Neville Alexander-gedenklesing 2022: Afrikaanse establishment was gekant teen veeltaligheid

  • 0

As Neville Alexander vandag nog geleef het, sou hy daarop wys dat die ANC deelagtig is aan die verdieping van die armoede en uitsluiting en ontheemding van die mees marginale mense in die Suid-Afrikaanse samelewing.

So het Hein Willemse Saterdag 15 Oktober tydens ’n glansgeleentheid op die Pearl Mountain-landgoed in die Paarl gesê tydens die vyfde Neville Alexander-gedenklesing.

Alexander (1936–2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.

Willemse is professor by die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria en ook die redakteur van Achmat Davids se Die Afrikaans van die Kaapse Moslems. 

Hy sê Neville Alexander sou daarop gewys het dat vandag se toestand nie maar net die gevolg van persoonlike tekortkominge of gebrekkige waardes is nie. Dit moet toegeskryf word aan ’n ekonomiese bestel wat tot elite-bevoorregting en uiterste individualisme lei.

“Dit is teen hierdie agtergrond dat ons die taalsituasie in die land moet verstaan. Terwyl Engels as ’n skakeltaal gevestig is, het die huidige regering weinig gedoen om die toegang van gemarginaliseerde mense tot die ekonomie moontlik te maak,” sê Willemse.

“Min is gedoen om die skeidings wat koloniale en apartheidstaalbeplanning gevestig het, af te breek, net soos daar min gedoen is om beleidsrigtings daar te stel om Suid-Afrikaanse tale gedeelde goedere te maak.”

Volgens Willemse het die “anglosentrisme” van die ekonomiese elite verdiep en weinig is gedoen om Afrikatale stelselmatig te bevorder.

Hy sê ras- en etniese bewustheid het die afgelope drie dekades waarskynlik verdiep. Hiërargieë wat geskoei is op vooroordele rondom etniese posisionering het verdelende afmetings aangeneem met die toepassing van die beleid van regstellende aksie, terwyl dit skrikwekkend toegepas word in die konstante voorvalle van vreemdelingehaat.

“Korrupsie, ’n kultuur van vertoon en die uitbuiting van staatsbronne vir eie gewin, het Alexander gegru, en ook dit het die afgelope dekade meervoudig toegeneem.”

Op ’n mikrovlak sou Alexander positief wees oor die bewustheid van die potensiaal van Afrikatale en geleidelike herbesinning oor die veelvoudige geskiedenis van Afrikaans.

“Hy sou positief staan rondom die ontwikkelinge van Arabiese Afrikaans en ons aanmoedig om die ander verstoke geskiedenisse van Afrikaans op te diep.”

Willemse het in sy toespraak ook verwys na die National Language Project (NLP) waarvan Neville Alexander die stigter en een van die raadslede was. Hy sê in die NLP was die heersende perspektief dat die destydse regering taal as ’n vorm van beheer gebruik het en dat die taalbeleid van destyds ’n kernrol gespeel het in die implementering van apartheid.

“Die vraag wat ons gevra het, was: Hoe kan ons taal gebruik as ’n verenigende instrument eerder as een wat verdeel?”

Die apartheidsregering se toepassing van die moedertaalbeginsel het volgens Willemse oneindige skade aan die idee daarvan aangerig. Hy sê dit moet dus geen verrassing wees dat daar vanaf die 1950’s hewige verset teen die beleid van moedertaalonderwys was nie, omdat dit saamgehang het met die inwerkingstelling van ’n apartheidsonderwysbeleid wat onderwysers en politieke leiers as minderwaardig beskou het. Dit was ’n onderwysbeleid wat sogenaamde niewit mense in hulle plek as mindere deelgenote aan die ekonomie moes hou.

