Taboek deur Riku Lätti: ’n lesersindruk

  • 3

Titel: Taboek
Skrywer: Riku Lätti
ISBN: 978-1-991256-79-9
Uitgewer: Naledi

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Pas verskyn by Naledi: Taboek van sanger-liedjieskrywer Riku Lätti. Op die agterblad skryf Koos Kombuis onder andere: “Ek sien dit as ’n monumentale en omvattende deurgronding van alle fasette van die moderne mens se soeke na betekenis...” Tereg uitgewys, verskaf die inhoud van die narratiewe vrye verse in die boek – ek hou daarvan om aan die inhoud te dink as “meditasies”, “skrywes”, “refleksies”, “filosofiese vraagstellings en beantwoordings” – ’n web wyshede, waarin daar nie net kritiek gelewer word oor die moderne mens nie, maar waarin daar ’n konstante soeke is na “’n beter manier”; “die middeweg”, sou ’n mens wou. ’n Verantwoordelikheidsin waar daar nie agter ’n god of die “beoefening van religie” weggekruip kan word nie. Die proses om nie net wat ons in die wêreld het, te aanvaar nie, maar – indien nodig – te bevraagteken, daaroor te dink.

’n Groot deel van die inhoud van die boek wentel om “god” (met ’n klein letter), die goddelike, dogma en teologie wat in ’n verstaanbare spreektaal sonder fênsie literêre tierlantyntjies bespreek word in digvorm. Dit kan deur almal gelees en verstaan word.

Die digter beskou die skrywes in die boek soos aangedui in die openingsgedig as sy “onpopulêre opinie”:

tog ag ek dit nodig
om vir die rekord neer te pen
my onpopulêre opinie
sodat niemand aanneem
ons is een, eens of eenders nie
al is ons een, eenders en alles
verskil ons (bl 7)

Die openingsgedig verduidelik die wyse van die digter se digmaak in die boek, maar ook hoekom hy dink dat dit nodig is:

om na binne te kyk
neer te tik
uit my hart
en kop
idees onopgelos
onomgedop
bloot oopgesluit
om van nader te bekyk (bl 7)

Op die binnemou van die agterblad (ook deel van “’n kerk sonder god”, bladsy 70 en verder) vind mens dan ook ’n moontlike instruksie vir die lees van die boek. Dat ’n mens – soos wat ’n mens maak met die godheid, die lewe, die natuur, én dan óók die boek (Bybel, heilige geskrif, literêre werk), én die Taboek – daarvan maak wat ’n mens wil. Dit is ’n proses waarin die leser self skepper word van wat hy in Taboek wil raaklees, wat hy wil inlees soos wat elke mens geregtig is op sy eie opinie en konseptualisering van alle konsepte en onderwerpe in die boek, insluitende die godheid, waaroor daar in diepte in die boek reflekteer word. Soos wat die mens skepper is van die boek, só is hy ook skepper van die wêreld om hom:

mens is die god
van die boek
die skepper
die skrywer
wat die hele boek
en alles daarin
gemaak het (bl 73)

Taboek afgelei van die woord taboe word in sy grootte ’n beswering van alles wat as gevolg van die moderne mens se evolusie dalk nie meer “die waarheid” is nie, maar wat getoets moet word (ook, hoofsaaklik, die evolusie van die godheid en religie). Die woord taboe kan verskillende interpretasies hê in lig van die trefwydte en inhoud van die boek. Dit is daardie norme, beginsels of oortuigings wat volgens geykte denke, of geyktheid in die algemene sin, of moontlike verkeerdelike historiese oorlewing en interpretasie vermy moet word en gevolglik besweer moet word, of bloot net ’n beswering van dit wat verbode of onaanvaarbaar is (of moet wees). Die goeters wat nie gedoen mag word nie of waaroor nie gepraat mag word nie. Dit is ook daardie gebruike, konvensies en modes wat onaanvaarbaar is vir die meerderheid in ’n samelewing. Andersyds kan ’n taboe ook ’n beskouing van iets heiligs of bonatuurliks wees, en as gevolg daarvan moet dit liefs vermy word. Dit is dus, in teenstelling, daardie goeters wat ons mense as ’n no-go beskou. Goeters waaroor ’n mens nie wil praat of dalk nie wil hoor nie, maar wat terselfdertyd – as ’n mens mooi daaroor dink – ’n soektog na “’n heiligheid”, of ’n verbode/verdoeselde heiligheid van stapel kan stuur. Daardie goeters wat ’n taboe geword het as gevolg van hoe die wêreld rondom ons geword het – dogma, teologie en veral die religie of die gebruik van die konsep god, in al sy vorme, om ons eenheid as mense uit die weg te (probeer) ruim. Dít is waartoe die meditasies spreek.

