Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Moordhuis deur Madelein Rust

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Madelein Rust

Madelein Rust se skrywersloopbaan skop af met die skryf van romantiese kortverhale, en haar twee pogings in dié genre, Tango in die Kuberruim en Skarlakenvrou, verskyn in Huisgenoot. Een van haar kortverhale, Joy, verskyn in Bateleur Boeke se In ’n Neutedop, gevolg deur Die dag toe oom Willem geval het in Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition publikasie, Sussie Veer is dood en ander verhale.

Rust se debuutroman, Die 13de kaart, is in Julie 2014 op die rakke en verskyn kort daarna op Nielsen se topverkoperlys. Dit word benoem vir ’n ATKV- Woordveertjieprys vir Spanningslektuur in 2015.

Haar tweede roman, Monstersaad, verskyn in Julie 2015, oes groot lof van resensente sowel as lesers in. Ook dié boek verskyn op Nielsen se topverkoperlys en is finalis in die Woordveertjietoekenning vir Spanningslektuur in 2016.

Foto: Gert Duvenage


Opsomming

Moordhuis
Madelein Rust
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799385007

Die sewejarige Gainsford-tweeling word op grusame wyse in ’n skuur op Mooiplaats in die Bloemfontein-distrik vermoor. Binne die opstal is vier van die welgestelde Therons vermoor, die liggame grusaam uitgestal in die sitkamer. Doktor Renata Malan en die span van Malan & Coetsee Privaatondersoeke word deur die tweeling se ouers aangestel om die moordenaar aan te keer.

Die ondersoek neem Renata in onverwagse rigtings: Bloemfontein se seksbedryf, die donker web, die nasleepsels van misdaad gedurende die bosoorlog in die tagtigs, die wêreld van kinderpornografie en pedofilie, hebsug, haat en buite-egtelike verhoudings.

Die een geraamte na die ander tuimel uit die kas en hoewel die lys van verdagtes daagliks groei, is bewyse skaars. Wie, behalwe die Therons se erfgenaam, sou voordeel trek uit die gesin se dood? Hou die Gainsfordseuns se dood verband met ’n baba se verdrinking drie jaar vantevore? Was Jakes Gainsford dalk self betrokke by sy kinders se dood?

Was hierdie dalk die perfekte misdaad?

Moordhuis is die derde boek in die reeks met doktor Renata Malan as die hoofkarakter. Die eerste twee boeke in die reeks is Monstersaad en Bloedlyn. Renata is ’n profileerder met ’n donker verlede en ’n talent om in geweldsmisdadigers se koppe te klim. Die oorgeërfde boosheid wat in haar gene skuil, maak van haar ’n gedugte teenstander en ’n gehate vyand.


Uittreksel

Maandag 14 September 2015

Die sewejarige Gainsford-tweeling is tussen twaalfuur die nag en tweeuur die oggend vermoor. Dit is waar­om doktor Renata Malan nóú hier is, eenuur in die nag, al­leen. Sy wil sien wat die moordenaar gesien het, voel wat die slagoffers gevoel het.

Sy staan met toe oë in die skuur se wye deur, luister na die naggeluide buite die gebou. Hierdie toneel is ongekend vredig. Dit is net die geil reuk van droë bloed wat ’n verhaal vertel van die groteske daad wat hier gepleeg is.

Stefan Coetsee, vennoot, vriend, vertroueling, haat hierdie deel van haar werkswyse. Solank sy haar wapen en haar hond by haar het, sit hy sy oogklappe aan, maar hy hou nog steeds nie van hierdie nagtelike uittogte nie. Dat hy nie veel van ’n sê in die saak het nie, het hulle sewe jaar as vennote in Malan & Coetsee Privaat Ondersoeke hom geleer.

Die moordenaar het die twee seuntjies in die donkerte hierheen gebring. Het hy dit gedoen nadat hy die mense in die opstal vermoor het, of toe hulle nog slapend in hulle beddens was? Het hy die kinders dalk verby die lyke in die sitkamer laat stap op pad uit na die skuur toe? Die gru­saamheid in daardie sitkamer het geharde polisiemanne glo laat braak.

