Titel: Wieg
Skrywer: Joan Kruger
Uitgewer: Litera
Hoezee! Hoezee! Wat ’n boek!
Wieg en ’n nuwe geskiedenis
’n Bespreking van Wieg deur Joan Kruger, uitgegee deur Litera
Anders as hierdie droewe seisoen se moet-lees-boeke wat ons hedendaagse politiek manjifiek weergee, wat met toenemende ontnugtering gelees word en eintlik as rillers geklassifiseer moet word (Haffajee, Pauw, Du Toit),[1] is Wieg ’n boek wat met toenemende verwondering gelees word.
Dit gaan wel ook oor die politiek, maar van lank, lank gelede. En hierdie een uit ’n gans ander hoek. Oor ’n vrou wat elke dag doen wat ’n vrou moet doen, in hierdie geval om “kraamvroue” by te staan in hul uur (of liewer ure) van barensnood om nog ’n lewe die lewe in te help.
Plus: Joan Kruger se Wieg dra in haar titel ook die gepaste metafoor vir alles waarvoor die boek staan: die geboorte van ’n heel nuwe nasie uit die smeltkroes van gene uit die Kaap se eerste mense, plus al dié wat uit elke windrigting van die wêreld met bolseile Tafelbaai binnegewaai gekom het.
Buiten alles wat hierdie leeservaring jou bied, van die besinnende tot die heerlik stuitige (hoe moes Joan haar verlustig in daardie vroedvrouhandleidings wat seks in die sewentiende eeu met soveel erns beskryf), is die boek ook ’n sintuiglike ervaring. Lieflik uitgegee, wonderskone voorblad – welgedaan, Litera.
En dan kom jy by die inhoud (nadat jy lank die voorblad gekoester het): bevredigend op elke vlak van leesplesier.
Ook omdat: oor ’n vrou, deur ’n vrou. Geskiedenis soos dit nog maar min opgeteken is. Die boek is die viering van ’n nooit gehoorde stem uit die verlede. Van die ontdekking van ’n verlore figuur uit die verlede. Van ’n iemand – ’n vrou – wat ’n vlugteling was in haar geboorteland. Toe ’n vreemdeling. Uiteindelik ’n vestiger.
Gepas, ’n vroedvrou wat ’n nuwe generasie letterlik en figuurlik die lewe inhelp.
Tussenwerpsel: As jy dalk post-Wieg per geleentheid op Stellenbosch kom, ongeveer daar waar Kerk-ontmoet-Drosdy-ontmoet-Ryneveldstraat, sal jy vind, gaan hierdie boek saam met jou asemhaal. Want hier, net hier, waar die Van der Stels se duisende eikeboompies skaars heuphoogte was, het hierdie vrou gewoon en gewerk en gelewe en gestap en die seisoene se kom en gaan belewe.
Nou toe, sal jy teen hierdie tyd sê, kom tot die punt. Waaroor gaan hierdie liriese bespreking-nie-resensie-nie van jou?
In’t kort: oor die Hugenoot, of in die taal van haar tyd, Hugenotin, Marie, aan die Kaap verhollands na Maria, gebore Buisset in Frankryk. Getroud met Jean Prieur du Plessis in Amsterdam. Stammoeder van die Du Plessis’s. Later getroud met Dirk Snith. Oor Marie/Maria, die eerste gekwalifiseerde vroedvrou aan die Kaap. Ook die eerste vrou wat medies-forensiese getuienis in ’n hofsaak sou aflê.
’n Vroedvrou, lees ons op bladsy 115, “moet die hand van ’n dame, die oog van ’n arend, en die hart van ’n leeu hê”. Marie, aangekom aan die Kaap as bloedjong bruid van skaars 20 van ’n man in sy 70’s, had die sagte hand wat nie net “kraamvroue” bygestaan het nie, maar wat ook vroedvrou was vir ’n heel nuwe volk.
Boweal: Hierdie Wieg is deel van ’n nuwe soort geskiedenis. Nié oor ’n man uit die Kaapse koloniale geskiedenis nie, maar een van dié wie se stemme nooit gehoor is nie. Ons ken immers die meestal wit mans se name uit daardie koloniale geskiedenis. Maar hoeveel vroue kan jy lys?
.............
Hierdie Wieg is deel van ’n nuwe soort geskiedenis. Nié oor ’n man uit die Kaapse koloniale geskiedenis nie, maar een van dié wie se stemme nooit gehoor is nie. Ons ken immers die meestal wit mans se name uit daardie koloniale geskiedenis. Maar hoeveel vroue kan jy lys?
