Bernard Odendaal se Onbedoelde land 'n volwasse debuut

  • 0

Die titel Onbedoelde land roep ’n hele paradigma soortgelyke titels in die Suid-Afrikaanse letterkunde op, en in die eerste instansie natuurlik FA Venter se Bedoelde land – die sluitstuk van sy tetralogie oor die Groot Trek. Odendaal wys daarop dat die Afrikaner se idee van ? bedoelde land as ’n eksklusiewe stuk grondgebied ’n onbereikbare ideaal was. Al wat vir dié minderheidsgroep oorgebly het, is ’n soeke na harmonie in ’n land van diverse etnisiteite, kulture en tale. Die slotreëls van die openingsgedig, “Harmonie, distrik Bloemfontein”, laat klink dit na nóg ’n onbereikbare ideaal:

    En ek en my broers
    op soek na so ’n droomadres
    tussen al die êrense en nêrens.

In “Casual victim of the struggle” rym die eienaam Harmonie nie om dowe neute baie lomp en onwennig met “democracy” nie. Juis omdat die eksklusiewe Afrikanerharmonie (net soos die kleinhoewe met daardie naam) verlore gegaan het, bevat hierdie bundel heelwat nostalgiese verse. Maar dit is ’n terugskouing wat met die nodige kritiese ingesteldheid en ironie geskied. In die gedig “sluipmoord” word die plattelandse kinder-idille met Sotho-maatjies en al vir goed versteur deur die moord op Verwoerd. Daarna was dit verby met “die simpel vreugdes van die jeug”. Die openingsreëls van die bundel stel dit reeds baie duidelik: “Die herkontoerde pad/ trek ’n snelstreep deur die ou kontrei.” En as ’n mens dit waag om terug te keer na die kontrei van die verlede, haal jy jou ’n gruwelike einde op die hals. Dit blyk uit die gedig “Hoeka so iets van daardie aard” wat doelbewus as ’n teenhanger van die openingsvers gekonstrueer is.

Die ou paradys het verdwyn, maar die nuwe is ver van volmaak. Die ellendes van die nuwe Suid-Afrika word in heelwat gedigte verwoord – soms selfs ’n bietjie skrillerig, soos in “Die kind is steeds nie dood nie”. In hierdie tyd van ontheemding vind die digter ’n toevlug in sy erotiese herinneringe (die afdeling “Mnemorotika”) en in sy gesinslewe. Suid-Afrika het ná drie honderd jaar ’n “Niemandsland” vir die Afrikaner geword en al wat oorbly is die (tydelike) geborgenheid van die intieme liefde:

    Net die intense kort inlewing
    waarvoor ’n woord soos liefhê uitgevind moes word,
    sal, glo, bly.

Inderwaarheid is hierdie reëls ’n herskrywing van NP van Wyk Louw se bekende uitspraak in “Groot ode”: “niemand tref dit móói met die heelal nie;/ eintlik moet ons leer ironies lewe:/ én: binne ironie nog liefde hou.”

Die digter herwin die “verlore” Vrystaatse landskap in sy bruid. In die gedig “heemkunde” noem hy haar “my waterbron my vadersgift my hartkontrei”. Soms raak hierdie intieme liefde dalk net té uitgesproke intiem, soos in die slot van “Manhaftig”: “My dooi geslag/ vergroot ontroerd – glip manhaftig in in jou gul gleuf.” (Maar nou ja, êrens moet Antjie Krog tog seker ’n manlike teenhanger hê.) In “Daeraardslied” word die potensieel verleentheidswekkende situasie van middeljarige erotiek met vermaaklike selfspot gehanteer. Die verleentheid word ten slotte deur die rym opgevrolik.

Benewens die (gesins)liefde is die poësie vir die digter dus ’n toevlugsoord. In “gesinsgedig” herskryf hy CP Hoogenhout se “Moeilikheid om liedjies te maak op ’n boerplaas”. Die eerste strofe van dié negentiende-eeuse gedig lui soos volg:

    Kom, vroutjie, steek nou op die lig!
    Die kinders moet stil wees!
    Pa wil nou ’n liedjie dig –
    In d’ Patriot dit lees.

Uiteindelik gee die boer sy digpoging moedeloos op omdat daar net te veel onderbrekings is. By Odendaal loop dit bevredigender af: “ek staan van my skryfstoel op,/ voel my ongerymd gelukkig/ my vrou se heup staan bak in ons bed/ afgeronder as enige slotkoeplet.”

Odendaal gaan op ’n sinvolle wyse met die Afrikaanse literêre tradisie om, sonder dat die gedigte deur intertekste oorwoeker word. Wanneer dié gevaar wel dreig, soos in die gedig “Moment onder komeet McNaught”, is die digter self bewus daarvan en noem hy dit “geleende glans”. Verder is hy ’n besonder vaardige maker van vrye én formele verse (soos die sonnette op pp 32, 59 en 95, die volhou van slegs twee rymklanke oor 28 versreëls heen op p 44, en die villanelle op p 47). Wat die vrye verse betref, wil ek graag die klankryke “Die beiaards” uitsonder.

Bernard Odendaal se debuut is ’n volwasse werk waarin nostalgie en aktualiteit op ’n gebalanseerde wyse neerslag kry. Dié ewewigtigheid word ondersteun deur die relativerende ingesteldheid van die digter wat hy bewerkstellig deur ironie en (self)spot. Maar soos Van Wyk Louw voorgeskryf het, word die liefde nêrens deur die ironie verdring nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top