Hoekom die ander in die huis vermoor, in hulle bed­dens, en die tweeling hier?

Daar is ongeveer honderd en vyftig meter tussen die opstal en die skuur. Wat het tussen die kinders en die moordenaar gebeur op pad na die skuur toe? Het hy hulle verseker dat alles oukei gaan wees? Hulle gedreig? Het hy hulle in ’n kar gelaai en hierheen gebring, of het hy hulle laat stap?

Gelukkig is dit September, darem nie meer so koud in die Bloemfontein-distrik nie. Die irrasionele gedagte laat haar sug. Asof koue vir enigiemand iets sou beteken op daardie nag.

En toe hy hier by die skuur aankom, het hy die ligte aangeskakel?

Hy moes. Óf dit óf ’n flitslig. Dit was so te sê donkermaan en die lug was Vrydagnag vol swaar wolke. Dit sou vir hom binne-in die skuur te donker gewees het om te doen wat gedoen moes word. Hy moes handskoene aangehad het. Daar is geen vingerafdrukke op die skakelaar gevind nie.

Maar ’n flitslig sou sy een hand uitgeskakel het. Hoe kon hy twee kinders met een hand beheer? Het hy ’n wapen in sy ander hand gehad en hulle daarmee in bedwang gehou? Was hy dalk bekend aan hulle? Hulle sou tog seker nie sonder weerstand saam met ’n onbekende hierheen gekom het nie.

Sy laat gly haar hand oor die growwe muur totdat sy die skakelaar vind. En saam met die fluoorligte wat ry op ry begin brand, vou die werklikheid van dít wat hier af­gespeel het oop.

Die vloer is geverf met die bloed van onskuldiges, die hooibale bespikkeld daarvan.

Sy stap nader aan die bale terwyl sy die vingerafdruk­poeier wat aan haar vingers kleef, afvee aan haar jeans. Sy bestudeer die inhoud van die skuur. Dit is wat die moorde­naar gesien het toe hy hier instap.

Die banale dinge wat ’n mens kan verwag, staan in groepe. Kruiwaens, goiingsakke volgestop met wat ook al, hooibale, sakke kunsmis. In die verste hoek staan ’n stokou trekker waarvan die rooi verf bleek gebleik is deur die Vrystaatse son. Dit word waarskynlik om sentimentele redes aangehou. Sy het verby die Therons se indruk­wekkende versameling moderne John Deere-implemente gery op pad na die skuur toe.

Volgens die misdaadtoneelfoto’s en sketse het die twee seuntjies in die middel van die skuur langs mekaar gelê. In ’n onvoltooide vierkant wat deur hooibale gevorm is. Net hulle kaal voete het uitgesteek onder ’n geblomde du­vet wat oor hulle gegooi is. Die plaasbestuurder het hulle vroeg Saterdagoggend só ontdek. Hulle bloed het onder die duvet uitgeloop tot amper by die byl wat bokant hulle koppe neergesit is.

Hulle het hande vasgehou.

Elke kind het een massiewe kopwond gehad. Die ken­merkend gepunte bloedspatsels in rye oor die hooibale is ’n aanduiding van hoe die byl opgelig is ná elke kaphou, hoe die bloed wat daaraan gekleef het, afgewerp is.

Sy hurk ’n entjie van die plek af waar die seuns gelê het. Die moordenaar het waarskynlik skuldig gevoel oor hier­die twee kinders se dood, daarom is hulle toegegooi onder die beddegoed. Het hy die hele ent teruggeloop na die op­stal toe net om ’n duvet te gaan haal, of het hy dit by hom gehad toe hy die kinders skuur toe gebring het, wetende wat hy met hulle gaan doen?

