As die katjiepiering blom
Audrey Jantjies
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795710285
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Nog ’n skrywer uit die lang lys van Afrikaanse skrywers uit die Overberg. En dit is ’n geval van hoe meer, hoe beter. Veral wanneer lesers in Afrikaans getrakteer kan word op meesleurende verhale soos die een in hierdie boek. Die titel vertoon miskien onskuldig, maar moenie deur dié mooiklinkende titel geflous word nie. Ook nie deur die vreedsame landskap op die buiteblad nie. Soos die gesegde lui, stille waters, diepe grond …
...........
Die titel vertoon miskien onskuldig, maar moenie deur dié mooiklinkende titel geflous word nie. Ook nie deur die vreedsame landskap op die buiteblad nie. Soos die gesegde lui, stille waters, diepe grond …
...........
As die katjiepiering blom vertel die verhaal van Lea Floris wat grootword in die dorpie Galberg. Dit is ’n gemeenskap wat as armoedig beskryf kan word, maar die mense hou op allerlei maniere kop bo water. Die politiek agter die karakters word nie juis direk aangespreek nie, maar die deursnee- Afrikaanse leser sal geen probleme ervaar om die politieke konteks van hierdie gemeenskap te snap nie. As die katjiepiering blom kan veel eerder beskryf word as ’n roman wat die maatskaplike wêreld van die karakters ontgin, en waaruit ’n meesterlike storie opgebou word.
Akademici sal waarskynlik die boek as “feministiese letterkunde” klassifiseer. Dit is hoe ek in elk geval ook gemaklik sou voel om oor die boek te dink, sou ek dit waag om so ‘n bietjie die bril van ’n filosoof op te sit. Op die oppervlak, soos reeds aangedui, is die storie eenvoudig. ’n Vrou word groot op die platteland. Sy voltooi skool en trek stad toe om verder aan die Universiteit van die Wes-Kaap te studeer. Daar het sy ’n klomp ervaringe en die lewe gebeur. Sy gaan deur diep waters en kom anderkant uit. Maar daar sit veel meer agter die storie. Dis nie ’n “mooi” storie nie. Dit skets ’n samelewing wat mense breek en fyn maal, maar die boodskap van die boek is dat die hoop nie beskaam nie, en dat die stukkies menswees weer gelas kan word.
..........
Dit skets ’n samelewing wat mense breek en fyn maal, maar die boodskap van die boek is dat die hoop nie beskaam nie, en dat die stukkies menswees weer gelas kan word.
.............
’n Saak wat gevolglik weer en weer terugkeer in die hele storie, is hoe byna elke man in Lea se lewe haar sleg behandel – beginnende by haar pa, met wie sy nie ’n goeie verhouding het nie. Dan is daar ook rassisme, want die mense van Galberg is swart, en hulle word ekonomies uitgebuit.
Maar dit is die misbruik van Lea deur die mans in haar lewe wat die verhaal oordonder en ontstellend maak. Lea word geduring aangerand en seksueel misbruik en uitgebuit. Daar is een uitsondering en dit is die misterieuse karakter boet Tang. Boet Tang sal waarskynlik nog tot verskeie interessante debatte kan lei, want hoewel hy die vroue in die boek beskerm, doen hy dit met geweld. Mens dink onwillekeurig aan die geval van die Amerikaanse akteur Will Smith, en die verstommende gebeure by die mees onlangse Oscars- bekroningsaand, waarna Smith ernstig oor die vingers getik is vir sy gebruik van geweld om sy vrou te verdedig. ’n Stortvloed van kritiek het op Smith se gedrag gevolg. Die verskil is miskien dat boet Tang dikwels reageer op geweld, anders as Smith, wat op ’n verbale gebaar reageer het. Geweld in enige vorm is egter ’n taboe, selfs vir die doel van straf of wraak.
’n Ander interessantheid, en (waarskuwing), iets wat so ‘n titseltjie van die storielyn nou miskien sal verklap, is die manier waarop die boek ook die saak van aborsie ondersoek. Is daar al ooit so oor die onderwerp van aborsie in Afrikaans geskryf? Ek weet nie; miskien kan iemand my inlig. Dit is egter ’n onderwerp wat nog baie meer ontgin kan word in die letterkunde, miskien selfs eindeloos, gegewe hoe verdeeld die mensdom oor aborsie is. Dit sit egter seker nie in elkeen se broek om die hand aan die onderwerp te waag nie. Die manier waarop daar oor aborsie in As die katjiepiering blom geskryf word, dra ook daartoe by om die boek verder te nuanseer, en dit sluit natuurlik ook perfek aan by die onderwerp van vroueregte. Mens dink byvoorbeeld ook aan Roe vs Wade, en die debat wat op die oomblik in die VSA oor aborsie woed.
Die onderwerp van godsdiens/religie speel ook nogal ’n interessante rol in die boek. Godsdiens is in elk geval so ’n belangrike faktor in Suid-Afrika dat daar weinig letterkunde bestaan waarin iets van die mense van Suid-Afrika se geloofslewe nie neerslag vind nie. Mens kan jou indink dat die mense van Galberg ’n toegewyde gelowige gemeenskap is. In die geval van Lea is dit die Christelike geloof, maar Lea put ook uit haar erfenis van die Eerste Nasie, naamlik die San- en die Khoi-spiritualiteit. Deurgaans is daar dan bonatuurlike wesens wat oor haar waak, maar die wesens kan nie verhoed dat daar slegte dinge met haar gebeur nie. Lea verloor ook haar geloof, maar vind dit uiteindelik weer terug. Ook in van die ander karakters se lewens speel die geloof ’n belangrike rol.
Daar is nog heelwat ander elemente wat hierdie boek die lees werd maak. Die sosiolinguis en leksikograaf sal veral die taalgebruik interessant vind. Die dialoog getuig dan ook van die linguistiese verskeidenheid onder die karakters.
.......
Daar is ook die feit dat Lea van die platteland is en na die stad reis, wat ’n uiters belangrike aspek van die verhaal is, aangesien sy maar redelik oorweldig word deur die lewe in Kaapstad, wat sy as baie onpersoonlik ervaar het. Ook die manier waarop die plattelanders hulle identiteit soms probeer agter laat saam met hulle herkoms.
.........
Daar is ook die feit dat Lea van die platteland is en na die stad reis, wat ’n uiters belangrike aspek van die verhaal is, aangesien sy maar redelik oorweldig word deur die lewe in Kaapstad, wat sy as baie onpersoonlik ervaar het. Ook die manier waarop die plattelanders hulle identiteit soms probeer agter laat saam met hulle herkoms. Dit kom na vore in hoe die karakters byvoorbeeld eerder verkies om Engels te praat. Die boek het ook ’n interessante ontknoping, wat die leser waarskynlik aangenaam sal verras.
Ek vra my af wat die gepaste manier sou wees om As die katjiepiering blom te beskryf. Miskien iets soos “’n sterk debuut”, “’n vars bries”, “’n aangename verrassing”? Al dié dinge is waar, maar nog meer. Dit is die soort boek dié wat nuwe wêrelde vir die leser ontsluit, en mens laat uitsien na wat nog alles in die verskiet lê vir die Afrikaanse verhaalkuns.
Lees ook:
Hier is jou naaste tak van Bargain Books
As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.
Kommentaar
Netjies, Barend! Ek het die boek baie "geniet". Dit laat telkens jou maag draai.