Madelein Rust (1967–2025)

  • 0

Gebore en getoë

Madelein Rust is op 12 Junie 1957 in Bloemfontein gebore. Sy het haar laerskoolloopbaan in Brandwag Primêre Skool begin en dit is dáár waar haar liefde vir skryf sy ontstaan gehad het. Gedurende pouses het sy nie soos die meeste ander kinders gaan speel nie, maar haar tyd verwyl in die skoolbiblioteek – altyd met ’n boek in die hand. Dit is ook op skool waar sy haar “skrywerstande geslyp” het met die skryf van opstelle – nie net vir die skool nie, maar ook met opstelkompetisies.

As kind in die 1970’s het Madelein gereeld op haar ouma se kleinhoewe net buite Bloemfontein gaan kuier, het sy aan Phyllis Green van Sarie vertel. Op hierdie kleinhoewe, het sy onthou, was die kinders van die werkershuise op die hoewe haar beste maats. Sy het verder aan Green vertel: “Ons het as kinders geen swart of wit geken nie. Die mense wat in daardie huise gewoon het, het ’n besonderse verhouding met my ouma gehad. Ek wou so lankal daaroor skryf.” (En dit het sy toe in haar voorlaaste boek, Bessie se hangkasbiblioteek wat in 2024 uitgegee is, gedoen.)

Sy het aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná matriek is sy na die Universiteit van die Vrystaat waar sy in die regte gaan studeer het. Vyf maande voordat sy haar graad sou voltooi het sy opgeskop, want sy kon nie aanvaar dat die “regte” persoon altyd skuldig bevind sou word nie.

Sy het toe bedryfsielkunde begin studeer. Hierdie twee studierigtings het later goed te pas gekom in haar skrywersloopbaan, het sy aan Ruan Bruwer (Netwerk24, 13 Junie 2015) vertel: “Die vakke strafreg en medicina forensis het my geboei. Die redes hoekom mense misdaad pleeg, fassineer my. Ook die vak abnormale sielkunde oor hoekom mense doen wat hulle doen, was my gunsteling.”

In 2015 was Madelein ’n bedryfspesialis wat spesialiseer in projekverwante veranderingsbestuur en korporatiewe kommunikasie. Sy moet die personeel en onafhanklike kontrakteurs entoesiasties kry en oortuig dat elke nuwe inisiatief vir hulle tot voordeel sal strek, het sy aan Org Potgieter in ’n onderhoud op LitNet vertel.

As jong ma sluit sy aan by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar sy ’n aantal pryse wen in die vereniging se jaarlikse skrywerskompetisie vir amateurskrywers.

Madelein Rust se skrywersloopbaan het afgeskop toe haar kortverhaal, “Joy”, in ’n skolemarkbundel van Bateleur, In ’n neutedop, opgeneem is. Sy het toe romantiese kortverhale begin skryf en twee van hierdie verhale, “Tango in die kuberruim” en “Skarlakenvrou”, het in Huisgenoot verskyn. Nog ’n kortverhaal van haar met die titel “Die dag toe oom Willem geval het” is opgeneem in Sussie Veer is dood en ander verhale, Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition se skolemarkbundel.

En toe in Julie 2014 tref Madelein Rust die Afrikaanse spanningsverhaal-wêreld met haar eerste boek, met die titel Die 13de kaart. Dit het nie lank geneem om op Nielsen se internasionale topverkoperlys te verskyn nie en is ook genomineer vir ’n ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur.

In ’n onderhoud met Org Potgieter op LitNet het Madelein met hom gesels oor Die 13de kaart, asook oor haar tweede spanningsverhaal, Monstersaad. Hierdie boek haal ook Nielsen se topverkoperlys.

Die 13de Kaart is in my kop gebore toe ek gesit en kyk het na ’n stel tarotkaarte wat my dogter se vriendin aangedra het. Dit het my dadelik laat dink aan ’n moordenaar wat die kaarte as leidrade agterlaat. ’n Uur later was ek aan die gang. Die storielyne skryf hulself. Dit voel altyd vir my of die storielyn net my vingers op die toetsbord nodig het.”

Die titel van Madelein Rust se eerste boek, Die 13de kaart, verwys na tarotkaarte waarvan die 13de een die Dood is. Die hoofkarakter is Belia Bell, ’n forensiese sielkundige en ook ’n profielsamesteller vir die polisie. Hul moet ’n reeksmoordenaar vastrek. By elke lyk word ’n tarotkaart as leidraad neergesit en Belia begin besef dat dié leidrade vir haar spesifiek bedoel is. Sy kom tot die besef dat sy die reeksmoordenaar moet ken.

Elsabé du Toit is die resensent van Die 13de kaart in Die Burger van 23 Augustus 2014: “Die karakters word geloofwaardig uitgebeeld en die spanningslyn word meestal goed volgehou – net soms, soos met die oproep van die vermoordes, verslap die tempo.

“Dit is jammer dat die boek nie ’n strenger redakteurshand gehad het nie, want daar is heeltemal te veel clichés en pretensieuse woordkeuses. Die uitgewer het ook hieraan skuld, net soos aan die eienaardig ontwerpte buiteblad. Wat sou die wit duiwe binne die konteks van hierdie verhaal beteken?

“Dit ten spyt is dit ’n baie leesbare verhaal en ’n mens hoop dat Belia Bell, soos Bennie Griessel, ’n huishoudelike naam sal word vir Afrikaanse misdaadverhaalaanhangers.”

Johan Smith (Rapport, 6 Julie 2014) eindig sy bespreking van Die 13de kaart só: “Wat my egter die meeste gekwel het, is die volgende tendens: Dit is amper asof sommige skrywers in hierdie genre steeds deur geykte stereotipes aan bande gelê word. [...] Nietemin is dit ’n geslaagde debuutroman. Hoewel die einde ietwat voorspelbaar is (ondanks die uiteindelike, verrassende verduideliking vir die rede van die nommer 13), is die spanningslyn steeds sterk en sorg vir ’n geslaagde klimaks, en die verhaal deug as ’n misdaadroman.”

Vir Monstersaad, haar tweede boek, was die impetus ’n sinsnede wat sy terloops gehoor het: “Dit het my laat wonder of genetika ’n rol speel wanneer misdadigheid ter sprake is. In my navorsing oor die biologie van boosheid het ek gevind daar is ’n hoër vlak van morfologiese abnormaliteite in die breine van geweldenaars. Dit is faktore wat verband hou met byvoorbeeld denkprosesse en emosies. So het Monstersaad se storielyn saad geskiet, met Renata Malan wat in die vrees lewe dat geweld in haar gene vasgelê is.”

Vir Ilse Salzwedel (Maroela Media, 19 Augustus 2015) is spanningsverhale een van haar gunstelingmaniere om te ontsnap aan haar daaglikse roetine; dus is sy altyd opgewonde as daar ’n nuwe naam op die toneel van misdaadfiksie verskyn – een wat weet hoe om ’n goeie speurverhaal te skryf: “En Madelein Rust doen dit met gemak. Haar navorsing is puik, en dis veral verfrissend dat sy vir elkeen van haar twee boeke unieke vroulike karakters geskep het – nie dat ek iets het teen manlike speurders of ’n reeks met dieselfde hoofkarakter nie. [...]

“In Monstersaad ontmoet ons vir Renata Malan, ’n forensiese sielkundige en miljoenêrerfgenaam van Leon Malan. Maar Leon was net haar aanneempa, en Renata worstel haar lewe lank met die omstredenheid wat deur haar biologiese pa gepleeg is. Is daar monstersaad in haar gene? [...]

“Terwyl Renata en haar vennote probeer uitpluis of die dood van die 17-jarige Melissa Verhoef selfmoord was of nie, moet Renata noodwendig haar eie donker verlede konfronteer. Daar is twee storielyne, elkeen met sy eie kinkels. [...]

Monstersaad is ’n boeiende boek uit die pen van ’n vaardige verteller. Dit vergelyk uitstekend met enige oorsese boek wat ek al in hierdie genre gelees het. Rust se kennis van bedryfsielkunde en haar skryfervaring (onder meer as mediese skrywer, maar ook as kortverhaalskrywer) sorg vir ’n lekker lees. Ek kan nie wag om te sien hoe hierdie skrywer se werk vorentoe ontwikkel nie.”

Op LitNet is Beyers de Vos egter nie heeltemal so komplimenterend oor Monstersaad nie. Hy skryf só oor Monstersaad: “Monstersaad word voorgehou as beide ’n misdaadroman en ’n ‘sielkundige riller’ – en dit is die boek se tweede probleem. Daar is regtig nie baie egte sielkunde aan die gang nie. Die sielkunde klink soos uit ’n eerstejaar se handboek – die roman se sentrale vraag wonder of boosheid geneties is, wat nie ’n nuwe vraag is nie en ook nie een wat die roman op ’n interessante of oorspronklike manier benader nie. Daar is ’n groot gebrek aan outentieke emosionele inhoud. In Monstersaad voel die karakters soos sketse, soos lopende gevallestudies – nie soos mense nie. Kanse is goed dat jy al vantevore dié karakters raakgelees het. Al die ou bekendes is daar: die mooi (so mooi dat mans bereid is om hulle vrouens vir haar te los), slim (sy het ’n PhD en luister slegs klassieke musiek), emosioneel verdoofde en siniese speurder met ’n drankprobleem en donker verlede; die IT-nerd wat enigiets kan opspoor, maak nie saak hoe moeilik of onwaarskynlik dit is nie; die rowwe ekspolisieman wat verlief is op ons speurder maar nie sy gevoelens bekend kan maak nie.

“Êrens tussen al daardie stereotipes verloor die karakters – veral Renata – hulle menslikheid. Sy is so ’n standaardheldin, uitgeknip en saamgestel uit honderde karakters nes sy dat sy dit regkry om vaal en gaapwaardig te wees. [...]

Monstersaad is leesbaar. Die taal is vloeiend en eenvoudig, alhoewel ook soms puntenerig en clichéagtig – hoeveel keer kan ’n karakter vir ’n ander een kyk met ‘stormagtige oë’? Daar is dele wat tog aangrypend is en dit regkry om spanningvol te wees. Die storie is genotvol, tot op ’n punt. Maar daar is niks wat Monstersaad laat uitstaan nie en daar is baie beter voorbeelde van dié genre op die rakke. Op die ou end is die roman ’n lui poging. Is dit te veel gevra vir iets effens meer oorspronklik? Ek dink nie so nie.”

