Trauma en verlies in Kamphoer deur Francois Smith

  • 0

Agtergrondfoto deur Michal Jarmoluk | Pixabay

Titel: Kamphoer
Skrywer: Francois Smith
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624065517

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

...
Die karakter was dokter WHR Rivers, wat werklik geleef het. Volgens Smith was hy ’n psigiater wat baanbrekerswerk oor bomskok en die behandeling daarvan na die Eerste Wêreldoorlog gedoen het.  Dokter Rivers was dus vir hom die skakel tussen die grot waar Susan “genesing” ondervind het en die uiteindelike hospitaal waar sy self as geneser sou optree.
...
  1. Inleiding

Kamphoer deur Francois Smith vertel die verhaal van Susan Nell, wat tydens die Anglo-Boereoorlog as agtienjarige deur twee Britse offisiere en ’n joiner verkrag is. Dit is hierdie trauma wat haar lewensverhaal omvergooi. Identiteitloos en haweloos beland sy in ’n grot waar sy deur twee Sotho-mense versorg word. Dit is juis hierdie versorging wat vir haar rigting gee. As volwassene eindig sy in Engeland op, waar sy in ’n Britse militêre hospitaal soldate met bomskok help versorg. Haar genesingsproses word tot die uiterste gevoer toe sy een van haar verkragters teëkom.

Trauma en verlies dien as twee hooftemas in hierdie roman. Die verwerking van trauma en veral hoe Susan Nell haar trauma verwerk, kom onder die soeklig. Die psigiatriese elemente wat Smith ingebring het, tesame met terapeutiese instrumente, word ondersoek. Eers moet daar agtergrond rondom trauma en verlies gegee word.

...
Die trauma wat Susan Nell beleef het is veelsydig. Haar verkragting in die Winburgse konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog deur twee Britse offisiere en ’n joiner word vererger deur die wreedaardige wyse waarop sy vir die dood agtergelaat is.
...
  1. Trauma en verlies

Volgens Esther Giller (1999) verwys trauma na ’n uiterste vlak van stres wat ’n individu se hanteringsvermoë oorweldig. Die term word gekoppel aan ’n unieke ervaring, gebeurtenis of blywende toestand. Dit het vrees, afgryse en ’n gevoel van hulpeloosheid tot gevolg. Traumatiese gebeurtenisse kan ’n enkele gebeurtenis of herhaalde blootstelling oor baie jare behels (Wilder Research 2014). Om hierdie trauma en verlies wat beleef is, te verwerk, word daar gefokus op wat die traumateorie genoem word. Volgens SJ Lubbe (2019:10) verwys traumateorie na ’n integrasie van teoretiese insigte vanuit die mediese, psigoanalitiese, neurologiese en literêre wetenskappe ten einde die individuele, sosiale en kulturele impak van traumatiese gebeure te ondersoek, met spesifieke verwysing na die manier waarop oorlewendes sin maak van die lewe.

Chris van der Merwe (2014) koppel trauma aan die beginsel van ’n verhaal wat verlore gaan en dan herskryf moet word. Volgens hom word die samehang en betekenis wat deur ’n lewensverhaal geskep word, deur trauma of verlies vernietig. Trauma beteken dus die verlies van ’n lewensverhaal. Hy verskaf ook ’n oplossing: In ’n poging om die trauma te verwerk, moet die trauma gekonfronteer word en dan geïntegreer word met die lewensverhaal. Trauma is een van die hooftemas wat in die roman ondersoek word. Die trauma wat Susan Nell beleef het, asook die sogenaamde bomskok van die soldate, kom onder die loep.

2.1 Susan Nell

2.2.1 Aanvanklike trauma

Die trauma wat Susan Nell beleef het is veelvuldig. Haar verkragting in die Winburgse konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog deur twee Britse offisiere en ’n joiner word vererger deur die wreedaardige wyse waarop sy vir die dood agtergelaat is. Haar doodsertifikaat is op 2 Januarie 1902 onderteken. Saam met die verkragtingstrauma het sy die verlies van haar onskuld asook die sterftes van haar hele gesin en vriende gehad. Sy onthou aanvanklik die trauma “asof sy in die oog van die warrelwind staan – en neergesmyt word tussen ’n werpsel tente op ’n godverlate Vrystaatse vlakte” (9). Die trauma laat haar amper totaal en al identiteitloos en tuisteloos. Sy is op ’n stadium drie mense: Susan Nell, Susan Draper (haar vriendin in die konsentrasiekamp se van) en  Ntauleng (die naam wat hulle Sotho-bediende kleintyd vir haar gegee het). Susan gaan deur die loop van die roman deur ’n proses om haar trauma te verwerk, weer haar identiteit te vind en uiteindelik haar storie te herskryf.