Riku Lätti (Foto: Izak de Vries)

Die konsep van heiligheid is eie aan die kuns van Riku Lätti. Dit kom konstant na vore in sy liedjies: Dink maar aan “Hoofstroom” en van sy meer onlangse werk die liedjie, “Heilig” (sien aanhalings hier onder). Vir my gaan die bundel ten eerste oor die proses van heiligmaking. Heiligmaking deur die taboes af te breek, hulle te ondersoek, hulle te besweer én om dit wat voorheen moontlik ’n taboe was, openlik met mekaar te bespreek deur middel van die meditasies in die boek. Gevolglik die titel Taboek.

hoofstroom
verbode rivier
word meer as ’n mens
’n heilige dier

hoofstroom
verbode rivier
word meer as ’n mens

’n heilige dier (Radio Lava 2007)

En:

heilig is die lewe
die geskenk van als wat is
dis die gawe ons gegewe
sodat ons ook lig kan sien (Hoop daai boom is oukei 2018)

Die boek is baie keurig uitgegee. Veral die voorblad is opvallend, met ’n baie mooi kunsontwerp wat ooreenkom met ’n astrologiese kaart, die sodiakkaart, byvoorbeeld. Soos in die geval van die sodiakkaart word daar gebruik gemaak van verskillende simbole en dan ook benamings van sekere van die kwadrante, te wete (kloksgewys van die middel bo): Die Mens; Natuur; Vandag; Die Bybel; Evocatio Deurum; Terugflits; Tuinmaak; Onpopulêre Opinie; God; en Die Mier, wat dan ook sekere van die temas omvat en gedigte in die bundel met dieselfde titels word: “die onpopulêre opinie” (die openingsgedig) en “evocatio deurum” (bl 27) om twee voorbeelde te noem.

Wat my dadelik opgeval het, was die mier rég in die middel van die ontwerp. Ek het dadelik gedink Die siel van die mier deur Eugène Marais en die navorsing wat hy gedoen het oor die leefwyse, gedrag en gewoontes van onder andere termiete. Die feit dat elke termiet ’n deeltjie uitmaak van ’n groter geheel, asook die evolusionêre oorsprong van alles. Dit is dan ook waartoe die boek ten eerste spreek, nie net die inhoud van die skrywes nie, maar ook in die wyse waarop alles in die boek ineenpas en ge-package is. Sien die uittreksel uit die gedig, “god, die mier, die mens en natuur”.

mens is natuur
al rebelleer hy daarteen
met tegnologie
van geboue en steen
bly mens maar mier
alhoewel merkbaar modern

waar mens skei van mier

hoe meer mier
hoe mooier natuur (bl 17)

Buiten die voorblad wat dui op die interafhanklike dele van ’n groter geheel, is die wyse waarop die teks aangebied word ook belangrik. Sien hier onder, as voorbeeld, die uittreksel van die gedig, “Ons” (bl 20):