Die NLP het ’n tweeledige taalbeleid voorgestaan. Engels sou as die “skakeltaal” dien. Engels het die tweede taal geword waarin mense oor maatskaplike grense heen gekommunikeer het. Willemse sê hulle het voorsien dat daardie ingesteldheid in ’n ontluikende “nuwe Suid-Afrika” nie sou verander nie. Die tweede been van die NLP se taalvisie was dat in die verskillende landstreke die dominante streektale aktief bevorder moes word, met die klem op “aktief”. Alle inwoners van ’n streek sou aan die streektaal blootgestel moes word. In die Vrystaat byvoorbeeld sou Afrikaans en Sotho aktief bevorder word. In Natal sou Zoeloe voorrang moes geniet. Dit sou beteken dat Zoeloe aktief as onderrigtaal vir alle Natallers bevorder moes word.

Willemse sê die NLP was die eerste toegewyde taalorganisasie wat die idee van veeltaligheid sterk propageer het. Dit is egter nie oral goed aanvaar nie. Uit establishment-Afrikaanse geledere was daar teenkanting teen dié model van veeltaligheid.

“Afrikaner-kultuurorganisasies het kapsie gemaak dat Afrikaans afgegradeer word in dié taalmodel. Daar is gesê dat nie hulle of die destydse regering dit sal duld dat die status van Afrikaans aangetas word nie. Hulle het voorgestel dat Afrikaans en Engels behou moet word as amptelike tale en dat daar veeltaligheid vir die Afrikatale as streekstale moet geld.”

Volgens Willemse was hierdie aandrang van die Afrikanerorganisasies gegrond op magsbehoud ná die regeringsverandering.

“Vanuit die geledere van sprekers van ander Suid-Afrikaanse tale was die verstek-opsie Engels. Die politieke en maatskaplike elite – plaaslik en in ballingskap – was anglosentries: Hulle praat Engels in die werkplek, hulle leer hulle kinders van kindsbeen Engels, en die inheemse taal word hoogstens ’n sekondêre taal wat per geleentheid gebesig word. Die gevolg is dat Suid-Afrikaners in elite-kringe vervreemd geraak het van hul inheemse tale.”

Van die projekte van die NLP was juis daarop gemik om die waarde van moedertaalonderrig tuis te bring, sodat kinders kon leer dat hul moedertale waardig is en voorts dat niesprekers van daardie tale ’n hoë vlak van taalvaardigheid kon bereik wat hulle byna vlot sprekers maak. “So, het ons gedink, kon die gelykwaardigheid van tale bereik word en kon groter waarde in kommunikasie gesien word, eerder as die hiërargie van tale wat kolonialisme en later die apartheidsbeleid in die hand gewerk het.”

Alexander se sentrale vertrekpunt was ten eerste politiek-teoreties, en nie uitsluitlik taalgerig nie. Sy sentrale vraag in dié opsig was: Hoe vorm ons ’n verenigde nasie? Sy uitgangspunt was dat Suid-Afrika op verskeie grondslae verdeel is, byvoorbeeld ras, etnisiteit, sosiale klas (die verdeling tussen ryk en arm), godsdiens, seksualiteit en maatskaplike posisie of status.

Van al dié verdelings gee Alexander spesiale aandag aan die idee van ras en nierassigheid. Vir hom as historiese materialis was ras en etnisiteit ideologiese skeppings.

Volgens Willemse gebruik die ANC ook ras as basis vir hul begrip van die nasie. Die Afrikanistiese stroming in die Suid-Afrikaanse politiek stel by voorkeur voor dat slegs “Africans” die nasie vorm.

“Vandag sou die EFF byvoorbeeld met dié stroming verbind word. In teenstelling tot dié konsepsies, beskou Alexander ras as ’n ideologiese skepping. In gewone Afrikaans: Ras is vir hom ’n valse kategorie waarvoor daar geen biologiese gronde is nie.”

Dit was Alexander se standpunt dat Afrikaans nie aan die Afrikaner behoort nie, maar aan almal wat Afrikaans praat.