2.1.2 Die traumaproses

Die proses om trauma te verwerk word volgens Aphrodite Matsakis (1996:143) in drie stadiums verdeel. Die eerste stadium is die kognitiewe stadium, waar die trauma onthou word. Die tweede stadium is die emosionele stadium, waar ’n hernude ervaring van gevoelens met die trauma geassosieer word. Tydens die finale stadium, wat die bemagtigingstadium is, vind die verwonde persoon betekenis in sy of haar trauma. 

Aanvanklik wil Susan nie aan die trauma dink nie. Sy probeer dit vermy: “Ek wil nie. Ek moenie meer kyk nie. Ek moet liewer nie dink nie, want as ek dink dan druk my kop my vas, dan druk my gedagtes teen die been. Dis die dink wat dit laat oopkraak en so seer maak” (10). Met die stamp teen ’n soldaat op die skip is dit haar lyf wat onthou en sy herleef die trauma (16). Volgens haar gaan sy altyd terug na daardie toneel wat sy eie agtergrondmusiek, eie beligting en eie woorde het wat onuitwisbaar in haar vasgelê is (42). Nadat Susan op die wa gelaai is waarmee die dooies van die kamp af vervoer word, val sy af. ’n Sotho-kruiedokter, Tiisetso, tel haar op. Hy en ’n Sotho-vrou, Mamello, versorg haar in ’n grot. Dit is daar waar sy probeer om te onthou, maar dit is asof haar brein haar probeer beskerm. Sy sê: “Ek kan nog nie goed onthou hoe ek hier gekom het nie, of wat met my gebeur het nie. My kop word te seer van die dink. Net tot by die kamp onthou ek, net tot daar kan my gedagtes teruggaan. Maar dan bly my onthou daar tussen die tente hang soos stof, daar tussen die gehoes en gekerm en gekla. Dan waai dit weer weg. Soos asem. Weg. Die skaapslag onthou ek ook. Dit is eintlik my hele kop vol, maar ek weet nie of dit in die kamp was nie. Dit is die gedagte wat my die bangste maak. ’n Man se gesig is ook daarby” (50). Haar brein beskerm haar dus wonderbaarlik teen die trauma wat sy beleef het.

Wanneer sy in Engeland by mevrou Simms is, begin sy helder terugflitse kry (70). Die herinneringe laat daar ’n woede in haar opvlam na al die jare se dink daaraan (89). Die verkragting word nêrens in diep besonderhede beskryf nie, maar elke keer wanneer Susan herinneringe daaraan oproep, word die gebeure vir haar en die leser duideliker: “[...] ek word aan my been tussen die tente deurgesleep en by die kampopsigter se tent ingestamp [...] ek weet wat hulle gaan doen en ek voel dit voordat dit rêrig gebeur ...” (143). Uiteindelik besluit sy dat daar net vir haar een manier is om te lewe, en dit is om dit wat met haar gebeur het direk te konfronteer (44).

Dan bereik sy die tweede stadium van die sogenaamde genesingsproses. Daar word ’n hernude ervaring van gevoelens en emosies aan die trauma gekoppel. Sy noem haar reis met die trauma haar “oorlog” wat sy moet deurmaak (12). Aan die begin van haar genesingsreis praat sy van ’n verskriklike bangheid wat die heeltyd by haar is en wat sy aan die trauma koppel (27). Dit is ook in hierdie stadium wat sy kans sien om weer daaraan te dink en te voel (32): “Iets in haar moes egter eers tot bedaring kom voordat sy dit kon regkry om duidelik genoeg te sien” (30). As deel van haar “oorlogsplan” werk sy dan in een van die Britse militêre hospitale (37). Sy moet die genesingsreis aanpak omdat sy meen dat sy gebroke is en dat daar iets groots fout is met haar (51). In ’n poging om na alles weer haar identiteit te vind, noem sy haarself “hoer”, want dit is wat sy in die kamp genoem is. Sy projekteer ook al die gevoelens wat sy beleef op diegene rondom haar. Sy erken dit tydens ’n situasie met mevrou Simms: “Sy het hierdie wantrouigheid van mevrou Simms vir haarself toegeëien, haar hospita se vrees is eintlik haar eie” (84). Op so ’n wyse probeer sy sin maak van haar traumabelewenis. Sy kom ook tot die besef dat die trauma na jare weer kan opduik en dat dit juis nodig is vir die verwerking van trauma (93). Genadiglik probeer sy die trauma ook verwoord deur dit vir tant Marie Koopmans-de Wet te vertel. Die feit dat sy haar trauma verwoord, beteken dat sy dit begin verwerk. Die tante gee dan vir haar baie goeie raad: “Vat jou naam terug. [...] Dit is die enigste manier om weer te begin lewe, om jou naam terug te vat. Dit is ’n begin” (230).