Die meeste van die gedigte bestaan uit drie verskillende, ’n mens kan amper sê, pilare. ’n Linkerkantse gedeelte, ’n middelste gedeelte en dan ’n regterkantse gedeelte, as ’n mens na enige gegewe bladsy kyk. ’n Gedig kan derhalwe van links na regs gelees word óf een van die pilare kan van bo na onder gelees word. Of ’n mens kan besluit om slegs ’n sekere deeltjie van die bladsy te lees. Dis asof die dele losstaande van mekaar, maar ook as ’n geheel gelees kan word. Die meeste bladsye van die boek bestaan dus uit drie hoofdele wat dan weer in kleiner deeltjies verdeel is. Volgens my is dit om 1) die godheid, 2) die mens en 3) die natuur te simboliseer, met ander woorde, alle interafhanklike deeltjies wat deel vorm van ’n groter geheel. Die mens, god en natuur “werk almal saam” om bewussyn daar te stel. Vir my, as Christen, ook ’n moontlike aanduiding van die Drie-eenheid; die heiligheid wat daar in die goddelike is. Maar ook, byvoorbeeld, in Panteïsme – die geloofsiening dat God en die natuur een en dieselfde entiteit is. Dit wil sê God is alles en alles is God. God word nie as ’n opperwese gesien nie. En dan ook ander Oosterse tradisies wat almal elemente van Panteïsme bevat, te wete Hindoeïsme, Taoïsme, Boeddhisme, en soos een van die gedigte aandui, “heidenisme” (bl 22). Ek hou veral van die beswering van wat as toksiese ateïsme benaam is:

wanneer die ongeloof
in die bestaan van god
jou verhewe laat voel
omdat jy beter weet
en gelowiges minag
het jou ateïsme
ook maar op die ou end
’n giftige religie geword (bl 22)

Die wyse waarop die skrywes aangebied word begin by die onpopulêre opinie in die openingsgedig en vorm amper ’n sirkelvormige beweging waarin die digter al die konsepte, soos hierbo aangedui, in diepte bespreek, om dan weer terug te kom in die laaste meditasie na die onpopulêre opinie. Voorts eindig die openingsgedig in die boek met ’n beeld van die menslike dood, terwyl die laaste gedigte in die boek hulle sterk terug wend na temas oor die natuur. Die boek begin by dood en eindig by dood. Die natuurlike gang van dinge word gesimuleer: “Dis die springbok / die leeu / die veld / die brand / dis alles / net soos dit moet wees / selfs die mens” (bl 107 uit die gedig “gedoem tot perfeksie”). Die manlike en vroulike – ook uitgedruk in simbole in die sodiakkonsep op die voorblad – vind ook sterk neerslag in die boek. In dié opsig, dalk veral relevant in dieselfde gedig, die beeld dat god of die godheid noodwendig manlik is, want in dié gedig word god uitgebeeld as ’n vrou met ’n glasie wyn in die hand, terwyl sy op haar maaksels neerkyk.

Vanaf bladsy 23, met die gedig “paulus”, val die klem veral op die evocatio deurum waarin daar onder andere beweer word dat die Christenskap sy ontstaan gehad het in die skepping van ’n nuwe god, naamlik Jesus Christus, deur ’n sekere Flavius Josephus; dat Christenskap en die Bybelse geskiedenis in wese bloot ’n oorlewering en aanpassing én namaaksel is van die geskiedenis. In gedigte soos “evocatio deurum” (bl 27) – wat vertaal kan word as “die oproeping van (die) gode” – word daar in verhalende trant gedig dat Christenskap die produk is van onder andere die gebruikmaking van vorige gode, mites, legendes en stories. Sien die twee aanhalings uit die lang gedig “evocatio deurumwat dan ’n hoogty voer in die gedig “maar wat dan van jesus(waaruit ek ook ’n uittreksel aanhaal):

wie is skepper van god

die grieke het hulle eie gode geskep
die romeine het al daai gode
se name verander
vir hulself gevat
en aan hul volk verkoop
want as jy ’n magtige ryk wil bou
moet jy gode betrek (“evocatio deurum”, bl 27)

