As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies: ’n resensie

  • 0

As die katjiepiering blom
Audrey Jantjies
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795710285

Audrey Jantjies is ’n nuwe naam in die letterkundewêreld en maak haar debuut met hierdie bildungsroman. Sy is in Suurbraak gebore, maar het op Swellendam grootgeword. In 2020 was sy een van die skrywers wat deelgeneem het aan die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers se mentorskapprogram vir opkomende skrywers. As die katjiepiering blom is die klinkende resultaat.

Jantjies se skryfstyl herinner baie aan dié van Ronelda Kamfer en aanvanklik moes ek eers die verhaal ’n bietjie in my kieste rondrol om te bepaal of my letterkundige smaakknoppies gestimuleer word.

As die katjiepiering blom vertel die verhaal van Lea Floris en speel af in 1979 op Galberg in die Overberg-streek, sowel as in Kaapstad. Die fisiese en psigiese ruimte in die verhaal is ’n weerspieëling van heelparty tipiese gemeenskappe op die Suid-Afrikaanse platteland. Vele maatskaplike kwessies kom sterk voor in die teks: armoede, swak werksomstandighede, alkoholisme, huishoudelike geweld, seksuele misbruik, egbreuk, soeke na identiteit, ongewenste swangerskap, aborsie en verbrokkelde verhoudings.

Dientjie Floris is vas oortuig dat Lea bestem is vir groter dinge en haar moederliefde dryf haar om vol te hou en aan te hou om sodoende vir haar kind ’n beter toekoms elders te verseker – vêr van die Overbergse harde realiteit, Jakob Floris se alkoholmisbruik en sy ystervuis.

Wanneer Lea aanvaar word vir boekhouding by die Universiteit van Wes-Kaapland, vier haar uitkyk-antie, Kôtjie, beskermende boet Tang en die gemeenskap saam met haar die blye nuus. Hierdie nuwe begin kom egter nie sonder uitdagings van sy eie nie.

Op pad na Kaapstad gooi Lea ant Kôtjie se katjiepiering, en daarmee saam sommer ook haar morele kompas, in die drom. Lea worstel met die nagevolge van haar verkeerde keuses, haar soeke na self en die feit dat sy haar ma teleurgestel het. Sy besluit om haar studies te laat vaar en skeur sodoende ook haar ma se harde werk, toekomsdrome en hoop vir haar spesiale dogter aan flarde. Lea word as ’n sensitiewe siel geskets, iemand “wat van woorde kan doodgaan” (54). Katjiepierings kneus maklik, word kaalgestroop en bloei dan uiteindelik weer – soortgelyk aan Lea se metamorfose tot ’n selfstandige, gedrewe jong dame.

............
Lea word as ’n sensitiewe siel geskets, iemand “wat van woorde kan doodgaan” (54). Katjiepierings kneus maklik, word kaalgestroop en bloei dan uiteindelik weer – soortgelyk aan Lea se metamorfose tot ’n selfstandige, gedrewe jong dame.
...........

Die roman se taalgebruik en beskrywings is uiters gepas vir die gemeenskap wat daarin verteenwoordig word, maar dit kan dalk aanstoot gee aan sensitiewe lesers. Situasies en ervarings word soms ontstellend eerlik beskryf met gepaardgaande woordkeuse en krasheid.

Funksionele kontraste is deurlopend en opvallend. Daar is ’n sterk godsdienstige inspraak, hoewel die taalgebruik en aksies nie noodwendig die godsdienstige weerspieël nie. Elob (God) is ’n prominente figuur en beskermengele word ook soms vermenslik soos hulle worstel met menslike swakhede. Lea se beskermengel, Amakhoeb, het sy hande vol met die groot taak wat hom opgelê is en verpersoonlik, volgens Jantjies, diegene wat werklik daar wil wees vir jou; mense wat jou inspireer. Die godsdienstige verwysings kan dalk ook iets wees om aan gewoond te raak, maar daar is ’n nuttige lys woordverklarings na die slot.

Jantjies skep mooi karakters. Sout van die aarde. Karakters waarmee jy empatie móét hê, want hulle voel soos kennisse. Ek het wel gevoel dat sleutelkarakters se dood nader aan die einde van die roman vinnig en uit die bloute kom en ’n bietjie koud neergepen word.

...........
Die eerste helfte van die bildungsroman is boeiend; die leser kry swaar saam met Lea, Dientjie en die gemeenskap. Die tweede helfte lees moeiliker en ek kon nie met soveel gemak in die karakters se skoene loop nie.
.............

Die eerste helfte van die bildungsroman is boeiend; die leser kry swaar saam met Lea, Dientjie en die gemeenskap. Die tweede helfte lees moeiliker en ek kon nie met soveel gemak in die karakters se skoene loop nie.

Die slot is amper soetsappige en onrealistiese mooiskrywery in vergelyking met die kras realiteit van armoede en verkeerde keuses. Jantjies se plan met die slot was om hoop aan die hopeloses wat dit die nodigste het (en die werklike teikenleser van die roman is) te bied, maar ongelukkig is dit onwerklik optimisties en rig skade aan die teks se geloofwaardigheid, soos geskep in die eerste helfte.

...........
Dit is ’n teks wat jou aan die goedheid van die mens laat twyfel en menslike swakhede ontbloot, maar jou ook kan help om jou vertroue in die mensdom opnuut te herontdek.
As die katjiepiering blom is ’n goeie opsie as jy jou boekpalet wil verbreed en aan nuwe geure blootstel.
............

Dit is ’n teks wat jou aan die goedheid van die mens laat twyfel en menslike swakhede ontbloot, maar jou ook kan help om jou vertroue in die mensdom opnuut te herontdek.

As die katjiepiering blom is ’n goeie opsie as jy jou boekpalet wil verbreed en aan nuwe geure blootstel.

Lees ook:

As die katjiepiering blom: ’n onderhoud met Audrey Jantjies

As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top