Die bestudering van name en naamgewing vorm deel van die dissipline wat as die onomastiek bekend staan.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het amptelik in 1918 tot stand gekom. Die universiteit het as ’n Afrikaansmedium-instelling begin. Die karakter van die universiteit het oor die laaste 20 tot 30 jaar verander en dit funksioneer nou oorwegend as ’n tweetalige universiteit (Afrikaans en Engels) met Xhosa wat skynbaar ook meer aandag geniet. Talle studente uit ander dele van die wêreld wat ander tale praat, kom studeer ook daar. Afrikaans as onderrigmedium word hierdeur onder druk geplaas en Engels kom sterker na vore.
Met ’n verskeidenheid van rektore (visekanseliers) wat gekom en gegaan het en die universiteit wat geleidelik saam met die res van die land tot die volle demokrasie van 1994 vir Suid-Afrika ontwikkel het, het die universiteit ook begin om vorentoe te beweeg deur die afskaffing van simbole uit die verlede, waarvan sommiges aan die apartheidsverlede gekoppel was.
Die eerste proses wat oor ’n aantal jare plaasgevind het en nog steeds plaasvind, behels die benoeming en later die vernoeming van geboue op die kampus. Hierdie bydrae gaan oor die beskrywing en ontleding van hierdie vernoeming.
Die US se geboue verskyn in verskeie gedeeltes van die dorp. Verskillende vernoemingsaksies het reeds plaasgevind, afhangende van die vorige naam en die tipe struktuur van die gebou.
- Inleiding, en geskiedenis van Stellenbosch
Omdat die Universiteit Stellenbosch (US) gekoppel is aan die dorp Stellenbosch, is dit noodsaaklik om kortliks ’n oorsig te gee van die totstandkoming van die dorp.
Dit is redelik goed bekend dat Jan van Riebeeck saam met ’n groepie Nederlanders die eerste setlaars was wat in 1652 aan wal gestap het in die gebied wat nou bekend is as Kaapstad (Schoeman 2010). Volgens Smuts ea (1979) het kommandeur Simon van der Stel op 12 Oktober 1679 by die Kaap aangekom om die bewind oor te neem namens die Here XVII wat as die direkteure van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) gefunksioneer het.
Op daardie stadium is die Kaap beskou as ’n militêre en administratiewe buitepos van die VOC met die uitsluitlike doel om die skepe van die VOC van vars produkte te voorsien en om sodoende wins te maak en rente te verdien op die uitgelegde kapitaal van die Compagnie. Die klein nedersetting was afgesny van die res van suidelike Afrika deur ’n sandvlakte (die Kaapse Vlakte), en buite die skiereiland was daar geen poging om ’n permanente nedersetting te vestig nie (Smuts ea 1979:51).
Die koms van Simon van der Stel het sake egter verander, want hy wou die kolonie aan die Kaap selfversorgend maak. Hy het ’n groot belangstelling in boerdery gehad, en het reeds voorheen noord van Amsterdam in Nederland (Holland) wingerd verbou en kennis van wynmaak gehad. Van der Stel het toe besluit om ’n besoek te bring aan die bergreeks wat Hottentots-Holland genoem was deur die vroeër Nederlanders en ook aan ’n meer gelyke vallei wat later bekendgestaan het as Stellenbosch. Deur die vallei het ’n sterk rivier geloop wat vandag bekend is as die Eersterivier; ’n klein eilandjie is in die rivier ontdek en Van der Stel het ’n nag op die eiland deurgebring. Die gebied was ook bekend as Wildebosch vanweë die plantegroei, maar Van der Stel het toe die plek herbenoem met sy eie naam (die Stel-gedeelte) en dit het Stel-en-bosch geword. Aanvanklik het die naam net betrekking gehad op die eilandjie. Volgens bronne in die Kaapse Argief (sien ook Stellenbosch Drie Eeue 1979) het die totale plek benewens net die eilandjie toe die naam Stellenbosch gekry. Daar word bespiegel oor die presiese datum van die benoeming Stellenbosch, maar daar is geen twyfel oor die jaar nie, naamlik 1679. Naas Kaapstad (of vroeër net bekend as Tafelbaai of die Kaap) het Stellenbosch toe die tweede dorpsnaam in die “kolonie” gekry. Die spelling van die dorpsnaam het al vroeg sy vorm gekry. Dis interessant dat die inwoners van die nedersetting reeds van vroeg af bekendgestaan het as Stellenbossers, maw met twee l’e, maar dat die ch moes plek maak vir die dubbele s. Dit lyk en klink soos ’n verafrikaansing, maar tog bly die Nederlandse erfenis tov die spelling behoue in die pleknaam, nl Stellenbosch.
- Totstandkoming van die Universiteit Stellenbosch
Die amptelike totstandkoming van die US het oor ’n lang tydperk geduur en het verskillende opvoedkundige projekte behels (Du Toit en Smuts 1979:325–37). Uiteindelik het wetgewing van 1916 (Wet nr 13) voorsiening gemaak vir die inlywing van drie verskillende universiteite in 1918: die ou Universiteit van die Kaap, nl die Goeie Hoop, die SA Kollege, wat die Universiteit van Kaapstad geword het, en die Victoria-Kollege, wat die Universiteit Stellenbosch geword het. Op 2 April 1918 het die wet in werking getree, sodat dit as die stigtingsdag van die Universiteit Stellenbosch beskou kan word, en die geleentheid is destyds deeglik gevier.
Amptelik het die US in 2018 100 jaar oud geword nadat dit deur baie fases, sommige erg problematies, gegaan het. Tog het die universiteit bestendige en selfs fenomenale groei beleef (Du Toit en Smuts 1979:339–41).’n Baie groot aantal bekende en ook beroemde graduandi het hulle studies by aan die US voltooi, en ’n groot aantal dissiplines is tot al die standaardstudierigtings toegevoeg. ’n Welgestelde boer, Jannie Marais, het ’n groot bedrag geld nagelaat om die stigting van ’n Afrikaanse universiteit, na sy dood in 1915, moontlik te maak. ’n Standbeeld ter nagedagtenis aan hom is op die kampus opgerig.
Die universiteit het die leuse Pectora roborant cultus recti (’n Goeie opvoeding versterk die gees) gekies wat ook op die kleurbaadjie verskyn. Die studente staan as Maties bekend, waarskynlik afgelei van “tamaties” vanweë die maroen kleur van die sportdrag en die kleurbaadjie.
Op ’n persoonlike noot (wat, gegee die konteks, sinvol is): Ek is ’n oud-Stellenbosser, gebore en getoë, en was op skool en later ook op universiteit in Stellenbosch. Ek is dus ook ’n oud-Matie, en het daarom nog steeds ’n bepaalde belangstelling in die dorp asook in die US. Die vernoeming van geboue op die kampus is dus vir my ’n interessante verskynsel, selfs al was baie van die wysigings betreklik nuut (sedert 2004), maar in ’n universiteit wat aan die verander is net soos Suid-Afrika.