.................
En juis in Wieg word die geskiedenismaker die vrou, eerder as die man, en alles wat daarmee saamhang vanuit ’n vrou se lewens- en wêreldbeskouing. Die “ander” het ’n stem gekry.
Maar moenie ’n historiese roman rondom die verhaal van die eerste vroedvrou aan die Kaap verwag nie. Verwag ’n stuk lewende geskiedenis, en jy sal nie teleurgestel word nie.
Joan se presisienavorsing wat in detail die lewe en tyd van Marie/Maria Buisset (1679–1751) weergee, is ’n meesleurende vertelling van ’n vrou wat haar eie weg baan, in elke opsig. Daarmee saam, soos gesê, is dit ook die verhaal van ’n nasie in wording, in elke moontlike variant van (politieke) pigmentasie en (politieke) identiteit. Daarom en dus die so gepaste titel Wieg.
As Hugenote-vlugteling was Marie/Maria die eerste gekwalifiseerde vroedvrou aan die Kaap met alles wat dit meegebring het. ’n Pionier. ’n Baanbreker. Deur die lewe gebrei. Gehard. Met die contradictio in terminis: terselfdertyd iemand wat met daardie sagte hand ’n nuwe generasie die lewe inhelp.
En met elke omblaai van ’n fassinerende verhaal die sidderende besef: Dis mos eintlik die hede!
Buiten dat dit 300 jaar gelede is.
Daar’s geweld. Afskuwelike geweld.
Daar’s gendergeweld. Gruwelike gendergeweld.
’n Agtjarige wat deur ’n soldaat verkrag is. ’n Jaloerse minnaar wat ’n slavin met ’n mes steek. ’n Vrou wat deur haar predikantman aangerand is. ’n Veertienjarige wat in kraam is en oortuig is sy gaan sterf.
O ja, daar’s ook korrupsie. Grenselose, grootskaalse korrupsie. Adriaan van der Stel se Vergelegen maak Nkandla ’n amateurproduksie. Die hebsug, die gierigheid, die selfverryking. Toe, soos nou. Ook ’n tyd toe dié wat vandag fluitjieblasers genoem word – destyds se Adam Tas – se monde gesnoer is.
En, ja, ook vlugtelinge, vandag genoem migrante, op soek na ’n beter toekoms vir hul nageslag. Ontheem van volk en vaderland, onderweg na ’n nuwe tuiste ter wille van ’n beter môre, is hulle groeperings wat uiteindelik deur die noodlot vervleg word. Heel onder op die lys van ras en klas: die verinneweerde, uitgebuite eerste-nasie-mense, dié wat hier was toe die bleekvelliges gearriveer het. Heel bo: die arrogante amptenare te midde van die eerste golf van globalisering in die vorm van ’n roekelose VOC. Tussenin: weerlose inkommers, uitskot van hul stamlande, terselfdertyd stropers van al wat voorkom.
Relevant, aktueel. Dis ’n mallemeule van ’n boek wat jou as leser maal tussen toe en nou, nou en toe.
Joan se werk – navorsing oor twee dekades, ’n láng geboorteproses – is mikrogeskiedenis in lewende getuienis van die enkeling. Nie makrogeskiedenis nie. Nie history – his story – nie. Nee, herstory. Mikrogeskiedenis, sogenaamde “history from below”. Geskiedenis uit die grond uit. Geskiedenis gekerf uit die ruwe klip en rots van, vir die inkommers, ’n godverlate vreemde kontinent en klimaat.
Dis, veral, ’n weerklinkende herstory. Hierdie boek is ’n konkrete manifestasie van hoe mikrogeskiedenis éintlik die verhaal agter makrogeskiedenis is. Hoe, in hierdie geval, die lank versweë stemme van die “ander” in Suid-Afrikaanse geskiedskrywing met ’n amperse oerknal laat hoor word.
Maar dis nie net die stem van een vroulike individu nie. Marie/Maria verteenwoordig die immer luider stemme wat roep om gehoor te word in ’n geskiedenis wat, soos een navorser geskryf het, slegs die pale male-weergawe van ’n wit, manlike perspektief is.
Dis immers ’n gegewe dat die geskiedenis sigself nog altyd opgehou het met makrohistoriese gebeurtenisse wat die gang van nasies en lande bepaal. Binne dié benadering was mikrogeskiedenis iets wat nie eintlik gewig dra nie; iets wat deur mindere navorsers gepleeg word.