Aanvanklik koppel sy skaamte en skuldgevoel aan die trauma en dink dat God haar straf (94). Dit blyk duidelik uit die feit dat sy haarself “hoer” noem. Dit is al wat sy kan verwoord (64). Sy wonder egter ook of dit werklik goed is om na die gebeure terug te keer (108): “Ek was al hoeveel keer weer daar. Ek het al woorde gekry om daaroor te praat, maar is dit goed, is dit helend om na daardie tent terug te keer? Ek weet nie” (109). ’n Groot deel van hierdie fase se sukses vind plaas wanneer sy na 16 jaar een van haar verkragters, Hamilton-Peake, in die hospitaal teëkom. Dit is ook hier waar sy weer die merk en letsel wat sy op sy oor gelos het, sien (124). Hierdie keer is hy egter in die rol van slagoffer wat aan bomskok ly. Dit is dan wanneer sy besef dat sy die trauma steeds saam met haar gedra het en dat alles nog nie verby is nie (126).

Die laaste stadium, die bemagtigingsfase, word bereik toe sy vir Hamilton-Peake op ’n motorfietsrit neem (180). Sy wil nie hê dat hy ’n helm opsit nie, want hy moet die “vryheid” en “oopheid” voel (181). Sy lag uitgelate as hulle ry, maar haar gesig is eintlik pynlik vertrek asof sy wil huil (181). Hamilton-Peake se gesig is weer op sy beurt vertrek van vrees en afgryse. Hierdie keer is dit Susan wat in beheer is en nie hy nie. Sy wil dat hy voel: “Sy buig af, vat sy yskoue hand en bring dit na haar gesig, druk die vingerpunte teen haar voorkop, skuif dit op teen haar vel en tot onder haar hare in, dit die rif van die litteken kry en wikkel sy vingers saggies daaroor – oor die rugstringetjie wat lieflik geboë daar lê, werwel vir werwel, senuwee vir senuwee” (183).

Kort daarna sterf hy. Die motorfietsrit het sy dood veroorsaak, maar in ’n ander opsig het dit Susan se lewe veroorsaak. Aan die einde van die roman en van haar verhaal kom sy tot ’n gevolgtrekking: “Dit is eintlik deel van een lang verhaal, dit weet sy al lankal. Jy kan dit nie in drie verskillende oorloë opdeel nie, want dit is haar verhaal. Dit is my storie. Daarin is ek tuis” (243). Sy is uiteindelik die skepper van die verhaal waarin sy besluit wat met Hamilton-Peake gebeur. Dit sluit dus aan by Van der Merwe (2014) se stellings oor trauma in terme van ’n verhaal. Susan het haar verhaal herskryf. Hierdie keer het die trauma nie die verhaal verwoes nie, maar dit vorm eerder deel van haar oorwinningsverhaal.

