Die geskiedenis word lewendig in Chris Karsten se Op pad na Moormansgat

  • 1

Boekomslag: https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780798183222

Titel: Op pad na Moormansgat
Skrywer: Chris Karsten
Uitgewer: Human & Rousseau, 2022
Prys: R350.00
ISBN: 9780798183222
Epub ISBN: 9780798183239

Ek is mal oor Chris Karsten se skryfwerk; het al elke boek uit sy pen gelees en sommige al herlees. Maar die kort beskrywing op die uitgewer se webwerf oor sy nuutste, Op pad na Moormansgat, het my nie interesseer om die boek te lees nie. Maak nie saak hoe mal ek oor Karsten se werk is nie.

Ek is nie ’n vreeslike aanhanger van boeke wat vir my soos nie-fiksie of té geskiedkundig (en soms langdradig en derms uitryg) van aard blyk te wees nie. Dié ervarings oor wat vóór my bestaan gebeur het, wil ek in interaktiewe museums of goeie films hê, waar die gebeure van die verlede vir my lewe kry en deel van my eie lewenspad voel.

Die webbeskrywing waarna ek verwys, lees só: “Een aand in 1914 word Koos de la Rey op pad na ’n rebellie noodlottig gewond. Die teiken was die bendelid William Foster. Dat De la Rey in die spervuur beland het, was pure toeval. Of was dit? Die roman is ’n verweefde tapisserie waarin die verhale van vele vertel word: die storie van o.a. Billy Foster se dogter, Helena; die trawalle van die hensopper Segrys Heyns en sy agterryer Tappies Mahlangu; die speurtog van poliesman Isak Heyns. ’n Merkwaardige, hoogs leesbare geskiedkundige roman.”

Maar toe kom ’n oorsese reis en 12 uur-vlug oor my pad en die mooi uitstalling van Moormansgat by die lughaweboekwinkel vang my oog. Die boek se dikte – 480 bladsye – katrol my verder in en toe ek die agterblad begin lees en sien dit speel af oor meer as vyf dekades, is daar geen omdraai meer nie.

Veral nie as jy lees: “Die geskiedenis […] is ’n lewende ding […] Jy [kan] nooit seker wees wanneer dit mooi gaan wees en wanneer lelik nie. Jy kan jou nie voorberei nie, en jy gaan ook nooit weet of dít wat jy hoor, die volle waarheid oor jou verlede is nie.”

En: “[Op pad na Moormansgat] is ’n roman van waarhede en verdigsels, ’n verloop van klein en groot geskiedenisse, en van die ewige smagting na oomblikke van vrede en versoening.”

.............
Met die blaaislag verby die ou kaarte, inhoud en so meer, kom ek op die dramatis personae af: die families Heyns, Mahlangu, Foster en De la Rey. En skielik kan ek nie wag om te begin lees nie.
............

Met die blaaislag verby die ou kaarte, inhoud en so meer, kom ek op die dramatis personae af: die families Heyns, Mahlangu, Foster en De la Rey. En skielik kan ek nie wag om te begin lees nie.

Die vorige keer dat my tone só onbeheersd oor ’n nuwe boek omgekrul het, was met Elsa Joubert se Die reise van Isobelle, en die vlug én 10 uur-treinreis deur Engeland, breek aan.

Die storie handel oor moord en verraad en onwettige goud en soms is die verwewing van “waarhede en verdigsels” só goed gedoen, jy betwyfel of jy droom of lees en of jy in Suid-Afrika of die groen lande van Cornwall staan.

En natuurlik kan jy nie onaangeraak bly deur Karsten se ongelooflike talent as woordkunstenaar nie. Sy vermoë om iets doodgewoons só anders te stel, terwyl die sosiale kommentaar so half onopsigtelik saam geabba word, is iets wat ek regtig van sy boeke geniet.

Daar is soveel voorbeelde waar ek treinkaartjies, sitpleknommers en koffiekwitansies tussen bladsye ingedruk het, vir eendag se weer lees. Soos: “Maar juis in ’n tyd wanneer jou harsings aan’t ontkiem is, wanneer jou kinderlike gedagtes en geheue begin vorm kry [...]”

“Die geskiedenis, weet ek nou, is ’n lewende ding, partykeer vredevol, selfs romanties, ander kere turbulent, of so treurig dat dit jou hart verskeur.” Ook: “Ek en Fanie word soos deurgekapte erdwurms, ons spartel tegelyk in twee rigtings van mekaar af weg.”

Of: “[...] en in Isak se kop begin die bioskoop draai van wat daardie nag hier kon gebeur het.” En: “[...] aan een wang ’n vaagvuilte soos aan die tone van ’n sykous.”

Poëtiese anderskyk as jy my vra.

