Persverklaring: Suidoosterfees se 2022-program propvol hoogtepunte

  • 0

https://suidoosterfees.com/

Die program vir die Suidoosterfees, wat vanjaar van 27 April tot 1 Mei 2022 by die Kunstekaap-teaterkompleks in Kaapstad aangebied word, is pas bekend gemaak. Feesgangers kan uitsien na ’n groot verskeidenheid items wat in almal se smaak sal val. Dit sluit teater, dans, musiek, komedie en boekgesprekke in, met van die land se voorste gevestigde én opkomende kunstenaars wat optree.

Aangrypende dramaproduksies is ingesluit op die NATi Teaterfees-program. Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots speel in Philip Rademeyer se Opdrifsel, en gaan beslis feesgangers se hartsnare roer. Frank Opperman is te sien in Ek wens, ek wens, gegrond op Zirk van den Berg se bekroonde boek. Die gewilde Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse speel in Mutton Hour, ’n unieke produksie waarin kort stories oor liefde, verlies, hansworse en katte keurig tot ’n geheel saamgeweef is.

Bientang: bloedspoor/!nau, ’n musiekteaterproduksie gegrond op Jolyn Phillips se bekroonde digbundel, handel oor een van die laaste strandlopers – ’n Khoivrou wat in ’n grot gewoon het en met diere kon praat. Ricardo Arendse se Die halwe huis is ’n eenmanstuk met Marlo Minnaar, en word geregisseer deur Lee-Ann van Rooi.

Drie gewilde Suidooster-sepiesterre, Christian Bennett, Dean Smith en Gantane Kusch, speel in Koeksusters, ’n komediedrama wat handel oor die plaag van geslagsgebaseerde geweld wat Suid-Afrikaners aanhou teister. Frieda van den Heever is verantwoordelik vir Die oerkluts kwyt, ’n produksie met Antoinette Kellermann waarin Kellermann verse deur Antjie Krog vertolk. Beide Krog en Kellermann word vanjaar 70, en dié dubbele mylpaal word met hierdie aanbieding gevier.

Ander hoogtepunte op die NATi Teaterfees-program is Herschelle Benjamin se Agulhasvlakte, met Kay Smith, René Cloete en Wilhelm van der Walt, en Ferdinand Bekker se Dis 20:15, met Waldemar Schultz en Brendon Daniels.

Die NATi Jong Sterre, een van die Suidoosterfees se vlagskipprojekte, word aangebied in samewerking met NATi, die Jakes Gerwel Stigting, Kunstekaap en die Wes-Kaapse Departement van Sport en Kultuur. Vyf tekste deur dié nuweling-dramaturge debuteer by vanjaar se fees: Stephren Saayman, Heloïne Armstrong, Melissa Myburgh, Jane Mpholo en Henque Heymans. Hul tekste is ontwikkel tydens ’n skrywersverblyf in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-huis in Somerset-Oos. Die volgende akteurs maak hul buiging in dié debuutproduksies: Rehane Abrahams, Jill Levenberg, Tinarie van Wyk Loots, Ben Albertyn, Boitumelo Mohutsioa en Robert Hindley.

’n Nuwe afdeling op die feesprogram, NATi Jeugteater, fokus op produksies van skoliere en studente. Feesgangers en jong teaterliefhebbers kan uitsien na drie produksies wat as wenners by die ATKV-Tienertoneel aangewys is. Studente van Stellenbosch Universiteit, Northlink Kollege en CPUT bring ook hulle opvoerings na die feesverhoog.

’n Spesiale pakket vir skoliere wat die teater eendag hul tuiste wil maak, is beskikbaar vir jong, aspirant-teatermakers. Die ATKV-Tienertoneel-pakket bied uitstekende geleenthede teen slegs R1 000 aan: toegang tot ’n magdom topproduksies by die fees, asook werkswinkels wat aangebied word deur veterane in die bedryf, soos Cintaine Schutte, Brendan Daniels, Gaerin Hauptfleish, Frank Opperman en Antoinette Kellermann.

