Twee romanskrywers, Chris Karsten en Kirby van der Merwe, is vanjaar dubbel benoem vir kykNET-Rapport-boekpryse, terwyl die onlangs ontslape romanskrywer Dan Sleigh benoem is vir ’n niefiksiewerk.
Die kykNET-Rapportpryse, wat saam R1 miljoen beloop, bestaan uit vier boekpryse en twee resensiepryse, en word jaarliks toegeken vir Afrikaanse werk wat in die vorige kalenderjaar verskyn het. Die vier boekpryse is die kykNET-Rapportprys vir fiksie (romans), niefiksie en film onderskeidelik, en die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke.
Met sy tweede roman, Eugene, bevind Kirby van der Merwe hom bykans ’n kwarteeu n֧á die publikasie van sy debuutroman, Klapperhaar slaap nie stil nie, op die kortlys vir beide die fiksieprys en Jan Rabie-Rapportprys. Chris Karsten, meester van die literêre misdaadroman, is benoem vir sowel fiksie as die boek met die meeste filmiese potensiaal vir sy historiese roman Op pad na Moormansgat.
Aan niefiksiekant kry die historikus en bekroonde romansier Dan Sleigh postuum erkenning met ’n benoeming vir sy VOC-geskiedskrywing in Retoervloot.
Vanjaar se kortlyste is, in alfabetiese volgorde volgens skrywer:
KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)
- Op pad na Moormansgat deur Chris Karsten (Human & Rousseau)
- Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)
- Roman deur Cas Wepener (Protea Boekhuis)
KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE
- Wieg deur Joan Kruger (Litera)
- Retoervloot deur Dan Sleigh (Tafelberg)
- Die Kaapse slawe 1652-1838 deur Eunice Visser (Protea Boekhuis)
KYKNET-RAPPORT HERMAN BINGE-PRYS: FILM
- As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies (Kwela)
- Op pad na Moormansgat deur Chris Karsten (Human & Rousseau)
- Om beter te kan moor deur Christelle van Rooyen Wessels (Penguin)
JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERKE
- bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze (Human & Rousseau)
- Wit leuen deur Ruan Kemp (Tafelberg)
- Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)
Altesaam 86 inskrywings is ontvang vir die vier boekpryse, wat ten doel het om erkenning te gee aan Afrikaanse skrywers en hulle aan te spoor om gehalteskryfwerk in hul moedertaal te lewer.
“In ’n wankelende wêreld staan Afrikaanse boeke op goeie voete,” sê die sameroeper van die pryse, Hettie Scholtz. “Vanjaar se inskrywings het weer eens ’n leeservaring gebied wat stimuleer, uitdaag en ontroer.”
By die kykNET-Rapportprys vir fiksie getuig feitlik al die inskrywings van ’n woelige verlede en hede – ou geskiedenis, streeksgeskiedenis en die daaglikse lot van Suid-Afrikaners. Benewens ’n vloed spannings- en speurverhale het die temas wat ondersoek is, gestrek vanaf geskiedenis, die lewens van gemarginaliseerdes wat hulleself stelselmatig laat geld, oorlog en die uitwerking daarvan, en die wêreld van popmusiek, tot familiepolitiek, transgender lewens, fantasie en humor. Naas die titels op die kortlyste verdien Die Waterplek, Afrika deur Carina Stander, bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze, Ilse van Staden se Palimpses, sowel as Louis Kruger se Die verleiding van Eva de Winter spesiale vermelding.
By niefiksie was daar inskrywings met uiters leesbare pitkos, maar dis die geskiedkundige werke wat uitgetroon het met verhale van formidabele omvang en diepte, ook skitterende skryfwerk. Al drie boeke op die kortlys handel oor die vroeë Kaapse tyd, maar tog is dit aktueel, met dié dat herkoms en identiteit steeds so ’n belangrike gespreksonderwerp in ons land is. Hier verdien drie dapper skrywers se boeke ook spesiale vermelding: So lyk ’n vrou deur Ilse Verster, Elise Bishop se Twee lewens en Herman Lategan se Hoerkind.
Die dertien inskrywings vir die Jan Rabie-Rapportprys het vyf debute ingesluit, en die uiteenlopende aanbod was van die sterkste in baie jare. Hier was titels wat ook spesiale vermelding verdien Hou jou oë oop deur Brian Fredericks en Carien Smith se debuutkortverhaalbundel Bot.
Die individuele prysgeld beloop R300 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R155 000 elk vir die kykNET-Rapport-filmprys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R45 000 elk vir die kykNET-Rapport-resensiepryse vir fiksie en niefiksie onderskeidelik. Die kortlyste vir die resensiepryse word later aangekondig.
Die wenners word bekend gemaak op 23 September 2023 tydens ’n funksie by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad.
Die keurpanele vir die onderskeie boekpryse was: kykNET-Rapport-fiksieprys: Louise Viljoen, Beer Adriaanse, Thys Human en Steward van Wyk; kykNET-Rapport-niefiksieprys: Anne-Marie Mischke, Jeremy Vearey en Kerneels Breytenbach; kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys: Wikus du Toit (M-Net), Beer Adriaanse en Kerneels Breytenbach; Jan Rabie-Rapportprys: Alida Potgieter, Ryan Pedro en Andries Bezuidenhout.
Lees ook:
Resensie van bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze
Om beter te kan moor deur Christelle van Rooyen-Wessels, ’n resensie
Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief by Eunice Bauermeester: book review
Die geskiedenis word lewendig in Chris Karsten se Op pad na Moormansgat
Kommentaar
Geluk aan al die skrywers. Ek wonder egter: is die prys vir die boek wat die beste potensiaal het om 'n fliek te word regtig nodig? Van hoeveel boeke wat al dié prys gewen het is al flieks van gemaak? Daarteenoor is daar bittermin pryse vir digters. Hoekom nie daardie onsinnige fliekprys eerder vervang met 'n prys vir die beste digbundel van die jaar nie? Digters suig al klaar genoeg aan die agterspeen en verdien meer erkenning.