- Onomastiek as ’n naamgerigte dissipline
Onomastiek behels die studie van name en naamgewingsisteme. Die term wat na die dissipline verwys, is afgelei van die Griekse onoma wat naam verteenwoordig. Name, en dus naamgewing, kom voor onder alle mense dwarsoor die wêreld en naamgewers is wel dikwels deeglik bewus van die rol wat hulle speel, of dit name is aan nuwe aankomelinge van die mensdom in die wêreld, en of dit name is van nuwe ontwerpe of produkte in die ekonomie (Neethling 2018). Een kategorie wat ’n baie belangrike en prominente rol in onomastiek speel, is plekname, of toponieme. Die verskeidenheid soorte plekname is enorm: Dit wissel van blyplekke (dws adresse, straatname, gebouname – ongeag watter tipe ekonomiese aktiwiteit in daardie geboue bedryf word), dorpe, skole, kolleges en universiteite tot restaurantname, en nog vele ander (sien ook Lawrence 2021). Daar is vele naamkundiges wat hulle bloot toespits op name in die ekonomie as ’n subdissipline van onomastiek, en hulle kom gereeld bymekaar as die lede van NITE – Names in the Economy.
Die onomastiekvakgebied in Suid-Afrika ressorteer onder die NSSA, die Names Society of Southern Africa. Twee volumes van die tydskrif van die NSSA, Nomina Africana, verskyn per jaar. Aanvanklik was die vereniging tweetalig (Afrikaans en Engels) wat referate by kongresse aanbetref sowel as die publikasies in die tydskrif, maar dit het onlangs eentalig, nl net Engels, geword, ook wat die referate en artikels in Nomina Africana betref. Die tydskrif het onlangs ’n nuwe vennoot gevind en sy titel en voorkoms het effens verander. Nomina Africana is behou met die subtitel The Journal of African Onomastics op die kleurvolle voorblad. Die drukwerk word gedoen deur NISC, wat staan vir National Inquiry Services Center. Indien ’n naamkundige dus graag, om welke rede ook al, ’n bydrae in Afrikaans wil lewer, moet ’n ander uitgewer/joernaal oorweeg word.
Die eerste belangrike pleknaam in hierdie bydrae is uiteraard die dorpsnaam Stellenbosch, en natuurlik dan later ook die naam van die universiteit. ’n Volgende logiese gevolgtrekking is dat geen universiteit kan bestaan sonder geboue wat nie ’n naam dra nie. Die doel met hierdie bydrae is ’n ontleding van die oorspronklike naam van elke gebou wat bespreek word, hoe dié naam tot stand gekom het, die noodsaak om die naam te verander, om watter rede ook al, en die uiteindelike keuse van die nuwe naam. ’n Analise oor bepaalde verkose nuwe name sal deurgaans volg. Baie persoonsname het gefigureer of figureer tans op die kampus. Hierdie persoonsname sal voorkeur geniet, gewoon omdat daar heelwat besonderhede ten opsigte van die persone beskikbaar is. Baie geboue van die US word dikwels na bepaalde en meestal begaafde akademici vernoem. Daar is dus dikwels ’n sterk ooreenkoms tussen ’n gebou, ’n toponiem, of pleknaam, en die bepaalde individu, dws ’n antroponiem of persoonsnaam. Die dissipline waarvoor die persoon bekend was of dalk nog mag wees, word dan ook aan die “nuwe” pleknaam gekoppel.
- Teoretiese raamwerk en navorsingsmetodologie
Plekname (toponieme) het oor die algemeen twee funksies: Eerstens verwys hulle na bepaalde fisiese ruimtes, en tweedens dien hulle as identiteitsmerkers wat mense in staat stel om ondervindings aan ’n bepaalde pleknaam te koppel (Jordan 2009:5–6). Plekname kan op openbare plekke gebruik word om die plek of aanwysing van die plek aan te dui (die pragmatiese funksie). Soms vorm hulle ’n integrale deel van ’n instelling of afdeling se naam, byvoorbeeld afdelings van ’n universiteit (die simboliese funksie). Die herhaaldelike gebruik van die bepaalde plek waar die naam gebruik word, lei uiteindelik tot die aanvaarding van die pleknaam. In ekstreme gevalle sal die bestaan van ’n bepaalde naam vanweë verskeie faktore onder die soeklig kom en dan bevraagteken word met aanduidings en voorstelle van moontlike plaasvervangers. Antroponieme (name van mense) kan ook hierdie proses ondergaan. Kultuurgeskiedenis speel ook dikwels ’n rol.
Uiteraard bestaan daar verskillende teoretiese raamwerke, asook verskillende navorsingsmetodologieë, omdat die voorkoms en aard van die plekname so ’n wye verskeidenheid vertoon. Navorsers fokus dikwels net op ’n besondere kategorie, en ’n bepaalde metodologie is dan dikwels meer toepaslik as ’n ander een.
Jan Tent is ’n prominente pleknaamnavorser in Australië en sy benadering is sinvol. Hy beskou sy benadering as “intensive toponymy” (2011). Hy meen elke pleknaam beskik oor ’n storie daaragter – iemand het die naam toegeken in ’n bepaalde tydperk en om ’n bepaalde rede, en soms word die naam weer verander om verskillende redes (pp.67-68). Die plekname op die kampus van die US voldoen aan hierdie beskrywing. Sommige toegekende name bly bestaan, en ander word weens allerlei faktore en omstandighede verander na goeddunke van die personeel en studente en na deeglike oorweging. Volgens Tent word die benadering en die beskrywing gekenmerk deur hulle biografie wat basies die volgende vrae bevat:
- Wie het die plek benoem?
- Wanneer is die plek benoem?
- Waarom het die plek dié bepaalde naam gekry?
- Wat beteken die naam? Watse soort naam is dit?
- Waar kom die naam vandaan (taal of streek)? Waar word die plek gevind?
Om hierdie vrae met betrekking tot die bepaalde afdelings of sektore van die US te vra, is sinvol. Dat daar bepaalde goeie redes bestaan waarom ’n bepaalde fasiliteit ’n bepaalde naam dra, is waarskynlik en sou hopelik verskaf word. By navraag aan die registrateur van die US, Ronel Retief, het sy aangedui dat sy die voorsitter is van die komitee wat hom bemoei met naamgewing, en dat sy heeltemal bereid is om haar samewerking ten opsigte van hierdie projek te gee. Een van die personeellede by die US se argief (’n afdeling van die registrateur), Karlien Breedt, het ook haar samewerking belowe. Hierdie argief huisves alle tersaaklike dokumente.
........
Met naamgewing van enige aard is daar dikwels ’n verskil van opinie. Dat ’n instelling soos ’n universiteit liefs samehorigheid in hierdie verband verlang, is uiteraard belangrik. Naamgewing kom en gaan, ook tov institusionele instansies. Allerlei faktore mag ’n rol speel, en die doel van hierdie bydrae is om hierdie redes na te vors ten einde die finale beslissings, goed of minder goed, te beoordeel.
.........
Met naamgewing van enige aard is daar dikwels ’n verskil van opinie. Dat ’n instelling soos ’n universiteit liefs samehorigheid in hierdie verband verlang, is uiteraard belangrik. Naamgewing kom en gaan, ook tov institusionele instansies. Allerlei faktore mag ’n rol speel, en die doel van hierdie bydrae is om hierdie redes na te vors ten einde die finale beslissings, goed of minder goed, te beoordeel. Dikwels geskied die veranderinge eers na ’n lang tydperk en die belangrikheid van ’n argief in hierdie verband is dus weliswaar belangrik.