2.1.3 Verlies

Saam met die trauma van die verkragting wat Susan ervaar het, was daar ook die gepaardgaande verlies. Eerstens het sy haar jongmeisie-onskuld verloor. Sy het “nog nie die woorde” vir verkragting geleer toe dit destyds met haar gebeur het nie (143). Tweedens het sy haar identiteit verloor die oomblik toe sy dood verklaar is: “Susan Nell is daar in die kamp dood” (170). Derdens het sy haar tuiste verloor. Die huis waar hulle as bywoners op die plaas gewoon het, is afgebrand voordat hulle na die Winburgse konsentrasiekamp geneem is (139). Vierdens het sy haar hele familie tydens die oorlog verloor: “Toe ons weer hoor, is Pa dood. En dit was sommer nog aan die begin van die oorlog” (96). Haar ma en boetie is ook later in die konsentrasiekamp oorlede. Met haar terugkeer vanuit Engeland moes sy aanhoor dat haar vriend Jacques la Mer ook in die nuwe oorlog gesterf het. Saam met hom was daar moontlik ’n kans op geluk en romanse, maar as gevolg van haar trauma kon sy haarself nie sover kry om op so ’n wyse by hom betrokke te raak nie. Laastens is daar die verlies van haar vriendin in die konsentrasiekamp, Alice Draper. Aan die einde van die roman en haar verhaal ontdek sy Alice se graf. Sy is op 6 Januarie 1902 oorlede. Die grootste verlies wat Susan egter moes verwerk, is die verlies van die lewe wat sy sonder ’n oorlog en trauma sou gehad het.

Die fokus op trauma en verlies is nie beperk tot Susan nie. Dit kan deurgetrek word na trauma wat deur alle rolspelers, insluitend die soldate, beleef word.

2.2 Oorlogstrauma

In Kamphoer word die effek van die oorlog op die soldate ook uitgelig. Bomskok, wat dit behels en die genesing daarvan word onder die loep geneem. Smith se verwysing na psigiatrie in daardie tyd, sowel as musiek en dansterapie, word ondersoek.

2.2.1 Bomskok

Daar word ’n imposante beskrywing van bomskok deur Susan verskaf: “Bomskok [...] Soldate wat heeltemal uit hul sinne geskiet is, uit alle woorde uit, uit hul ganse onthou, uit alle beheer oor spiere; lywe besete deur die spasmas van ’n buitewêreldse gruwel; soldate wat niks meer begeer as om doodgewoon dood te gaan nie” (40). Volgens Van der Merwe (2014) word Susan aangetrek na die mense wat bomskok het, maar sy ly ook self aan bomskok. Susan sê self: “Sy is juis in hierdie beroep om te help genees; haar lewenspad het gelei na daardie wonde wat die diepste lê en die stadigste gesond word, die wonde aan die siel” (43). Sy vertel van haar eerste kennismaking met bomskok toe die wêreld nog nie ’n naam daarvoor gehad het nie: “Sy dink aan die vrou wat begin gras eet het daar agter die sinkplate van die ooikamp in die Winburgse kamp; sy dink aan die ruk dat sy buite taal, buite rede in ’n stoet swartgeklede vroue haar verdoemenis tegemoetgeloop het” (46).

Later verskaf sy ’n duideliker omskrywing. Hulle praat eerder van oorlogskok as bomskok: “Dit is in baie gevalle eerder ’n langdurige blootstelling aan vrees, aan spanning, en doodgewoon dae en weke en maande se gewag in ’n loopgraaf wat die skade berokken” (56).

2.2.2 Psigiatrie

Smith maak psigiatrie op ’n slim manier deel van die storielyn. In ’n onderhoud met Jonathan Amid (2014) vertel hy dat hy navorsing oor een van die karakters in Pat Barker se The ghost road gedoen het. Die karakter was dokter WHR Rivers, wat werklik geleef het. Volgens Smith was hy ’n psigiater wat baanbrekerswerk oor bomskok en die behandeling daarvan na die Eerste Wêreldoorlog gedoen het.  Dokter Rivers was dus vir hom die skakel tussen die grot waar Susan “genesing” ondervind het en die uiteindelike hospitaal waar sy self as geneser sou optree.

Ironies genoeg glo Susan vas dat omdat sy ’n wond het, sy ander kan help wat wonde het. Dit is glo een van dokter Rivers se aannames in die traumapraktyk ook (120). Dit is waarom Susan haarself in die psigiatrie bekwaam het. Haar reis het dus in die grot begin, waar sy blootgestel is aan die primitiefste vorm van psigiatriese genesing wat Tiisetso en Mamello toegepas het. Sy weet verder uit ondervinding dat sang en musiek met die genesingsproses help. Sy pas dit later in haar eie loopbaan ook toe: “Die wysie en die woorde ken ek goed en ek kan al saamsing. Ek het agtergekom dat as ek so saam met hom aangaan en aangaan dan is dit asof ek lig word en begin dryf. Dit vat my weg van die goeters wat my gedagtes vasgryp” (96). Sang vat haar na ’n beter plek toe. Op ’n dag verduidelik sy vir Hurst wat sy by hierdie primitiewe mense geleer het: “Dat ’n mens deur verhale, soos met liedjies, by die bron van jou genesing kan uitkom” (129). Sy koppel dit dus aan narratiewe terapie ook. Gevolglik is dit die genesingsmetodes van Tiisetso en Mamello, wat sy in die grot beleef het, wat haar aangespoor het om ander slagoffers wat trauma beleef het, te help. Deur self ’n gewonde te wees het haar in staat gestel om ander te help. Deur ander te help, het sy haar eie storie herskryf en die trauma tot ’n sekere mate verwerk.

