Wit leuen deur Ruan Kemp: ’n resensie

  • 1

https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780624092322

Wit leuen
Ruan Kemp
Tafelberg
ISBN: 9780624092322

Ruan Kemp se debuutroman, Gedeeltelik bewolk (2019), is in omstredenheid ontvang en gebore.

Gou is hy daarvan beskuldig dat hy ’n teks geplunder het van die ontslape David Bishop, ’n joernalis, die voormalige man van Marita van der Vyver en ’n inwoner van Stikland toe Kemp in 2006 met hom bevriend raak. Dat George Moore, die “mal man” van wie die boek ’n “lewensbeskrywing” is, inderwaarheid Bishop was (vandaar die opdrag aan ene DB), nie omdat Kemp onskuldig en met Bishop se medewete groot dele van sy lewe opgeteken of onthou het nie, maar omdat hy ’n bekende maar verlore Bishop-teks ruimskoots geplagieer het.

Wat ’n storie! ’n Intrige wat ’n ambisieuse jong skrywer, goed gepantser teen die te verwagte aantygings van woord- of ideeroof, sekerlik as die skema vir ’n roman van sy eie sou kon aanwend.

...........
Te midde van al die beskuldigings wat heen en weer gekleilat is, het ek stilletjies gedink: Daar’s maar één uitkoms. Kemp se enigste redding is om met ’n tweede boek vorendag te kom wat wys dat hy nét so goed of beter as die skrywer van Gedeeltelik bewolk ’n storie kan spin.
.............

Te midde van al die beskuldigings wat heen en weer gekleilat is, het ek stilletjies gedink: Daar’s maar één uitkoms. Kemp se enigste redding is om met ’n tweede boek vorendag te kom wat wys dat hy nét so goed of beter as die skrywer van Gedeeltelik bewolk ’n storie kan spin. Doen hy dit, tuimel die oorwig van waarskynlikheid in sy rigting oor. Slaag hy nie daarin nie, is sy eie nuwe woorde die sterkste bewys teen hom.

Daardie tweede boek is Wit leuen.

In 38 hoofstukke van wisselende lengtes vou drie aanvanklik parallelle storielyne dig en stadig oop. In die eerste drie – wat elk ’n mansnaam dra – word die boustene van die drie stories gelê. Eers word die leser aan Richter voorgestel. Daarná aan Gehard en derdens aan Neal.

Dis êrens in die nabye toekoms – “circa netnou” – in ’n nuwe unitêre staat genaamd Uiopa (uitspraak: Jou-pa, 79). Soos in die Middeleeue is die hoofstad, Tempelbult, en die ander stede vestings van staatsmag; daaromheen strek die Commons die verte in, met ’n belofte van vryheid wat die Gesagte, die staat se lakeie met hul “blink wit skoene” (30), nie graag wil toelaat nie.

Richter bedryf met behulp van Oom-erik ’n rondreisende badbesigheid. Saam met die ander "paroliete" bly hy op die plotte – vir eers knus agter ’n muur opgestapelde organiese pendorings met baie handdoekies wat op die wasgoeddraad rondwaai.

Oom-erik word elke dan en wan by sy skakelhuis afgelaai waar hy, ’n wafferse menslike papperasie, deur Margaret versorg word.

Gehard weer is ’n oudjoernalis. Sy vrou, Irene, het ’n tyd terug ’n “godsverraderlike nag” deurgemaak (19). Gehard was afwesig en kon haar nie help nie. Hy skryf knaend aan iets wat hy in ’n laai in sy lessenaar wegsluit. Wanneer Irene hom daaroor aanvat, is sy betekenisvolle antwoord: “Want dit wat in my kop aangaan, gaan nie noodwendig in my kop aan nie” (33).

Buite bewaak die woordryke wag Hermes die kompleks waarin hulle woon. Hul seun Justice is lank gelede, ná ’n argument oor tee of koffie, vort.

Soos ’n satelliet ry ’n geel Cortina om en om.

Neal werk vir die staat se Buro Regse Aksie, diep onder die Praetorium, Uiopa se “mangels” (20). Hy en Anomie – “[g]roter by die dag” (111) – bly saam met hul seun in ’n siellose, stoeplose staatsamptenaarswoonstel bo in ’n toring. In die vierkant tussen die torings vergaar hy stukke hout waarmee hy, tot sy seun, Champ, en die ander onbegrypende bewoners se vermaak, aan en af aan ’n helikopter bou.