Indien ’n naam toegeken word aan ’n plek wat nie voorheen ’n naam gedra het nie, word die term neotoponiem soms deur pleknaamnavorsers gebruik (Giraut en Houssay-Holzschuch 2016). Dit kan egter ook in hierdie studie gebruik word, want ’n nuwe gebou of lokaal verlang ook uiteraard ’n nuwe naam.
Daar bestaan verskeie ander teoretiese raamwerke ten opsigte van toponieme of plekname, onder andere dié van Bourdieu (1991) en Spocter (2012, 2013, 2018). Dikwels is die uitgangspunt verteenwoordigend van simboliese kapitaal, en waar die plekname dikwels as konsepte van status, prestige en eer beskou word en ook daartoe bydra. Uiteindelik word die simboliese kapitaal gekenmerk as ’n handelsnaam of -merk wat deur reklame bekendgestel word, en die naam van ’n plek word omgeskakel in ekonomiese kapitaal, met ’n sterk verband tussen die plek en sy waarde, wat vir wins verkoop kan word.
Dit is waarskynlik nie nodig om te beklemtoon dat hierdie tipe teoretiese raamwerk nie werklik toepaslik is op universiteitsgeboue wat oor die dorp versprei is nie. Sodanige geboue is uiters selde in die ope mark wat vir winsdoeleindes te koop aangebied word. Dit gebeur dalk wel wanneer ’n gebou of struktuur weens ouderdom as ongeskik beskou word, en moontlike kopers sou belangstel net indien ’n sterk moontlikheid bestaan om die struktuur so te wysig en te ontwerp dat dit as sinvol beskou kan word. Universiteitsgeboue dwarsoor die wêreld ondergaan soms sulke strukturele aanpassings en verbeterings om by die ontwikkelende opvoedingspeil by te hou.
5. Benoeming en herbenoeming van geboue op die kampus
Universiteite dwarsoor die wêreld beskik oor geboue wat allerlei dissiplines en fasiliteite huisves wat duidelik by wyse van name aangedui word. Dis effens ironies dat ’n universiteit (ook US) soos volg beskryf word: “’n Universiteit is nie ’n lesingteater, of ’n biblioteek of ’n laboratorium nie; dit is glad nie ’n gebou of ’n plek nie; die kern daarvan is ’n ingesteldheid; die ware karakter van ’n universiteit is die ’wil tot kennis’” (Shand 2018).
Die US (in Engels Stellenbosch University, SU) se geboue en strukture is, soos reeds genoem, oor die dorp versprei. Stellenbosch staan dan ook bekend as ’n universiteitsdorp. Die meeste ander universiteite in Suid-Afrika, en selfs elders, is gehuisves binne ’n bepaalde omheinde gebied, wat toegang vergemaklik en ook die uitgange meer kontroleerbaar maak. Dit is nie moontlik in Stellenbosch nie, en parkering by die meeste geboue is baie beperk. Soms word hierdie parkering wel gereguleer.
Die benoeming van verblyfplekke soos koshuise sal nie in hierdie bydrae aandag geniet nie, behalwe as dit nuwe blyplekke verteenwoordig. Studente het dikwels self seggenskap gehad in die benoeming van blyplekke of koshuise, en sodoende word ’n kultuur geskep wat oor baie jare tot reünies lei waar studentevriende mekaar weer ontmoet.
Die fokus sal egter nou wees op die sg amptelike geboue wat name het wat deel van die infrastruktuur van die universiteit gevorm het, maar wat met verloop van tyd om bepaalde redes beskou is as nie meer toepaslik nie en dat daar meer geskiktes bestaan. ’n Herbenoeming of vernoeming is ondergaan nadat die sinvolheid daarvan gedebatteer is.
Van Junie 2004 tot Augustus 2020 het verskeie geboue herbenoemings ondergaan. Baie van hierdie geboue het nie persoonlike name van individue gedra nie, en die nuwe naam ook nie. ’n Voorbeeld hiervan is hoe die Departement Beeldende Kunste herbenoem is na die Departement Visuele Kunste. Dis waarskynlik ’n beter naam, maar vanuit ’n onomastiese perspektief is hierdie name nie juis interessant nie en ook nie van toepassing in hierdie studie nie. Die fokus sal merendeels val op antroponieme wat óf in die eerste of oorspronklike naam verskyn het maar toe deur ’n nuwe antroponiem vervang is, óf antroponieme wat oorspronklik toegeken is, maar toe “verdwyn” het deur die vernoeming met ’n nie-antroponiem of ’n toponiem.
Reeds in 2010 het die rektor, Russel Botman, by ’n Afrikaanse Taalraad-konferensie gepleit dat die US meertalig moet word, maar ander ontleders het onlangs luidkeels geprotesteer teen “vreemde” praktyke by die US, byvoorbeeld in die koshuise (sien byvoorbeeld Van Dyk 2020, Van Niekerk 2020, Beukes 2021, Nienaber 2021, Scholtz 2021, Carstens 2021, Van der Westhuizen 2021, Beukman 2021). Heel onlangs het politieke sektore soos die Demokratiese Alliansie (DA) en AfriForum ook tot die verdediging van Afrikaans toegetree (Beukes 2021), en so ook talle briefskrywers in Die Burger (sien ook Snijman 2021).
Die huidige taalbeleid van 2016 maak voorsiening daarvoor dat die burgers van Suid-Afrika (oa ook studente, dus) volgens die Grondwet opvoeding kan ontvang in die taal van hulle keuse. Vir voorgraadse studente moet daar verkieslik aparte lesings in Afrikaans en Engels plaasvind, volgens die beleid. Waar dit nie prakties moontlik of regverdigbaar is nie (daar is byvoorbeeld te min studente), word die klas in Engels aangebied met ten minste die belangrikste punte wat opsommend in Afrikaans oorgedra word.
Volgens Arnold Schoonwinkel, voormalige viserektor vir leer en onderrig aan die US, was daar in 2017 ’n meningsopname waar 61% van studente gesê het hulle verkies kennisoordrag in Engels en die ander 39% verkies onderrig in Afrikaans, of beide Afrikaans en Engels.
........
Sou die skielike afsny van die Afrikaanse aanbod gebeur, doen dit groot skade aan meertaligheid aan die US en die studies van Afrikaanssprekendes. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het op 5 Mei in ’n verklaring geëis dat die US dit onomwonde moet stel dat studente toegelaat sal word om in koshuise in die taal van hulle keuse te kommunikeer.
.........
Sou die skielike afsny van die Afrikaanse aanbod gebeur, doen dit groot skade aan meertaligheid aan die US en die studies van Afrikaanssprekendes. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het op 5 Mei in ’n verklaring geëis dat die US dit onomwonde moet stel dat studente toegelaat sal word om in koshuise in die taal van hulle keuse te kommunikeer. Verder het SAOU dit duidelik gestel dat inklusiwiteit nie deur uitsluiting bereik kan word nie, en dat Afrikaans derhalwe nie uitgesluit kan word nie. Volgens SAOU was Afrikaanse leerlinge, en is hulle nog steeds, ’n baie belangrike bron van studente vir die universiteit, en sal SAOU-lede, skole, leerlinge en ouers ’n onomwonde respons van die universiteit waardeer (sien Van Zyl 2021). Die US het reeds ’n geruime tyd gelede meertaligheid gekies om as instelling rekening te hou met die diversiteit van die samelewing – wat die taaldiversiteit insluit – asook die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê.