Die keuse om ’n byl as moordwapen te gebruik is betekenisvol. Dit dui op gevoelens van haat, van die begeerte om moue op te rol, om van naby af te moor, om te sien, te voel, te proe aan die dood van hierdie kinders. En tog – daar is skaamte. ’n Gevoel van weersin in die daad ná die tyd? Hoekom?

Renata sluit haar oë weer en laat sak haar kop. Vol­gens die plaasbestuurder het die Gainsford-tweeling by die Therons se seuntjie Marnus kom oorslaap. Die ma en pa sal hulself in die maande en jare wat kom sinneloos verwyt omdat hulle toegelaat het dat hulle kinders juis op daardie Vrydagaand by die Therons gaan kuier.

Jakes Gainsford is briesend, bitter. Althea Gainsford huil net. Al is dit net twee dae ná die moorde, kontrakteer hy Malan & Coetsee Privaat Ondersoeke reeds om die moordenaar aan te keer. Hy het gevra vir net tien minute alleen saam met die skuldige, ’n reusebonus belowe as hy die geleentheid gegun word. Sy vrou Althea kruip glo onder ’n kombers weg en huil soos ’n kind.

Renata stap stadig deur die skuur. Weg van die plek waar die kinders gelê het. Wat het die moordenaar gedoen nadat hy hulle doodgekap het? Het hy eers in die plek rondgestap om te kyk of hier ook iets is wat die moeite werd is om te steel?

Grootkoos Theron was ’n netjiese man. Al die gereed­skap staan in ordelike rye teen die agterste muur, alles skoongewas. Ses hooivurke. Ses grawe. Ses tuinvurke. Ses sae. Vyf byle. Ses pare waterstewels.

Sy tel weer.

Net vyf byle. Volgens die dossier is die Gainsford-kinders met een van die Therons se byle vermoor. Dis dan hier waar die moordenaar die wapen gekry het. Die Theron-familie is volgens die nadoodse verslag met ’n panga doodgekap, iets wat die Therons glo nie op die plaas gebruik nie. Die moordenaar bring dus ’n wapen saam; ’n panga. Tog gebruik hy ’n byl wat in die skuur staan om hierdie kinders te vermoor.

Waarom? Waar is die panga in daardie stadium? Nog in die huis? Waarom?

Was hier twee aanvallers? Een wat die mense in die huis vermoor het terwyl ’n ander een die Gainsford-kinders hier in die skuur kom doodmaak het? Waarom het die tweede moordenaar nie sy eie wapen saamgebring nie?

Renata skakel die ligte af en stap by die skuur uit, dankbaar vir die vars lentelug ná die bedompige reuke in die skuur. Sy los die deure oop, soos sy dit gekry het, en stap na die reuseherdershond wat aan die ander kant van die misdaadtoneellint vir haar sit en wag.

“Dis maar ’n lelike ding dié, Ramsay,” fluister sy vir hom en krap agter sy ore. Die gekap van sy stert teen die droë gras word vinniger.

“Hak,” sê sy vir die hond en hy neem dadelik sy plek langs haar linkerbeen in. Barend Benade, bonkige oud­polisieman, het die hond spesiaal vir haar opgelei en Ramsay is ’n dodelike bewys van die man se vaardigheid. Renata se nagmerries is deesdae genadiglik nie meer so vol van daardie nag toe Ramsay haar lewe moes red ty­dens die Verhoef-saak nie, maar die dankbaarheid sal al­tyd daar wees.

Sy draai in die rondte, bestudeer die omgewing.

Twee sementspore lei na die geplaveide area wat om die opstal strek, die huis gehurk in die gloed van spreiligte. Buite die kring van die ligte is alles pikdonker. Ook rondom die skuur is spreiligte opgerig. Langs die gebou kan sy ’n ruigte riete sien staan, stamme bleek in die kunsmatige lig, maar verder aan is daar net donkerte.

Volgens Jaun Tiquin, senior misdaadintelligensiebe­ampte by Malan & Coetsee, was daar Vrydagnag net oor die vyf persent maanverligting. Nie dat dit veel van ’n ver­skil kon maak nie. Die wolke het toe die meeste van die geringe maanlig versper. Volgens die maankalender is die verligtingspersentasie vannag glo nul punt vier persent. Vrydagnag se liggehalte moes soortgelyk gewees het.