Dit is natuurlik deel van die probleem. In byvoorbeeld die heel eerste verhandeling oor die aard van destyds se soort joernalistiek, natuurlik in Latyn, juis in die tyd van Marie/Maria, is die vraag: “Ecquid novi?” (Wat is nuut/nuus?), beantwoord met: “Die geboorte en dood van konings en prinse.”[2]
Nie koninginne of prinsesse nie.
Beslis ook nie vroedvroue nie.
Maar hier is nou ’n annale, ook in die gepaste raam van die Franse Annales-beweging,[3] wat ’n enkeling se lewe en haar tyd ontsluit soos min ander. Juis deur ’n vroulike navorser. Met die fokus op lewe. Spesifiek oor ’n persoon wat in die aangesig van barensnood die volgende generasie die lewe ingehelp het.
Marie/Maria se verhaal bevestig boonop dat mikrogeskiedenis een van die “most interesting and innovative”[4] benaderings tot geskiedskrywing is, veral van kulturele en sosiale geskiedenis. Dis maar nog ’n jong veld; dit het “amptelik” eers in die 1960’s ontwikkel. Dit word ook beskryf as die bestudering van die verlede op ’n baie klein skaal. Deur daardie “hitherto obscure people”[5] ’n stem te gee, gee hulle “voice and agency”. Boweal: “[W]e may develop respect or even admiration for our subjects.”[6] Tipiese plaaslike voorbeelde is kultuurhistoriese joernaalartikels oor die matriargie van Adderleystraat se blommeverkopers, of die memoir van ’n Duitse immigrant, asook dié van ’n immigrante-afstammeling – almal sogenaamde “obskure mense”.[7]
Die Duitse “Alltagsgeschichte” en Italiaanse “microstoria”[8] is ander benamings vir dieselfde benadering van “history from below”, of “geskiedenis van onder”, wat fokus op die “qualitative experience of ordinary people”; op “the life and survival of those who have remained largely anonymous in history – the ‘nameless’ multitudes in their workaday trials and tribulations”.
Soos pioniersvrou Marie/Maria.
In die woorde van Harvard-historikus Jill Lepore: Dis die “histories of self”, die verhale van daardie “hitherto obscure people”,[9] “concentrat[ing] on the intensive study of particular lives to reveal ‘the fundamental experiences and mentalités of ordinary people’”.[10]
Mikrogeskiedenis het bewys dat sekere “political events and social realities” nie deur makrogeskiedenis ontsluit kan word nie,[11] want mikrohistorici bestudeer die “rand” eerder as die kern:
For microhistorians, this has included examining the lives and experiences of the disadvantaged and exploited, individuals who are often neglected by macrohistorical studies and who rarely fit the existing or resulting model.
Mikrohistorici probeer hierdie geskiedenis konstrueer deur die “alledaagse” – die “Alltagsgeschichte” – te beskryf. Lepore skryf dat so ’n ondersoek ’n allegorie kan wees vir ’n kultuur as ’n geheel. Presies soos wat Joan met Marie/Maria gedoen het: Die individu word gebruik as ’n middel om die kultuur te verduidelik – “not to celebrate the singularity of the subject”.[12]
Hou daarmee saam die Annales-benadering[13] in gedagte. Op ’n funksioneel-strukturele manier argumenteer dit dat geskiedenis meer is as politiek, en dat dissiplines oor velde heen, van sosiologie tot linguistiek tot sosiale antropologie – soos in Wieg – ingesluit behoort te word.[14] Siende dat ons met Marie as ’n Franse Hugenote-vlugteling te maak het: Die Annales-beweging is in 1929 deur ’n groep Franse revolusionêre (daardie neiging het immers nie met die Hugenote opgehou nie) ontwikkel.[15] Hul betoog was dat geskiedenis nie slegs as politieke gebeurtenisse beskou kan word nie. Vir hulle was “sosiale geskiedenis” ’n soort “nouvelle histoire”.[16] Hul benadering het die samelewing as ’n totale, intraverbonde organisme gesien wat gemeenskappe bestudeer “in terms of its multiple temporal, spatial, human, social, economic [and] cultural [...] dimension[s]”.
Soos wat Joan met Marie/Maria doen.
En dan, natuurlik, die olifant in die kamer, by wyse van spreke. Historici was nog altyd “unavoidably influenced by personal background and own social experiences”. Wat natuurlik die rede is waarom hoofstroomgeskiedenis die “fragile expressions of white male historians’ limited perspectives”[17] was.