Een van die lekkerste dinge om te skryf was vir Madelein om haar karakters te skep: “Ek plaas die storielyn op papier en skryf dan ’n biografie vir elke karakter, van hul kinderdae af. Dit help dat die karakters deurlopend optree. Ek werk dikwels eienskappe in van mense wat ek ken, maar my karakters is gewoonlik ’n mengsel van feit en fiksie. Ek probeer ook karakters se registers in hul dialoog weerspieël.

“Ek het al baie raas van teksredakteurs gekry oor my ‘roekelose’ gebruik van sleng en gekruide taal, maar ek skop vas ter wille van die egtheid. Polisiemanne praat anders onder mekaar as met die publiek. Ek moes al by die oorskryf van ’n manuskrip rowwe karakters ‘red’ van pragtige, suiwer Afrikaanse woorde wat hulle nooit in die ware lewe sal gebruik nie.”

Bloedlyn is Madelein Rust se derde spanningsverhaal en dit word in 2016 deur LAPA uitgegee.

Madelein het aan Elna van der Merwe in Huisgenoot (1 Junie 2017) gesê dat haar lesers vir haar vertel het dat hulle mal is oor Renata en Stefan, die oudpolisieman: “Lesers skryf ook dat hulle vir ’n wyle gedink het Stefan kan die skuldige wees en dit het hulle baie hartseer gemaak. Dan is daar diegene wat sê die forensiese detail is baie goed nagevors en oortuigend. Vir my is die terugvoer oor die karakters vreklekker, want dit beteken mense identifiseer met hulle.

“My gunstelingtoneel in Bloedlyn is Renata se geveg met die gemaskerde boef wat haar in haar huis aanval. Ek het nog nooit ’n propperse gevegstoneel geskryf nie en het ervaar dat die adrenalien pomp terwyl ek dit beskryf. Ek het ál vinniger en vinniger geskryf terwyl ek besig was.

“My dogter, Tanya (toe 26), is al donkiejare doenig met verskeie vorme van Oosterse gevegskuns en ek het allerhande nuttige wenke by haar toernooie gekry. Ek sal nooit met my meisiemens moeilikheid soek in ’n donker stegie nie.”

Oor haar hoofkarakter, Renata, verduidelik Madelein aan Van der Merwe: “Sy het haarself gevorm terwyl ek vir haar ’n biografie geskryf het – iets wat ek vir al my sleutelkarakters doen. Alles het begin by haar moeilike kinderjare wat ek in Monstersaad in detail behandel. Die res was ’n natuurlike uitvloeisel van die psigologiese nagevolge van trauma en donker gene en haar verblyf in die weelde van die Malan-huis. My man sê daar is heelwat van my in haar. Haar hardkoppigheid, byvoorbeeld. Ek sweer natuurlik ek is nie hardkoppig nie, wat my man laat sê: ‘I rest my case.’”

Bloedlyn volg op Monstersaad waarin lesers vir Renata en haar Jack the Ripper-agtige familie ontmoet het, skryf Deon Lamprecht (Beeld, 29 Augustus 2016).

Hy skryf vervolgens: “Vir aanhangers sal Bloedlyn alles bied waarop hulle gewag het. Die pas is vinnig, die karakters geloofwaardig en die storielyn sal jou laat aanhou lees. Lyke op ashope, seksuele spanning tussen karakters, kopspeletjies, forensiese legkaarte en ’n lekker verrassende einde.

“Madelein skryf f*kk*n goed, sou haar karakter Stefan sê. Slick waar dit slick moet wees, rof en onbeskof waar dit so hoort. As jy van hierdie genre hou, lees dit.”

Org Potgieter is ook beïndruk met Madelein se Bloedlyn. Hy skryf op LitNet: “Bloedlyn is, soos sy voorgangers, alles wat ’n mens van ’n misdaadboek kan verwag, maar nog beter: ’n Goeie, geloofbare en oortuigende storie met genoeg wendinge en raaiselagtige gebeure wat jou aan die lees sal hou.

“Die verteller slaag enduit daarin om haar speurders en die lesers op dwaalspore te lei en uiteindelik met ’n baie goeie ontknoping te kom. Daar is ook ’n lang lys verwysingsbronne wat bydra tot die geloofwaardigheid van die inhoud en die baie katoeters wat gebruik word.

Bloedlyn is in baie opsigte ’n voortsetting van Monstersaad. Renata Malan glo en stry self teen die genetiese oorerwing van die misdaadgene nadat haar pa sy eie familielede en tien lede van ’n pedofielkultus vermoor het. In Bloedlyn begin daar 31 jaar ná hierdie moordsiklus weer ’n reeks moorde wat al die tekens dra dat haar pa (wat uit die tronk ontsnap het) weer besig is om aan sy sosiopatiese neigings uiting te gee. 

“Met die hulp van haar twee firmavennote en ’n polisieman begin die soektog na haar pa in alle erns nadat die jongste moorde al die leidrade verskaf dat hy die skuldige moet wees. Of is daar iemand wat op ’n briljante manier besig is om van haar pa die sondebok te maak?

“Renata moet besluit tussen reg en geregtigheid – haar pa is immers reeds ’n moordenaar op vrye voet, maar hy is ook die man met wie sy as jong kind ’n baie liefdevolle verhouding gehad het. En presies hóé skuldig is ’n sosiopaat aan sy vorige moordtog nadat hy drie dekades lank niemand vermoor het nie?

“Hierdie verskeurdheid in haar gemoed vorm die kern van die verhaal. Sy en haar helpers begin alles in hul vermoë doen om haar pa, George Alfred Hill, op te spoor. Maar tussendeur leef die hoop tog in Renata dat daar iemand anders is wat nou vier vroue vermoor en hul liggame in aandrokke op vullishope gelaat het. En tog is die liggings van die ashope almal baie betekenisvol en hou hulle verband met haar en haar pa se verlede. [...]

“Rust slaag daarin om die raaisel enduit te voed en die leser betrokke te hou in afwagting op die slot, wat ook puik geskryf is. Haar karakters en die gebeure is almal geloofwaardig en die dialoog wissel tussen erns en gekskeer. Bloedlyn is geskryf vir die aanhangers van goeie misdaadfiksie en is ’n boek wat hulle ook met die grootste vrymoedigheid aan mense met dieselfde smaak sal aanbeveel.”

In haar volgende roman, Moordhuis (2017), is die hoofkarakter weer Renata Malan en weer span sy met Stefan Coetsee saam om die moord op die sewejarige Gainsford-tweeling en vier lede van die welaf Theron-familie te probeer oplos.

Oor hierdie derde boek van Rust met Renata Malan weer as hoofkarakter, skryf Jonathan Amid (Rapport, 30 Julie 2017) dat Moordhuis om verskeie redes haar sterkste boek tot op daardie datum was – en wel om die volgende redes: “Eerstens is die verhaallyne verwikkeld, intelligent, hoog in raaiselwaarde en uiteindelik sinvol bymekaargebring en opgelos. Tweedens was die skrywer selde so ten volle in beheer van die Afrikaanse taal as instrument van betekenis, maar ook as inkleding van ryke atmosfeer.

Elke sin en beskrywing vloei, met geloofwaardige en egte dialoog en sensitiewe oomblikke van emosie wat deurskemer. Rust skryf met deernis en met soveel geladenheid dat die roman se eerste hoofstuk op sy eie sou kon staan as ’n meesterlike kortverhaal.

“Hier reeds, met die intrapslag, word die leser gekonfronteer met die moordtoneel, maar indrukwekkender is die skrywer se taalbeheersing en bemeestering van perspektief. [...] Waar Monstersaad sterk gesteun het op lang passasies wat getuig van die skrywer se sielkundige agtergrond en navorsing, is Moordhuis gestroop en pakkend. Geen preke hier nie, nog minder info dumps of oordadige inkleur wat die leser se intelligensie geringskat. Rust weet net hoe om met ’n leidraad te werk. Dieselfde geld ’n kort kamee of belangrike newekarakter.

“Deur haar toonaangewende hibriede aanslag van nader te bestudeer [...] word dit duidelik dat lesers graag misdaadfiksie lees wat wyer as die (grootliks) manlike domein van die speurverhaal strek.”

Moordhuis is ’n vars en baie komplekse storielyn wat wye draaie maak,” skryf Org Potgieter op LitNet, “ook in die Bloemfonteinse onderwêreld van dwelms, bordele, molestering en kinderpornografie. Hierdie grawe in die werklikheid dra by tot die storielyn se egtheid, maar sal nie vir baie sensitiewe lesers lekker leesstof wees nie. Rust se karakters is verwikkeld en eg menslik en word met knap dialoog uitgebeeld. En soos wat mens in ’n goeie boek sou verwag, word daar by die leser tog ook ’n mate van insig en simpatie gewek, selfs in en vir die ongure karakters wat later as nog verdagtes aan die beurt kom.

“Dis in die geheel ’n baie komplekse storielyn wat van lesers vra dat hulle moet kophou, veral lesers wat stuk-stuk lees. Dit geld ook die uiteindelike ontknoping (waarin die skrywer self met twee karakters se vanne deurmekaar raak!).

“Is dit ’n beter boek as 13de Kaart en Bloedlyn? Dis iets wat lesers maar self moet besluit.”

Soos Madelein Rust se aanhangers al gewoond geraak het, verskyn daar in die volgende jaar, 2018, weer ’n misdaadroman uit haar pen – Lam ter slagting – en weer is Renata Malan die hoofkarakter.

Volgens die uitgewers se inligtingstuk is Lam ter slagting ’n verhaal van “korrupsie, mensehandel, geldwassery, bisarre seks en ’n buitensporige magsdrang. Dit alles teen die agtergrond van donker bedrywighede, ’n kultus en geheimhouding eie aan die hoogste graad van Vrymesselary. Die lot van gewone lede van die polisie wat gekniehalter word in die uitvoering van hul pligte deur hoëlui kom aan die bod.”

