Resensie: Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp

  • 1


Titel: Gedeeltelik bewolk
Skrywer: Ruan Kemp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN:
9780624088578

 

“I believe in compulsory cannibalism. If people were forced to eat what they killed, there would be no more wars.”
Abbie Hoffman in Revolution for the Hell of It (1968:187)

1. Negentien nege-en-tagtig

Een van die min herinneringe uit my vroeë kinderjare dateer terug na ’n somersaand in 1989. Ons was op pad huis toe vanaf Pretoria na Verwoerdburg (Centurion). My pa het verby die Fonteine gery en op die destydse Ben Schoeman-snelweg afgedraai. Ná ’n paar kilometer op die snelweg het my pa die motor tot stillstand gebring naby ’n blou padteken met ’n figuur van ’n soldaat se torso. Half slaperig maar brandend van nuuskierigheid het ek en my sussie deur die venster geloer na my pa wat die soldaat visenteer. Ek kan nie veel van die res van die rit onthou nie, maar ek onthou wel dat ek gefassineerd was met die jong man in ’n bruin uniform met ’n kollosale sak wat groter as ekself was. Dít was my eerste en enigste ervaring van die Grensoorlog.  

Soos ek ouer geword het, het my belangstelling in geskiedenis toegeneem en het ek heelwat opgelees oor, onder andere, die Grensoorlog. Min het ek in November 1989 geweet dat die Berlynse muur tot ’n val gekom het en dat Resolusie 435 Suidelike Afrika se geskiedenis in ’n nuwe rigting sou stuur. Dertig jaar later lees ek Ruan Kemp se Gedeeltelik bewolk gevolg deur Marita van der Vyver se Grensoorlog. Baie water het intussen in die see geloop. Jare lank het ek nie verstaan waarom my pa gereeld laataand in die donker gesit en huil het terwyl hy na Green Leader” luister nie. Daar was wel één gesprek oor dáárdie mes wat hy jare lank gekoester het. Die verhaal van ’n negentienjarige seun wat ’n soldaat se keel in ’n bos afsny, sal my ewig bybly.

2. Grensliteratuur

Grensliteratuur is nie ’n nuwe verskynsel in die Afrikaanse letterkunde nie. Reeds in die tagtigerjare het talle romans, gedigte en kortverhale met die Grensoorlog as tema in Afrikaans verskyn. Een van die eerste Afrikaanse romans waarin daar spesifiek oor die grens geskryf word, is J.C. Steyn se Op pad na die grens (1976). Ook Elsa Joubert se novelle Die laaste Sondag (1983) fokus op die grens terwyl Lettie Viljoen (Ingrid Winterbach) se debuutnovelle Klaaglied vir Koos (1984) die perspektief van diegene wat die oorlog binne Suid-Afrika se landsgrense meemaak, weergee.

Volgens Henriëtte Roos (2015:159) “debuteer daar byna gelyktydig in die vroeë tagtigerjare ’n groep outeurs wat op een of ander wyse, in mindere of meerdere mate, persoonlik by die bestaande Grensoorlog betrokke was”. Koos Prinsloo se kortverhaalbundels Jonkmanskas (1982) en Die hemel help ons (1987) bevat talle kortverhale waarin die Grensoorlog sterk figureer. Ook Louis Kruger, Adriaan Snyman, Johan Coetzee, Eben Venter, Victor Munnik en Etienne van Heerden skryf gedurende dié tydperk oor die Grensoorlog. Van Heerden se My Kubaan (1983) en Om te awol (1984) fokus veral op die individu se ervaring van die oorlog. Dit is egter Alexander Strachan se ’n Wêreld sonder grense (1983) wat dit “verpersoonlik wat in baie opsigte as die kern van grensliteratuur beskou word” (Roos, 2015:160). Latere tekste sluit Mark Behr se omstrede roman Die reuk van appels (1993) en Riana Scheepers se Die heidendogters jubel (1995) in. Dit is opvallend dat dit aanvanklik hoofsaaklik manlike outeurs was wat oor die Grensoorlog geskryf het met slegs ’n handvol vroulike skrywers soos Emma Huismans en Jeanne Goosen wat aspekte rondom die Grensoorlog in hul kortverhale of romans aangeraak het. 

