Om beter te kan moor deur Christelle van Rooyen-Wessels, ’n resensie

  • 0

Titel: Om beter te kan moor
Skrywer: Christelle van Rooyen-Wessels
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776380077

’n Moord het méér as een slagoffer. Misdaad het méér as een kant. Dié feite word belig in die boek Om beter te kan moor deur Christelle van Rooyen-Wessels.

Die situasie rondom moord is dikwels meer kompleks as die moord self. Want een persoon se dood het ’n rimpeleffek wat ’n hele gemeenskap kan raak. Ja, die slagoffer is dood en die moordenaar moet aangekeer word, maar die oorlewendes bly vasgevang in ’n traumatiese tragedie wat nooit tot ’n einde kom nie.

Van Rooyen-Wessels gee spesifiek aandag aan hierdie ryk en dikwels intern kontrasterende kompleksiteit.

Wanneer vroue en kinders vermoor word, tree die ratte van die samelewing dadelik in werking. Die naasbestaandes treur en moet trauma verwerk, die oorwerkte, hulpbronverarmde speurders probeer die saak oplos, die media word uitgekryt as ongevoelige aasvoëls en die slagoffer se naasbestaandes word daarvan beskuldig dat daar nie genoeg liefde, aandag of toesig was nie.

...
Humor is noodsaaklik in hierdie boek, want die moorde is gewelddadig en die spanning loop dik.
...

Maar jy kan nou maar soveel klippe gooi as wat jy wil na ’n agterlosige ma, ’n sensasiehonger media, ’n swak polisiediens – maar die feit bly staan: Boosheid en misdaad is deel van die menslike psige en ons kweek hulle soveel as wat ons hulle veroordeel.

Om beter te kan moor is ’n bedrieglike boek. Dit begin byna soos ’n inspirerende liefdesverhaal en stel jou voor aan die aantreklike Hechter Stander wat besluit om Johannesburg vir die Kaap te verruil en dan na die Strand verhuis om werk te soek as nutsman. Nie net kry hy byna onmiddellik los werkies nie, maar ontmoet sommer ’n oulike meisie wat sy hartsnare roer op die koop toe. Die boek fluister soet in jou oor: “Komaan, lees my verder, ek gaan jou nie bangmaak nie.”

...
Die titel is heel moontlik gegrond op die sinnetjie in die Rooikappie-sprokie.
...

Ha!

Jy lees nog so lekker aan Hechter se nuwe lewe wanneer die eerste lyk gevind word.

Dan nog een.  En nóg een.

Sommige met ’n sny aan die gesig. Ander verwurg met sykouse. Dalk deel van ’n patroon, dalk nie.

Die naam David Francke dryf weer na die oppervlak soos ’n stinkende, slikkerige opdrifsel. Francke, ’n reeksmoordenaar, het vyf jaar gelede uit aanhouding ontsnap. Daarna het sy moordspoor doodgeloop …

Tot nou toe.

Die skrywer het ’n heerlik gemaklike manier van skryf en ’n humorsin wat orals uitslaan. Soos dat almal in “hierdie geweste” ’n pa het wat baie drink, en dat die Strand lyk soos Avbob se wagkamer. Daar is ook die vroulike huisagent wat reken dat die nuwe nutsman wat vir haar ’n geut reggemaak het, só aantreklik is sy breek sommer self haar eiendomme se geute af net om hom weer te kan sien.

’n Karakter kry ook die raad dat indien jou motor by Khayalitsha breek, dit beter sal wees om jou motor eerder terug huis toe te dra as om daar te staan en wag. As joernalis het ek ook gegrinnik vir die misdaadverslaggewer se versugting dat sy dalk eerder wynresensies moet begin skryf en “haar wine skills uitbrei tot meer as net skink, drink en repeat”.

Humor is noodsaaklik in hierdie boek, want die moorde is gewelddadig en die spanning loop dik. ’n Slim tegniek wat die skrywer inspan om die leser in ’n web van angs en omgee vas te vang, is dat sy elke slagoffer eers aan die leser voorstel. Maar soos jy die slagoffer begin ken – en erger nog, van haar begin hou – besef jy ook sy is volgende op die moordenaar se lys – en daar is net mooi niks wat jy daaromtrent kan doen nie. Ek het naderhand gewens ek kon tussen die bladsye inspring om die arme slagoffer van haar wrede lot te red. Juis daarom is dit ’n slim-geskryfde en lekker spanningsvolle boek.

Om beter te kan moor volg op Adder en Brandmerk, maar jy kan dit lees sonder dat jy die vorige twee boeke onder oë gehad het – jy sal die storielyn maklik optel, en ou bekendes uit die vorige boeke word wel aan die nuwe leser bekend gestel.

Die titel is heel moontlik gegrond op die sinnetjie in die Rooikappie-sprokie waar Rooikappie vir die wolf, vermom as haar ouma, vra waarom haar oë so groot is. “Om jou beter te kan sien, my kind!” antwoord die bloeddorstige wolf. En as die kind vra waarom Ouma se tande dan so lank is, antwoord die wolf: “Om jou beter te kan opvreet!”

Hierdie nabootsing van die onheilspellende refrein in Rooikappie is om ’n spesifieke rede gekies.

Om uit te vind waarom, lees die boek.

Komaan, dit sal jou nie bang maak nie …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top