...
Trauma uit die oogpunt van ’n agtienjarige Susan Nell en ’n volwasse Susan Nell lyk verskillend. Uit bogenoemde is dit duidelik dat slagoffers soms die skuld en skaamte vir hulself toe-eien, wat hulle trauma versterk.
...
  1. Gevolgtrekking

Trauma en verlies staan sentraal in die intrige. Trauma uit die oogpunt van ’n agtienjarige Susan Nell en ’n volwasse Susan Nell lyk verskillend. Uit bogenoemde is dit duidelik dat slagoffers soms die skuld en skaamte vir hulself toe-eien, wat hulle trauma versterk. Wat hierdie roman interessant maak, is die feit dat die oortreder in die verhaal ook later as ’n slagoffer van die oorlog met bomskok uitgebeeld word. Hy het dus sy eie trauma.

Die genesingsproses maak dit duidelik dat trauma vir elke individu of slagoffer relatief is, maar tog dat trauma ieder en elk kan raak. Die verhaalelement wat ingewerk is, versterk die ontknoping. Susan Nell herskryf haar verhaal wat as gevolg van die trauma verlore gegaan het. Hierdie keer is sy die skepper van haar eie verhaal; sy besluit wat met Hamilton-Peake gebeur. Sy neem die mag terug. Sy maak dit weer haar verhaal.

 

Bibliografie

Amid, J. 2014. Onderhoud met Francois Smith: Om Kamphoer te skryf. https://www.litnet.co.za/onderhoud-met-francois-smith-om-kamphoer-te-skryf/ (1 Januarie 2021 geraadpleeg).

Giller, E. 1999. What is psychological trauma? Werkswinkel-aanbieding by die jaarlikse konferensie van die Maryland Mental Hygiene Administration, “Passages to prevention – Prevention across life’s spectrum”, Maryland, Mei 1999. http://theannainstitute.org/What%20Is%20Psychological%20Trauma.pdf?contentID=88 (2 Januarie 2021 geraadpleeg).

Lubbe, SJ. 2019. “Mens kan nie altyd lag nie, mens moet soms huil ook”: Die verwerking van trauma deur skrywende karakters in drie romans deur Marita van der Vyver. MA-verhandeling. NWU, Potchefstroom.

Matsakis, A. 1996. I can’t get over it: a handbook for trauma survivors. 2de uitgawe. Oakland: Harbinger.

Smith, F. 2014. Kamphoer. Kaapstad: Tafelberg.

Van der Merwe, C. 2014. LitNet Akademies-resensie-essay: Kamphoer deur Francois Smith. https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-kamphoer-deur-deur-francois-smith/ (1 Januarie 2021 geraadpleeg).

Wilder Research. 2014. Trauma and resilience: How can we promote resilience and recovery for people who have experienced traumatic events? https://Wilder.org/sites/default/files/imports/AnokaCountyMWCtrauma%20Snapshot_10-14.pdf (2 Januarie 2021 geraadpleeg).

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Kamphoer deur Francois Smith

Biebouw-resensie: Kamphoer deur Francois Smith

Tien vrae: Francois Smith oor Kamphoer

Remembering and forgetting: Reflections on Francois Smith’s novel Kamphoer

Onderhoud met Francois Smith: Om Kamphoer te skryf

Boekgesprek op Dagbreek: Kamphoer deur Francois Smith

Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n ondersoek deur Izak de Vries

Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n bespreking deur Kerneels Breytenbach

Die drie dae van Gustav van Aardt: ’n bespreking van Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith

Francois Smith se Kleinste ramp denkbaar gaan boei, terroriseer

Resensie: Die getuienis deur Francois Smith

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top