Persverklaring: Diana Ferrus gehuldig, Breyten stal uit by 12de Tuin van Digters

  • 0

Die twaalfde jaarlikse Tuin van Digters-fees, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word op 15 en 16 September 2023 by die Breytenbach Kultuursentrum in Wellington gehou. Vanjaar se tema is “lewende woord(e)” - oor digwoorde wat geskep is wat nooit doodgaan nie en gekoester en lewendig gehou moet word en oor nuwe digwoorde en -tegnieke wat die koers van die Afrikaanse digkuns aandui.

Breyten Breytenbach en Diana Ferrus (Foto's; Francois Lötter0

Die protesdigter Diana Ferrus, wat vanjaar sewentig word, is die digter wat op Vrydagaand, 15 September gehuldig sal word. Die digter en skrywer Breyten Breytenbach is die feeskunstenaar met sy kunswerke wat in die Breytenbach Galery te sien sal wees.

Francois Lötter (Foto: Izak de Vries)

Die doel van Tuin van Digters is volgens Francois Lötter, vir die sewende agtereenvolgende jaar die hooforganiseerder, om ’n unieke geleentheid te skep waar Afrikaanse digkuns en digters op allerlei skeppende wyses en vorme beleef kan word. Ook waar skouers geskuur word met digters en liefhebbers van die digkuns en om Afrikaans digkuns en ander tale binne en buite Suid-Afrika aan mekaar bekend te stel.

Daar kan oudergewoonte uitgesien word na verskeie bekendstellings van nuwe bundels, voorlesings, boekuitstallings, gesprekke,’n besondere aanbieding deur PEN Afrikaans en uitsonderlike vertolkings van getoonsette gedigte. Die Ingrid Jonker-prys vir ’n Afrikaanse debuutbundel – die wenner word binnekort aangekondig – word ook toegeken en vanjaar se Ons Klyntji, die alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en strokiesprente publiseer, word onder leiding van Toast Coetzer bekendgestel.

Die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis is die hoofborg van die fees in samewerking met NB Uitgewers. Die finale program word in Julie aangekondig. Hou gerus die Breytenbachsentrum se webblad, Facebookblad en Instagram dop vir besonderhede.

’n Kaartjie vir Vrydag 15 September kos R150 per persoon (sluit alle aanbiedings op die program in) en vir Saterdag 16 September R275 per persoon (sluit alle aanbiedings op die program in). ’n Tweedagpakket vir Vrydag en Saterdag kos R350 per persoon. Kaartjies vir studente (met geldige studentekaarte) kos R120 per persoon per dag en opbetaalde lede van PEN Afrikaans het gratis toegang.

Breytenbach Kultuursentrum (Foto: Isabeau Botha)

Kaartjies kan nou reeds gekoop word by Jeannine du Frene by 061 156 5386.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top