Was die oortreder dapper genoeg om in die helder gloed van die huis se spreiligte tot by die skuur te stap? Dom genoeg? Of het hy die stikdonkerte aangedurf deur ’n ompad te vat? Die alarmsisteem is skadeloos gestel. Waar­om is dieselfde nie met die spreiligte gedoen nie? Het die persoon geweet dis onwaarskynlik dat iemand daardie tyd van die nag naby Mooiplaats se opstal sou wees?

Sy laat vir Ramsay buite die voordeur sit en sluit die veiligheidshek en die voordeur oop. Toe stap sy by die huis in en maak albei deure agter haar toe. Die veiligheidshek sluit vanself met ’n sagte klikgeluid.

Die nuwe provinsiale polisiekommissaris, Oscar Solo­mon, het seker gemaak dat daar vir haar afdrukke van die huissleutels gemaak word, spesiaal vir vannag. Malan & Coetsee Privaat Ondersoeke se ongekende witbroodjiestatus het seker te make met die verleentheid wat hulle die polisie gespaar het toe die Ashoopmoordenaarsaak in Julie tot ’n einde gekom het. Malan & Coetsee het geen krediet vir die oplos van die saak aanvaar nie. Dit was alles die polisie se harde werk, was die konsensus. Sedertdien is geen hulp van die polisie se kant af te veel moeite nie en burokrasie word onder die elegante mat in Solomon se kantoor ingevee. Dis sy eie mat, soos die rooshoutlessenaar, liasseerkabinette en Persiese mat op die vloer. Geen staatsdiensmeubels vir Solomon nie.

Sy pogings om vir Malan & Coetsee op ’n vaste basis as subkontrakteurs aan te stel sal waarskynlik vir ’n wyle voortduur en sodra hy ophou probeer, sal die obstruksie en burokrasie van voorheen ongetwyfeld terugkeer.

Maar Malan & Coetsee werk nie vir staatsinstansies nie. Staat beteken politiek en politiek het geen plek in die oplos van misdade nie.

In die huis is die stilte neerdrukkend. Dit word net ver­breek deur die getik-tik-tik van die een of ander groot hor­losie. Die spreiligte se gloed wat deur die sitkamerdeur val, verlig die voorportaal sodat sy haar nou in halfskemer bevind.

Op die misdaadtoneelskets het iemand geskryf dat die gordyne toegetrek was toe die eerste polisielede op die toneel aankom. Die misdaadtoneeltegnici het dit glo oopgetrek nadat die liggame verwyder is. Op soek na leidrade.

Sy maak haar oë toe. Die geur van lelies hang soet in die lug. En iets soos suurlemoen. Vloerpolitoer? Sy tree terug en leun met haar rug teen die voordeur. Die glas van die gebreekte venster langs die voordeur knars onder haar skoene. Volgens die polisieverslag is dit daar waar die oortreder toegang tot die huis verkry het: ’n lang loodglasvenster, een van twee weerskante van die voor­deur.

Volgens die sekuriteitsfirma is die alarmsisteem gedeaktiveer deur die telefoonlyn af te sny. Volgens die sekuriteitsprotokol moes hulle kennisgewing van die in­braak gekry het deur die ondersteunende selfoonstelsel, maar daar is waarskynlik gebruik gemaak van ’n blok­keerder wat die selfoonsein direk na die selfoonbasis sou terugstuur. Die firma sou nooit die sein ontvang het nie.

Sy skud haar kop. Sewe maklike stappe om so ’n blok­keerder te bou, met komponente wat in enige hardeware­winkel is. En volledige instruksies op die internet.