Jonathan Amid is die resensent van Lam ter slagting vir Volksblad van 20 Augustus 2018: “Met Lam ter slagting word die fiktiewe Noagsgemeente geskep om gesprek te voer met die leser rondom verskillende vorms van fundamentalisme, die rol van godsdiens en obsessie, en die rol wat stories in ons samelewing speel. [...]

“Hierdie vierde aflewering in die Renata Malan-reeks, met ’n nommerpas titel, is noemenswaardig om ’n paar redes. Eerstens is dit klinkklare bewys dat die skrywer steeds met gevestigde karakters, en ’n oortuigend gesketste ruimte, haar getroue lesers dadelik te midde van intrigerende aksie en handeling kan plaas.

“Hierdie roman is ’n skalpel wat kundig en klinies tot in die verrotting van ’n herkenbare samelewing sny, dog gerusstellend gemaklik in geregsdienaars en wetsverydelaars se koppe kan klim. Rust se romans gaan behendig te werk om die indrukwekkende navorsing wat met elke boek se skryf gedoen word, só aan te wend dat lesers werklik ’n dieper insig in die psiges van geweldenaars en geregsdienaars kry.

“Voeg daarby die komplekse werks- en liefdesverhouding tussen die hoofkarakter, die profileerder dr Malan, en haar regterhand, Stefan Coetsee, en lesers het ’n beproefde formule wat afnemende opbrengs gemaklik die hoof bied. [...]

Lam ter slagting is hoogs leesbaar: ’n daadwerklike poging skemer deur wat betref humor, afwisseling, en die skep van ’n ligter leeservaring. Rust se woorde wip en byt soos ’n chilli popper.”

Org Potgieter (LitNet) begin sy bespreking van Lam ter slagting só: “Wanneer sê ’n resensent ’n boek is briljant geskryf? Heel aan die begin is miskien die beste plek! Met Lam ter slagting – haar vyfde misdaadfiksie – het Rust haar eie grense verskuif.

“Ses meisies word in ses maande ontvoer, gemartel, geskend en vermoor, maar die polisie doen niks. Toe raak die baie ryk en bekwame span van Malan en Coetsee Privaatondersoeke, met hul passie teen misdaad, sonder enige leidrade betrokke. [...]

“Teen so ’n mengsel en oormag het Renata Malan en Stefan Coetsee en hul kuberkrakers hul hande vol. Vir ’n lang ruk is Migal Vermeulen die enigste leidraad met sy akkurate herskepping van een vermoorde uit klei.

“Rust skryf in korterige hoofstukke waarin gebeure mekaar vinnig opvolg. So kom verdagtes na vore, net om weer onskuldig bewys te word, selfdood te pleeg of vermoor te word. Tussendeur is daar ook karakters wat hulself met uiters gewaagde bekentenisse uit die misdaadnes wil wikkel. Die skrywer doen ook baie moeite met haar navorsing. So gee sy aan die leser dieper insig in talle faktore – dit word nie net bolangs genoem nie. Lesers kry ook insigte in die psiges van misdadigers. [...]

“Dit lyk of sommige uitgewers van misdaadfiksie ook vrede gemaak het met die dikwels rowwe dialoog van karakters. Dit kan baie fyngevoelige lesers dalk ontstel, maar is natuurlik, ongesensor en onaangeplak. Dit lyk of daar ’n onversadigde honger ontstaan het vir ontspannende en terselfdertyd spannende en oortuigende misdaadverhale. In hierdie genre het Madelein Rust haarself al telkens bewys.”

Met haar volgende spanningsverhaal, Doodsengel (2019), het Madelein vir eers vir Renata en Stefan opsy geskuif en maak die leser kennis met Magdalena Bakkes. Oor die besluit om Renata en Stefan eers bietjie opsy te skuif, het Madelein aan Jonathan Amid (LitNet) vertel: “Die saadjie vir Doodsengel is reeds tydens die skryf van Lam ter slagting in my kop aangemeld. Cecilia Britz, my uitgewer by Lapa, het eendag terloops genoem dat sy, voor sy eendag finaal aftree, ’n boek wil ‘maak’ waarin die hoofkarakter ’n vroulike moordenaar is. Die idee was vir my vreeslik lekker. Ek moet erken dat dit vir my gevoel het dis tyd om die span van Malan en Coetsee met vakansie te laat weggaan, dat ek wou wegbreek uit hul bande en vir Madelein as skrywer ’n bietjie beter wou leer ken. Volgende jaar is hulle egter terug. Die lesers skree vir ’n einde waarin die twee hoofkarakters uiteindelik by mekaar uitkom.”

As sy die verhaal sou opsom, hoe sou sy dit doen, wou Amid weet: “Doodsengel is die verhaal van ’n vrou wat herrys uit die as van haar kinderjare om dié wat seer het, te probeer heelmaak en dié wat seermaak te keer. Dit is die reis deur ’n paar weke in haar lewe waarin sy alles verloor en haarself vind. Ek het die eerste hoofstuk van die manuskrip met groot verbasing deurgelees op daardie eerste dag van werk-aan-Boek-Sewe-van-2019, byna asof ek dit nie self geskryf het nie. Dit was vir my, ’n ietwat konserwatiewe Vrystaatse boorling, grafies en skokkend. Ek het dit vir my man voorgelees en hoewel sy oë gerek het, het hy gemeen ek moet nie daaraan verander nie. So ook my ma en my dogter. Ek het toe maar besluit om aan Madelein vrye teuels te gee. Die temas wat in die boek aangeraak word, is immers lelik. Om dit te ‘sugarcoat’ sou oneerlik wees – en byna beledigend teenoor dié wat al deurgeloop het onder seksuele mishandeling, agtervolging, aanranding en dies meer. Dit is juis daardie grafiese komponent wat my die senuweeagtigste maak. Mens wil jou lesers nie vervreem nie. Ek is egter opgewonde oor die ongelooflike terugvoer wat ek tot dusver gekry het. Sommige vroue ervaar Magdalena as ’n vergeldende volksheldin wat veg vir dié wat geen stem het nie. Haar verwoestende kinderjare maak van haar iemand wat vertrou kan word; sy weet hoe die hel voel en daarom is sy die aangewese persoon om die swaard van vergelding te swaai.”

Oor haar belangstelling in trauma en geestelike en emosionele pyn, vertel Madelein aan Amid: “Vandat ek kan onthou, kon ek mense se leed intens aanvoel. Dit is ontsaglik steurend en uitmergelend. Dalk is dit waarom ek gekies het om eers in die regte te gaan studeer en daarna sielkunde. B Iuris was ’n idealistiese drang om onreg te ‘fieks’ en boewe aan die pen te laat ry; sielkunde was ’n begeerte om te verstaan wat met mense gebeur wat trauma beleef. Ek skat daar is ’n sterk komponent van bewusmaking in veral Doodsengel, amper asof ek mense moet herinner aan die boosdoeners in ons midde en dit wat oorbly van hul slagoffers. Ek vra myself gereeld die vraag: Fokus ons te veel op dié wat die misdade pleeg? Vergeet ons te maklik van dié wat ly?”

In Doodsengel pleeg Magdalena haar derde moord en sy verkies om te vlug – weg van die molestering en geweld van haar kinderjare. “Niemand, behalwe die onbekende vrou wat haar help wegkom, weet van die verkragting nie en niemand sal weet dat Magdalena haar aanvaller se lewe geneem het nie” – aldus die uitgewers se inligtingstuk.

Oor Doodsengel skryf Org Potgieter op LitNet: “Rust skep egter weer ’n vigilante-verhouding wanneer Magdalena die aanbod aanvaar dat haar derde moord onder die tapyt gevee sal word as sy help om van ander skuldiges wat vry rondloop, ontslae te raak. Haar derde moord? En dis nie die laaste een nie!

“Hierdie verbintenis word meesterlik uitgebeeld en lei ook tot ’n liefdesverhouding. Magdalena word spoedig gedwing om haarself met groot moeite en deursettingsvermoë toe te rus vir die nuwe uitdagings wat op haar pad kom. Sy kry opleiding in Oosterse gevegskuns en word ’n baie goeie pistoolskut – vaardighede wat haar uitstekend te pas kom en wat sy met groot vrug aanwend.

“Magdalena vind ook tyd om Sondagskoollesse vir seuntjies in ’n kinderhuis aan te bied. Dit is dan ook juis die manier waarop sy ontdek wat hier onder die dekmantel van sorg gebeur – kinders wat ‘aangeneem’ word en kinders wat maar te bly is as hulle vakansietye na huise uitgeplaas word.

“Een van die groot pluspunte in Doodsengel is dat die grense van geloofwaardigheid nooit oorgesteek word nie. Daar ís kinderhuise waar kinders vir pedofilie aangewend word en waaruit hulle ook permanent verdwyn, terwyl die pedofiele skotvry kom. Daar is ook ryk en gesiene sakemanne – van die soort wat prominente skenkings aan instansies maak, gereeld in die nuus is en hand om die blaas met vooraanstaandes verkeer – wat sulke klubs bedryf.

“Oosterse gevegskuns is ’n uiters nuttige wapen, veral in die hande van ’n vrou wat ’n meester is. En ja, vroue kán geleer word om baie goeie skuts te wees!

“Dit alles word deel van die riller wanneer Magdalena op die skurke toeslaan en geregtigheid laat geskied. Sy moet ook nog omsien na haar ma, wat blind in ’n tehuis sit waar sy mishandel word. Of verkeer sy net in ’n greep van demensie waarin sy haar allerlei dinge verbeel? Hoe ver kan Magdalena haar ma se psigiater vertrou?

“Daar is – soos te verwagte – ook baie grafiese beskrywings, maar hulle word op ’n diskrete manier aangebied – dit ril, maar dit walg nie; iets waaraan misdaadskrywers hulle soms skuldig maak omdat hulle kortpad vat en nie oor die vaardigheid beskik nie. [...]

“Rust skep goeie karakters, soos die enigmatiese Wollie Wolmarans – ’n skurk met ’n gewete en ’n sagte kant wat gereeld tot die hoofkarakter se hulp kom. ’n Ware 3D karakter! Wollie span ’n kuberkraker – ‘die beste in Afrika’ – in om Magdalena te help, en Blue is nou éérs ’n vreemde meisie en ’n kluisenaar wat weier om haar woonplek se buitekant te betree.