Willemse sê in dié opsig is Arabiese Afrikaans ’n belangrike voorbeeld van ’n stuk verstoke taalgeskiedenis wat toenemend aantoon dat die wordingsgeskiedenis van Afrikaans veelduidend is. Net so is die voorbeeld van Jacob Dlamini wat na Afrikaans in die townships as “die taal van nostalgie” verwys.

Willemse het ook verwys na die groot aantal tale wat regoor die wêreld onder druk is en besig is om uit te sterf. Daar word geraam dat minstens 50% van die huidige gesproke tale binne die volgende 80 jaar sal uitsterf. Dit beteken nagenoeg 3 000 gesproke tale sal nie meer in die 22ste eeu gepraat word nie. Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) skat dat die persentasie van uiters bedreigde of uitgestorwe tale nader aan 90% of 95% sal wees, wat beteken dat slegs tussen 300 en 600 gesproke tale teen die einde van die eeu nog sal voortbestaan.

Tydens die afgelope naweek se geleentheid is die erfenisaktivis Mogamat Alexander en die bemagtigingsorganisasie DAK Netwerk as vanjaar se wenners van die Neville Alexander-prestige-eerbewyse vir die bevordering van Afrikaans aangewys. Hulle het elkeen R20 000 prysgeld ontvang. 

Volgens Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmonument (ATM), is hierdie eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder.

Mogamat is spesifiek uitgesonder vir sy boek Dictionary of loanwords in the Cape Muslim Vernacular wat vanjaar die lig gesien het nadat hy jare lank tipiese woorde en uitdrukkings van Moslemafrikaans versamel het.

Jean Meiring (voorsitter van die ATM-raad), Mogamat Alexander en Michael Jonas (direkteur van die ATM)

Dié publikasie fokus op die taalkultuur, idiomatiese uitdrukkings en geskrewe Arabiese Afrikaans wat met die woorde gepaard gaan. “Die doel van die boek is om trots by die Kaapse Moslems in te boesem vir ons oorgeërfde weergawe van Afrikaans,” het hy tydens die ontvangs van sy prys gesê.

DAK Netwerk se naam verwys na drie taalvaardige Khoi-leiers wat simbolies is van die breë Afrikaanse gemeenskap se herkoms en erfenis, naamlik Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa.

Jean Meiring, Danie van Wyk (DAK se uitvoerende voorsitter) en Michael Jonas

Die organisasie het hom die afgelope drie jaar veral toegespits op die erkenning van Afrikaans as ’n inheemse asook onderwystaal taal. DAK se uitvoerende voorsitter, Danie van Wyk, het die prys namens DAK Netwerk in ontvangs geneem.

Van links: Michael Jonas, Hein Willemse, Danie van Wyk, Mogamat Alexander, Jean Meiring en Jurie Saal (ATM-raadslid)

Kirby van der Merwe, Hein Willemse en Danie van Wyk

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Uit die Argief: Die oorlewing van die nie-dominante tale van Suid-Afrika ‒ ’n Kommentaar deur Neville Alexander

Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (Achmat Davids): Bekendstellingstoespraak

Fotoblad: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems-bekendstelling

Reflections oppie launch vannie Dictionary of loanwords in the Cape Muslim vernacular (Mogamat Alexander)

’n Onderhoud met Danie van Wyk, nuwe voorsitter van die DAK Netwerk

Jakes Gerwel-gespreksreeks (Suidoosterfees): Krotoa – wat beteken sy vandag?

Sodat ons nie die rol van Krotoa in die Kaapse geskiedenis sal vergeet nie

Toyota US Woordfees 2022: Krotoa: Eva van de Kaap – ’n beskouing

Jan van Riebeeck en Krotoa se tyd: 10 verrassende feite

Die vernoeming van geboue op die kampus van die Universiteit Stellenbosch: ’n oorsig en ontleding

Ont-taling

Oor plek, inheemsheid en mag

Afrikaans: the language of dissent

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top