Volgens die misdaadtoneelskets is die sitkamer aan haar regterhand, ’n snoekerkamer op linkerkant, die trappe wat lei na die tweede verdieping regoor die snoekerkamer se deur. Die gastebadkamer, studeerkamer en woonkamer is verderaan links, terwyl ’n groot eetkamer en kombuis met ’n kuierhoekie regs lê. Al vyf slaapkamers is op die tweede verdieping, elk met sy eie badkamer, ’n sofa en drie gemakstoele.

Anders as in die skuur, is die atmosfeer in die huis swaar. Dit voel asof sy omring word van ’n tweede teen­woordigheid. Iets donkers, bedrukkends.

Sy skud haar kop ongeduldig. Bly by die feite, Renata.

Maar op hierdie nag sukkel sy.

Daar was tye waarin hierdie huis sekerlik gelééf het. Die klanke van mense wat lag, gesels, televisie kyk, na musiek luister. Nou is die hartklop van die huis uitgeruk, vervang deur iets onheilspellend.

Sy maak haar oë oop en hurk by die gebreekte venster. Waarom mense in hierdie gevaarlike tye vensters sonder diefwering insit, bly ’n raaisel.

Sy haal die klein laserflitslig uit die skouersak wat skuins oor haar lyf gedrapeer is en skakel dit aan. Toe stap sy in by elke vertrek op die grondvloer, Stadig, rustig. Sy sal die sitkamer voorlopig vermy. Haar toer deur die moord­huis sal daar eindig.

Al die gordyne is oopgetrek, sodat die Therons se manjifieke besittings soos stukke in ’n museum voor haar uit­gestal staan, verlig deur die gloed van spreiligte. Alles van die beste, van die duurste. Alles uiters netjies.

Die misdadigers was nie morsig in die huis nie. Wel, nie in die tradisionele sin van die woord nie. Waar is die omgegooide meubels, die lukrake vernietiging van eien­dom? Waar is die tekens dat die misdadigers gesoek het na iets om te steel? Uitgetrekte laaie, skilderye wat afge­haal of weggeskuif is op soek na ’n kluis? Was hierdie oor­treders te ordentlik om op die matte te ontlas of te urineer, van die huismense se kos te eet en van hulle drank te drink? Hulle het tog oorgenoeg tyd gehad ná die moorde.

Vreemde rooftog dié. Want dit is wat die SAPD se be­vinding is. ’n Rooftog wat handuit geruk het. Niks soos ’n oorvloed adrenalien en opgekropte haat om pangahoue te laat neerreën nie. En niks ontketen haat soos afguns nie. Vermorsel hierdie mense wat meer het as wat hulle ooit kan gebruik terwyl die plaaswerkers ’n kilometer verder in armoede van die een betaaldag tot die ander leef. Vernietig hulle.

Stewelafdrukke in bloed lei van die trappe af tot in die kombuis. Renata volg dit tot reg voor die wasbak in die opwaskamer. Hier het iemand sy hande gestaan en was voordat hy omgedraai en weer uitgestap het. Om mense met ’n panga dood te kap is morsige werk.

Daar is rye bloedspore deur die kombuis tot by die agterdeur. Volgens die dossier het iemand die agterdeur probeer skoonvee, maar daar was nog bloedvlekkies onder die handvatsel. Die twee Amerikaanse vegboelter­riërs is dood buite die agterdeur gekry. Vergiftig.

Sy stap deur die luukse kombuis. Die rak waar al die sleutels gehang het, is hoog teen die muur naby die ligskakelaar.

Dit is net die stewelspore in bloed wat sê wat hier aangegaan het. Die tafel in die ontbythoekie is gedek. Vier papborde en lepels op oranje plekmatjies, graankoshouers, ’n suikerpot en ’n wit koffiebeker voor elke plek­matjie.

Volgens die dossier was daar ’n pot vars filterkoffie op die toonbank toe die polisie opdaag. Die outomatiese kof­fiemaker het op die aangeduide tyd aangeskakel sodat die gesin se koffie reg kon wees wanneer hulle opstaan. Snaaks hoe iets so doodgewoons skielik makaber kan voel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top