 Doodsengel is ’n riller wat op vertaling wag, nie net vir die Lae Lande nie, maar ook vir die Britse en Amerikaanse en dalk Skandinawiese mark. Hulle het min wat beter is. En ander Afrikaanse misdaadskrywers sal hulle sokkies moet optrek as hulle met Madelein Rust wil kompeteer.”

Met haar volgende spanningsroman, My naam is Legio, doen Madelein haar woord gestand toe sy vir Renata en Stefan terugbring om ’n moordenaar wat sy slagoffers martel deur middel van metodes wat in die verlede gebruik is. Die moordenaar fokus ook meer op die marteling as hul dood.

Op Goodreads skryf Anschen Conradie só oor My naam is Legio: “Die eerste slagoffer is gemartel en vir varke gevoer. Dis ’n ontstellende toneel, beslis een van die ergstes wat Renata en Stefan nog ooit bygewoon het. Toe die tweede en verdere slagoffers kort daarna ontdek word, word ’n paar grieselrige ooreenkomste ontdek; genoegsaam om hulle te laat besef dat hulle met ’n moeilik definieerbare reeksmoordenaar te doen het; iemand met ’n oënskynlike makabere belangstelling in Middeleeuse martelmetodes en demoonuitdrywing.

“Asof dit nie problematies genoeg is nie, is die eertydse goeie werksverhouding tussen Renata en Stefan besig om te verbrokkel; hoofsaaklik omdat Renate vrees dat sy die sogenaamde moord-geen by haar pa geërf het.

“Lesers bekend met Madelein Rust se boeke sal weet dat hierdie nie die eerste in die Renata Malan-reeks is nie en ek dink hulle sal die verdere verwikkelinge in haar lewe baie geniet. Lesers wat nog nie met haar kennisgemaak het nie hoef egter nie te vrees nie: die boek kan wel suksesvol alleenstaande gelees word.

“Ek het al die voorgangers gelees, maar ek dink hierdie is my gunsteling. Nie alleen is die slinksheid van die moordenaar baie boeiend nie; ek hou ook baie meer van die kant van Stefan wat hier na vore kom. In die vorige boeke was dit vir my moeilik om hom en Renate romanties te verbind; hy was meer soos ’n ouer broer wat haar ‘Kleinmuis’ noem.

“In Legio word hy ’n baie meer volledige karakter: hy is nie meer bloot die sterk aksie-held nie; hy word ’n mens van vlees en bloed wat die swak plekke in sy mondering openbaar, foute maak en boonop ’n sardoniese sin vir humor met die leser begin deel. Ek het sy karakter baie geniet. My naam is Legio speel in minder as 2 weke af; die tempo is vinnig; die dialoog pittig; die hoofkarakters geloofwaardig en die ontknoping geleidelik en verrassend.”

Jonathan Amid begin sy resensie (Netwerk24, 25 Julie 2020) van My naam is Legio deur ’n kort opsomming van die reeks van vyf titels te gee: “Hoewel haar oormaat navorsing nie altyd genoegsaam geïntegreer is nie, het die reeks herhaaldelik bevestig hoe behendig sy die spanningsverhaal benader: hoof- en newekarakters wat voortdurend interesseer en groei; besinnings oor die dood en fisieke en psigiese geweld (veral teenoor vroue) wat meestal sensasie vermy; en die sentrale nature versus nurture-vraagstuk in die beliggaming van boosheid en psigopatologie wat vernuftig gekoppel is aan die hoofkarakter, Renata Malan, se eie lewensverhaal en gewetenswroegings.

“Getroue lesers weet teen dié tyd dat Rust nie skroom om staatsinstellings en die kerk in die soeklig te plaas nie en dat ’n gelukkige einde allermins gewaarborg is. Haar mees onlangse roman, die uitstekend losstaande Doodsengel (2019), het haar aanpasbaarheid onderstreep.

 My naam is Legio behoort op twee vlakke beoordeel te word. Die eerste behels die ondersoek na ’n reeks moorde waar dit meer gaan oor die marteling en demoonuitdrywing van slagoffers as hul dood. Lesers kan hul maar staal vir etlike grieselrige tonele wat selfs hardebaarde koue rillings sal gee. [...]

“Wat Rust baie goed regkry met dié reeks – ook met My naam is Legio – is om ’n leesbare maklik verteerbare dog ook gewigtige blik te kaats op die soort vraagstukke wat alte dikwels in ‘ware misdaad’-dokumentêre en -reekse ondersoek word. Sy skryf doelbewus nie ’n verhaal met speurders wat in burokratiese rompslomp vasgevang word nie. Sy stel duidelik belang in die oorsprong van boosheid en misdadigheid as ’n streng fokus op die uitwerking daarvan op kort en lang termyn.

 My naam is Legio is deurgaans boeiend soos dit vergelykings tref tussen die Middeleeuse tegnieke om demone uit te dryf en die hedendaagse maniere waarop die samelewing probeer om tussen die goeie en die bose te onderskei en grense so stewig moontlik te hou. [...]

“Waar lesers moontlik in hul reaksie sal verskil, is die hantering van drie vraagstukke: Waar is George Alfred Hill, moordenaar, voortvlugtige en pa van Renata Malan? Kan sy ooit die vader se genetiese invloed op haar finaal afskud? En hoe gemaak met Stefan Coetsee en haar liefde vir hom, gegewe dat hul stormagtige werksverhouding ’n romantiese vooruitsig en gelukkige einde kan belemmer?

“Ek gaan niks meer verklap nie as om te sê dat ek heel in my skik was met die afloop van sake vir Stefan en Renata op persoonlike vlak. Ek was wel grootliks ontevrede met die oninspirerende dele in die roman wat betref Hill, en die finale wending wat, hoewel aangrypend op emosionele vlak, heeltemal te min verklap oor sekere praktiese detail, wat die hoogdrama van die finale konfrontasie met die bose ietwat verdun en vervlak.”

Madelein se volgende boek, 25 trappe na benede, verskyn in 2021 by LAPA.

In ’n onderhoud op LitNet stel Izak de Vries dit aan haar dat die speurder in 25 trappe na benede basies ’n bysaak is. “Die amper terloopse ondersoeker, Renée, is die mens wat in die trappe van ander se bewussyn gaan rondkrap. Dis ’n interessante afwyking van jou normale boeke. Vertel asseblief hoe dit gebeur het?”

Madelein: “Ek het gevoel dit is tyd om die grense ’n bietjie te verskuif en te kyk of my lesers daarvan hou. Die media is deesdae propvol stories oor gesinsgeweld en dit het my laat besluit om domestic noir aan te durf. Dit is interessant dat hierdie subgenre van die krimi deesdae al hoe meer gewild word – juis in die tyd waarin fisieke en emosionele geweld en selfs moord binne die gesin ’n byna alledaagse verskynsel geword het. ’n Magdom lesers het my al gekontak om te sê 25 trappe is my beste werk, so ek is baie bly dat die eksperiment my lesers tevrede gehou het.”

Izak: “Van groter belang is dat die ‘ondersoeker’ moet afdaal in haar eie onbewuste. Is ek reg dat die trappe ook metafories bedoel word?”

Madelein: “Jy is in die kol, Izak. Die hoofkarakter se binnewêreld is ’n moeras van herinneringe wat deur die jare fyn gemanipuleer is en soos sy deur dié vals herinneringe worstel om by die waarheid uit te kom, klim sy psigies af na die plek daar ver onder waar die boosheid skuil.”

Izak: “Renée is nie ’n sielkundige nie, maar haar alter ego lees mense baie fyn ... Wil jy ’n sluier lig (opsetlike woordkeuse!)?”

Madelein: “Om haar karige trustfondsinkomste aan te vul gee Renée voor om ’n waarsêer te wees. Sonder dat sy bewus is daarvan, span sy in wat sy desnoods deur die jare moes aanleer om haar emosionele en fisieke welstand te verseker – ’n vermoë om mense se liggaamstaal sowel as mikro- en makrogesigsuitdrukkings te interpreteer. Mense wat vir lank aan fisieke en emosionele geweld onderwerp word, word dikwels meesters van interpretasie.”

Izak: “Renée spreek ’n sielkundige en dan later nog ’n sielkundige om dieper te gaan in haar eie reis met haarself. Jou akademiese agtergrond sluit ook sielkunde in. Is dit pret om eie kennis so in die fiksie te vervleg?”

Madelein: “Dit is vir my heerlik om dit te kan doen, ja. Die sielkunde as vakgebied verander egter deurentyd soos wat nuwe teorieë oor die psige ontstaan. Ek doen ontsaglik baie navorsing terwyl ek aan ’n boek werk. Vir 25 trappe het ek byvoorbeeld na geweldig baie hofsake oor kindermishandeling op die internet gekyk – daar waar die verskynsel op sy brutaalste ten toon gestel word.”

Schalk Schoombie is die resensent op Netwerk24 (11 Oktober 2021) en hy begin só: “Die donker lok onkeerbaar in Madelein Rust se sielkundige riller 25 trappe na benede. Die hoofkarakter, Renée Roux, is ’n vrou met selfbeeldprobleme wat spruit uit ’n kindertyd van verwaarlosing. Sy kan die bokswyn nie weerstaan nie en haar drogdrome van haar kleinboet se afgryslike dood dreig om haar in die kuil te sleep. [...]

“Bedags doen sy haarself voor as Lisbé, ’n waarsêer – kompleet met dramatiese grimering en ’n swart kat, Lucifer – wat liggelowige, welgestelde kliënte skaamteloos uitbuit met voorspellings wat sy grond op inligting wat sy uit haar slagoffers se plasings op sosiale media opdiep.

“Haar alter ego, Lisbé, se siniese gedagtes verleen ’n skeut galgehumor aan haar indrukke van haar besoekers – een van die genotvolle aspekte van ’n andersins swaarwigtige en by tye terneerdrukkende roman. [...]

“Toe een van haar kliënte wat bang was haar man wil van haar ontslae raak, wel vermoor word, begin Renée soek na antwoorde oor die oorsprong van haar nagmerries. Twee misdaadintriges ontvou gelyktydig en die skrywer laat die spanning opbou in die oploop na die konfrontasie met ’n wrede moordenaar. [...]