En:

en sy manteldraaier
josephus
wat ou gode kon afstof
en herverpak
as ’n splinternuwe
moderne god
wat jy eers werklik ontmoet
as jy groet (“evocatio deurum”, bl 30)

Ook:

die beste mens wat nog ooit was
vasgepen ’n leeftyd na sy leeftyd
deur mense wat aspirasies het

hier geleen en aangedig

en siedaar

jesus

’n konkoksie
gegiet uit die
beste eienskappe
van alle goeie gode

’n supergod

(“maar wat dan van jesus, bl 45)

Hierdie tema word ’n baie belangrike een in die boek, synde die feit dat die mens vir eiegewin gode skep óf die godheid gebruik om in plaas daarvan om “uitvoering te gee” aan sy natuurlike samehorigheid, eerder te wil baklei oor wie se opvatting oor religie en godheid die juisste is. Maar ook voorts soos blyk uit “’n kerk sonder god” dat godsdiens gebruik word om die mensdom sy aardse verantwoordelikheid te laat probeer ontsnap (sien bladsy 74).

Hierdie wyse waarop daar as’t ware fel kritiek gelewer word op godheid, religie en dogma kan lesers affronteer, sommige lesers mag dit selfs as godslasterlik ervaar, maar dit konfronteer ’n mens met presies waarín ’n mens glo. Is my geloof ’n werklikheid? Wie is my god / God werklik? Hoe maak ek sin van die godheid? Ek dink in dié opsig is hierdie narratiewe – of ’n mens daarmee saamstem of daarvan hou of nie – baie geslaagd. Daar is terselfdertyd, en deurentyd, kritiek op die geykte. Byvoorbeeld, die ouens wat hoog en laag sweer in hulle god, maar waar die Bybel nooit van die rak af kom nie. Sien uittreksel uit die gedig “die bybel”: 

’n kontrak
met die regte lewe is
om die gemoedere te sus
die illusie van standvastigheid te bied
sodat almal wat glo
alreeds alle antwoorde het
dat die gedinkery kan stop
en ons die rugby kan geniet
met die bybel

toegeslaan

op die rak

wat die berusting bied (bl 39)

’n Gedig soos “jesus was ’n kommunis (bl 48) is vir my ’n hoogtepunt. In die gedig word daar aangedui dat as Jesus bestaan (het), sou sy lewensuitkyk dalk eerder kommunisties van aard gewees het. Hierdeur word daar fel kritiek gelewer op die mensdom wat blindelings ’n kapitalistiese geneigdheid en sisteem navolg, terwyl Jesus iemand was wat gedeel het en gelykheid en eenheid gepropageer het. In die woorde van die digter: “kerk is besigheid / jesus sê naasteliefde / kapitalis profiteer teen alle koste”.

Die Taboek praat op verskeie vlakke. Die belangrikste is seker om tussen alles wat op hierdie aarde verafgod word, steeds te soek na die waarheid: “as ons waarheid as bestemming kies / is daar stellings wat ons moet toets” (bl 58) én dat die beoefening van religie sonder die waarheid nikswerd is nie. Dit op sigself veronderstel dat ons nie alles in die lewe soos soetkoek moet opeet nie. Dat dit nie soseer gaan oor wie die regte God of gode aanbid nie – juis dit bring skeuring – maar om mekaar as ’n menslike eenheid te respekteer; dat ’n mens se god en religie deur niks anders as ’n mens se land van herkoms bepaal word nie: “geboorte / die poort / wat jou god bepaal / is lukraak / so hittete of jy was moslem / hindoe of jood(bl 77).