Die derdepersoonsverteller sweef soos ’n spook tussen die karakters deur. Nou fokaliseer hy hier, nou daar. Wat gebeur waaragtig en wat speel in hul koppe af? Heelwat word teruggehou, bly versweë of onduidelik. Die verteller eis inderdaad dat die leser se sweet des aanskyns by sy voorhoof afpêrel.

Sonder veel waarskuwing en sonder ’n getrompetter wanneer dit wel gebeur, word eers twee van die storielyne ineengevleg – ’n tog vryheid, die wafferse Melkweg, tegemoet – en dan, later, die derde. Gaandeweg kom die intrige se onderskeie onderdele netjies byeen.

Maar die gewaande vastigheid of netheid wat die leser sodoende in ’n chaotiese wêreld begin bereik, steier in die laaste kort hoofstuk (die 38ste, waar die nommer in die titel ingetrek word: .38 Special) summier na benede.

Is ons dan al lesend al die tyd deur ’n spieël diep in ’n raaisel in?

...........
Wit leuen is ’n slu satire op die staat wat met hope fanfare en ewe veel onbeholpenheid sy burgers se lewens wil beheer.
.............

Wit leuen is ’n slu satire op die staat wat met hope fanfare en ewe veel onbeholpenheid sy burgers se lewens wil beheer. In een sin is dit die teenswoordige Suid-Afrika wat die satirikus se skyf is. In ’n ander, soos die motto’s voorin suggereer – wat net by die heel eerste oogopslag bra anachronisties op apartheid blyk te sinspeel – wil die opstuurder sê: Dít is, soos Plato dit wou hê, die lot van iedere poging om oor mense heerskappy te voer.

Dís g’n ’n ou wit leuentjie nie. Dis die leuen der leuens: dat daar enigsins ’n waarheid is. “Die leuen is waar” (26).

Vir die ongelowige Tomasse – sonder ’n “h” – sal Wit leuen hoofbrekens besorg. Dis Kemp se sidderende en vir my volledig oorredende verweerskrif.

Hierdie is ’n dikwels baie snaakse distopiese roman, wat sekerlik onder die slimstes in Afrikaans gereken sal moet word. Onlangs bóér ons skrywers in distopieville; daar is geen tekort aan konkurrente nie.

Kemp is ’n vaardige en waaghalsige storiesmous. Die verteller – en baie van die karakters – is dartelende meesters van woordspel wat die leser vermaak en dikwels noop om ’n tweede of derde keer te lees.

Daar is komiese kamees wat jou asem sagkens skoon wegslaan – geen slapstick nie, maar die tipe humor wat, byna digterlik, uit die allerfynste waarneming spruit. En uit gesofistikeerde taalbeheer en oorspronklikheid.

............
Daar is komiese kamees wat jou asem sagkens skoon wegslaan – geen slapstick nie, maar die tipe humor wat, byna digterlik, uit die allerfynste waarneming spruit. En uit gesofistikeerde taalbeheer en oorspronklikheid.
................

’n Enkele voorbeeld is die toneel vroeg in die boek waar Neal toekyk wanneer ’n kollega, Gonza, vir ’n vergadering ’n skinkbord vol boerrito’s voorberei.

Kemp se blink tweede boek gee egter nie maklik sy klein geheime op nie. Die fyn web verwysings daarin span wyd. Ook natuurlik, met die tong ferm in sy kies, na sy debuutboek. Wanneer die avonturiers hul bestemming bereik, word daar gesê: “Dis maar gedeeltelik bewolk hier” (198). Die karakters se name – onder meer baie bybelse en klassieke verwysings – is op sigself ’n tesis werd.

En natuurlik, selfs binne die raaisel, word die ganske ou ekspedisie na ’n beter wêreld – die mens se ewige bemoeienis – ferm deur Richter se uiteindelike reaksie daarop geïroniseer.

Kan die Melkweg ons, dolend in die ondermaanse, tog ooit beskore wees?

Lees ook:

Repliek op brief oor Gedeeltelik Bewolk in Die Burger

Gedeeltelik bewolk: ’n onderhoud met Ruan Kemp

Resensie: Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top