“Geweld teen vroue en kinders kom sterk onder die loep, in verskriklike besonderhede, namate Renée haar kindertydtrauma herleef. Die skryfstyl is vlot, vlymskerp en sonder fieterjasies, en die meeste karakters oortuig. Daar word diep gedelf in wanfunksionele gesinsverhoudings, wat mettertyd die aanvanklike misdaad op die ryk kliënt oorskadu.”

Met haar volgende roman het Madelein na ’n heeltemal nuwe genre beweeg – vir haar. Moederland, soos sy hierdie boek genoem het, is ’n toekomsverhaal wat in 2070 gesetel is ná die wêreld ’n Derde Wêreldoorlog beleef het.

Sy het aan Phyllis Green (Sarie, 4 November 2022) vertel dat toe sy begin skryf het aan Moederland, sy nie geweet het hoe lank sy nog het om te leef nie: “En ek wou nog altyd ten minste een toekomsfiksieboek, een romantiese komedie en een fantasieverhaal skryf. Dit het vir my gevoel asof die kanker my so half in die rigting van toekomsfiksie por.”

Oor Moederland wou Green weet hoe haar navorsing gelyk het en of daar iets was wat haar verras of geskok het: “Ek moes navorsing doen oor die ruimte waarin ons sal leef in die jaar 2070, die stand van die demokrasie, dit wat die mense sal eet en aantrek, wapentuig en ammunisie, bevolkingsgroei, klimaatsverandering en robotika. Al wat my werklik geskok het, was hoe na ons is aan ’n verwoeste planeet as ons nie baie vinnig ’n haas uit ’n hoed pluk nie.”

Green wou ook weet hoe Moederland begin het – met die openingsin of die titel. Madelein het aan haar vertel dat sy gewoonlik al ’n ent weg is met ’n boek voordat die titel hom by haar kom aanmeld: “Dit begin altyd met daardie eerste sin. Dié skryf ek oor en oor tot kort voor ek die manuskrip instuur. En soms selfs daarná. Die eerste sin is ongelooflik belangrik, want dit is wat die voornemende leser in die boekwinkel sal lees. Dit moet dadelik vrae laat ontstaan, die leser uitlok om verder te lees.”

Op LitNet skryf Stefaans Coetzee as volg oor Moederland: “In 2070 staan Bloemfontein as Xín Xiánggăng bekend. Die Derde Wêreldoorlog en twee burgeroorloë het Suid-Afrika se stede in puin gedompel. Daar is ’n tekort aan kos, water en blyplek. Chinese en Russiese kaders, asook die elite floreer in slimstede terwyl gewone mense op die platteland stoei om aan die lewe te bly. Boonop word hul veiligheid deur bendes bedreig. Die volkslied en godsdiens is uit skole verban en tuisonderrig is wet omdat skole teelgrond vir opstande is.

“Die Wet op Onwettige Geboortes en Swangerskappe is op 12 Maart 2063 gepromulgeer. Moederskap is dan ook die kern van die spanningsroman, en kenmerkend aan die skrywer delf sy diep in trauma – fisiek, geestelik en emosioneel. As ’n aktiewe pa (wat self ’n kind buite die eg verwek het) voel ek die hoofkarakter se pyn tasbaar in so ’n mate dat ek die boek moes neersit en my slapende seun stywer teen my moes vastrek voor ek verder kon lees.

“In Moederland ontmoet ons die 27-jarige heldin, Jenesis Baron. Sy is die enigste dogter van die miljardêr Jericho. Soos baie fiktiewe heldfigure – James Bond, Jason Bourne en Jack Bauer – dra sy die JB-voorletters waardig. Haar naam beteken in Grieks ‘Geboorte’ en ‘Begin’. Sy skenk geboorte aan ’n tweeling wat voor haar oë in opdrag van generaal Ben Wagner, seun van die Minister van die Gewapende Magte, aan ’n Medi-Bot – wat haar pa vir die regering ontwerp het – oorhandig word om te elimineer.

“In ’n poging om Adam Bormann, ’n professor van politieke wetenskap, mee te deel dat haar seuns vermoor is, loop Jenesis in ’n skermutseling vas waar die Gewapende Magte studente in hul rûe doodskiet. Sy tel ’n vuurwapen op en skiet ’n kader koelbloedig dood. Hierdie heldedaad red baie lewens en lei daartoe dat sy na die 13de-eeuse Franse heldin Joan of Arc herdoop word. As ’n vyand van die staat vlug sy saam met die rebelle na die stormwaterstelsel van die ou stad.

“Dit is nie verbasend dat Adam die nie-amptelike leier James Jackson is nie. En soos dit ’n goeie roman betaam, is daar ’n doring in die vlees – die blonde poppie Isabelle Johnson. Asook ’n romantikus, Henry Idris.

“Om lesers vanuit die veiligheid van hul huise in ’n oorlog/oorlewingsatmosfeer te dompel, span die skrywer natuurrampe metafories in om die leser gedurig aan die moeilike lewensomstandighede gedurende 2070 te herinner. Ons lees ook gereeld van mikroskyfies, gevegsrobotte, hommeltuie en ander futuristiese tegnologie.

“Ek gaan nie in hierdie resensie uitwei oor die sielkundige rypheid van die karakters of die vlymskerp spanningslyn nie, want enige leser wat al ’n Madelein Rust-boek gelees het, weet alte goed dat die skrywer die kuns vervolmaak het om naelbyt-spanningsromans neer te pen. Hierdie een is geen uitsondering nie.”

Madelein Rust het teenoor Phyllis Green uitgebrei oor die aspekte van wraak en magsmisbruik wat deur ’n persoonlike agenda gedryf word en veral die tweestryd tussen Fanus Wagner en Jericho Baron in Moederland: “Wanneer ek skryf, maak ek seker dat my lesers iets het om aan vas te knoop uit hul eie ervaring. En deesdae, in ons land, is daar vele voorbeelde van magsvergrype waarmee die lesers sal kan identifiseer.

“Die wraakaspek skep ’n heerlike ruimte vir ekstra spanning in die verhaal. Ek glo die lesers gaan die Wagners net so walglik vind soos ek hulle beleef het tydens die skryf van die boek.”

Elzette Steenkamp het in Tydskrif vir Letterkunde van 2022 haar bespreking van Moederland só afgesluit: “Moederland kan as ’n eko-distopie of klimaatsfiksie (ook bekend as ‘cli-fi’) beskryf word. Die Suid-Afrika van 2070 is ’n onherbergsame woestynland, die natuurlike omgewing onherroeplik verwoes deur die aardgas-emissies van WOIII se oorlogsmasjiene.

“Nou verweef met die ekologiese tema is dié van moederskap, wat ook in die titel van die roman weerspieël word. Dit is moederskap, hoe vlugtig óók al, wat Jenesis tot die besef dwing dat alles nie pluis is met die regering wat sy eers so sterk ondersteun het nie.

“In teenstelling met Ben Wagner en die regime se verwoestende onderdrukking van die land en sy mense, word die beskermsdrang en krag van die moeder gekoppel aan die hoop op die herstel van ’n vrugbare landskap en demokrasie. Jenesis, die moederfiguur, die Joan d’Arc van die rewolusie, sal (soos haar naam aandui) ’n nuwe begin vir haar mense oopveg.

“Ten slotte is Madelein Rust se Moederland ’n uitstekende bydrae tot die groeiende genre van Afrikaanse spekulatiewe fiksie. Die roman worstel met groot kwessies, maar lesers wat bekend is met Rust se spanningsverhale kan gerus wees dat Moederland oorgenoeg van haar kenmerkende humor, aksie belaaide storielyne en intrige bevat.”

En weer ’n jaar later, in 2023, het Madelein se volgende spanningsverhaal by Human & Rousseau verskyn, onder die titel Siembamba. Sy het aan Phyllis Green van Sarie (12 Oktober 2023) vertel dat toe sy Moederland begin skryf het, moes sy dink aan die moord op kinders en die verskillende vorme wat dit aanneem: “Dit is waar die idee vir die boek aanvanklik ontstaan het.

“En soos dit maar altyd met my werk, het die karakters hulle so een-een in my gedagtes aangemeld en hulself gedurende die loop van die verhaal ontwikkel.”

Die storie van Siembamba word uit die oogpunt van Mindie Rochebandt, die hoofkarakter, vertel. Sy is een van ’n identiese tweeling, maar is ietwat vervreemd van haar gesin as gevolg van haar advokaatman en sy arrogante houding teenoor haar familie wat aan die verkeerde kant van die spoor woon.

Green het verder geskryf: “Mindie is swanger met hul eerste kind, die manlike erfgenaam van die Rochebandt-fortuin. Tydens die ooievaarstee is daar ’n insident wat Mindie finaal motiveer om al haar planne mooi in plek te sit om Marius te verlaat. [...]

“Die tempo van die verhaal versnel wanneer haar ma, Eona, bel om te sê haar swanger suster, Madelein, antwoord nie haar foon nie. Mindie gaan stel ondersoek in en kom op Madelein se grusame moordtoneel af. Die moordondersoek trek Mindie nader aan haar gesin. [...]

“Die storielyn van die moordondersoek word vernuftig afgewissel met die eskalerende gebeure in Mindie se huwelik. Die ontknoping is ’n verrassing, want daar is niks voorspelbaar in wie die moordenaar is nie. Madelein beeld die verskille in die sosio-ekonomiese agtergrond van die verskillende karakters geloofwaardig uit.”

Madelein het aan Alita Steenkamp (op afrikaans.com) vertel dat Mindie Rochebandt ’n karakter is wat sommer net op die voorgrond getree het. “Ek het aanvanklik nie gedink ek gaan ’n boek skryf waarin die hoofkarakter ’n hoogswanger vrou is nie. Ek hou daarvan om boeke te skryf waarin die hoofkarakters vreeslike sexy, maar sterk vrouens is. Toe dink ek by myself: Weet jy wat, swangerskap is nie ’n siekte nie. Dis nie ’n toestand nie. Jy kan nog net so sterk en sexy wees, al is jy swanger. Ek het gevoel dit gaan daai bietjie deernis by die leser wakker maak wat dit ook by my wakker gemaak het toe ek die karakter beskryf het. Mindie was eintlik nog ’n bietjie sterker as in die boek, maar die uitgewer het gesê: ‘Madelein, kom ons tone dit ’n bietjie down.’