Nataniël se aanhangers gaan uit hul velle spring oor sy Moscow, wat ’n Kaapse draai by die fees kom maak. Verskeie ander musiekproduksies gaan die feesverhoog ook met kleur en klank vul. Die Suidooster-sterre Cedwyn Joel, Jawaahier Petersen, Eden Classens, Irvine van der Merwe en Natasha van der Merwe, is te sien in Suidooster Stormsterk. Ode op akkoorde, ondersteun deur die Johann Brink Trust, gaan gehore meevoer met kunstenaars soos Louis Loock, Magdalene Minnaar en Jarrad Ricketts. Op die klassiekemusiek-front bekoor Lauren DaSappa, Janel Speelman, Janelle Visagie en Elna van der Merwe gehore in Klassieke divas. AGL Opera bring die gewilde Don Pasquale na die feesverhoog.

Internasionale jazzdag op 30 April val weer in die feestyd, en liefhebbers van dié genre kan uitsien na eg Suid-Afrikaanse klanke in “Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book, waarin inheemse jazz-genres soos kwela, ghoema, mbaqanga, sopvlei en tsaba-tsaba gevier word. Onvergeetlike nommers soos die “Click Song”, “Paradise Road” en “Pata Pata” word uitgevoer. Internasionale Dansdag word ook gevier met die aanskoulike Ballet-a-thon en When dancers unite, ’n Bollywood-styl produksie waarin oënskynlik teenstrydige dansstyle skitterend byeengebring word. Moya, ZipZap-sirkus se produksie, sal gehore meevoer met sirkusvermaakl en asemrowende akrobatiese toertjies.

Mense wat mal is oor boeke en letterkunde, kan uitsien na die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV se gespreksreeks, wat vanjaar met 13 aanbiedinge spog. Alle gesprekke is gratis, maar weens Covid-19-regulasies is daar beperkte sitplekke en besprekings moet vooraf by theo@jgf.org.za gemaak word. Marita van der Vyver kom gesels met Cintaine Schutte oor haar ontroerende jeugmemoirs, ’n Baie lang brief aan my dogter. Ronelda Kamfer praat ook oor haar debuutroman, Kompoun, en Audrey Jantjies gesels oor haar boek, As die katjiepiering blom.

In Making us and breaking us – Elections from the days of Shaka to Cyril gaan Marianne Thamm vir Matthew Blackman en Nick Dall uitvra oor prominente draaipunte in Suid-Afrika se geskiedenis. Anthony Butler gesels met Ronnie Kasrils oor sy boek, International Brigade Against Apartheid: Secrets of the War that Liberated South Africa. Ander skrywers op die program is Diana Ferrus, Bronwyn Davids, Shana Fife, Jonathan Ancer, Chris Whitfield, Ismail Lagardien, Ivan Johnson, Kirby van der Merwe, Jeremy Vearey, Anzil Kulsen, Hlumelo Biko en Philip Rademeyer.

Sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie in 2020, het die fees daarin geslaag om veilige vermaak, innoverend en kleiner in omvang, aan gehore te bring. Dié geleenthede het streng aan nasionale veiligheidsprotokolle voldoen, en by die 2022-fees sal personeel, gehore en kunstenaars bewys van inenting moet kan lewer. Die beleid word op die Suidoosterfees se webwerf en sosialemedia-platforms uiteengesit.

Spesiale afslagpakkette wat verblyf en kaartjies na vertonings insluit, is beskikbaar vir besoekers wat graag na die Moederstad wil wegbreek en gehalte-vermaak by die fees wil geniet. Inligting hieroor is op die feeswebwerf beskikbaar.

Vir die volledige program, besoek www.suidoosterfees.co.za. Kaartjies kan by Computicket bespreek word.

Die Suidoosterfees word ondersteun deur die Department van Sport, Kuns en Kultuur, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top