Alhoewel hierdie tweetalige aspek meestal wel in tweetalige (Afrikaans en Engels) verslae verskyn, is dit wel van groot belang om te sien of dit deurgaans gaan gebeur. Die taalbeleid van die US word elke vyf jaar hersien, en dit moet aan die einde van 2021 gebeur. Daar word tans wyd op die kampus oor die taalbeleid bespiegel en die rol van Afrikaans moet waarskynlik aan die einde van 2021 ook daar figureer. Alle Oud-Maties (of alumni) het pas, naamlik einde Maart 2021, ’n dokument van die viserektor (leer en onderrig), Deresh Ramjugernath, ontvang om hulle uit te nooi om by te dra tot besprekings oor die taalbeleid. Volgens die Statuut van die US moet die US-raad die taalbeleid van die instelling bepaal met instemming van die senaat. Volgens Ramjugernath is die doelwit om op 2 Desember 2021 vanjaar ’n finale hersiene Taalbeleid vir goedkeuring aan die universiteitsraad voor te lê. Teen die sluitingsdatum vir die reaksie is daar meer as 3 000 kommentare ontvang. Dit gaan interessant wees om die uiteinde van die taalbeleid te sien na die protes vroeg in 2021 ten opsigte van die stand van Afrikaans op die kampus.
Een van die finale voorleggings aan die rektor, Wim de Villiers, kan waarskynlik ’n belangrike rol speel. In die By-aanhangsel van Die Burger van 27 Maart het die Departement Afrikaans en Nederlands ’n ope brief aan die rektor gerig waarin hulle hom oa meedeel dat die studente hulle verbasing uitspreek dat hulle wel in Afrikaans met hulle dosente mag kommunikeer. Die departement voel ook dat die noodsaaklike transformasie nie kan plaasvind indien die lewensruimte van sekere studente ingeperk word nie, omdat hulle taal nog in enkele persone se oë ’n uitgediende negatiewe politieke konnotasie het. Dis ’n lywige dokument wat van ’n welbekende departement kom en dis duidelik dat die departementslede alle moontlike opsies vir die US oorweeg het.
Dis nie verbasend dat die rektor wel hierop gereageer het nie (sien Barnard, Die Burger, 3 April 2021), asook ’n bydrae deur die rektor self. Volgens hom is die US “verbind tot meertaligheid”. Volgens sy sienswyse het die US te make met “opportunisme vir politieke gewin”. Hy gee egter toe dat daar probleme bestaan wat nou aangespreek word. Die uiteindelike taalbeleid wat aan die einde van 2021 gefinaliseer moet word, sal die oplossing aanbied.
Dit blyk dat sinvolle bydraes oor die taalkwessie in Die Burger onophoudelik is. Spies se bydrae (7 April 2021) met die titel “US kort ’n hergeboorte” is waarskynlik ook belangrik. Volgens die inligting aan die einde van sy bydrae is hy ’n toekomskundige wat voorheen verbonde was aan die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die US. Volgens hom is Afrikaans , die Afrikaanse kultuur en die geskiedenis van die US as ’n Afrikaanse instelling oor tien jaar deur die universiteitsbestuur stap vir stap afgetakel. Vroeër was die aard van die US dié van ’n diensgemeenskap vir tradisionele (wit) en nuwe (bruin) studente, maar nou word die aard van die US bepaal deur die strewe na globale erkenning as ’n wêreldklasuniversiteit. Hy verwys verder in sy artikel na Stellenbosch as SU en nie US nie. Ook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het kritiek gelewer (Barnard, 8 April) op die US se taalbeleid omdat die US die taalgebruiksprofiel van die primêre voedingsgebied ignoreer en die “verbeeldinglose tegnokratiese omgang van Stellenbosch” met die werklikheid van veeltaligheid vervang. Dis vir die Akademie duidelik dat die klem ook op die voedingsgemeenskap van Stellenbosch en omgewing behoort te val (sien Van Zyl 2021)
Waarskynlik dalk ’n laaste protesoptog is deur die belangegroep DAK Netwerk gelei met betogers wat deur Stellenbosch se middedorp gestap en ook akademici ingesluit het voordat hulle hulle versoekskrif aan ’n amptenaar van die US by die administrasiegebou oorhandig het (sien Nienaber 2021). Die groep eis ook dat die “kultuur van robuuste debatvoering” weer sy plek op die US-kampus moet inneem. Hulle kry ook ondersteuning van Hermann Giliomee, wat meen dat die afskaling van Afrikaans “een van die donkerste oomblikke” in die geskiedenis van US is. “DAK” in die naam DAK Netwerk kom van die name Doman, Autshumao en Krotoa, almal vroeëre voorvaders in Kaapstad.
Al die bostaande bydraes toon hoe sensitief Afrikaanssprekers tov hulle taal voel en daarop aandring dat ongeag hoe die uiteindelike taalbeleid nou en in die toekoms daar uitsien, Afrikaans ’n prominente komponent daarvan behoort uit te maak. Meertaligheid is waarskynlik die oplossing wat op die instelling wag.
In hierdie bydrae sal wysigings aan bestaande name voorgestel, gedebatteer, en dan goedgekeur of nie aanvaar word nie. Elke sodanige naam, indien toepaslik, sal ook geanaliseer word om te bepaal of die uiteindelike keuse wel ’n goeie een was. Die herbenoeming van name het oor die byna laaste 100 jaar nie by die US gebeur nie, en dis juis sedert ontwikkeling in Suid-Afrika met die totstandkoming van demokrasie sedert 1994 dat die US met ’n fyner oog na die bestaande name begin kyk het. Die dokumente uit die argief het daarop gedui dat as die bepaalde rektor aan bewind positief oor die herbenoeming gestaan het, hy dit aan die US Raad vir bekragtiging oorgedra het.
Sommige name van geboue en strukture het hulle redelik lank gelede gekry sonder dat daar enige herbenoeming was. ’n Paar van hulle sal aanvanklik die aandag geniet.
JC (Jan Christian) Smuts
In 2004 was daar ’n gevoel onder sommige waarnemers dat die naam van Jan Smuts weens sy sterk politieke konnotasie nie sy posisie as ’n gebounaam verdien het nie. Die kwessie is terugverwys na Natuurwetenskappe, en maar daar was geen definitiewe besluit tov die saak nie. Dit is wel so dat die biografie van Smuts indrukwekkend is (sien ook hier).
Die weglating van sy naam sou waarskynlik onnodig wees. Nie alleen het hy ’n lewendige belangstelling in botanie gehad nie (die Biologiese Wetenskappe-gebou dra tans sy naam), maar al die internasionale en nasionale rolle wat hy vervul het, is merkwaardig, en enige Matie wat sy lewe sou gevolg het, sou beïndruk gewees het. In ’n seksie van ’n brief aan Die Burger (23/3/21) besing ene Chris Pretorius sy deugde:
Die geskiedenis het bewys dat Smuts en sy regering hul bondgenote inderdaad reg gekies het.
Daar moet onthou word dat ’n ware staatsman nie ’n sekere bevolkingsgroep in sy eie land durf voortrek nie. Nasiebou destyds (soos vandag) kon nooit eenogig wees nie. Vanaf 1910 tot nou was geen Suid-Afrikaanse staatsman ooit Smuts se gelyke nie – nie plaaslik of internasionaal nie.