“Ek het egter gedink aan die tyd toe ek hoogswanger was met my eerste kind. My gewese man het radiobeheerde renmotortjies gery en ek was die werktuigkundige wat in die kuipe gewerk het. Soms het die renmotors se seine gekruis en dan jaag dit sommer net die veld in. Ek onthou hoe het ek met my swanger boep rondgehardloop en deur drade gekruip het agter wegholkarretjies aan. Dit het vir my gevoel as ek so sterk en ’n willewragtig kon wees terwyl ek hoogswanger was, dan kan ’n ander vrou dit ook sowaar doen.”

Op LitNet gee Irma Steffens haar lesersindruk van Siembamba: “Madelein Rust slaag weer eens daarin om eg menslike karakters te skep waarmee die leser kan identifiseer. Sommige wek simpatie, ander haat jy met ’n passie en kan nie wag dat hulle hul moses teëkom nie. Die leser raak deel van die verhaal se intriges en word so ingetrek en meegesleur dat dit onmoontlik is om die boek neer te sit voordat jy die laaste keer omgeblaai het.

“Die skrywer plant subtiele leidrade waarna die leser baie fyn moet oplet. Party is wel daar om die leser op ’n dwaalspoor te lei. Alhoewel ek later ’n vermoede gehad het wat aan’t broei is, was die wending aan die einde van die verhaal steeds ’n ‘wat de hel’-oomblik en kon ek die boek met ’n sug van tevredenheid neersit met die wete ‘eind goed, als goed’.

“Enige Madelein Rust-liefhebber sal die boek verslind en krimi-lesers wat nog nie haar boeke onder oë gehad het nie, sal beslis die een geniet en ek glo daarna die winkels invaar op soek na nog leesstof uit die gewilde skrywer se pen.”

Met die publikasie van Madelein se Bessie se hangkasbiblioteek in 2024 verras sy weer eens haar leserspubliek en wys sy dat daar veel meer in haar steek as om net gewilde krimi’s of outobiografiese boeke oor kanker te skryf. Oor hierdie nuwe rigting wat sy ingeslaan het, het Madelein aan Elna van der Merwe van Huisgenoot (12 Julie 2024) verduidelik: “Dit pas nie perfek in enige genre nie, so noem dit maar ’n lekkerleesboek of ‘gentle read’. Ek hou baie van uitdagings, en dit was vir my ’n uitdaging om te sien of ek ’n lekkerleesboek onder die knie kan kry, nes ek destyds met Moederland die distopiese toekomsfiksie-genre wou aandurf.”

Van der Merwe het aan Madelein genoem dat daar ruimte is vir ’n opvolg, want wat gaan word van die begaafde, klavierspelende, vloekende seuntjie, die ryk Bothas, die vertrapte, klaarblyklik rondslapende mevrou De Villiers en die romantiese Rudolph.

Hierop het Madelein só gereageer: “Myns insiens sit daar ’n opvolg in elke boek wat oor mense en hulle dinge handel. Vir my sal dit lekker wees om weer oor die karakters te skryf, want hulle het familie van my geword. Ek het ’n sagte plekkie vir elkeen van hulle in my hart.”

Haar ouma Bessie het in die 1970’s op ’n kleinhoewe buite Bloemfontein gebly en sy span hierdie jeugherinneringe in om die storie van Bessie Botha wat saam met haar broer, Willem, ’n vrygesel, op ’n kleinhoewe boer.

Trisa Hugo skryf in Rapport (28 Julie 2024) dat die moeilike jaar vir Bessie nog moeiliker word toe haar oorlede man, Stefaans, se welgestelde broer, Ronald, daar opdaag sonder dat hul weet vir hoe lank: “Die eerste paar hoofstukke lees amper soos kortverhale wat inmekaarskakel, maar as die poppe onder marionetmeester Rust se hande begin dans, jeuk die leser se vingers om uit te vind wat verder gebeur in die lewens van ’n paar disfunksionele families. [...]

“Die karakters is uniek en kleurvol, elk met sy eie skadukolle wat danksy opvattings op die platteland, en streng vooroordele, volledig mens is. Die trant is lig en wissel gemaklik tussen humoristiese voorvalle met mens en dier en ernstige kwessies soos gesinsgeweld, nageboortedepressie, uiterste armoede, tragedie, skuldgevoelens en siekte. [...]

“Die verhaallyn is soepel en glad inmekaargevleg, die koeksister nooit stroperig nie, maar weldadig en bevredigend. Die hand wat misdaadfiksie so suksesvol kon skep, het al haar ervaring ingespan om ’n roman te skep wat jou laat lag, kwaad word vir koppige karakters, laat huil en met deernis toekyk op ontluikende vroulikheid. Tog het dit steeds al die kenmerke van Rust se vorige skryfwerk – die multidimensionele karakters is verwikkeld, menslik en oortuigend. Die spanningslyne laat jou net gou nóg ’n hoofstuk lees. Moenie gebluf word deur die ligte aanslag nie – die temas sny diep en laat jou met ’n bloederige hart.”

In 2025 verskyn Madelein se laaste boek, Drie moorde in die baai. Bianca Fabricious, ’n skrywer van hygromans en eienaar van ’n gastehuis op St Helenabaai aan die Weskus, het nouliks op die dorp aangekom toe sy haar midde-in ’n moordtoneel bevind. Sy is die persoon wat een oggend op ’n dooie liggaam op die strand afgekom het. Die slagoffer is ’n blonde vrou met wie Bianca ’n argument gehad het oor dié se kaalbas-sonbaaiery voor haar gaste in die gastehuis.

Die gawe adjudant Meintjies glo haar wanneer sy sê dat sy net die lyk ontdek het en nie haar vermoor het nie, maar kaptein De Wee is nie so oortuig van haar onskuld nie. Sy probeer haar bes om haar onskuld te bewys, maar as gevolg daarvan bevind sy haar in ’n reeks situasies wat sy nie kon voorsien het nie.

Stefan Schutte skryf op Netwerk24 (4 Augustus 2025): “Die skrywer het op ’n besonderse wyse die plaaslike omgewing in die storie verweef. Plekname en selfs die spoedgrens binne die Shelley Point-landgoed is in die kol. Die name van omliggende woonbuurte, regte restaurante, hul dekor en soms selfs spyskaarte sal vir menige Weskusser of selfs toeris onmiddellik herkenbaar wees.

“Die beeldspraak is deurgaans effektief en treffend. [...] Die spanningslyn hou die leser aan die raai en word tot en met die ontknoping van die verhaal gebalanseer met skerpsinnige humor wat hoofsaaklik in die hoofkarakter se gedagtes ronddwaal. Drie moorde in die Baai is ’n heerlike spanningsverhaal deur een van ons land se voorste skrywers.”

Zelda Mans gee haar lesersindruk op LitNet van Drie moorde in die baai: “Karakters wat in jou hart inkruip, ’n gemaklike vertelstyl en spanning wat jou deur die bladsye laat vlieg, is die wenresep vir Madelein Rust se laaste roman, Drie moorde in die baai, wat onlangs verskyn het.

“Ek was presies halfpad deur die boek toe die nuus van haar heengaan breek. Ongetwyfeld het ek verder gelees met elke woord wat tot ’n mate heiliger gevoel het. Ek het ook met nuwe oë na die heldin, Bianca Fabricious, gekyk.

“Die storielyn hou by die eenvoudige resep van ’n klein kusdorpie, veelkleurige karakters en drie moorde. Die verdagtes spring uit om elke hoek en draai, en die leser is daar om elke oomblik mee te maak. Ek het redelik gemaklik deur die eerste 100 bladsye gekom, want ek het geweet die skrywer sal nie teleurstel nie, en sy het nie. Die soetigheid van die skielike aksie het die verhaal kort daarna laat stoomroller.

“Die bruismeel in die verhaal is die feit dat jy wéét daar word drie moorde gepleeg – aldus die titel. Jy bly in jou agterkop wonder: Who’s next?

“Ja, dit is ’n whodunnit, maar hierdie keer met ’n chick lit flair. Kyk maar na die voorblad en Bianca Fabricious se taalgebruik en van – wat ek in my gedagtes na Fabulicious toe verander het. [...]

“Elke hoofstuk is ook in maklik verteerbare porsies opgedeel wat in ’n goeie ritme gelees kan word. Haar woordgebruik is soos speserye wat keurig gekies is. My gunsteling is wanneer sy van ‘regstellende werk’ op bladsy 169 praat. Die benamings van Hilux, die kat, en Kaptein Ken maak die buitelyne van die karakters duideliker.

“Die slothoofstuk som alles in ’n neutedop op. Ek sou egter die proeseltjies langer wou uitrek, net soos my gunstelingnagereg wat nie moet opraak nie. Ek beveel Drie moorde in die baai beslis aan; nie net omdat dit die skrywer se laaste roman is nie, maar omdat sy dit regkry om lesers vir ’n wyle na ’n ander wêreld te neem.”

In 2015 het Madelein haar lewe só teenoor Rooi Rose opgesom: “In Julie 2015 het ek ’n lysie in my kop gemaak van al die dinge wat Madelein Rust omskryf. Ma, eggenoot, middeljarige vrou, suster, vriendin, tannie, kollega, bedryfspesialis, kind, skrywer. En deesdae kankerpasiënt.

“As ek nou ’n plakker op myself kan sit om in een woord aan te dui wie ek is, sal dit regtig voldoende wees om te sê Mens. Want daar is niks spesiaals aan enige van die ervarings op my lewenspad nie. Tot onlangs toe. En nou praat ek nie van die feit dat ek gediagnoseer is met borskanker nie. [...]

“Grootgeword in Bloemfontein, hartjie van die Vrystaat, daar my man ontmoet, daar my kinders uitgebroei (soos Tanya en Nico dit noem), daar geskei en weer getrou, geleer, gewerk, mens geword, ma geword, vrou geword.