Vir my was die grootste gedeelte van die boek ’n uitlokking om my te konfronteer oor hoekom die digter al hierdie taboes opper met betrekking tot god, die godheid en hoe ons glo. Dit is amper of daar in die laaste deel van die boek ’n wending kom. Van die gedig “cheat code” (bl 90) en verder. Dit is hierdie laaste gedeelte van die boek wat vir ’n mens die sleutel gee oor hoekom alles in so ’n intense mate besweer word. In plaas daarvan dat ons bewussyn sy gang laat gaan, is “die wortel van alle god / en kwaad / [dit wat] groei uit die ego uit” (bl 93). Ego is die ding wat ons aanvuur om god van onsself te maak. Dit is ná hierdie wending dat daar van die mooiste meditasies gestalte vind. Ook word antwoorde verskaf oor die digter se soeke na die waarheid van god en die ware geloof. Die konsep van Satan word besweer. Daar is gedigte oor Kersfees, die natuur en menslikheid. Voorts tree die digter in gesprek met onder ander Koos Kombuis (“Huisie by die see”, bl 106) en ook met Bacchus Nel (“tweesterhotel”, bl 99) in “vir soekende siele op reis”, met laasgenoemde wat Satan en die konsep van Satan bevraagteken:

satan is ’n mite
met slegte pr
want waar is sy boek?
sy bybel?
sy kant van die storie
in die laai van die bedkas
in die tweesterhotel? (bl 99)

Op die ou end moet lesers self besluit wat hulle van hierdie meditasies wil maak. Ek moes op ’n tyd stop en eers ’n gebed doen, omdat dit gevoel het asof dit ’n wesenlike impak maak op hoe ek glo en waarom ek (dit) glo. Ek dink daarin lê die antwoord: Dit maak ’n mens oop tot bevraagtekening van alles met betrekking tot die konsep van god en waaroor die goddelike regtig gaan. Dit dwing ’n mens om die taboes of moontlike taboes raak te sien en uitkom by ’n punt van “saam is ons / iets” (bl 77) óf “as ons net onsself kan vergeet / word ons een / met god” (bl 95). Miskien ter afsluiting hierdie aanhaling uit die gedig “geloof” en sy opvolger “hoop” (ble 109–10):

dan is daar ook geloof wat lei tot

hoop

Skakels na musiek soos verwys:
Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

Uitnodiging | Boekbekendstelling: Taboek deur Riku Lätti | Oude Leeskamer, 24 Julie 2024

  • 3

Kommentaar

  • Vergun my die verleentheid tot 'n klompie aanmerkings.

    1) Hierdie bespreking van jou was ’n aangename surpraaise en ek het dit terdeë geniet. Baie dankie daarvoor.

    2) Ek het nie self die boek onder oë gehad nie, maar indien dit waar is dat Latti in sy boek beweer dat die historikus Flavius Josephus verantwoordelik is vir die skepping van die leer van die goddelikheid van Jesus, dan sal dit vir my ’n uiters, uiters vreemde, nuwe, en besonder problematiese idee wees. Dat Josephus ’n manteldraaier was, dit is so, maar daar was ook bepaalde redes daarvoor. Josephus het in sy boeke oor Jesus geskryf, en ook oor van die ander Bybelse karakters, soos byvoorbeeld oor Jakobus, wat na bewering Jesus se broer was. Die Katolieke aanvaar nie dat Jesus enige broers en susters gehad het nie, en dat die 'broederskap' van Jesus en Jakobus nie in bloedbroer terme verstaan moet word nie. Maar dit net so tersyde en vir interessantheid.

    Die stukkie wat Josephus egter oor Jesus geskryf het, so word daar vandag algemeen aanvaar, het later onder die hande van ’n redakteur deurgeloop. Die onbekende redakteur het die stukkie aangepas, sodat dit mooi versoenbaar kon wees met die leer van die goddelikheid van Jesus. Dit is onwaarskynlik dat Josephus self die goddelikheid van Jesus aanvaar het.

