonder ’n Ingrid Jonker op die rak en in die hart nie.”

Elke keer as mens weer lees oor Ingrid of van haar gedigte hoor, of na getoonsette Ingrid-gedigte luister, tref dit hoe sy dalk ’n weerspieëling kan wees van mense wat nou leef en wie jy dalk ken. Daar word met die huldigingsprogram Vrydagaand (die 13de!) probeer om Ingrid se verskillende fasette en hoe en wie en hoekom en wat sy was nou nog mense aan die hart raak.

Van die klaviermusiek en roerende sang van ’n jong vrou (kom ons noem haar die Vlaktekind van die Kalahari) wat dig en toonset en haar inspirasie van Ingrid gekry het, tot die roerende aangepaste dokumentêre huldigingsvideo deur Petrovna Metelerkamp en die sing van getoonsette Ingrid-gedigte deur ’n sopraan en ’n bariton.

En natuurlik is daar Saterdag die Ingrid Jonker-prys wat oorhandig word en Frieda van den Heever se sing van Ingrid-toonsettings, sowel as van haar eie roerende getoonsette gedigte.

As iemand nog nooit van die Tuin van Digters gehoor het nie en nou vir die eerste keer hoor van hierdie fees, wat nou vir die 13de jaar aangebied word, hoe sou jy dit aan hulle opsom?

Antjie Krog, die digter wat by 2022 se fees gehuldig is, het na die tyd Tuin van Digters beskryf as ’n “unieke samekoms en interaksie” wat sy nog nooit elders ervaar het nie.

Ek sê dankie aan Antjie en voeg by dat Tuin van Digters ’n plek is waar Afrikaanse digters en hulle digkuns op ’n unieke wyse saamkom om blootstelling en inspirasie te kry. ’n Saamwees van digters en liefhebbers van die digkuns waar die oordrag van lief en leed of sterf of leef of die dinge wat ons dra of ons pla, in verskillende woorde neergepen kan word.

Dit is ’n plek waar liefhebbers van nie net die Afrikaanse digkuns nie, maar van alle digkuns en digvorme welkom kan voel in die “Tuiste van die Afrikaanse digkuns”, soos wyle Ampie Coetzee die Tuin van Digters gedoop het. Dankie ook aan Ampie.

Is daar hoogtepunte op die program wat jy wil uitlig? Items waarna jy spesifiek ook uitsien?

Ek sien nogal uit na Danie Marais, self ’n vorige wenner van die Ingrid Jonker-prys, en die sanger Riku Lätti se gesels Saterdagmiddag oor mekaar se digbundels, ek en jy bestaan nie van Danie en Riku se Taboek, wat vir heelwat moleste in sekere kringe gesorg het.

Is daar net gedigte by die Tuin van Digters? Watter ander musikale woorde sal mens hier kan beluister?

Oudergewoonte heelwat gesprekke met digters, insluitende Lynthia Julius en Alwyn Roux wat met mekaar gesels oor hulle bundels, Bernard Odendaal wat drie digters oor mekaar se gedigte laat praat, twee digters uit Nederland, Diana Ferrus en die mengelmoesdigters en Ons Klyntji se besonder gewilde bekendstelling. Daar kan ook uitgesien word na die pianis Rocco de Villiers se optrede en voorlees van gedigte uit sy digbundel, Die eiesoortiges. En vele meer. Ook natuurlik die gebruiklike vrolike afsluitingspartytjie Saterdagaand – vanjaar deur ’n Afrikaanse “ruk en roller” wat nie eintlik bekendstelling nodig het nie.

Om te skryf en te dig is ’n solo-ervaring. Wat is die belang van ’n tuin van digters, van mense wat saamkom om oor veral gedigte te praat?

Natuurlik is skryf en dig ’n persoonlike en sit-alleen-op-die-stoel-tipe ervaring. Dink ek. Maar ek vermoed skryf en dig kan (en moet dalk) in sekere gevalle meer as net ’n solo-ervaring wees, soos vanjaar se Tuin van Digters met die saamsaam-tema wil beklemtoon.

.........
Natuurlik is skryf en dig ’n persoonlike en sit-op-die-stoel-alleen-tipe ervaring. Dink ek. Maar ek vermoed skryf en dig kan (en moet dalk) in sekere gevalle meer as net ’n alleen-solo-ervaring wees. Soos vanjaar se Tuin van Digters met die saamsaam-tema wil beklemtoon.
...........

Die oop digverhoog waar enigeen die geleentheid kry om haar of sy gedig uit die onderste laai te kom voorlees. Voor ’n gehoor bestaande uit dieselfde digsiele, sowel as gesiene, gesoute digters. Dit kan dalk net genoeg motivering wees vir groter waagmoed weg van die eensame digterstoel voor die venster met ’n uitsig.

Hierdie digters, sowel as Ons Klyntji se digters het die afgelope twee jaar uiters gewild geword by Tuin van Digters. Saamsaam kan ons mos nie skaam-skaam wees nie.

Maak gedigte nog saak in ’n land waar daar soveel belangrike ander sake is om te bespreek, so baie mense is wat nie geld het om alledaags te oorleef nie, waar mense wat middelklas leef, ook die sente moet omdraai?

Skryf kan terapie wees en as jy nie self kan skryf nie, kan iemand anders se gedig- of woorde-terapie jou terapie wees. Solank mense toegelaat word om te skryf (of te dig) soos wat dit uit jou kop kom.

Ek is byvoorbeeld nie ’n digter nie, maar noem myself as ek voor die venster met ’n uitsig sit “a poet in my own lunch time”. Hoe anders gaan jy lekkerder wegkom van die harde werklikheid van om te oorleef of om heeltyd sente om te draai – of van die verwerping van jou eie meestergedig te vergeet?

Wat is die praktiese besonderhede van vanjaar se Tuin van Digters? Waar is dit, waar koop mens kaartjies en wat kos dit?

Tuin van Digters vind 13 en 14 September in die Breytenbach Kultuursentrum in Burgerstraat 14 in Wellington plaas. Vrydag is die program van 16:00 tot 22:00 en Saterdag van 08:30 tot 22:30. Kaartjies vir Vrydag kos net R100 per volwassene en Saterdag R250 vir alle programitems. ’n Naweekkaartjie kos R300 vir volwassenes, R100 per student met ’n geldige studentekaart en R50 per dag vir kinders onder 16.

Gaan loer gerus op www.breytenbachsentrum.co.za en op Facebook na die besonderhede.

Lees ook:

Plekspesifieke poësie in Jaco Barnard-Naudé se Om my kastele in Spanje te sloop

Bernard Odendaal se Onbedoelde land 'n volwasse debuut

UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die debuutprys vir radbraak

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Bibi Slippers

Persverklaring: Vier Ingrid Jonker "saamsaam" by vanjaar se Tuin van Digters-fees op 13 en 14 September in Wellington

SteedsDink in die Karoo met LitNet Akademies: Bernard Odendaal

Alwyn Roux in gesprek met Loftus Marais en Nachoem M Wijnberg

Eietyds en eiesinnig: Lynthia Julius "vry met getroude sinne / en ligtekooi met reëls"

Persverklaring: Diana Ferrus gehuldig, Breyten stal uit by 12de Tuin van Digters

Tuin van Digters 2019 – video: Bekendstelling van breyten breytenbach, woordenaar woordnar

Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Taboek deur Riku Lätti: ’n lesersindruk

Ingrid Jonker (1933–1965)

Uitvoergehalte: ’n Onderhoud met Frieda van den Heever oor haar album Spoorsny

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top