“Vir baie lank was my lewenspad relatief voorspelbaar. Ek was statisties bestem om 1,5 kinders te hê, te trou, te skei, siektes op te doen, geliefdes aan die dood af te staan en self uiteindelik in my sewentigs die tydelike met die ewige te verwissel. In jou agterkop weet jy dis dáár, dit kan en gaan gebeur, maar jy dink so half bo-oor dit.

“In November 2014 bring ek die laaste veranderinge aan my tweede spanningsverhaal, Monstersaad. En ek dra die boek op aan kankerstryders. Ek skryf: ‘Want sommige soorte dapperheid is te groots vir medaljes en trofeë.’ Soveel van my vriende, familie en kollegas wat aan ’t stry was teen kanker. Soveel stoïsynse dapperheid in die aangesig van aaklige siekte en die vooruitsig van die dood, lank voordat dit, statisties gesproke, tyd sou wees.

“Die boek verskyn in Julie 2015. ’n Week later word ek gediagnoseer met borskanker. En die woorde voor in my boek knipoog vir my en vra guitig: hoezit, is jy een van die dapperes? Hè?”

In 2019, nadat sy in remissie was, verskyn Kanker schmanker! met die subtitel Hoe een dapper vrou vir die groot K tong uitgesteek het. En hierin vertel Madelein met patos en eerlikheid hoe sy haar diagnose met kanker hanteer het. “In dié vertelling van hoop en triomf deel sy nie net intieme outobiografiese besonderhede nie, maar ook inligting wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie en wat borskankerstryders én hul geliefdes sal help om die reis met kanker beter te verstaan.” (Rapport, 14 April 2019)

In ’n onderhoud met Jonathan Amid op LitNet (3 Julie 2019) vertel Madelein aan hom oor haar kanker en ook hoekom sy Kanker schmanker! geskryf het: “Ek sal in Julie weer tumormerkertoetse ondergaan om vas te stel of die kanker nog in remissie is, maar ek voel regtig goed. Skryfterapie is geweldig suksesvol, maar ek het Kanker schmanker nie om daardie rede aangepak nie. Dit is my vaste oortuiging dat daar ’n doel met die lelik in ’n mens se lewe is. Jy moet net jou oë oophou, anders sal jy dit nie raaksien nie. As daar nie ’n doel met kanker was nie, sou dit ’n tragiese vermorsing van my tyd en emosie gewees het en sou ek sonder enige goeie rede ’n hengse lot nuwe littekens gehad het. Die skryf van ’n boek om aan ander kankerstryders hoop te bied, was maar bloot ’n punt aan die einde van die hoofstuk oor kanker in my lewe.”

Jonathan Amid beskryf Kanker schmanker! in sy bespreking (Die Burger, 8 April 2019) só: “Hierdie wonderlik menslike leeservaring is ’n onverwagte juweel wat jou nuwe waardering vir die skrywer gee. [...] Met ’n proloog en 51 kort, spitsvondige of soms hartseer hoofstukke vertel Rust presies hoe haar stryd met borskanker haar op fisieke, emosionele en geestelike vlakke geraak en afgetakel het.

“Worsteling met vrouwees, haar identiteit, intieme verhouding met haar man, Jaun, en haar voorkoms word weergegee met verbluffende balans tussen erns, aanvaarding en weerstand. Wanneer ’n aar van pyn en rou seer raakgeboor word, is jy daar saam met haar. [...]

“Die lyn tussen tragedie en komedie vervaag algaande soos Rust, die mens agter die naam, diep in jou hart kruip. Jy voel die tonele in die spreekkamer en die teater aan jou lyf. Die verhouding tussen Rust en haar man, en die wipwarit wat elk ervaar, word eenvoudig lieflik en teer geskets. Hier is hoop, hier is houding, hier is ’n omarming van lewensvreugde.”

Madelein het in ’n onderhoud op LitNet (22 Desember 2021) aan Izak de Vries meer oor die kanker wat weer hervat het, vertel. Izak het aan haar gesê: “Een van die sielkundiges in 25 trappe na benede het kanker en is sterwend. Hy praat van sy gewas as ‘Osama’. Dit is woorde wat ek al uit jou mond gehoor het. Jy betrek dus, bewustelik, jou eie ervaringe in sy lewe. Wil jy meer vertel?”

Madelein: “My gewas, my Osama, het nou al so ’n deel van my lewe geword dat ek hom ’n bietjie lugtyd in die boek gegee het. Die sielkundige in die boek praat woorde wat in my kop is. Die kanker wat ek het, is ook nie geneeslik nie en dit het onlangs van my heup en bekken na my rugwerwels versprei. Ek praat dus deesdae nie meer so baie van Osama nie – ek verwys nou tong-in-die-kies na die Taliban.”

Phyllis Green het in Sarie (4 November 2022) met Madelein gesels oor Moederland en het haar ook oor haar siekte uitgevra. Madelein het geantwoord: “Ek is tans gewikkel in ’n stryd teen fase 4-borskanker met metastase na die been. Die kanker het versprei na albei heupe, my bekken en my rugwerwels. Medies gesproke bestaan geen geneesmiddel vir dié kanker nie, daarom werk my onkologiese span hard om my gemaklik te maak en die verspreiding van die kanker te verstadig.

“My skryfroetine is behoorlik beïnvloed. Sommige dae skryf ek ’n hoofstuk, sommige dae ’n paragraaf en soms verhoed die pyn my om te skryf. Dit is egter vir my ’n kwessie van eer om nog steeds elke jaar ’n boek op die rakke te kry.”

Madelein het haar belofte (bostaande paragraaf) nagekom deur in 2023 weer met ’n nuwe boek vorendag te kom – Van vrees na vrede: hoe ongeneeslike kanker my leer leef het, wat gesien kan word as ’n opvolg op Kanker schmanker!

Juliana Coetzer skryf in Rapport (14 Mei 2023) dat die mens nie sommer praat oor sy/haar sterflikheid nie. En juis daarom is dit ’n voorreg as iemand wat bewustelik besig is om van die lewe afskeid te neem, soos Madelein Rust, die ervaring met ander deel: “Sy kom te staan voor die finaliteit van haar terminale siekte en neem ’n bewustelike keuse (p 125): ‘Ek sal moet leef asof ek geleidelik sterf. My sterfte is ’n proses.’

“Sy kies om op te staan en die dinge te doen wat die siekte en die wêreld nie van haar verwag nie. [...] In Madelein se eerlike weergawe van haar gevoelens – dit wissel tussen wanhoop, vrees, gelatenheid en vrede – raak die leser bewus van die verskillende vlakke van verlies en afskeid waarvoor sy te staan kom. Soos die titel van die boek aandui, lê die afsluiting daarin om vrede te vind binne die verlies. Vrede met die verlies van haar gesondheid. Vrede met die gevoel van verlies wat elkeen van die gesinslede ervaar. [...]

Van vrees na vrede sleur die leser mee en dis onmoontlik om neer te sit. Die skeppings uit Rust se pen sal nooit sterf nie. Haar vaste geloof en vertroue in God word deurgaans bevestig met verse uit die Bybel waaruit sy troos put en aan ander hoop en inspirasie bied. [...] Elke mens sal baat vind daarby om die verhaal te lees van hierdie besielende, onverskrokke vrou wat volkome toegewy bly aan die lewe waarvan sy stelselmatig besig is om afskeid te neem.”

En toe op Woensdagoggend 6 Augustus 2025 het Madelein Rust die stryd teen die kanker verloor en is sy oorlede. Sy word oorleef deur haar man, Jaun Rust, en haar kinders, Tanya en Nico.

Huldeblyke:

  • Ilse Salzwedel, vriendin: “Hoeveel mense ken jy wat ’n paar dae nadat sy ’n mastektomie ondergaan het, steeds voortgaan met ’n boekbekendstelling? Net sodat sy nie haar uitgewers en die mense by Graffiti in Pretoria in die steek laat nie. So ’n mens was Madelein Rust. Dis maklik én verskriklik moeilik om oor Madelein te skryf. Maklik, omdat sy so ’n uitsonderlike mens, skrywer en vriendin was. Moeilik, omdat sy ’n groot gat in die harte van so baie mense gaan los. [...]

“Tydens die streng eerste inperking van Covid moet sy ’n heupvervanging ondergaan – maar die heup is weggevreet deur die kanker en dit word ’n veel groter, baie meer komplekse operasie en die begin van vyf jaar van uitmergelende pyn. Tog hou sy so lank moontlik aan met haar beroep, en daarna met skryf. Pyn wat sy nooit toegelaat het om haar lewe te oorheers nie. Sy het elke oggend 4:00 opgestaan om vir minstens twee uur te skryf. Dít, het sy geglo, is haar terapie teen die pyn. So het sy daarin geslaag om minstens een roman per jaar te skryf, met nog twee nie-fiksieboeke oor haar kankerstryd: Kanker schmanker! (2019) en Van vrees na vrede (2023).

“Haar jongste boek, Drie moorde in die baai, het verlede week die rakke getref. Haar aanhangers het dit nie geweet nie, maar toe was sy reeds op haar sterfbed, onbewus van die groot vreugde onder lesers oor nog ’n boek. Hierdie keer ’n cozy, of snoesige misdaadroman.

“Want skryf was ook Madelein se persoonlike uitdaging, haar ewige mededinging met haarself. Sy wou nie net skryf nie; sy wou goed skryf, en in verskillende genres. Spanningsverhale was haar eerste liefde weens ’n voorliefde en vakkennis in mediese en forensiese wetgewing en sielkunde, maar sy wou ook haar hand aan genres soos toekomsfiksie waag. So gesê, so gemaak, en Moederland is in 2022 met groot entoesiasme deur haar aanhangers – en lof van resensente – ontvang.

“Ek kan blaaie vol skryf oor Madelein as vriendin, ma en vrou. Haar man, Jaun, en haar kinders, Tanya en Nico, was haar hele wêreld en sy hulle s’n. Jaun was haar eerste leser. Sy het elke manuskrip vir hom voorgelees en dan na sy raad geluister. Nico en Tanya was die mense wat sy letterlik met haar lewe sou beskerm, en by tye was dit net hulle drie teen ’n klomp swaarkry. Jaun was die laaste byna twee dekades haar sielsmaat; die mens wat haar oë laat vonkel het en haar en haar kinders se veilige hawe. Ek kan my nie eers indink hoe hierdie drie mense sonder haar gaan leef nie, maar ek weet hulle sal ’n manier kry. Madelein het hulle mooi geleer hoe.