    3) Die bekende akademikus Barth Ehrman, praat soms oor die vraag, wie was die eerste Christen? Dis ’n wonderlike vraag om te bepeins. Een baie gewilde argument is: Dit was Paulus! Paulus was die een wat die Jesus beweging hervorm het vanaf ’n klein Joodse sekte, tot ’n verwelkomende, inklussiewe nuwe godsdiens. Maar om die vraag te antwoord, wie was die heel eerste Christen, moet mens dalk eers een tree terugneem en vra, wat word bedoel met die woord 'Christen'? Ek bemoei my al baie jare met die kerk en het myself ook eens as ’n Christen beskou, maar hoe langer ek leef, hoe minder verstaan ek die begrip 'Christen'. Ek reken mens kan aanvaar daar bestaan verskillende definisies van die woord, en hierdie verskillende soorte 'Christene' bestaan langs mekaar. Presies nes die verskillende definisies van 'Afrikaner', wat ook naas mekaar bestaan. As jy my in ’n hoek sou druk en ’n mes teen my keel sou hou en my dwing om ’n definisie te waag, dan sou ek eenvoudig verklaar, ’n Christen is iemand wat vir Jesus volg. Dit laat egter weer ander moeilike vrae ontstaan, soos wie is of was Jesus? En wat behels dit om vir Jesus te volg? Ek sal daarop moet antwoord, dat dit verskil van Christen tot Christen. Jy kan seker sien waarop stuur ek af? Die Christendom is, soos elke ander godsdiens, sonder vaste fondamente, en absoluut oop vir interpretasie. Om terug te keer na professor Ehrman, Hy noem die ander dag iets fassinerend. Ehrman het gesê dat, sou jy vir Jesus vra wat is die pad na saligheid, dan sou Jesus antwoord dat jy die wet moet nakom en jou besittings moet verkoop. Daar is so 'n voorbeeld in Markus hoofstuk 10 (alhoewel ek maar versigtig is vir die Bybel), waar Jesus na bewering vir ’n ryk jongman as volg antwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.” “Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.” Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

    ’n Mens sou miskien hieruit kon aflei dat Jesus kommunistiese idees gehad het, maar ek dink dit het gegaan daaroor dat Jesus vas oortuig was dat die einde van menslike koningkryke op hande is. Dit was juis ook Jesus se heel eerste leerstelling in die Bybel. Maar wat treffend is, is die klem wat Jesus op die wet geplaas het.

    Daarteenoor sou Paulus ’n heel ander antwoord gegee het. Vir Paulus was wetsgehoorsaamheid nie meer die sleutel tot saligheid nie.

    Maar op die vraag, wie was die eerste Christen dan, het Ehrman al opgemerk, waarskynlik die eerste persoon wat die "leë graf" gesien het. Daardie eerste volgelinge van Jesus, wat anders begin dink het oor Jesus se dood. Die messias was natuurlik nooit veronderstel om te sterf nie, maar toe Jesus sterf, toe begin sy volgelinge sy dood herinterpreteer. Hulle was waarskynlik die eerste Christene...

    4) Hierdie eksperimentele verse laat my kop draai. Ek weet nooit waar om hulle te begin lees en in watter volgorde nie. Maar nou ja, dit is skynbaar die hele idee daaragter. Dit ontsluit eindelose interpretasiemoontlikhede vir die leser.

    5) Oor militante ateïste. Ek stem saam dit is nie mooi nie, maar dit kom dikwels ook van ’n bepaalde plek af. Sommige mense voel kwaad omdat hulle jare lank mislei was. Die Bybel is ook militant en beveel gelowiges om andere te probeer bekeer. En waarsku gelowiges teen mense wat nie bekeer is nie.

  • Hallo Cochenille

    Dankie vir jou antwoord op Bester se werk. Ek kan tussen die lyne lees dat jy ook in diepte al die kante van die saak bekyk het, 'n debat met jou sal uiters interessant en insiggewend wees.

    Ek is ook 'n groot aanhanger van Bart Ehrman en sy werk. Ek verskil wel op 'n paar plekke van hom, maar sal toegee hy is meer belese as ekke, maar hy is ook meer toegewend en vriendelik as ekke.