Smuts was ’n Afrikaner wat wêreldwyd hoog geag is en het die uitnemendste uit die Afrikanerdom verteenwoordig. Sonder die oogklappe van plaaslike vooroordeel.
Of Pretorius werklik tans sterk ondersteuning geniet, is nie duidelik nie. Smuts was inderdaad ’n tweetalige Suid-Afrikaner. Dit wil voorkom asof die US intussen sy mening hieroor gewysig het en dat die Biologiese Wetenskappe-gebou nog steeds sy naam in 2021 by die US dra. Dit is by wyse van ’n e-pos deur ’n senior akademikus in daardie gebou bevestig.
In ’n interessante verwikkeling het daar baie onlangs ’n kort artikel in Die Burger, verskyn (Nienaber 17/2/21) wat geen verband met die US het nie. In die artikel word voorgestel dat Jan Smuts-rylaan na Franklin Sonn vernoem moet word , en toe volg briewe in Die Burger waarin een skrywer dit steun, maar ’n ander pleit dat die naam Jan Smuts-rylaan behoue moet bly omdat dit ’n duur proses is om ’n naam, ook ’n straatnaam, te verander. Sonn is die kanselier van die Universiteit van die Vrystaat en was ook die ambassadeur van Suid-Afrika in die VSA. Daar was nog geen verdere ontwikkeling tov die voorstel nie. Die probleme wat met straatnaamverandering opduik, is deeglik beskryf deur Turner (2009) in Durban, asook Lubbe (2020) in Bloemfontein.
Cornelis Jacob Langenhoven → Langenhoven Studentesentrum → Neelsie
Langenhoven was ’n regsgeleerde, koerantredakteur en Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg en het as skrywersname CJ Langenhoven en Sagmoedige Neelsie gebruik. Sy rol in die Afrikaanse literatuur en kultuurgeskiedenis was formidabel. As Volksraadslid en senator het hy ’n groot rol in die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal gespeel.
Aan die US het hy in 1893 as ’n eerstejaarstudent ’n rede getitel “What shall be the future language of South Africa?” gelewer waarin hy aangedui het dat hy dink Engels die taalstryd sal wen, dat daar geen toekoms vir Nederlands is nie en dat Afrikaans op daardie tydstip nie die vermoë bied vir intellektuele opvoeding nie, omdat dit nie oor letterkunde beskik het nie en slegs ’n beperkte woordeskat bevat. Hierdie siening het egter dramaties verander, soveel dat die US in 1931 ’n eredoktoraat (DLitt honoris causa) aan hom toegeken het. Die studentesentrum van die US is in 1975 voltooi en is na Langenhoven vernoem, maar “Neelsie” het as die gebounaam voorkeur gekry, afgelei van sy voornaam Cornelis.
CJ Langenhoven se bekendste werk is “Die stem van Suid-Afrika” wat hy in 1918 geskryf het. Die musiek daarvoor is in 1921 deur ML de Villiers gekomponeer. ’n Passasie uit “Die stem” vorm vandag nog ’n deel van die (nuwe) Volkslied van Suid-Afrika.
In 1983 het Bun Booyens, voormalige en afgetrede hoof van die US se Departement Afrikaanse Kultuur en Volkskunde, ’n Langenhoven-gedenklesing gelewer waarin hy Langenhoven geloof het vir sy betrokkenheid by Afrikaans en die US versoek het om na Afrikaans om te sien.
Vir die hedendaagse pleitbesorgers dat die US ’n meertalige instelling behoort te wees is die siening van Langenhoven reeds in 1893 dan ook belangrik. Dat die US dit goedgedink het om ’n eredoktoraat reeds in 1931 aan hom toe te ken, spreek boekdele.
Hierna het meer prominente vernoemings gevolg, waar daar eenstemmigheid onder die akademici en administrasie was.
DF Malan → Mike de Vries
Daniël Francois Malan het van 1941 tot 1959 as kanselier gedien. Hy was ’n sterk pleitbesorger vir Afrikaans en hy het ook Afrikaans naas Engels as die amptelike taal ondersteun. Van 1915 tot 1923 was hy ook die redakteur van Die Burger.
Volgens ’n beleidsdokument in 2010 het die US besluit dat sou daar enige geskille of verskille ten opsigte van interpretasie bestaan, die Engelse weergawe van die beleidsdokument as die geldige een aanvaar sal word. Dis waarskynlik ’n aanduiding dat Engels voorrang bo Afrikaans sal geniet. Tog was die res van die dokument in Afrikaans. ’n Algemene riglyn is uitgespel dat enige naam van ’n gebou na tien jaar heroorweeg kan word. ’n Baie belangrike beginsel word in die dokument beskryf, naamlik dat die US deel is van ’n groter gemeenskap en dat die vernoeming nie in isolasie van hierdie gemeenskap moet gebeur nie. Of hierdie “gemeenskap” by alle benoemings geken of erken word, is nie altyd seker nie. Die benoemings of vernoemings moet ook ’n bepaalde konsultasieroete volg.
In 2004 is die DF Malan-gebou vernoem na Mike de Vries. De Vries was die rektor van die US van 1979 tot 1993. Hy was skynbaar ’n baie gewilde rektor en die herbenoeming van die gebou wat die fisiologiese wetenskappe, wiskundige wetenskappe en analitiese chemie huisves, het hom met die hoofnaam vereer, met die dissiplines se name sekondêr.
Lokaal sonder naam → Jan Sadie
In 2004 het die Departement Ekonomie besluit dat ’n nagraadse lesinglokaal wat geen naam gedra het nie, die naam Jan Sadie moet kry. Sadie was ’n gewilde akademikus. Die gebou waarin die lesinglokaal hom bevind, dra nog steeds die oorspronklike naam. Hier is ’n geval waar ’n lokaal sonder ’n naam nou een kry, maw dit is ’n geval van ’n neotoponiem.
HF Verwoerd > Rekeningkunde en Statistiek → CGW Schumann
Die dissiplines rekeningkunde en statistiek was oorspronklik in die Hendrik Frensch Verwoerd-gebou gehuisves, en die “verdwyning” van die naam HF Verwoerd was nie amptelik gedokumenteer nie. Navorsing toon dat die nuwe gebou wat in 1977 voltooi is, die naam C(hristian) G(ustav) W(aldemar) Schumann gekry het. Schumann se rol in die dissipline was voortreflik, en hy was ook later die dekaan. Schumann het in 1960 afgetree.
RW Wilcocks-gebou
Daar is in 2004 besluit om die naam van hierdie gebou (vernoem na die rektor van 1933 tot 1954) vir ’n nuwe naam voor te hou. Daar was egter nie konsensus nie en die saak is terugverwys. In 2020 het die registrateur weer die personeel van die US, studente en lede van die gemeenskap per e-pos genooi om met nuwe naamvoorstelle vir die gebou te kom.