Talle nie-fiksie boeke het die afgelope paar jaar verskyn waarin daar vanuit ’n agternaperspektief oor die Grensoorlog besin word. Willem Steenkamp se Suid-Afrika se Grensoorlog (1966-1989), Leopoldt Scholtz se Die SAW in die Grensoorlog (1966-1989), asook Alexander Strachan se 1 Recce – Die nag behoort aan ons (2018) bevat gedetailleerde beskrywings van spesialiseenhede in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), asook die oorlog as geheel. Koos Stadler se outobiografiese teks Recce (2015) sluit by Strachan aan en word die eerstehandse ervarings van dié elite eenheid in die SAW openhartig bespreek. Drie dekades nadat die finale skote in dié oorlog afgevuur is, word die emosionele sowel as die psigologiese nagevolge van die Grensoorlog in die Afrikaanse letterkunde, ’n televisiereeks en in ’n aantal films ondersoek. Reeds in 2011 verskyn Malan Steyn se dramateks Johnny is nie dood nie (laasgenoemde is ook verfilm met ’n draaiboek geskryf deur die talentvolle Christiaan Olwagen) wat terugskouend kommentaar lewer op die sogenaamde “grensmense” deur, onder andere, op die lewe en selfdood van die bekende Afrikaanse sanger Johannes Kerkorrel te fokus. Verskeie Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse) films waarin die Grensoorlog as vertrekpunt dien, het die afgelope paar jaar verskyn, naamlik Seun (2015), My Father’s War (2016), The Recce (2018) en Olwagen se bekroonde Kanarie (2018) waarin veral die gay-perspektief van dié oorlog weergegee word. Die mees onlangse film Moffie (2019) is gebaseer op die gelyknamige roman deur André Carl van der Merwe waarin hy sy persoonlike ervaring as gay soldaat op die grens eerstehands met die leser deel. Die Grensoorlog is dus – soos alle oorloë – ’n gebeurtenis wat nog lank nie vergete is nie.

3. Grensoorlog: “Quo vadis?”

Soortgelyk aan die Anglo-Boereoorlog (Suid-Afrikaanse Oorlog) se eeufeesviering aan die einde van die twintigste eeu, het talle Afrikaanse tekste die afgelope paar jaar verskyn waarin die Grensoorlog as tema voorkom. Grensoorlogstories (2012), saamgestel deur Jeanette Ferreira, bevat kortverhale waarin die pynlike persoonlike ervarings en herinneringe van die dienspligtiges byeengebring word. In Weermagstories – Dienspligtiges verbreek die stilte (2014) ondersoek Roelf Schoeman post-traumatiese stressindroom onder dienspligtiges tydens die Grensoorlog. Op die agterblad noem Schoeman dat “ons almal [ken] iemand  wat Grens toe is en nie dieselfde teruggekom het nie”. Laasgenoemde beslaan die kern van die meerderheid dienspligtiges se ervarings tydens die Grensoorlog. Hans Pienaar se roman Die Generaal (2018) ondersoek op sy beurt die absurditeite van die Grensoorlog en die verwoestende impak wat dit op duisende jong mans se lewens gehad het. Onlangs het Marita van der Vyver se roman Grensoorlog (2019) verskyn waarin sy ondersoek instel na die sogenaamde ‘vyand’ se perspektief en ervaring van die Grensoorlog. Op empatiese wyse word die Kubaanse pyn en verlies tydens die Grensoorlog en die daaropvolgende jare in die Afrikaanse letterkunde ontgin – ’n aspek wat selde vantevore in fiksie aangeraak is.

Gedeeltelik bewolk is die mynbou-analis Ruan Kemp se debuutroman. In die subtitel word verwys na “’n lewensbeskouing van ’n mal man”. Laasgenoemde prikkel die leser se nuuskierigheid om meer oor die sogenaamde “mal man” te wete te kom. Die vertelling word a-chronologies in vier afdelings verdeel, naamlik “Restant” (2008-2009), “Anamnese” (1960-1974), “Katabasis” (1975-1990) en “Remissie” (1991-2008). Die afdelings se benamings is relevant aangesien dit die hoofkarakter, George Moore, se psigologiese toestand beskryf, wat op gepaste wyse by die roman se subtitel aansluit. Die voorblad (met ’n heldergeel agtergrond soortgelyk aan Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie) beeld ’n manlike figuur uit – ’n collage brokstukke met lyne tussenin wat die vele vertakkings van die hoofkarakter se lewensverhaal, asook sy geestestoestand, simboliseer soortgelyk aan die sinapse in die menslike brein. Die brokstukke van die vertakte collage dui op George se emosionele gebrokenheid – ’n geestestoestand van die “mal man” waarna daar in die subtitel verwys word.

George Moore se karakter versinnebeeld die lewensverhaal van talle jong Afrikanermans (of eerder Afrikanerseuns) wat vanaf die laat sestigerjare tot en met die laat tagtigs vir volk en vaderland as dienspligtiges aan die grens moes gaan veg. George word groot op ’n plaas, studeer aan die Universiteit Stellenbosch waar hy kennis maak met institusionele geweld in die koshuis. In dié opsig lewer Kemp waardevolle sosiale kommentaar op die ongesonde rituele en praktyke wat binne ’n manlik heterogeen-gedomineerde ruimte geskied. Seksuele uitbuiting van vroue, die obsessie met die skatologiese, “moffies” en “piel” vorm deel van die manlike verwysingsraamwerk. Wanneer George egter sy oproepinstruksies ontvang, verander sy lewe handomkeer – die nagevolge wat sy menswees tot ’n blote “mal man” sou reduseer.