    In Taboek se heel eerste gedig egter noem ek hierdie is my opinie en ek verwag dat niemand my opinie hoef te deel nie, dis net ek wat na dieselfde karige feite kyk en 'n Occam's Razor formuleer van wat ek dink is die mees waarskynlike verduideliking van wat hier plaasgevind het.

    Ek is mal ook Ehrman se verduidelikings van wat Paulus gedink het van Christus en hoe Paulus as't ware die godsdiens in 'n rigting gedruk het. Waar ek egter verskil van Ehrman is oor die politiek van die dag. Ehrman se gesprekke en lesings neem vir my aan dat Paulus 'n komplete vry agent was en self besluit het hoe om Christus uit te beeld. Ek het meer klem gelê in Taboek oor die invloed van die Romeinse Ryk. Ek maak aannames wat ek nie kan staaf nie, gegewe ons gebrekkige informasie oor die situasie, dat die Romeinse Ryk van die dag baie meer bepalend was in die formulering van Paulus se boodskap. Die verse "Paulus" en "Romeine was" stel daardie argumente.

    Oor Josephus dink ek dit is bietjie misleidend om te stel soos jy hierbo dat "Flavius Josephus verantwoordelik is vir die skepping van die leer van die goddelikheid van Jesus". Eerstens omdat Flavius Josephus lank na Paulus geskryf het. As jy kyk na die tydlyn van wanneer die Romeine hom gevange geneem het in 67 (68 in ander bronne maar ek glo die datum wat meeste ooreengekom word is 20 julie 67).

    Dit was in hierdie tyd dat die Romeine die finale aanslag teen die Jode moes aanwend om die Joodse opstand finaal tot 'n einde te bring. Vir die finale aanslag, glo ek wat gebeur het, is dat die Romeine Joodse skrywers soos Josephus (en andere) aangewend het om die boodskap te skryf en te versprei van 'n beweging weg van die jaloerse Joodse god bo alle gode, wat net nooit lekker wou pas in 'n pluralistiese Romeinse Ryk, na 'n nuwe god wat sê draai die ander wang en gee die keiser wat hom toekom.

    Kyk mens ook na Josephus se opgang in die huis van die keiser en hoe lank en gelukkig en ryk hy geleef het nadat hy gevang is, moet mens vra, wat presies het die mees gepubliseerde skrywer van sy tyd gedoen om die geluk te kon ontvang?

    Dan verder in Lukas is daar elemente (wat Bart Ehrman ook na verwys) wat iemand slegs kon geskryf het as hy bewus was van die skrywes van Josephus. Ek gaan hier ook verder as Ehrman en vra, is dit nie dalk moontlik dat (ten minste daardie dele van) Lukas dalk deur Josephus geskryf is nie? Dis 'n vraag wat ek dink niemand kan antwoord nie, maar ook 'n moontlikheid wat niemand absoluut kan ontken nie, veral gegewe dat ons nie werklik weet wie die Bybel geskryf het nie, maar ons weet iemand het dit gedoen – want dit bestaan sonder enige ooggetuies wie God dit self sien skryf het.

    Dankie weereens vir jou punte. Ek dink jy is 100% in die kol met punt 5 maar hoop dat punt 4 opgelos sal word as jy Taboek onder oë kry. Ek sien uit na 'n gesprek daaroor daarna.

    Groete

  • Nog nooit van daai teorie gehoor nie. Hoe meer dae, hoe meer dinge. Opvallend vir my altyd, is hoe die Bybel vir Jesus se 12 dissipels gedurig uitbeeld as lafaards, verraaiers, twyfelaars en sommer net 'n onbetroubare lot. Mens kry die indruk dat hierdie eienskap van die Bybel ook 'n bedekte stuk kritiek teen die messiaanse Jode was, wat almal wetsonderhoudend was. 'n Soort versigtige verdagmakery. En dan is daar weer verse wat weer so oortuigend voorkom, soos Markus 10 : 18.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top