As die katjiepiering blom: ’n onderhoud met Audrey Jantjies

  • 0

Foto van Audrey Jantjies: verskaf; foto van boekomslag: NB-Uitgewers

Audrey Jantjies praat met Naomi Meyer oor Audrey se boek, As die katjiepiering blom.

Audrey, baie geluk met die verskyning van As die katjiepiering blom. Wanneer het jy besef: Daar het ’n engel oor my pad gekom, hierdie boek moet ek skryf? Ek moes eintlik gevra het: Wie was jou muse, of waar het die inspirasie vir die storie begin?

My muse op daardie stadium was ’n baie spesiale persoon wat ek glo spesiaal gestuur was om Lea se verhaal te ink – hy het ongelukkig net uit my lewe verdwyn en ek wonder steeds byna 30 jaar later wat van hom geword het – dis asof hy in my lewe was net om hierdie een spesiale taak te kom verrig en toe is hy met die wind saam weg.

Ek vra doelbewus oor die engel, want Amakhoeb is die engel waarmee die verhaal begin en eindig. Amakhoeb is deel van die storie en tog nie. Amakhoeb sweef oor die verhaal. Wil jy iets van hierdie karakter sê? Is Amakhoeb ’n soort Maria-figuur, as ek dit so kan stel, met wie daar gepraat word en wat ’n tussenganger is tussen die aardling en die bomenslike?

...........
Amakhoeb verpersoonlik vir my diegene wat werklik daar wil wees vir jou – almal wat jou inspireer en die tyd neem om vir jou te sê: “Nog net ’n klein entjie, hou moed – jy is byna daar.” Ek dink dit is so belangrik dat ons onsself beskikbaar maak hiervoor.
............

Amakhoeb verpersoonlik vir my diegene wat werklik daar wil wees vir jou – almal wat jou inspireer en die tyd neem om vir jou te sê: “Nog net ’n klein entjie, hou moed – jy is byna daar.” Ek dink dit is so belangrik dat ons onsself beskikbaar maak hiervoor.

Ek wonder oor die rol van die katjiepiering. Die blom het ’n baie prominente reuk. Daar is nog ander komponente van die storie wat mens nie kan sien nie (soos ook die engel, en die Nama-taal, as ek dit kan byvoeg). Om terug te keer na wat ’n mens kan ruik: watter rol het reuk in jou verhaal gespeel, of in die skryfproses?

Kleintyd was daar ’n ant Kotjie wat my altyd “lekkerruik Katjiepiering” genoem het, veral as ek vir haar iets moes doen, soos winkel toe gaan, of ’n bietjie koffie maak wanneer sy by Mammie kom kuier het – dis vir my ’n fond memory waaraan ek smiling dink, want deur vir my so te noem, het sy altyd haar way gekry – dus was die reuk van die katjiepiering, die feit dat die blom so maklik kneus en dan kaalgestroop word, net om weer so pragtig te bloei, vir my ’n sintuiglike faktor sowel as metafories van Lea se verhaal – haar groei tot ’n pragtige jong dame met soveel aspirasie, toe haar verrotting en uiteindelik weer haar bloeityd.

...........
.... dus was die reuk van die katjiepiering, die feit dat die blom so maklik kneus en dan kaalgestroop word, net om weer so pragtig te bloei, vir my ’n sintuiglike faktor sowel as metafories van Lea se verhaal – haar groei tot ’n pragtige jong dame met soveel aspirasie, toe haar verrotting en uiteindelik weer haar bloeityd.
............

Waaroor gaan jou verhaal en wie is die karakters saam met wie jy dit die meeste geniet het om tyd te spandeer?

Lea se verhaal is die komvandaanstorie van so baie (plattelandse) meisies – omdat ons hier op die platteland nie veel blootgestel word aan hoe cruel die lewe daar buite is nie. Nie almal is so gelukkig om ’n gelukkige einde te hê soos Lea nie – ek het haar doelbewus ’n gelukkige einde gegee, anders sou haar verhaal sekerlik die persoon wat haar storie die nodigste het, nog meer wanhopig maak.

Boet Tang en ant Kotjie was my gunstelinge. 🙂 Ek ken persoonlik ’n boet Tang – hy laat my so dink aan JM Coetzee se Michael K – van die wêreld nie gepla nie en tevrede met net asem. Ant Kotjie was ’n fees – o jinne, ek is bevoorreg om meer as een van haar in my lewe te hê.

En watter aspekte van die skryfproses was vir jou die moeilikste?

Die tweede deel was moeiliker, omdat dit vir my half onbekende territory was, want ek ken nie die Kaap so goed nie. En dan ook ’n gedeelte in die tweede deel wat ek nie wil verklap nie – ek dink dit eina my so, want dit is werklik iemand se verhaal – of ons dit nou wil weet of nie.

Jy het die manuskrip onder andere by Paulet Huis in Somerset-Oos geskryf. Wil jy asseblief van jou skrywersresidensie daar vertel? Die verblyf, die praktiese skryftyd, die mentorskap, en Somerset-Oos?

........
Paulet Huis – wat kan ek sê? Dit was ’n magiese ervaring – ek het my tribe gevind daar!
.........

Paulet Huis – wat kan ek sê? Dit was ’n magiese ervaring – ek het my tribe gevind daar! Tyd saam met Suzette was so, so kosbaar, insiggewend en seker mees belangrik, dat ek nou iemand gehad het voor wie ek kon kaal staan. Sy het as my mentor die skrywer in my ten volle laat uitkom.

Verder het ek lewenslange vriendskappe daar gekry – Zama Moyo, Lebo Mazibuko, Deidrè Jantjies en Miriam Telanie – tesame met almal wat deel vorm van die huishouding daar. Somerset-Oos, soos wat ek en Cae (die assistentsjef) deur die dorp se strate gestap het, was ’n outworldly experience – ek het gevoel ek’s in ’n ander universe. Cae het onder meer vir my vertel van Mies Lem, die Chinese antie na wie die winkeltjie ook vernoem is en wat nog lekkers verkoop het uit ’n papier cone – en net die absolute stilte – jy móét een word met die stilte.

Jy gaan op Woensdag 27 April by die Jakes Gerwel-gespreksreeks tydens die Suidoosterfees oor jou boek gesels. Hoe is dit nou vir jou om, nadat die boek gebore en die skryfproses afgehandel is, met mense oor die konkrete en tasbare produk te praat? Wat wil jy tydens jou gesprek by die SOF met die gehoor deel?

Om te kan praat oor Lea se verhaal gee vir my hoendervleis. Ek kyk party dae steeds die boek so in ongeloof aan – asof ek droom! Met die gehoor by SOF wil ek graag praat oor die mite dat ons wat van die platteland af kom, iets van ’n agterstand het, maw ek wil baie graag praat oor stereotipes.

Lees ook:

Persverklaring: Suidoosterfees se 2022-program propvol hoogtepunte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top