Die polisieman Isak Heyns se waarhede waaronder dat sy “pa besmet is met daardie algemene kwaal van sy soort – ’n terugverlang na vae herinneringe van goeie ou dae. Maar wat kaf is en wat die koring, dis nie Isak se saak nie, want hy is net die oor vir alles wat sy pa van sy onbetroubare hart wil afkry, al woel dit partykeer verlangende assosiasies by hom ook los.” Ons nasie is steeds met daardie algemene kwaal besmet, veral nou in tye van beurtkrag en korrupsie.

Dit reën toe die trein uit Londen vertrek en ek weer terugblaai na die kaart van die Anglo-Boereoorlog in my boek. Die Britse aksente om my is swaar. Ek kan my indink hoe die nuus van die oorlog aan die suidpunt van Afrika destyds in hierdie einste aksente bespreek is.

Dis dan waar die agterryer Tapiwa Mahlangu (Tappies) se wyse woorde ’n ander perspektief – weg van die malende simpatie vir nét die Boere – in dié oorlog bring: “Die Boere het ons vryheid gevat, toe kom vat die Ingelse julle s’n.”

Hy borduur voort oor dit wat Segrys Heyns as ’n “tartende” stamhoof sien, eerder is dat die “stamhoof pligte het en sy pligte is horig aan sy stam se tradisies en gewoontes. ’n Stamhoof se plig is om enigeen te beskerm wat hom aan sy voete kom neergooi en sy genade kom afsmeek [...] Die smeking mag nie verbygesien word nie.”

En met die lees van Segrys en Tappies se uitkyk oor ’n stuk veld – wat Tappies as koningsveld beskryf –  dat die ou mense glo die rooi skynsel oor die veld, wat uit die aarde se kors self opstyg, al die bloed is wat daar gestort is, dat die grond deurslagtig is van honderde jare se bloedlaat en die aarde bly bloos oor die bloedlus van sy mense, staan ek in ’n triestige Cornwall voor die murasie van ’n ou tinmyn en lees hoeveel mense hulself daar doodgewerk het en mekaar uit gulsigheid doodgemaak het. Hoe hul bloed ook daardie aarde rooi gekleur het.

..............
Met die lees van gedenkplate by verlate skagte, weer die besef hoe verweef die myngeskiedenis van dié land en die Witwatersrand is. Namate die myne van Cornwall rondom 1860 al minder erts gelewer het en groot nuwe ertsliggame regoor die wêreld ontdek is, het die Korniese myners ander heenkome gaan soek.
.................

Met die lees van gedenkplate by verlate skagte, weer die besef hoe verweef die myngeskiedenis van dié land en die Witwatersrand is. Namate die myne van Cornwall rondom 1860 al minder erts gelewer het en groot nuwe ertsliggame regoor die wêreld ontdek is, het die Korniese myners ander heenkome gaan soek.

Daar word beraam dat 250 000 Korniese myners in die tydperk tussen 1870 en 1900 hul dorpies verlaat het en so ver as Amerika, Kanada, Suid-Amerika, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika agter myne aangetrek het. Teen die 1870’s het hulle die pad na die diamantvelde van Kimberley gevind en later in die voormalige Oos-Transvaal aangekom, toe goud in 1884 in Barberton ontdek is.

Dis weer by dié goudvelde waar Moormansgat se Helena – Billy Foster se dogter – en haar minnaar, Andries du Plessis, in 1936 betrek word toe hulle van moord aangekla word. Ons geskiedenis is só verweef: tinmyne in Cornwall, goudmyne aan die Rand, die aarde is rooi gevlek.

.............
Die boek hou my vasgenael en ek vang myself dikwels dat ek dit vir eers opsyskuif dat die woorde goed in my gemoed kan nesskop, want die geskiedenis is toe regtig ’n lewende ding en met ’n ompad om, meer deel van my as wat ek kan begryp.
..................

Die boek hou my vasgenael en ek vang myself dikwels dat ek dit vir eers opsyskuif dat die woorde goed in my gemoed kan nesskop, want die geskiedenis is toe regtig ’n lewende ding en met ’n ompad om, meer deel van my as wat ek kan begryp.

Dis egter die proloog wat my bybly – selfs ná so ’n omvangryke stuk skryfwerk soos Moormansgat –  waar die karakter ’n blikboks vol skoolkladboeke wat oorkruis met ’n draad blou wol saamgebind is, beskou. “Asof ’n verlede so netjies saamgevat en saamgehou kan word, dink sy [...]”

Inderdaad.

  • 1

Kommentaar

  • Bestaan daar 'n uitdrukking soos "verbysterend aangrypend"? Dit is hoe ek oor hierdie briljante werk van Chris Karsten voel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top