Die voorstel om die naam te verander, het hewige reaksie uitgelok wat veral in Die Burger se briewekolomme weerspieël is. Veral twee briewe het uitgestaan. Die eerste is van Tom McLachlan, ’n bekende taalaktivis (30/7/2020). Die opskrif wat Die Burger, gekies het, was “Politiek korrekte kruiperigheid raak nou bisar”. ’n Gedeelte word aangehaal:
Die langverwagte hernoemingsproses van hierdie prominente gebou moet glo hopelik “hierdie instelling en die omliggende gemeenskap se reis weerspieël”. Was prof Bobby Wilcocks dan nie deel van “hierdie instelling se reis” nie? Watter sonde hy gedoen het om nou in die vergetelheid gestoot te word, sal net die politiek korrekte US-bestuur weet. Dié voormalige rektor se bydrae mag nou skynbaar nie meer in die openbaar erken word nie. Dit was seker te wagte, gesien die naamsverandering van die HB Thom-teater; nie dat ek iets teen Adam Small het nie – inteendeel – maar hy was glad nie deel van “hierdie instelling se reis” nie; Thom, Wilcocks en Afrikaans wás.
Die tweede brief was van Serf Hurter (5/8/20). Die opskrif vir sy brief was: “So skep jy ’n gedienstige, siellose universiteit”. ’n Gedeelte word ook aangehaal:
In sy dolle najaag van inklusiwiteit en gedienstigheid is die owerhede van die Universiteit Stellenbosch besig om die siel uit Maties te ruk.
Erger nog, daardie owerheid is besig om sy grootste bate, naamlik sy alumni van hom te vervreem deur dit wat vir die alumni waardevol en belangrik is, op te offer op die altaar van gedienstigheid.
Arme prof Wilcocks was nie ’n politieke figuur wat opgeoffer moet word vir sy politieke denke of welke oorweging ook al nie.
Hy was slegs ’n pedagoog wat vir sy dienste vereer is deur ’n gebou na hom te noem.
Daardie gebou is deel van die siel van Stellenbosch. Dit was elke eerstejaar se eerste stop ná kennismaking met Stellenbosch. Die Wilcocks-gebou en Stellenbosch is vir die meeste alumni sinoniem.
Die twee briewe is tiperend van die omstredenheid wat soms gepaardgaan met die benoeming of herbenoeming van ’n gebou. As die US wel, soos in die doelstellings geformuleer is, die mening van die gemeenskap respekteer, maar dit dan miskien nie bewys deur hulle optrede nie, dan sal ’n nuwe naam moeilik tot stand kom. Na die versoek van die registrateur in 2020 het daar nog geen verwikkeling plaasgevind nie. Dit is ook ietwat ironies dat ’n rektor met die Engelse name Raymond William Wilcocks so deurloop onder die administrasie t.o.v sy naam, en dit terwyl McLachlan hom beskryf as ’n groot ondersteuner van Afrikaans, en Hurter dat hy nie ’n politieke figuur was nie maar slegs ’n pedagoog. Die administrasie sou sy naam kon behou indien die US se uitkyk dié van veeltaligheid of meertaligheid kon behels met behoud van Afrikaans.
Koshuis sonder naam → Metanoia
Dit het ’n lang tyd geneem om konsensus te bereik voor hierdie nuwe koshuis uiteindelik sy naam gekry het – Metanoia, ’n Griekse woord wat dui op ’n verandering van hart en ook van verstand. Ongeveer 54% van die inwoners is wit en 46% is swart. Swart sluit waarskynlik ook bruin in. Skynbaar is dit die eerste keer dat ’n koshuis aan die US sodanige diversiteit vertoon, en dit is in 2006 deur die rektor, Chris Brink, geopen. Die studente het ooreengekom dat die naam ook ses bepaalde waardes verteenwoordig, nl voortreflikheid, ubuntu (die Xhosa-woord vir medemenslikheid), liefde, integriteit, trots en gelykheid.
Verbruikerswetenskapgebou → EJ Lombardi-gebou → Lombardi-gebou
Die verbruikerswetenskaplikes het nie meer die gebou benut nie, en toe ’n nuwe gebou in 2007 opgerig is, het die landbouwetenskaplikes die naam EJ Lombardi voorgestel. Lombardi se biografie is deeglik deurgegaan. Uiteindelik is die naam Lombardi-gebou goedgekeur, omdat die gebou gekoppel was aan die Lombardi Trust en nie aan die individu EJ Lombardi nie.
Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Navorsing → Wallenberg Research Centre / Navorsingsentrum
Mostertsdrift is ’n woonbuurt in Stellenbosch met min universiteitsgeboue. Die Wallenbergs is ’n Sweedse egpaar, Marcus en Marianne, wat ’n ruim skenking aan die Instituut gemaak het en ingestem het dat die gebou na hulle vernoem word.
Die betrokke komitee het ook aanbeveel dat die naam STIAS, vir Stellenbosch Institute for Advanced Study (Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Navorsing) by die ingang van die terrein geplaas word. Die proses is in 2007 afgehandel.
Konservatorium/Conserve → Behrens Foyer
Die nuwe konservatorium is in 1978 ingewy. Dit was baie deeglik ontwikkel, en het uiteindelik bestaan uit die Fismersaal (repetisie), die Jannaschsaal (hooflesingsaal) en die Endlersaal (konsertsaal). Dit is skynbaar die oudste musiekkonservatorium in Suid-Afrika. Die foyer of ingangsportaal is na Richard Behrens vernoem. Die woord foyer word ook as ’n Afrikaanse woord beskou.
Seminaarlokaal in die Instituut vir Polimerisasie en Chemiese Wetenskap → Ron Sanderson-lokaal
Ronald Douglas Sanderson word as die grondlegger van hierdie instituut beskou. Die seminaarlokaal is in 2012 na hom vernoem. Hy is in 2015 oorlede.
Nuwe koshuis in Tygerberg → Huis Ubuntu House
Die nuwe koshuis in Tygerberg het ’n drietalige naam gekry, nl Afrikaans, Xhosa en Engels. Waarskynlik het ’n redelike groep Xhosasprekers in die koshuis ingetrek, en die Xhosa-woord ubuntu (medemenslikheid) is in 2014 vir die koshuis se naam gekies. Soos vroeër gesien met Metanoia, was ubuntu hier een van die waardes wat die nuwe blyplek voorgestaan het.
Nuwe koshuis in Stellenbosch → Huis Russel Botman House
Russel Botman is in 2007 as rektor aangestel, maar is onverwags in 2014 oorlede. Die naam van die nuwe koshuis is in wese ’n voorbeeld van ’n antroponiem. Die koshuis het die naam in 2014 gekry.
DF Malan Sentrum → Coetzenburg Sentrum
Die DF Malan Sentrum het gedien as die lokaal wat hoofsaaklik vir gradeplegtighede gebruik is, en die naam is ook nou nie meer as toepaslik beskou nie. Coetzenburg was voorheen die hoofsportarena tov rugby, atletiek en tennis. Net agter Coetzenburg was die ander rugby- en krieketvelde, baie naby aan die DF Malan Sentrum. Die US het klaarblyklik besluit om die hele terrein onder een naam te verenig. Die verandering het in 2014 plaasgevind.
JS Gericke Biblioteek → Stellenbosch Universiteit Biblioteek
JS Gericke was nie ’n akademikus nie, maar wel ’n predikant wat van 1950 tot 1981 as visekanselier diens gedoen het. Die naamverandering het in 2017 plaasgevind, en Gericke is in 1981 oorlede. Hier is ’n antroponiem deur ’n toponiem vervang.