3.1. “Griet skryf ’n nagmerrie”

Indien lesers ooit gewonder het hoe dit voel om van jou sinne beroof te word, bied Kemp se Gedeeltelik bewolk een van die sinvolste ervarings wat ’n leser sal kan meemaak. Dit is juis hierdie aspek wat die roman so boeiend maak: die leser raak meegevoer deur George se gedagtes en belewenisse. Dit is terselfdertyd skreeusnaaks en tog bitter hartseer om die stelselmatige psigologiese aftakeling van ’n begaafde jong man met drome, passie en talent te sien vergaan tot ’n blote skaduwee van die persoon wat hy eens was. Geen skrywer kon tot op hede die trauma wat dienspligtiges tydens die Grensoorlog ervaar het so eerlik oopkloof nie.

Kemp inkorporeer op vernuftige wyse talle intertekstuele verwysings as deel van George se lewensverhaal. Die titel “Gedeeltelik bewolk” tree deur middel van woordspeling met André P. Brink in gesprek. Brink se romans ’n Oomblik in die wind, Gerugte van reën, asook sy dramateks Elders mooiweer en warm (sien bl. 13 en 245) is hier van toepassing. Die titel sinspeel verder op George se geestestoestand – hy is slegs gedeeltelik nog George Moore. Psigologies word George se persoonlikheid as gevolg van trauma figuurlik gesproke “bewolk”. Verwysings na N.P. van Wyk Louw ­­se versdrama Raka (1941), D.J. Opperman se Joernaal van Jorik (1949), Anna M. Louw se Op die rug van die tier (1981) en veral Marita van der Vyver se roman Griet skryf ’n sprokie (1992) vorm deel van George se sielkundige verval. Die verwysing na Gert Smit as die outeur van ’n roman getiteld Mot op Griet (19) en die duidelike ooreenkoms tussen George se fiksionele eksvrou, Griet Swart, met Marita van der Vyver se gelyknamige karakter in Griet skryf ’n sprokie is nie bloot toeval nie. Lesers wat kennis dra van die persoon aan wie die roman opgedra is (Dave Bishop), sal ooreenkomste tussen George Moore en David Bishop bespeur. Kemp se spel met feit en fiksie oorskry grense wat vir interessante leesstof sorg – mits die leser met die binnekennis van die dramatis personae bekend is.

Lesers kan die tydlyn van George se lewensverhaal deur die geskiedkundige verwysings in die roman volg: David Pratt wat H.F. Verwoerd tydens die Randse Paasskou geskiet het, die maanlanding in 1969, die SAL-Helderberg-vlugramp in 1987, die vrylating van Nelson Mandela in 1990, die Boipatong-slagting in 1992, asook ’n verwysing na die omstrede Smit-moorde en die onopgeloste “RAU TEM” wat op die muur geverf was. Elke intertekstuele verwysing of woordspeling word as deel van die narratief geïnkorporeer om geloofwaardigheid aan George se lewensverhaal te verleen – dit is nie bloot ’n slim literêre speletjie nie, maar maak die leser opnuut bewus dat dienspligtiges soos George werklik bestaan het en vandag steeds met hul nagmerries moet aanhou leef.

4. In memoriam: “Troep 66108884”

Alhoewel die eerste afdeling van die roman aanvanklik moeilik lees, is die leeservaring ongetwyfeld die moeite werd. Om die sogenaamde “mal man” se gedagtegang eerstehands te kan ervaar, is ’n belewenis opsigself. Met pittige humor en grensoorskrydende direktheid slaag Kemp daarin om die leser te laat dink. Gedeeltelik bewolk is nie sommer nóg ’n fiktiewe teks oor die Grensoorlog nie. Hierdie roman ís die Grensoorlog. Dit is die verhaal van dapper jong mans wat in ’n oorlog geveg het wat hulle nie altyd verstaan het nie. Dit is die verhaal wat nie fokus op die heldedade en verheerliking van die Grensoorlog nie, maar wat daardie element van oorlogvoering waarvan almal gerieflikheidshalwe wil vergeet, ontmasker. Kemp bring hulde aan elke troep #66108884 – elkeen wat net ’n nommer geword het en lewenslank fisiek of geestelik daardeur geskaad is. Hierdie roman is nóg ’n veroordeling nóg ’n verheerliking van die Grensoorlog. Dit is die fiktiewe verhaal van ’n mens – sodat ons nooit sal vergeet van die opofferings wat in die naam van volk en vaderland gemaak is nie.   

Bronnelys

Hoffman, A. 1968. Revolution for the Hell of It. New York: Dial Press.  

Roos, H. 2015 (1998). ’n Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu tot 2010. In: Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en profiel Deel 1: 92-271.

 

Lees ook:

Gedeeltelik bewolk: ’n onderhoud met Ruan Kemp

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top