Regsalmanak: Private vervolging weens dobbelskuld

  • 0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Fotobron: letuongan.wordpress.com

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA

Het jy geweet dat dit in ons reg moontlik is dat 'n private persoon 'n ander persoon in die hof weens 'n misdryf kan vervolg? Artikel 7 ev van die Strafproseswet[i] bepaal naamlik dat indien die prokureur-generaal 'n sertifikaat uitreik waarin hy weier om 'n persoon weens 'n beweerde misdryf te vervolg, 'n private persoon dan self 'n vervolging in die hof teen die beskuldigde kan instel. Die private persoon moet egter bewys dat hy 'n wesenlike en besondere belang by die geskil het en ook dat hy ten gevolge van die pleging van die beweerde misdryf persoonlik benadeel is.

Voordat hy die vervolging mag instel, moet hy geld by die hof inbetaal as sekerheid dat hy die aanklag teen die beskuldigde sonder onbehoorlike vertraging tot 'n einde sal voer. Hy moet ook 'n bedrag geld as sekerheid vir die koste van die beskuldigde se verdediging by die hof inbetaal. Die vervolging word op dieselfde wyse gevoer asof die staat die beskuldigde vervolg. Die private vervolger moet, met ander woorde, getuies dagvaar om in die hof te kom getuig en die hof moet uiteindelik bo redelike twyfel bevind dat die beskuldigde wel aan die beweerde misdryf skuldig is. Hy kan dan deur die hof gevonnis word tot enige van die vonnisse waarvoor die Strafproseswet voorsiening maak. Boonop kan die hof ook die beskuldigde verplig om die private aanklaer se koste om die saak enduit te voer te betaal. As die beskuldigde egter onskuldig bevind word, kan die hof die private vervolger gelas om die beskuldigde se regskoste op te dok.

Dit bring ons by vandeesweek se hofsaak. Op 21 Julie 1993 het ene mnr Botha – nogal 'n prokureur – gaan dobbel by 'n private en onwettige dobbelhuis wat aan ene mnr Phillips behoort het. Mnr Botha het aansienlike dobbelverliese gely en deur die loop van die aand het hy 'n dobbelskuld van R105 000 opgebou. Vir enige mens (veral vir 'n prokureur :-)) is dit baie geld. Soos wat mnr Botha by die dobbeltafel verloor het, het hy aan mnr Phillips tjeks in eenhede van R2 500 elk gegee. Dié tjeks was op mnr Botha se bankrekening by 'n bank in Johannesburg getrek. Een tjek was selfs so hoog as R50 000, terwyl daar ook 'n ander tjek vir R5 000 was.

Die volgende oggend toe dit tot mnr Botha deurdring hoe onverantwoordelik hy die vorige aand met sy tjekboek was, het hy aan sy bankbestuurder opdrag gegee om betaling van ál die tjeks te weier.

Mnr Phillips het 'n bedrogklagte teen mnr Botha aanhangig gemaak, maar die prokureur-generaal het geweier om mnr Botha te vervolg. Mnr Phillips het daarna 'n private vervolging, soos wat ek nou net verduidelik het, teen mnr Botha ingestel. Hy het beweer dat elke keer as mnr Botha 'n tjek aan hom oorhandig het, hy dit gedoen het met die bedoeling om mnr Phillips te bedrieg deur voor te gee dat dit sý (mnr Botha se) onvoorwaardelike en eerlike bedoeling was dat elk van die tjeks deur die bank betaal sou word. Op hierdie manier, só het mnr Phillips geargumenteer, het mnr Botha hom beweeg om tot sy nadeel of potensiële nadeel dobbelskyfies aan hom te oorhandig waarvan die waarde gelyk was aan die waarde van elk van die tjeks wat mnr Botha uitgeskryf het.

Wat mnre Phillips en Botha gedoen het, was natuurlik onwettig, want die soort dobbelspel wat mnr Phillips by sy huis gereël het, word deur die Wet op Dobbelary[ii] verbied. Verder is dit 'n ou reël van ons reg dat iemand nie 'n kontrak in 'n hof kan afdwing as hy self met die spreekwoordelike vuil hande na die hof toe gaan nie. (Regstudente maak gewoonlik in hul studies van die Kontraktereg kennis met die Latynse spreuk Ex turpi causa non oritur actio: "Uit 'n skandelike oorsaak volg geen aksie nie".) As twee partye met 'n onwettige kontrak besig is, kan nie een van hulle daardie onwettige kontrak in die hof gaan afdwing nie. Gevolglik sou mnr Phillips nie 'n siviele eis teen mnr Botha kon ingestel het vir betaling van die bedrag van R105 000 se tjeks wat mnr Botha laat stop het nie.

Mnr Botha se vernaamste verweer was dat aangesien mnr Phillips nie sy siviele eis in die hof kon afdwing nie, hy ook nie daarop geregtig was om 'n private strafregtelike vervolging teen mnr Botha in te stel nie. Dit was 'n interessante verweer wat egter deur die hof verwerp is.[iii] Die hof het beslis dat dit nie nodig was vir mnr Phillips om te bewys dat hy in 'n siviele saak teen mnr Botha sou slaag alvorens hy die reg sou hê om 'n private vervolging teen hom in te stel nie.

Die hof het egter bevind dat mnr Phillips in werklikheid geen skade as gevolg van mnr Botha se tjekbedrog gely het nie. Al wat mnr, Botha gedoen het, was om vir mnr Phillips te beweeg om, in ruil vir die tjeks, aan hom dobbelskyfies te oorhandig wat geen inherente waarde gehad het nie. Mnr Phillips was nie in 'n slegter posisie ná die tjekbedrog as wat hy daarvóór was nie. Sy verlies was die geld wat hy kón gemaak het omdat mnr Botha by die dobbeltafel verloor het. Die rede vir sy verlies was egter nie die tjekbedrog nie, maar die feit dat hy nie regtens 'n siviele eis teen mnr Botha kon instel nie, omdat dit deur die reg verbied word.

Die uiteinde was dus dat mnr Phillips se private vervolging van mnr Botha misluk het. Mnr Botha is onskuldig bevind en ontslaan en mnr Phillips is beveel om sy regskoste te betaal.

Maar mnr Botha het nie so lig daarvan afgekom nie. Die hof het opgemerk dat hy 'n praktiserende prokureur was toe die voorval plaasgevind het. Die hof het gevolglik aanbeveel dat die Wetsgenootskap 'n bietjie moet kyk na sy optrede en daarom het die regters beveel dat die uitspraak onder die Wetsgenootskap se aandag gebring moes word.

    [i] Wet 51 van 1977

    [ii] Wet 51 van 1965 – vervang deur die National Gambling Act, 7 van 2004

    [iii] Vgl Phillips v Botha 1995(3) SA 948 (WLD). Op appèl bevestig: 1999(2) SA 555 (HHA)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top