Victoriastraat 39 → House Simon Nkoli Huis
In ’n baie besonderse naamsverandering is Simon Nkoli vereer. Die Eenheid vir Gelykwaardigheid en Eenheid vir Gestremdhede was gehuisves in Victoriastraat 39 by die Afdeling Studentesake. Simon Nkoli het gelyke regte en behandeling vir alle Suid-Afrikaners voorgestaan. Sy omstandighede was dikwels onderdrukkend, maar hy was standvastig in sy strewe na gelykheid, ongeag ras, politieke affiliasie, MIV-status of seksuele oriëntering. Hy het hom uitgespreek teen onbillike diskriminasie en hom veral beywer vir die regte van alle gemarginaliseerde groepe. Sy naam en wat dit verteenwoordig het, is reeds onder baie studente bekend en het ’n nasionale en internasionale statuur en aansien. Die respondente was oorweldigend ten gunste van die naamsverandering. Die ou naam was ’n toponiem, in die vorm van ’n straatadres (maar met ’n persoonsnaam as kern); die nuwe naam is wesenlik ’n antroponiem.
Nuwe koshuis in Tygerberg → Huis Nkosi Johnson House
Nkosi Johnson was ’n kind wat met MIV gebore is en ’n MIV-aktivis geword het. Hy het die stigma van MIV uitgedaag en het ’n beduidende rol gespeel om bewuswording van MIV te skep. Hy is in 2001 op twaalfjarige ouderdom oorlede, maar was toe ook die langslewende kind met MIV. Sy standvastigheid, wysheid en deursettingsvermoë behoort as inspirasie vir almal te dien. Hy behoort vereer te word as ’n aktivis wat ’n siekte uitgedaag het wat steeds in Suid-Afrika voorkom. Daarom is daar besluit dat die nuwe koshuis sy naam sal dra – nog ’n voorbeeld van wesenlik ’n antroponiem. Daar is ook besluit om ’n gedenkplaak aan te bring om die konteks en relevansie van die naam by te voeg. Die nuwe naam is in 2018 toegeken.
Nuwe Leersentrum → Jan Mouton Leersentrum
Die waarnemende US-bedryfshoof het ’n versoek ingedien dat die hoofdonateur se vader, Jan Mouton, deur sy naam vereer word. Die hoofdonateur het ongeveer 40% tot die oprigtingskoste van die sentrum bygedra. Al die skenkers geraadpleeg en het die vernoeming ondersteun. Sonder Mouton se finansiële bydrae sou die gebou waarskynlik nie gebou kon word nie, en die donateur wou graag sy vader vereer. Die gebou is in 2018 voltooi.
Weereens is die gebou se naam, ’n toponiem, vervang deur ’n antroponiem met die toponiem wat gevolg het.
Joubertstraat 7 → Piet Okkers Huis
Die Afrika Oop Instituut (AOI) vir Musieknavorsing en Innovering wou die intrek in die kantoorruimte wat deur die US daarvoor beskikbaar gestel is, by wyse van ’n inhuldiging vier. Hulle het egter besef dat hulle nie die geskiedenis van die huis en die mense wat daar gewoon en gewerk het, ken nie. Hulle navorsing het getoon dat die huis gebou is deur Piet Okkers (1916) wat dit toe in 1924 aan sy seun, Pieter JA Okkers (1875–1952), oorgedra het; die seun het tot 1951 daar gewoon. Die Okkers-familie het die huis aan Harold du Toit verkoop en na Erasmusstraat in Idasvallei getrek, waar hulle nog steeds woon. Die jongste Pieter JA Okkers, in 1943 gebore, is ’n kleinseun. In 1973 is die eiendom op Joubertstraat 7 aan die US verkoop, en die gebou huisves verskillende institute en departemente, studente-akkommodasie, Gesondheidsdiens, Uskor, Instituut vir Teoretiese Kernfisika, Informasietegnologie, en nog ander.
Die AOI wou die Okkers-familie, wat die Joubertstraat 7-eiendom vir byna 50 jaar bewoon het, vereer deur die eiendom Piet Okkers Huis te noem. Die rektoraat het goedkeuring verleen, en die naamwysiging het in 2018 plaasgevind. Die toponiem, die straatadres, het dus plek gemaak vir ’n antroponiem.
HB Thom Teater → Adam Small Teater
Hendrik Bernardus Thom was ’n oud-Matie wat sy BA in geskiedenis en Nederlands (cum laude) en sy MA in geskiedenis (cum laude) behaal het. Sy PhD het hy in 1930 behaal. Uiteindelik het hy die rektor van die US geword en die amp van 1955 tot 1969 beklee. Thom is in 1983 die kanselierskap van die US aangebied, ongelukkig in dieselfde jaar van sy sterfte.
In 2018 het die US ’n naamsverandering van die dramateater voorgestel met Adam Small Teater as die nuwe naam. Die motivering was duidelik op versoening en aanpassing gerig. Small was ’n bekende digter wat Afrikaans of eintlik Afrikaaps gebesig het. Die US het ook probeer om toeganklik te wees vir sogenaamde bruin studente, en daarom moes die naam Thom terugstaan in terme van die herbenoeming van die teater, wat in 2018 plaasgevind het.
Ruimtes in die Departement van Medikasie → Navorsing, Ingang: Beyers Naudé
→ Komiteekamer: Cecilia Makiwane
→ Seminaarkamer: William A Soga
→ Oostelike vleuel: Nkosi Johnson
→ Westelike vleuel: Iman Haron
Daar was geen dokumentasie beskikbaar nie, maar navorsing het die volgende aan die lig gebring. Omdat die geboue of lokale in die Departement van Medikasie gehuisves was, was veral die name van mense wat met gesondheidskwalifikasies na vore gekom het, uiters toepaslik. Cecilia Makiwane was die eerste swart vrou wat ’n geregistreerde professionele verpleegster in Suid-Afrika was. Sy was ook ’n aktivis tov vroueregte. William A Soga was die eerste swart mediese dokter in Suid-Afrika. Hy het ook die Silwer Orde van Mapungubwe (postuum) ontvang. Nkosi Johnson, die reeds genoemde MIV-lyer en -aktivis, se naam verskyn ook reeds op ’n koshuisgebou.
Die ander twee persone, Beyers Naudé en Iman Haron, was sterk betrokke in politieke kringe en gewese anti-apartheid rolspelers. Dis nie duidelik hoekom hulle name in die Departement van Medikasie figureer nie. As die doel van die naamgewers was om ’n etniese verteenwoordiging by wyse van die name te skep, was hulle redelik suksesvol, maar die plasing van al die name op lokale in die Departement van Medikasie was minder toepaslik. Al die naamdraers is oorlede, sommiges baie lank terug. Die name is in 2019 toegeken.
Goldfields Eetsaal → Sada Ohms
Die studente wou graag hulle eetsaal se naam verander en dit ’n meer gemoedelike en eiesoortige tipe naam gee. Sada Ohms is ’n Khoisan-frase met die betekenis “ons huis”. Die inwoners het ook die alumni genooi om ’n nuwe naam voor te stel en hulle het ’n lys van twaalf name gekry. Die nuwe naam verteenwoordig ’n samekoms van diverse studente uit verskillende agtergronde en dit is nou “almal se huis” (sien ook Lawrence 2021).
’n Bepaalde toponiem word hier deur ’n ander een vervang. Dit is natuurlik nie ’n antroponiem nie, maar omdat dit so besonders is, word dit in hierdie studie ingesluit. Dis in 2019 toegeken.