“As vriendin was sy ’n ongelooflike voorbeeld van integriteit, vasberadenheid en geloof. Daarvoor sal ek haar altyd eer en onthou. Sy was die positiefste mens wat ek ken, en altyd vriendelik met almal. Haar glimlag was gul en opreg – dit het uit die hart gekom. Ek het haar die afgelope 10 jaar net eenmaal sonder haar stylvolle grimering en mooi klere gesien, en dit was ook die dag wat ek gedog het die doodsengel is naby. Dit was ook die enigste dag ooit wat ek kon sien die pyn is ondraaglik. Tog het sy nog twee jaar aangehou lééf.

“Ek sal ook Madelein se besondere sin vir humor onthou. Gaan lees gerus haar kankerboeke om te hoor hoe lekker kon sy ook met haarself spot, selfs in die donkerste tye. Tot onlangs het sy nog grappies op WhatsApp gedeel met my en Dibi Breytenbach op ons boodskapgroepie wat ek Kickassers gedoop het – ter ere van my kickasser-vriendin wat tot reg aan die einde van haar lewe werklik die lewe in al sy fasette omhels het. En kanker en ’n klomp ander dinge se alie geskop het.

“En so sal ek haar onthou: larger than life op haar stil manier, nederig, iemand wat werklik lief was vir haar medemens en altyd tyd gemaak het om iemand te help of net gaaf te wees met iemand wat dit nodig het. Iemand wat in diepe afhanklikheid van haar Hemelse Vader geleef het. Rus sag, liewe Mads – ons gaan jou verskriklik mis.” (LitNet, 6 Augustus 2025)

  • Izak de Vries: “Aangesien ons in verskillende stede gewoon het, was Madelein Rust eers net ’n stem oor die foon, of ’n mens met wie ek per e-pos kommunikeer. Die vraag oor kanker het ek reeds in een van ons heel eerste gesprekke gevra, want die wenk is toe reeds duidelik gegee. Sy het dit egter doodgepraat en ek het dit so aanvaar. Bemarkers krap rond in ons ‘objekte’ se persoonlike lewens, maar ons weet ook wanneer om ons bekke te hou. Haar nie wil praat oor kanker nie, het niks met ydelheid te doen gehad nie. Sy wou eers bekend word as ’n skrywer, nie as ’n Martie Martelgat nie.

“Eers in 2015 ontmoet ek haar en Jaun van aangesig tot aangesig. Dit was by die toekenning van die ATKV-Woordveertjies. Sy was ’n finalis. Die blonde pruik was toe reeds daar, en Jaun se kop is kaal. In solidariteit.

“Die kanker is toe al erken, maar steeds het sy by funksies opgedaag; steeds het sy werkswinkels aangebied. Sy wou steeds Madelein die skrywer wees. Dit het sy geword. Uiteindelik, toe sy voel mense reken haar as ’n skrywer, het sy gesê nóú mag ons oor kanker praat. En toe gebruik sy haar bekende gesig om mense aan te moedig in hulle eie stryd teen kanker – dit het allermins oor haar gegaan.

Die laaste keer dat ek haar kon afneem, was in 2022 by die Toyota Stellenbosch Woordfees.

“Sy was reeds in ’n rolstoel, maar keurig gegrimeer. Die nuwe pruik was stylvol en effens deurmekaar. Ten spyte van haar uitgewer, Nèlleke de Jager, se kommer, het Madelein ingestem tot ’n vinnige fotosessie, ’n laaste amptelike foto deur my lens.

“Die rolstoel is nie afgeneem nie. Haar mooi gesig wel. In Engels is daar ’n uitdrukking: ‘She wore her game face.’ Sy was, gewoon, Madelein Rust, die skrywer. Dit was ’n voorreg om haar te ken en te kon afneem.” (LitNet, 6 Augustus 2025)

  • NB Uitgewers: “Madelein Rust was nie net ’n briljante en veelsydige skrywer nie, maar ook ’n merkwaardige mens. Intelligent met ’n sin vir humor, deernisvol, en altyd blymoedig, ondanks die fisieke stryd wat sy so dapper die laaste vyf jaar trotseer het. Dit was ’n groot voorreg om met haar laaste vier romans te kon werk – sy laat ’n indrukwekkende oeuvre vir haar lesers na. Dankie vir alles wat ek by jou kon leer, Madelein. Jy was ’n mensch en ons almal by NB gaan jou mis!” (Instagram, 8 Augustus 2025)
  • Rina Coetzee Gous: “Ek was besonder bevoorreg om in 2022 met Madelein Rust te gesels oor haar boek ‘Moederland’ by The Book Keeper Shop. Soos vele ander was ek beïndruk met hierdie sterk maar sagte vrou se skerp brein, hope talent en brawe houding. Rus sag liewe Madelein – jy het vir duisend van ons heerlike leesure gegee en ook gedien as inspirasie vir soveel medekankerlyers. ‘Kanker Schmanker’ – jy het oorwin. Mag jy sag rus in die ewige vrede van ons Vader – sonder pyn.” (Facebook, 6 Augustus 2025)
  • Stefaans Coetzee, resensent, het sy resensie van Moederland met hierdie woorde afgesluit: “Beenkanker het haar nie gestuit om haar naam in die krimigenre te verewig nie. Al haar boeke was op die Nielsen-topverkoperlys. Selfs al sou sy ’n wiskundehandboek skryf, sou ek dit lees en geniet. Op 31 Augustus 2022 skryf Madelein Rust op Facebook dat toe sy verlede jaar met Moederlandbegin het, sy onseker was hoe lank sy gaan leef. Sommige dae het sy net ’n uur geskryf, ander dae twee ure. Sy het ook dae beleef waar sy glad nie kon skryf nie. Ek sal haar altyd eer vir haar deursettingsvermoë om, ten spyte van soveel pyn, vir ons lesers soveel leesgenot te verskaf. Dankie dat jy leef. En meer: Dankie dat jy hoop gee. Mag ons nog lank boeke met jou naam op die voorblad koop. Liefde-liefde.” (LitNet, 3 Oktober 2022)
  • LAPA Uitgewers: “Met groot hartseer neem ons afskeid van Madelein Rust. Haar liefde vir stories het in ’n skoolbiblioteek begin — tussen rakke vol boeke wat sy een ná die ander verslind het. Dié passie het haar gelei na ’n suksesvolle skrywersloopbaan: van romantiese kortverhale tot spanningsromans wat steeds lesers vasgenael hou. In 2019 verskyn Kanker Schmanker!, ’n eerlike en kragtige blik op haar stryd teen borskanker. Met haar agtergrond in sielkunde en regte het sy elke storie met empatie, insig en moed geskryf. Ons dink aan haar geliefdes in hierdie moeilike tyd.” (Instagram)
  • Leana Lategan: “Lesers van Madelein Rust (12 Junie 1967 - 6 Augustus 2025) se boeke was bewus van die feit dat sy ’n jarelange stryd teen kanker gehad het. Sedert sy in 2015 met borskanker gediagnoseer is, was hierdie gevreesde siekte deel van haar en haar gesin se lewe. In haar outobiografiese vertelling ‘Kanker Schmanker’ het sy op ’n kordate en nugter manier met die siekte ‘in gesprek getree’, en haar lesers met hierdie vreeslose verslag bemoedig om hulle eie stryd te stry.

“Teen 2020 was sy egter weer eens in die ysere greep van kanker. Hierdie keer is sy met terminale beenkanker gediagnoseer. Die laaste akuut pynlike reis het sy eweneens in boekvorm beskryf, en ‘Van vrees na vrede’ het nogmaals vir haarself sowel as medereisigers moed en vrede gebring.

“Vroeg Woensdagoggend, die 6de Augustus, het hierdie geliefde en merkwaardige vrou, en gewilde skrywer van topverkopers, gesterf. Sy het ons skrywerswêreld armer gelaat, en in haar lesers se oë sal dit ’n blywende leemte laat.

“Madelein was ’n Bloemfonteiner, wat baie van haar romans in dié stad laat afspeel het. As laerskoolkind het sy graag pousetye in die biblioteek van die Laerskool Brandwag gesit en lees, toé al ’n boekliefhebber. Haar eerste skryfpogings het pryse gewen by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging. Jare later sou sy altyd op uitnodiging van die Fichardtparkbiblioteek met haar lesers kom gesels, elke keer vir ’n hele saal vol gretige lesers.

“Sedert haar debuut in 2014, met 13de Kaart, het ’n tiental misdaadrillers gevolg. As storielyne het sy haar laat lei deur wat aktueel in nuusberigte was. Noukeurige navorsing was nodig vir elke roman, en dit was iets wat sy baie geniet het. Haar laaste twee romans Bessie se hangkasbiblioteek, en die splinternuwe Drie moorde in die Baai was beide onmiddellike wenners.

“Madelein was ’n geliefde mens, iemand in wie se nabyheid ’n mens gráág wou wees. Haar nalatenskap is veel, véél meer as die boeke wat sy geskryf het. Ons dink met liefde en deernis aan Madelein Rust se familie en vriende.” (Facebook)

Publikasies:

Publikasie

Die 13de kaart

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799367690 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2014 kortlysbenoeming ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Monstersaad

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780799375824 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Bloedlyn

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799380422 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Moordhuis

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799385007 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2018 kortlysbenoeming ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Lam ter slagting

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799390070 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2019 kortlysbenoeming ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Doodsengel

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799395129 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kanker schmanker!

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799384826 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

My naam is Legio

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780639600154 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

25 trappe na benede

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780639607634 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Moederland

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780798183192 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Van vrees na vrede: hoe ongeneeslike kanker my leer leef het

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780796323101 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Siembamba

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780798183772 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Bessie se hangkasbiblioteek

Publikasiedatum

2024

ISBN

9780798184557 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Drie moorde in die baai

Publikasiedatum

2025

ISBN

9780798185080 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor en deur Madelein Rust:

Madelein Rust se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 2025-08-28 gepubliseer.

Bron:

      • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top