Betekenend: ’n Dringende herskryf van geskiedenis is nodig. Of dan: Om history in her story te verander. Soos ook geskryf is:
Historians of the Western world have traditionally written about, and thereby preserved in print, the spectacular events, actions, personalities, and thoughts of human history. ... Their idea of spectacularity has been governed by their cultural views: most especially, their inherent assumption that man, rather than woman, is the maker of history and culture: and that the white man, rather than the black man, is the noteworthy participant in history. ... [A]ll historians operate within their particular frames of reference, their unique regions, genetic makeup, family upbringing, and social experiences. Thus, the records of history are indeed fragile expressions of white male historians’ limited perspectives.[18]
Hopelik sal Marie/Maria se verhaal immer luider vrouestemme uit daardie swygende verlede loskerf. Ook, asseblief, dié stemme wat die groter groep van daardie “ander” is wat so deur die geskiedenis doodgeswyg is, veral in hul eie land.
Dankie, Joan.
En vergun dit hierdie skrywer, sy kan haarself nie help nie: Wat ’n eer dat Joan en ek in dieselfde tyd redakteurs van twee tydskrifte was wat juis vir ’n vroulike teikenmark ’n stem wou gee en hulle wou bemagtig om hul volwaardige plek in te neem – as méér as gelykes.
Laaste woord:
- Wieg is die werk van ’n meesterlike navorser en woordsmid.
- Daar wag nog so baie Maries/Marias en hul stories.
- Maar intussen: Lees en geniet.
Deur Lizette Rabe, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek
Eindnotas
[1] Ferial Haffajee se Days of Zondo, Jacques Pauw se Our poisoned land, en Pieter du Toit se The ANC billionaires – verpligte leesstof om iets van ons so gekwelde, so geliefde land te probeer verstaan.
[2] L Rabe. 2002. Eve-olution – The status of female voice in South Africa. Ecquid Novi, 23(1):152–169.
[3] Richard D Brown. 2003. Microhistory and the post-modern challenge. Journal of the Early Republic, 23(1).
[4] SG Magnusson. 2007. What is microhistory? http://hnn.us/articles/23720.html.
[5] Jill Lepore. 2001. Historians who love too much: reflections on microhistory and biography. The Journal of American History, 88(1):130.
[6] Brown, Microhistory and the post-modern challenge, p 13.
[7] L Rabe. 2010. Living history – the story of Adderley Street’s flower sellers. South African Journal of Cultural History 24(1):83–104; L Rabe. 2012. Matriarch Julaiga and the story of a flower dynasty’s struggles, SAJCH 25(2):96–118; L Rabe. 2014. On microhistory, memoirs, memory, and the “Minnie Manuscripts”. SAJCH 28(2):93–115; L Rabe. 2022. The Augustson manuscript, microhistory, memoir, and memory. SAJCH 36(1):35–62.
[8] Brad S Gregory. 1999. Is small beautiful? Microhistory and the history of everyday life. History and Theory, 38(1):100–110.
[9] Lepore, Historians who love too much: reflections on microhistory and biography, p 130.
[10] Lepore, Historians who love too much: reflections on microhistory and biography, p 131.
[11] What is microhistory? 2010. http://web.uvic.ca/vv/student/vicbrewery/content/microhistory.htm.
[12] Lepore, Historians who love too much: reflections on microhistory and biography, p 133.
[13] Brown, Microhistory and the post-modern challenge, p 1.
[14] Lynn Hunt. 1986. French history in the last twenty years: the rise and fall of the Annales paradigm. Journal of Contemporary History, 21(2):209–224.
[15] Hunt, French history in the last twenty years: the rise and fall of the Annales paradigm, p 209.
[16] Hunt, French history in the last twenty years: the rise and fall of the Annales paradigm, p 210.
[17] J. Sochen. 1973. Movers and shakers. American women thinkers and activists 1900–1970 (New York: Quadrangle), p ix.
[18] Sochen, Movers and shakers. American women thinkers and activists 1900–1970, p ix.
Kommentaar
Uitstekende resensie van 'n baie besondere boek wat die geskiedenis in al sy kompleksiteit laat leef deur die verhaal van Maria, die Franse Hugenoot.
Dankie vir hierdie wonderlike resensie. Ek het per toeval in Protea boekwinkel ingestap toe Kruger aan die praat oor haar boek was. Moes net daar gaan sit, want dit was fassinerend. Sedertdien moet almal wat kan lees, dit lees! Ek was skoon hartseer om van Maria afskeid te neem teen die einde van die boek.