- Samevattend
Die vernoeming of herbenoeming van geboue of lokale aan die US het hoofsaaklik tussen 2004 en 2020 plaasgevind. Die mikpunt met hierdie artikel was veral om na te gaan wanneer bepaalde geboue se name in bepaalde omstandighede vervang is, en wat die redes daarvoor was. In baie gevalle is die argument gebruik dat die naam wat aan ’n bepaalde dissipline gekoppel was, te lank op die toneel was en vervanging benodig. En soos wat die US oor baie jare heen uitgebrei het, moes nuwe geboue uiteraard ook name kry.
Soos uit ’n fyn bestudering van beskikbare dokumente geblyk het, was sommige voorstelle gewoon nie aanvaarbaar was nie, en is hulle terugverwys vir heroorweging. Soms was die voorgestelde verandering van ’n gebounaam nie gekoppel aan ’n bepaalde persoon nie, en is gewone woorde soos wetenskap, statistiek, laboratorium en sentrum verkies.
Bibliografie
Barnard, Marelize. 2021a. Wim slaan terug oor US-taalbeleid. Die Burger, 3 April.
—. 2021b. Afrikaans is nie ’n groot gesprekspunt. Die Burger, 8 April.
Beukes, Werner. 2021a. Maties gooi wal oor Engels-plan. Die Burger, 10 Maart.
—. 2021b. DA, AfriForum looi US oor taalkwessies. Die Burger, 11 Maart.
Beukman, Barnard. 2021. “Ligte mistykie” in Bos. Die Burger, 23 Maart.
Botman, H Russel. 2010. ’n Ubuntu van tale: Meertaligheid in die hoër onderwys. Afrikaanse Taalraad-onderwyskonferensie, 28 Augustus.
Bourdieu, P. 1986. The forms of capital. In Handbook of theory and research for the sociology of education, J Richardson (red), ble 241–58. New York: Greenwood.
Carstens, Wannie. 2021. US: Swak beleid se byt. Die Burger, 18 Maart.
De Villiers, Wim. 2021. US “verbind tot meertaligheid”. Die Burger, 3 April.
Du Toit, PS en F Smuts. 1979. Kollege en Universiteit. In Stellenbosch Drie Eeue. Stellenbosse Stadsraad.
Giraut, F en M Houssay-Holzschuch. 2016. Place naming as Dispositive: Toward a theoretical framework. GeoPolitics, 21:1–21.
Grütter, Wilhelm en DJ van Zyl. 1981. The story of South Africa. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hurter, Serf. 2020. So skep jy ’n gedienstige, siellose universiteit. Die Burger, 5 Augustus.
Jordan, P. 2009. Place names as ingredients of space-related identity. Geographical names as a part of the cultural Heritage. P Jordan, H Bergmann, C Cheetham en I Hausner (reds), ble 33–9. Universiteit van Wene.
Lawrence, Donovan. 2021. Plekname met kleure, klanke en klikke in SA. Die Burger, 5 Maart
Lubbe, Johan. 2020. The role of politics, culture and linguistic factors in the naming and re-naming of street and suburb names. Proceedings of the 5th International Symposium on Place Names. Bloemfontein: Sun Media.
McLachlan, Tom. 2020. Politiek korrekte kruiperigheid raak nou bisar. Die Burger, 30 Julie.
Neethling, Bertie. 2018. Onomastics. A multidisciplinary field of study. Krugersdorp: BooksAfrica.
Nienaber, Malherbe. 2021a. Matie-koshuise in twis oor Afrikaans. Die Burger, 6 Maart.
—. 2021b. “Erken Afrikaans as ’n inheemse taal.” Die Burger, 10 April.
Pretorius, Chris. 2021. Nasiebou kan nie eenogig wees nie. Die Burger, 23 Maart.
Scholtz, Leopold. 2021. Is Maties nou ge-Milner?. Die Burger, 9 Maart.
Shand, SJ. 2018. The making of a university. Centenary/Eeufeesboek.
Spies, Philip. 2021. US kort ’n “hergeboorte”. Die Burger, 7 April
Spocter, Manfred. 2012. Gated developments: International experiences and the South African context. Acta Academica, 44:1–27.
—. 2013. Non-metropolitan gated retirement communities in the Western Cape: Patterns, processes and purpose. PhD-proefskrif. Universiteit Stellenbosch.
—. 2018. A toponymic investigation of South African gated communities. South African Geographical Journal, 100(3):326–48.
Schoeman, Karel. 2010. Kolonie aan die Kaap. Protea Boekhuis: Pretoria
Smuts, Frans (red). 1979. Stellenbosch Drie Eeue. Amptelike Gedenkboek. Stellenbosse Stadsraad en Oude Meester-groep.
Snijman, Lia. 2021. US-taaldebat: Die wat en waarom van die Maties-taalbeleid. Universiteitseminaar, LitNet, 6 Mei.
Tent, Jan. 2011. Motivation for Naming: the Development of a Toponymic Typology for Australian Placenames. Names 59(2) 67-89
Turner, N. 2009. Odonymic warfare: The process of renaming streets in Durban, South Africa. Nomina Africana, 23:113–32.
Van der Westhuizen, Jannie. 2021. Waarheen nou met US en Afrikaans? Die Burger, 20 Maart.
Van Dyk, Frederik R. 2020. Roekelose ongeërgdheid. Die Burger, 27 Augustus.
Van Zyl, Ané. 2021. Maties oor Afrikaans: “Dis nie reg om taal te onderdruk.” Die Burger, 7 Mei.
Van Niekerk, Anton. 2020. “Onthou Andringastraat.” Die Burger, 1 September.
Lees ook:
Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC
Kommentaar
Wat 'n verleentheid.
Beste LitNet,
Ek lees elke dag graag Litnet maar kan julle aub probeer iets minder van 'n US Daily Dispatch en Stellenbosh Chronicle te wees. Daar's ook lewe elders.
Eish!
Bestryk 'n wye veld en het 'n vars konseptuele aanslag, maar die politieke situasie rondom die Wilcocks is meer kompleks en die verandering van naam op historiese gronde is al as bedenklik uitgewys.
Die US is net 103 jaar terug in verlede na die era van Victoria-kollege. Die emosionele skrywe oor wat was, grens nou aan emosionele plakkery in die politiek-korrekte DA-Weskaap. Ons "verkramptes" bou liewer aan Akademia en Soltek, met eie fondse.
Om voortdurend op LitNet te murmureer, gaan niks verander nie.
Die DF Malan Sentrum was 'n skenking van die destydse Nasionale Party wat DF Malan wou vereer; Malan self het voor sy dood dit duidelik gemaak dat hy nie deur 'n standbeeld vereer wou word nie, en die DF Malan Sentrum was die gevolg. Die vraag moet gevra word wat gaan in die toekoms gebeur met geboue wat na skenkers vernoem is, bv die onlangse Jan Mouton-leersentrum, wat deur 'n skenking van R50 miljoen deur Jannie Mouton na hom vernoem is? As die US nie die naam DF Malan Sentrum op sy kampus wil hê nie, moet die hele sentrum platgestoot word.
Moeg en sat van politiese korrek wees. My kinders kan maar elders gaan studeer. Dis 'n skande om jou taal net so blatant op te gee.