Regsalmanak: Die staat moet met "skoon hande" hof toe gaan

  • 1

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Fotobron: www.freefallingonline.com

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA

Die uitspraak van Staat teen Ebrahim[i], 'n appèlhofuitspraak van 1990, laat 'n mens nogal baie dink aan aspekte van die getuienis wat tussen 1996 en 1998 voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) gelewer is. Onthou, die uitspraak is in die sogenaamde ou Suid-Afrika gelewer – etlike jare vóór die WVK.

Die beskuldigde, mnr Ebrahim, was 'n lid van Umkhonto we Sizwe, die militêre vleuel van die ANC.

Ebrahim is in 1964 deur die hooggeregshof skuldig bevind aan verskeie dade van sabotasie en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy het sy vonnis op Robbeneiland uitgedien en is in 1979 vrygelaat. Na sy vrylating is hy tot die landdrosdistrik van Pinetown ingeperk. In Desember 1980, terwyl sy inperking nog van krag was, het hy na Swaziland gevlug. Daar het hy weer sy leiersposisie in die ANC en Umkhonto we Sizwe hervat.

Op 'n aand in Desember 1986 het Ebrahim gesit en televisie kyk in die sitkamer van sy huis in Swaziland toe daar 'n klop aan die voordeur was. Dit was twee swart mans wat hulp kom vra het; daar was glo ’n probleem met hul motor. Ebrahim het uitgegaan om hulle te gaan help, maar skielik het die twee vreemdelinge vuurwapens op hom gerig en hom gewaarsku dat hulle hom sou doodmaak as hy sou skree of ’n geraas sou maak.

Op Ebrahim se vraag wie sy aanvallers is het hulle geantwoord dat hulle lede van die Suid-Afrikaanse Polisie is. Hulle het sy hande agter sy rug vasgebind, waarna hulle sy huis deurgesoek het en op verskeie items beslag gelê het. Die hof se beskrywing van hoe hy vervolgens oor die grens na Suid-Afrika gesmokkel is, het al die spanningselemente van 'n goeie James Bond-storie. Net: dié keer was dit eg. In Pretoria is hy ingevolge die bepalings van die destydse Wet op Binnelandse Veiligheid gearresteer en uiteindelik vanweë hoogverraad aangekla.

Met sy eerste verskyning in die hof het Ebrahim, voordat hy op die aanklagte gepleit het, 'n aansoek geloods met die strekking dat die hof nie regsbevoegdheid het om hom te verhoor nie, aangesien sy ontvoering uit Swaziland 'n verbreking van die internasionale reg – en dus onwettig – was. Op 6 Augustus 1987 het die regter sy aansoek van die hand gewys en is daar met sy verhoor voortgegaan. Uiteindelik is hy aan hoogverraad skuldig bevind en tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Ebrahim het daarna na die appèlhof in Bloemfontein geappelleer. Die vernaamste geskilpunt was die vraag of sy ontvoering regsgeldig was. Indien nie, sou die hof in die eerste instansie nie die bevoegdheid gehad het om hom op 'n aanklag van hoogverraad te verhoor nie.

Regter MT Steyn, wat die appèlhof se uitspraak gelewer het, het 'n deurtastende ondersoek van die Suid-Afrikaanse reg op hierdie punt gedoen. Daarvoor moes hy onder meer gaan kyk na wat die regsposisie was in ons gemenereg – met ander woorde, die Romeinse en Romeins-Hollandse Reg.

Die hof het beslis dat die gemenereg die verwydering van 'n persoon uit 'n gebied waar hy onregmatiglik gevange geneem is, in wese as ontvoering en 'n ernstige regskending beskou het. Daarbenewens het 'n hof waarin so 'n ontvoerde tereg gestaan het, ook geen regsbevoegdheid gehad om hom te verhoor nie, al is hy deur amptenare in diens van die staat ontvoer.

Die hof het voorts beslis dat daar verskeie fundamentele regsbeginsels teenwoordig is in hierdie gemeenregtelike reëls: die individu moet beskerm word teen onwettige aanhouding en teen ontvoering; die grense van regsbevoegdheid mag nie oorskry word nie; staatkundige soewereiniteit moet eerbiedig word; en die regspleging moet billik wees teenoor diegene wat daardeur geraak word, om sodoende die waardigheid en integriteit van die regspleging te beskerm en te bevorder.

Die hof het beslis dat die staat ook deur hierdie reëls verbind word en wanneer die staat 'n gedingsparty is, moet hy met "skoon hande" hof toe kom. Waar die staat egter betrokke was by die ontvoering van persone oor landsgrense heen, is dit klaarblyklik nie die geval nie.

In die lig van hierdie reëls en beginsels het die appèlhof beslis dat die hooggeregshof nie die regsbevoegdheid gehad het om die saak teen mnr Ebrahim te bereg nie en dat sy aansoek gevolglik moes slaag.

Aangesien mnr Ebrahim nooit verhoor moes gewees het nie, moes die verhoor en die gevolge daarvan ongedaan gemaak word. Mnr Ebrahim se skuldigbevinding en vonnis is derhalwe tersyde gestel.

Dit is ’n merkwaardige uitspraak wat bevestig dat menseregte ook in die sogenaamde “ou” Suid-Afrika deur ons howe gehandhaaf en beskerm is. Vandag word daardie regte in die Grondwet van 1996 beskerm – onder meer deur aan elkeen die reg van vryheid van beweging en verblyf te waarborg.[ii]

 

[i]    Staat v Ebrahim  1991(2) SA 553 (AD)

[ii] Art 21

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Net toe ek dink hierdie uitspraak is lankal vergete. Drie punte om te maak:
    Een, die Amerikaanse Hooggeregshof het op dieselfde tyd beslis dat Amerikaanse howe in soortgelyke omstandighede wel jurisdiksie het, en ons het natuurlik sedertdien gesien hoe hulle wêreldwyd mense ontvoer, martel en in Guantanamo Bay of selfs in die vasteland van die VSA verhoor en vonnis.
    Twee: Ek onthou vaagweg 'n saak in die Britse howe (miskien die Privy Council) waarin Steyn AR se uitspraak gevolg is en die Amerikaanse beslissing as verkeerd beskou is.
    Drie: Steyn AR se uitspraak is dalk relevant vir die Bashir saak wat binnekort voor die Grondwethof moet dien, in die sin dat die staat nie met skoon hande hof toe kom as hy nie sy internasionale regspligte uitvoer nie en ook strydig met 'n hofbevel optree. Ek het al by geleentheid gesien dat die hof weier om 'n appèl aan te hoor as die beskuldigde ontsnap het en voortvlugtend was.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top